Kan Afrikaans floreer as hy sy status as universiteitstaal verloor?

  • 5

Afrikaans sal floreer solank mense dit lees, luister, skryf, daarin skoolgaan, musiek maak en in Afrikaans redeneer.

Maar dit kan nie ten volle floreer as dit sy status as universiteitstaal verloor nie, het Rapport se redakteur Waldimar Pelser verlede week gewaarsku tydens die 14de Johan Combrink-gedenklesing wat deur Vriende van Afrikaans in Stellenbosch aangebied is.

Wit en bruin van regoor die hele politieke spektrum het saamgestem Afrikaans is nog springlewendig, maar kan nie ten volle floreer as dit by die hekke van die akademie gestuit word nie.

Oudstryders uit die struggle-era era, soos Willa Boezak, Khoisan-navorser en skrywer, Henry Matthys, ’n predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk, die akademikus Michael le Cordeur, Danny Titus van die ATKV, en ander, soos Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl, het skouer aan skouer saam met wit Afrikaner-politici soos die leier van die Vryheidsfront, Pieter Groenewald en die party se voormalige leier Pieter Mulder, gepleit vir Afrikaans.

Akademici van die Universiteit Stellenbosch, waar Afrikaans as akademiese taal tans ernstig onder beleg is, was ook teenwoordig, onder andere die filosoof Anton van Niekerk, wat nie oral ewe gewild is onder pro-Afrikaanses nie vanweë sy steun vir die universiteit se omstrede nuwe taalbeleid.

Dit was opvallend hoe veral bruin Afrikaanses hulle stemme laat hoor teen die toenemende verengelsing aan tersiêre inrigtings soos Stellenbosch en pleit vir meertaligheid.

Willa Boesak gesels met Danny Titus

Daniel Van Wyk, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstrust in die Wes-Kaap, het na die tyd gesê hy glo daar is genoeg redes waarom Afrikaans as universiteitstaal behou moet word. “Dit is ’n gegewe dat daar nie weer ’n Afrikaanse universiteit sal wees nie. Die enigste oplossing is parallelle onderrig en moontlik ook om Afrikaans in sekere fakulteite soos Opvoedkunde, Regte, Gesondheid en Teologie, om maar ’n paar te noem, aan te bied. Verdere gesprek is beslis nodig met die US.”

Vir Pelser is die vraag oor Afrikaans se verlies aan status as universiteitstaal lankal nie bloot hipoteties of ’n paranoïese sprong die distopiese donker in nie. “Ons is reeds amper daar. Waar Afrikaans nog in lesings aangebied word, beskou die meeste universiteitsowerhede dit as ’n interimmaatreël, ’n tipe fraai verversingspos op pad na die eindbestemming van eentaligheid, ’n eentaligheid wat haar boonop voordoen as apolities, inklusief, en ’n voldonge feit,” het hy gesê.

“Hemingway het gesê mense raak op twee maniere bankrot – geleidelik en dan skielik. So verskraal Afrikaans dan ook sedert 1994 ondanks die beste bedoelings van die Grondwetskrywers in die openbare sfeer, met ander woorde in al daardie ruimtes wat gedeeltelik of ten volle met belastinggeld in stand gehou word. Geleidelik, dan skielik.”

Sy pleidooi is dat liefhebbers van Afrikaans binne sowel as buite die amptelike strukture van staat en universiteit moet stry vir Afrikaans sonder om ander tale af te kraak of te minag.

“As dit is wat die politiek op die ou end onvermydelik maak, as genoegsame steun vir die saak en genoegsame veglus op die ou end afwesig is, sal Afrikaans natuurlik nie sterf nie. Maar regtig floreer? As daar ’n wil is, miskien eendag weer.”

“Geen taal kan sy volle potensiaal bereik of aanhou verwesenlik as hy op kunsmatige wyse by die hekke van die akademie gestuit word nie. Die dag wat Afrikaans nie meer as universiteitstaal erken word nie, verdwyn hy as vaktaal, as taal waarin jy oor voortdurende ontwikkeling en navorsing in die wetenskappe kan skryf.”

Pieter Mulder

Vir enigiemand wat vir tale lief is, kan dit nie goeie nuus wees nie, het Pelser gewaarsku. “Dit is moeilik om te sien hoe enigiemand daardeur bemagtig word. Dit sal slegs ’n verskraling eerder as ’n verruiming wees.”

Maar die toekoms van Afrikaans is nie nét donker nie. Kultuurskepping in Afrikaans blom.

“Melkkartonnetjies en Fantablikkies mag dalk Engels wees, maar Afrikaanse boeke vlieg van die rak; Afrikaanse teater floreer; Afrikaanse flieks slaan loketrekords; die Afrikaanse TV-kanaal kykNET is die grootste op DStv se premium-boeket, en Afrikaanse media, waarby inbegrepe koerante, vaar dikwels beter as die gemiddeld in ’n ongunstige klimaat.

“Ek sê nie dat die gesonde vraag na Afrikaanse kultuurgoedere ’n genoegsame aanduiding daarvan is dat die taal ‘floreer’ nie, maar dis sekerlik darem ’n aanduiding van iets? Dit sê tog minstens vir ons dat sprekers van die taal, daar waar hulle deur die staat uitgelos word, betekenisvolle inhoud en kuns in Afrikaans skep en dat hul skeppings gehore, kykers en lesers lok, wát die ANC en die Twitterati ook al daaroor te sê mag hê.”

Hy het verskeie voorbeelde aangehaal:

In By skryf Nicol Stassen van Protea Boekehuis in Oktober dat Afrikaanse boeke markaandeel in Suid-Afrika wen. Nie net gedy die plaaslike boekbedryf nie – 36% van alle boeke wat in 2014 in Suid-Afrika verkoop is, is hier uitgegee teenoor 24% tien jaar vantevore. Afrikaans klop die mark: in 2004 was sowat twee uit vyf oftewel 22% van plaaslik-gepubliseerde boeke Afrikaans. Teen 2015 het dié syfer op 49% gestaan.

Michael le Cordeur

Penguin Random House, Macmillan, Oxford en Pearson het almal tot die Afrikaanse mark toegetree. In 2015 was al tien plaaslike topverkoper-fiksieboeke in die land Afrikaans, net soos die top-10 kinderboeke.

Die Annual Book Publishing Industry Survey wys dat sowat 2 000 nuwe Afrikaanse gedrukte en e-boeke in 2014 in Suid-Afrika gepubliseer is, teenoor om en by 1 300 in Engels en 550 in die nege Afrikatale.

Ook Afrikaanse flieks vaar goed, ná ’n hele paar op die oog af terminale insinkings sedert die eerste Afrikaanse fliek oor die Voortrekkers in 1916 vrygestel is.

Maar alles is ook nie maanskyn en rose ten opsigte van Afrikaans nie. “Die feit dat dit nou goed gaan, met die boeke en die flieks en die musiek en die TV, sê egter bitter min oor môre en oormôre, soos wat die Kerskalkoen jaar op jaar nét te laat besef. Die hede voorspel die toekoms nie.”

Omdat skole en universiteite sulke belangrike sentra van kultuuroordrag is, sal wat daar gebeur volgens Pelser op een of ander manier ook op die ander gebiede moet manifesteer.

Daarom het hy gepleit dat daar binne sowel as buite die staat en universiteite se strukture voortgegaan word om te sorg dat Afrikaans floreer.

“Dit is eng en onnodig dogmaties om dié te kasty wat nog nie heeltemal opgegee het nie, wat die verbeelding en moed het om van die staat en van die Grondwet nog iets te vra.”

Michael Jonas

Ook universiteite verdien dit dat tegnologiese vooruitgang en die demokratisering van leer reusegeleenthede bied om vir jongmense toegang tot ’n opvoeding te gee, in enige taal.

Pelser se boodskap is duidelik: Moenie op prinse vertrou en dink die staat alleen gaan Afrikaans red nie. Daar sal al hoe meer buite die boks gedink moet word.

“Letterlik duisende kursusse, van hulle onderskryf deur van die wêreld se voorste universiteite, of deur instansies soos Google, is reeds gratis aanlyn beskikbaar vir voornemende studente vir wie die kampuslewe weens afstand of ’n geldtekort nie beskore is nie.

“Afstandonderrig in Afrikaans word reeds met groot vrug ingespan by Solidariteit se private instelling van hoër onderrig, Akademia, wat Afrikaanse vakkundiges inspan om oor die internet klas te gee.

“Terwyl die toekoms van staatsuniversiteite waarskynlik bepaal sal word deur die morsige onderhandelings tussen konvokasies en die staat, met die staat die sterker party, eindig hoër onderrig in Afrikaans nie by die hekke van Maties of Tukkies nie.”

Pelser het ook ’n boodskap gehad vir diegene wat pro-Afrikaanses afmaak as taalbulle wat poog om parallelle instansies tot stand te bring.

Waldimar Pelser

“Vir dié wat kla dat eie inisiatiewe ten bate van Afrikaans neerkom op die vorming van ’n parallelle staat, moet ons vra of hulle bereid is om afstand te doen van hulle mediese fonds, ADT, Curro-skool, DStv of Netflix en te kyk hoe ver hulle kom as hulle net dít kry wat die staat vir hulle gee.”

Sy argument is dat gesonde verstand moet dikteer dat die hofsake by Maties en Kovsies nie die enigste inisiatief durf wees om Afrikaans se legitieme aanspraak op ruimtes werklikheid te maak nie, maar dat dit ook nie veroordeling verdien nie.

“Dis nie die Afrikaanses wat vir ’n plek vra wat onverdraagsaam is nie.”

Maar kan Afrikaans floreer as hy sy status as universiteitstaal verloor?

Ja én nee, meen Pelser.

“In baie ruimtes natuurlik ja, solank as wat Afrikaanse mense lees, luister, kyk, skoolgaan, musiek maak, skryf, sing en redeneer in Afrikaans. Maar nie ten volle floreer nie.”

Foto's: Izak de Vries

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Hanno Visagie

    " Wit Afrikaner-politici" - Hoekom Afrikaner kwalifiseer met "wit"? Is daar dan bruin, swart en geel Afrikaners? En hoekom word Afrikaanssprekers vervang met "Afrikaanses"?

    • In my opinie is almal wat Afrikaans praat 'n Afrikaner. Ek't al met baie gepraat hieroor en almal voel so, bruin mense is deel van ons, ons is deel van hulle. Ons deel 'n taal en 'n kultuur, hoekom onderskeid maak?

  • Avatar
    Breyten Breytenbach

    Dankie, Waldimar Pelser, vir hierdie helder uiteensetting/waarskuwing. Ek wil my byna verstout om ook 'dankie' te sê namens die abbavaders en die oermoeders wat die taal in al haar uitinge en wysies en wyshede vertong en ge-mond het, en dit aan ons toevertrou het as 'n werklike (dalk die enigste) déélmakende gedeelde erfenis ..: die imams en die kapteins, die ballinge en die slawe en die smouse en die knegte en die kosters en die mynwerkers en die voormanne en die 'Afrikaners'... MER, Marais, Leipoldt, Jan Rabie, Piet Philander ...

  • Avatar
    Chris du Plessis

    Vir Pelser wil ek sê om Afrikaans se oorlewing te koppel aan die gewildheid van Afrikaanse popliedjies - wat deesdae al hoe meer Engelse woorde bevat en oppervlakkig is - is werklik sinneloos. Afrikaanse skole raak al hoe minder en heel duidelik is hulle in die visier van die ANC-regering en die DA is niks beter nie.
    Afrikaans is weer besig om ’n kombuistaal te raak en baie van die 'Afrikaanses' is besig om na Engels as huistaal oor te slaan. Ja die bruin mense beweeg weg van Afrikaans as huistaal, maar die FAK en ander instansies word nog gerun deur diegene wat nie werklik ’n belang het by Afrikaans nie.
    Afrikaners is die groep wat Afrikaans bevorder,want dit is deel van hul identiteit. Afrikaners behoort ’n Afrikanertaal-organisasie te hê wat hul taal volgens hul eie waardes bevorder. Internasionale menseregte beskou etniese groepe se reg om sy eie taal, kultuur, sosiale status en selfs ekonomiese ontwikkeling as ’n reg. Daar is egter baie mense in Afrikanergeledere wat Afrikaners as rassiste en Apartheid-aanhangers uitmaak wanneer hulle hierdie reg uitoefen. En jy mnr Pelser , is een van hulle. Jy ontken die Afrikaner se menseregte en onderdruk dit. Jy is besig om die Afrikaner se skuld oor apartheid op te bou tot ’n berg wat dit nie is nie. Die IRR het so pas bevind dat 24% van jong Afrikanermans te skaam is om hulself Afrikaners te noem. Wie is grotendeels verantwoordelik vir Afrikaners se swak selfbeeld?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top