Kaleidoskoop van ’n vriendskap

  • 16

Foto: verskaf

Kaleidoskoop van ’n vriendskap
(’n Ode met kwatryne vir Ahem)

Ek stuur vir jou ’n verjaardaggroet …
voel my ons het ligjare gelede al ontmoet
Ek rook ’n sigaar en drink ’n snapsie whiskey saam met jou
net omdat ek regtig van jou hou.

Jy het my pelgrimspad in die labirint
met ’n mosaïek van kleur bestrooi soos vir ’n sterrekind
Telkens wanneer jy die windklok lui
het ek geweet ─ vandag is weer verby.

Geel is vir jou kwinkslae en humor wat ons deel
en ons leer jong skrywers van hul eie innerlike toneel
Met haiku’s, tankas, pantoene as stimulans
tango ons telkens met rengas ons eie digtersdans

Pers is vir wysheid en laventelbekers
met koffie en skuim sit ons op my balkon en kyk
na die see se naderende branderbrekers
om te sien hoe walvisse spuit en dolfyne se spronge lyk.

Rooi is ons passie vir kreatiwiteit
en ons ontmasker die samelewing se skynheiligheid
As ons droom en drink in ons storiepalet
is elke ontmoeting ’n pretpakket.

Blou is vir gister, vandag en ewigheid
Die spookasem- en gekneusde wolke
annuleer vir ons die eindeloosheid van ruimte en tyd
laat ons ademloos dool in ons eie draaikolke.

Groen is vir ons albei se ontwikkeling en groei
en telkens met hoogwater is jy my reddingsboei
Ons kyk ver oor die see en sprei ons vlerke
en verbeel ons ons vryheid het geen perke.

Die kleuremoes praat van ons ander pogings
met allerlei eiesoortige betowerings
Ek bring Coke en lees vir jou gedigte want jy is siek
en ons maak kinderstories dramaties en outentiek.

Eindelik sê ons vir mekaar “wederom”
Mag die lappieskombers jou herinner tot volgende keer
as ons weer (in hierdie of ’n ander lewe) bymekaar kan kom
en vir nog ’n wyle vertoef in ons eie lugkastelesfeer.

  • 16

Kommentaar

  • Avatar
    Christa van Staden

    Ek het die speel met rympatrone wat mens vriendskap simboliseer geniet - paarrym sowel as omarmde rym. Die keuse van woorde om die vriendskap te beskryf is opvallend en dwing nooi die leser om betrokke te bly by die beskrywing van die vriendskap. Die kleure wat die vlakke van vriendskap simboliseer werk vir my besonders goed. Dit is opvallend dat die vriendskap nie aan donker kleure gekenmerk word nie. Ek is seker hierdie vriend sal die beskrywing van die vriendskap waardeer.

  • Louis du Plessis
    Louis du Plessis

    Weet jy Estelle, wat spreek tot my,
    keer op keer?
    Dat jou vriendskap so kleurvol
    met rym eksperimenteer!

  • Dankie vir die lees van die besondere gedig.
    Dis werklik vir stadig en hardoplees en dan mooi dink oor hoe en wat alles gesê word.

  • Avatar
    Johannes Slabbert

    Ek dink nie die digter weet eintlik hoe talentvol sy is nie. Sy't met hierdie gedig van 'n lappieskombers so pas op haar eie Magic Carpet geklim en daarmee begin om die wêreld vanuit 'n al hoër, vreugdevoller, kleurvoller en inspirerende perspektief te besing. Wow, dis lekker om om so 'n bydrae te beleef. Dit mag nie van die wêreld af terughou word nie.

  • Kaleidoskoop is vir my ook nog altyd ’n pragtige beskrywende woord vir ’n veelkleurige vriendskap.

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    Dankie Estelle vir 'n kortkursus in skryfkuns met hierdie gedig propvol atmosfeer en die deernis van vriendskap.
    'n Hoopvolle gedig wat die kleur bring tussen die lyne van die lewe. Ek hang hierdie woordkuns in my hart vandag.

  • Avatar
    Beverley Alberts

    Dit is baie mooi beskrywend van 'n baie spesiale vriendskap. Ek hou van die laslappie-effek en dat kleure met emosie geassosieer word. Baie slim! Dankie dat jy dit deel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top