Kairos vir Palestina en postapartheid-Suid-Afrika

  • 1

Ek het tevore gemeen die Israel-Palestynse kwessie gaan al vir duisende jare aan en sal seker altyd aanhou. En dat die saak baie (met “baie” taamlik uitgerek) kompleks is.

Ek het ook gedink die saak het twee (ewewigtige) kante. En dat dit in elk geval nie ons moeilikheid is nie – daarvan het ons reeds genoeg. Dus het ek gemeen dis nie vir my die moeite werd om hierby (ook nog) betrokke te raak nie.

Maar dit was voordat my pad gekruis het met ’n groepie Palestynse Christene wat verlede jaar hul Kairos Palestine-verklaring in Afrikaans kom bekend stel het. Toe het ek begin besef dat hierdie saak vir my, as ’n postapartheid-Suid-Afrikaner, van wesentlike belang is. En dis hoe dit gebeur het dat ek verlede jaar vir drie maande in die Wes-Oewer was en ook oortredings van menseregte en die internasionale humanitêre wet gemoniteer het.

In hierdie tyd het my kollegas van ander lande dikwels daarna verwys dat juis die Suid-Afrikaanse situasie hulle help om te bly hoop op ’n beter bestel. Wanneer ek saam met Palestyne gesit en kyk het hoe hulle familiegrond wat geslagte terugstrek, ontheem word vir die bou van die onwettige Muur, of hulle damme of huise platgestoot word deur ’n geel CAT- of Hyundai-stootskraper, of as ek foto’s geneem het van slagoffers wat geskiet is en van beskadigde olyfboordplantasies, boerderytoerusting, skole en moskees, dan het ek geen woorde gehad nie. In sulke omstandighede was ek keer op keer getref deur die grasie van gewone Palestynse burgers ten spyte van hul lyding. Hulle bly hoop op uitkoms, hoop dat die wêreld hulle sal raaksien as mense. En hulle het my soms gevra hoe dit is om in ’n postapartheid-samelewing te leef. Hoe is dinge nou in Suid-Afrika? wou hulle weet.

Hoe kompleks is die saak tussen Israel en Palestina?

Wanneer ’n mens internasionale wetgewing in ag neem, is die saak eintlik baie eenvoudig. Daarvolgens is Israel sedert 1948 (dus sedert die oprigting van die staat Israel) skuldig aan wydverspreide, geïntegreerde onmenslike dade wat sodanig gewortel is in wetgewing, in openbare beleid en in formele instansies dat die oortredings as geïnstitusionaliseerde apartheid beskryf kan word.1 Israel, ’n militêre supermoondheid danksy die VSA, probeer sedert 1948 om meer en meer Palestynse grond en water in te palm en om Palestyne en hul besittings te verdryf of sodanig te verarm dat die lewe onmoontlik raak.

Die Verenigde Nasies het in 1948 die destydse Palestina (in daardie stadium ’n multikulturele Britse kolonie) verdeel tussen Joodse Holocaust-oorlewendes wat die staat Israel verklaar het, en die nuwe Palestina (Gaza en die Wes-Oewer). Maar dit was nie genoeg vir ekstremistiese (Sionistiese) Jode nie. Binne drie jaar (1947 – 1949) het Israeli’s (vanaf 1948 ook met die hulp van die Israeliese weermag) ’n verdere 530 Palestynse dorpe vernietig en afgeneem en 700 000 Palestyne as vlugtelinge gelaat. Hierdie mense het gevlug met net die sleutels van hul huise en die klere aan hul lywe, en hulle kon nooit weer terugkeer nie.

In die sesdaagse oorlog van 1967 het Israel nog Palestynse grond afgeneem. Vandag het Palestina net 22 persent oor van wat die VN aan hulle gegee het. Hiervan beset Israel tans ’n verdere 60 persent volledig en ander dele gedeeltelik. 70 persent van die 11 miljoen Palestyne in die wêreld is vlugtelinge of ontheem.

Dié grondonteiening deur Israel gaan vandag volstoom voort in verskeie vorme. In 2011 was daar ’n ontstellende 80 persent-toename in die aantal huisslopings in vergelyking met 2010. 1 100 mense is ontheem, meer as die helfte daarvan kinders. Israel sloop ook waterbronne, klaskamers, moskees en diereskuilings. 4 200 mense se inkomste is verlede jaar geaffekteer deur slopings. Hierdie tendense word voortgesit in 2012.2 Ek het male sonder tal aanskou hoe families se grond onteien en hul eiendom gesloop word. Na so ’n dag het my hele lyf gebewe as ek saans in my bed geklim het.

Slopings en grondonteiening is maar net een van die gesigte van die besetting. Daar is ook Israel se beleid om nedersettings met Joodse immigrante (wat meestal geen genetiese bande met daardie stuk aarde het nie) in Palestina te vestig. Meer as ’n halfmiljoen Israeli-setlaars woon reeds so onwettig in die Wes-Oewer en in Oos-Jerusalem. Twee weke na Israeli eerste minister Netanyahu se toespraak aan die VN se Veiligheidsraad in September 2011 (deurspek met die woorde “vrede” en “waarheid”) het hy aangekondig dat 2 600 nuwe huise gebou gaan word in ’n nedersetting by Oos-Jerusalem, dus op Palestynse grond. Dan is daar ook die Israeli Muur, waarvan slegs 15 persent op die internasionaal-erkende grens (die Groen Lyn) loop. Die res van die Muur loop oor Palestynse grond – om vrugbare landbougrond in te palm. Wanneer dit klaar is, sal die Muur 709 km lank wees, meer as dubbeld die lengte van die Groen Lyn. Hierdie muur het min met veiligheid te make en baie met ongerief. Dis doodmaklik om dit te omseil – ek het dit telkemale self gedoen as ek laat was vir ’n afspraak in Bethlehem of Jerusalem. Maar vir gewone arbeiders vir wie elke sent tel, beteken die Muur dat hulle vanaf 02:00 soggens moet toustaan om bedags betyds by hul werk op te daag. As hulle laat kom, verloor hulle hul werkspermitte.

Voordat ek na die Wes-Oewer vertrek het, het ek gemeen dat die onregte so nou en dan, en so hier en daar, gebeur. Ek was verbysterend verkeerd, omdat onregte daagliks, aanmekaar, en orals, gebeur. Elke Palestynse burger se lewe word elke dag geraak, al is dit net op die vlak van toegang tot werk, ’n kerk of ’n moskee, tot familie en vriende, tot onderwys, water, elektrisiteit en mediese sorg.

Noudat ek, as ’n postapartheid-Suid-Afrikaner, self die omstandighede daar gesien, beleef en gerapporteer het, kan ek nie anders as om op te staan teen die sistemiese onregte van apartheid in Palestina nie. Apartheid beskadig nie net die onderdrukte nie, maar ook die psige van die onderdrukker. My benadering is gebaseer op ’n duidelike weerstand teen alle geweld, asook teen Israel se sistemiese oortredings van menseregte en die internasionale humanitêre reg. Die besetting moet eindig.

Maar hoe kry ’n mens vrede, menswaardigheid en veiligheid vir elke mens in die Heilige Land as politici en ander besluitnemers klaarblyklik probeer om die krisis te bestuur eerder as om dit op te los? Kan enkelinge ’n verskil maak?

In Desember 2009 het ’n groep Palestynse Christene in solidariteit met hul Moslem-landgenote ’n dokument met die titel Kairos Palestine: A Moment of Truth opgestel. Hierdie dokument, reeds in verskeie tale vertaal, is geïnspireer deur die Suid-Afrikaanse Kairos-verklaring van 1985. Die destydse Suid-Afrikaanse dokument was Christelike kommentaar op die politieke krisis van ’n apartheid-Suid-Afrika. Dit het aan die hand van kontekstuele teologie ’n alternatief probeer bied vir die onderdrukking en geweld in die land en die dokument het ’n wye debat in Suid-Afrika en in die res van die wêreld ontketen.3 Kairos Palestine is eweneens gegrond in kontekstuele teologie, en het reeds vanuit verskeie oorde, ook van Jode en Moslems, positiewe reaksie ontvang. Die Afrikaanse weergawe4 van Kairos Palestine is in April 2011 in Suid-Afrika bekendgestel: “Dit is ’n kreet van hoop in die volslae afwesigheid van hoop, ’n kreet gevul met gebed tot en vertroue in die God wat nooit slaap nie, die God wat steeds volhard in sy voorsiening vir alle inwoners van hierdie land.”

Hulle spreek eerstens hulself aan, en vra tweedens al die kerke en Christene ter wêreld om mee te werk aan ’n regverdige vrede in hulle streek. Hulle vra dat hul oproep op dieselfde manier ondersteun sal word as die Suid-Afrikaanse Kairos-dokument van 1985. Hulle verduidelik wat hulle verstaan as geloof, liefde en hoop, en hulle doen dit in broederskap met hul Moslem-landgenote. Hulle vra Palestyne en Israeli’s om die aangesig van God in mekaar te herken.

Twee jaar later, in Desember 2011, het hierdie Palestynse Kairos-groep met meer as 60 verteenwoordigers van 15 lande dwarsoor die wêreld in Bethlehem, Palestina, vergader. Hierdie keer het hulle Kairos for Global Justice gestig en The Bethlehem Call5 verwoord.
Waarom globale geregtigheid? Die konflik tussen die Palestyne en Israel word gefinansier deur die internasionale gemeenskap, en daarom is dit ’n internasionale kwessie. “Ons mag nie hiervan wegdraai nie,” sê die 60 mense: “Geregtigheid is die ander kant van liefde. Kairos vir Globale Geregtigheid vra die wêreld om ’n standpunt in te neem en deel te wees van ’n oplossing eerder as om pyn te handhaaf.”6

Wat is ’n kairos-oomblik? Kairos-tyd verskil kwalitatief van kronos-tyd. Kronos-tyd hou verband met die chronologiese en dus met ’n liniêre tydvak/tydsverloop. Kairos-tyd hou egter verband met die hede, en met ’n bepaalde geleentheid in ’n deurslaggewende moment. Daarom kan iemand wat so ’n kairos-oomblik ignoreer, dit nooit inhaal nie. Dit vra deelname in die hier en nou. Kairos-tyd benodig aksie, moed en transformasie.
Die oproep vanaf Bethlehem is daarom dringend: “Geen verdere ongeregtigheid nie. Hier staan ons. Staan met ons.”7 Hulle noem die Israeliese besetting ’n misdaad en ’n sonde, en lys dinge wat hulle nie kan aanvaar nie, soos:

  • die stilte van die Kerk
  • enige argumente van die internasionale gemeenskap wat daarop aanspraak maak dat die kernoorsaak van die probleme Moslems is eerder as die besetting
  • enige reise na die Heilige Land deur kerkorganisasies wat nie ook blootstelling aan plaaslike Palestyne en hul posisie in die Heilige Land insluit nie.
    “In liefde tier ons teen ongeregtigheid, en tog weier ons om vernietig te word deur ons woede.”8

Hulle vra vir bevestigende stemme vanuit Joodse, Moslem- en ander geloofsgemeenskappe in hul visie vir ’n demokratiese, pluralistiese gemeenskap in die Heilige Land. Hulle eis die aftakeling van Israeli-apartheid in Palestina en die volgende:

  • mense wat sy aan sy in geregtigheid en vrede leef in die grense soos vasgestel voor 1967
  • ’n gedeelde Jerusalem, insluitend oop toegang na alle heilige plekke
  • vir Palestynse vlugtelinge, die reg tot terugkeer
  • ’n einde aan alle uitbreidings aan nedersettings en ’n aftakeling van die nedersettingstelsel
  • vrye toegang tot water en sanitasie
  • die afbreek van die apartheidsmuur.

Hulle is verbind tot niegewelddadige weerstand wat aktiewe medewerking met Boycott, Divestment and Sanctions (BDS) insluit, en om toerisme na die Heilige Land wat die Palestynse perspektief insluit, te bevorder. (Die Ou Stad in Jerusalem, Bethlehem, die Dooie See en die Berg van Versoeking in die Jordaanvallei is, om enkele voorbeelde te noem, alles in Palestina, maar toergidse vertel pelgrims dis in “Israel”.)

“Come and see,” sê die Christene van Palestina. “Come and see the olive groves, bulldozers, the ancient terraces, the segregated cities. The situation is worsening.”9

As Suid-Afrikaner weet ek dit kan anders. En ek besef al hoe meer ek leef in ’n tydvak waarin die verbintenis tussen mense en alles wat bestaan, al hoe duideliker raak. Selfs dit wat ek in my mees private oomblik dink, maak saak en het ’n effek op andere.


Marthie Momberg is ’n onafhanklike skrywer, navorser en kommunikasie-strateeg van Stellenbosch. Sy was aan die einde van 2011 vir drie maande in die Wes-Oewer, Palestina. Sy het as deel van die Wêreldraad van Kerke se Ecumenical Accompaniment Programme in Palestine and Israel (www.eappi.org) beskermingsbegeleiding aan onderdruktes verleen en oortredings van internasionale wette gerapporteer aan die Verenigde Nasies, die Kwartet, die Rooi Kruis en Save the Children.
 


1 Kairos Southern Africa. The Russell Tribunal on Palestine. Cape Town Session: Summary of Findings, 7 November 2011. 2011. (2 Februarie 2012 geraadpleeg)

2 United Nations Office for the Coordination of Humanitarian Affairs. 2012. Demolitions and Forced Displacement in the occupied West Bank. (2 Februarie 2012 geraadpleeg).

3 South African History Online. The Kairos Document, 1985.: (3 Februarie 2012 geraadpleeg).

5 Kairos Palestine. 2011. The Bethlehem Call: Here we stand – Stand with us. (2 Februarie 2012 geraadpleeg).

6 Ibid.

7 Ibid.

8 Ibid.

9 Ibid.

  • 1

Kommentaar

  • Beste Meneer/Mevrou,

     
    Ek benodig vir my swaer 'n Afrikaanse weergawe van die 'Kairos document'. Het u so iets of weet u waar ek een sal kan vind?
     
    Die uwe,
    Lia.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top