Kabaal (Klankbaan) 'proe soos jou ouma se melktert'

  • 0

Die Pretoriaanse musikant Floris Groenewald se solo-projek, Kabaal (Klankbaan), "ignoreer genre- en taalbeperkings", hoewel dit in die breë sin amptelik as ’n "akoestiese folkrocksanger-liedjieskrywer"-projek beskryf word. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die projek, Afrikaans versus Engels, en hoe buie liedjieskryf beïnvloed.

Dagsê, Floris, hoe's dinge?

Gaaf, dankie! Besig om Kabaal (Klankbaan) se eerste avontuurtjie Kaap toe te reël!

Ek weet dit is bietjie flou om bands te vra waar die naam vandaan kom, maar ek dink in jou geval moet ’n mens tog vra: Wat is die storie agter die naam Kabaal (Klankbaan)?

Die naam Kabaal (Klankbaan) beteken vir my verskillende goed, en ek hoop dat dit op dieselfde manier sal werk vir luisteraars. Dit dui op die verskeidenheid van geluide – alles van die kabaal van alledaagse geraas tot die klankbaan van die rolprente in ons koppe. Miskien probeer ek met my musiekprojek om iets moois te maak uit die bitter, lelike wêreld waarin ons woon. Miskien strek my musiek self van ’n raserige rumoer na mooi melodieë. Ek is seker dat my ma party van my musiek ’n geraas sal noem, terwyl dieselfde snit vir iemand anders pragtig kan wees. Eintlik behoort die naam, nes die musiek self, vir elke luisteraar te beteken wat hulle self daarvan maak.

Op jou Facebook-blad word jou musiek as volg beskryf: "Proe soos jou ouma se melktert. Klink soos ’n vriendelike giggel. Ruik soos kleuter-gees." Die Nirvana-verwysing in die laaste sin is duidelik, maar kan jy uitbrei op wat hierdie beskrywing vir jou beteken en hoe jy wil hê dit moet mense na jou musiek lok?

Nes die “kleuter-gees” ’n blote verwysing sowel as ’n verwringing van Nirvana se woorde is, probeer ek die sin van bekende en onbekende meng. Ek weet nie of jou ouma se melktert dieselfde proe as myne nie, maar ek’s seker dit is vergelykbaar. Sekere stories en ervarings is universeel. My liedjies en my woorde is dalk uniek aan my, maar dit behoort bekend te klink en identifiseerbaar te wees vir die meeste mense.

Ondanks die bogenoemde beskrywing is jou musiek wat op Soundcloud en YouTube geluister kan word, nie wat ’n mens met ’n gegiggel sou assosieer nie – ek dink veral aan jou flagship-snit, "This town is for lovers". Tog is daar heelwat upbeat-snitte van jou op YouTube. Hoe balanseer jy die verskillende inslae?

Mens leef tog nie net in een bui nie. En net so moet jou musiek ook seker ’n verskeidenheid probeer vertolk? Meestal is daar nie regtig ’n kwessie van balans nie. Sonder om dit doelgerig aan te pak, het ek ’n groot genoeg verskeidenheid liedjies sodat enige optrede nie te swaar, te rockerig of te laf raak nie. Ek dink die Kabaal (Klankbaan)-repertoire het genoeg verskeidenheid om homself te komplementeer en in toom te hou.

In dieselfde asem: jy sing in Afrikaans sowel as in Engels. Watter taal is vir jou gemakliker om in te skryf? Wil jy eerder as ’n Afrikaanse of ’n Engelse kunstenaar bekendstaan en opslae maak?

Nes inspirasie self, kom en gaan die manier waarop ek skryf, en ook die tema en taal waarin ek skryf. Sommige gedagtes begin eenvoudig in Engels, en dan bou ek maar in dieselfde taal daarop voort. Partykeer is dit vir my makliker om my in Afrikaans uit te druk, en ander kere artikuleer ek net beter in Engels. Met die oorvloed buitelandse televisieprogramme, rolprente en musiek waaraan ons blootgestel word, en die multikulturele omgewing waarin ons woon, dink ek dis baie moeilik om jou tot een taal te probeer beperk. Ek sien my as tweetalig, en my gedagtes en idees maak maar beurte tussen Afrikaans en Engels. Ek dink eintlik ek is in ’n redelik gelukkige posisie om my as Afrikaanse, Engelse, en/of tweetalige musikant te ag.

Jy doen ook graag cover-snitte van ’n verskeidenheid kunstenaars, onder meer Chris Chameleon, The Eels en Desmond & The Tutus, wat almal verskillende style het. Watter kunstenaars het die sterkste invloed op jou werk?

Ek is absoluut fanaties versot op Eels, en hul liedjies is vir my ’n definitiewe inspirasie. Maar ek hou nogal van ’n verskeidenheid style en genres, en baie musikante of groepe is waardevolle voorbeelde of invloede. Chris Chameleon weet baie goed hoe om as solomusikant luisteraars aan sy lippe te laat hang. The Cure bied emosionele inhoud aan met ’n interessante en onverwagse mengsel van genres. Muse buig dikwels die reëls, maar gebruik tog hulle musikale vernuf om liedjies te maak wat werk vir ’n breë gehoor. Bob Dylan is ’n meester van stories vertel met liedjies. Daar’s tog ’n rede waarom ’n mens van iemand se musiek hou, so daar is sekerlik lesse om te leer in elke liedjie waarvan jy hou.

Die musiekbedryf in Suid-Afrika – Afrikaans sowel as Engels – is ’n moeilike een om by in te breek. As ’n jong kunstenaar, wat wil jy graag in die kort en lang termyn bereik en hoe beoog jy om dit te doen?

Daar bly maar altyd baie dinge wat mens nie kan beheer nie. So om op onbereikbare doelwitte te fokus, is absurd. Ek probeer my doelwitte dus maar hou by die dinge wat ek kan probeer beheer, soos om soveel moontlik op te tree, en bietjie geld te spaar om hopelik weer musiek op te neem. Ek wil ook graag met verskeie ander musikante saamwerk om só my horisonne te verbreed en nuwe dinge te probeer.

Wat was jou beste of lekkerste gig tot dusver?

Dis baie moeilik om te sê. Verskillende optredes is om verskillende redes lekker. Soms is die stemming of die atmosfeer net perfek. Soms voel jy goed omdat jy ’n liedjie se woorde onthou het. En of dit nou waar is of nie, kry jy soms die gevoel dat die gehoor vir jou luister, jou woorde verstaan, dat hulle een of ander emosionele verbintenis het, en presies begryp waaroor jy sing. Dít maak die heel lekkerste optrede. Selfs al is dit dalk alles in jou verbeelding.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top