Die Amici-strykkwartet wat in Kaapstad woonagtig is en deur kritici as “balsem vir die siel” beskryf word, lewer op Maandag 1 Desember ’n uitvoering van kontemporêre Suid-Afrikaanse strykkwartette. Die kwartet bestaan uit Suzanne Martens (eerste viool), Quentin Crida (tweede viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello). Alhoewel die kwartet meestal werke uit die sogenaamde standaard kwartetrepertorium speel, sal hul volgende konsert bestaan uit werke van drie plaaslike komponiste. Hans Roosenschoon se "To Open a Window" (1995) het reeds internasionale blootstelling gekry deur die Cillingarian-kwartet en die Zagreb-kwartet. Hendrik Hofmeyr se tweede strykkwartet (2007) is in opdrag van die Sontonga-kwartet gekomponeer en Thomas Rajna se tweede strykkwartet (2012) is aan die Amici-kwartet opgedra.
Die konsert vind op 1 Desember om 19.30 in die St. Andrew’s Presbeteriaanse kerk, hoek van Somerset- en Buitengrachtstraat, Groenpunt, Kaapstad, plaas. Kaartjies is teen R50 by die deur verkrygbaar en sluit ’n glas wyn na afloop van die konsert in.
Vir meer inligting kontak vir Suzanne Martens by martens@sun.ac.za.

