Kaalvoet: Amanda se musikale gedigte raak nog steeds die hart

  • 0

Kaalvoet
Amanda Strydom
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194291
Prys: R140.00
 


Amanda Strydom is veral bekend as kabaretkunstenaar, komponis en sanger-skrywer. Sy het in 2004 haar eerste boek, Kaalvoet, by Genugtig! uitgegee en dit is so pas weer uitgegee, deur Protea Boekhuis. Dit spog met ’n nuwe voorblad en verder is dit verblydend om te sien dat die teks enkele redigeringsveranderinge ondergaan het. Die bundel word verder pragtig geïllustreer deur foto’s uit Amanda se veelbesproke loopbaan.

Die liedtekste is, soos dit op die voorblad beskryf word, volgens spesifieke temas gerangskik na aanleiding van die lied "Trippe trappe trone", wat as indeks vir die bundeltjie dien. In die lirieke van dié lied vra sy: "Moet ek skryf oor die liefde/ Moet ek skryf oor politiek/ Oor die menslike kondisie/ Oor ons blou planeet se siek?" Sy gebruik hierdie temas (liefde, politiek, die menslike toestand en bewaring), saam met een wat sy bygevoeg het, naamlik "Reise en gebede", om haar bundel te orden. Sy het dieselfde liedtekste behou as in die 2004-bundel, maar dit doen geen afbreuk aan die impak wat die lirieke nog steeds op die leser het nie.

Daar is ten spyte van bogenoemde ordening ’n groot verskeidenheid van onderwerpe wat in elke tema aangeraak word. In die liefdesafdeling word onder meer die alleenheid in ’n verhouding pragtig ironies verwoord in "Liefdeslied", en die verlange na ’n geliefde wat weg is, word in "Madame Julie" beskryf. Daar is die emosie van die "ander vrou" in "Houvrou", die speelse liefde in "Ons kan láátlê" en die passievolle liefde in "Stoom". Onderwerpe wat onder die tema van politiek aangeraak word, is byvoorbeeld die wêreld van die Ou Suid-Afrika ("Die lied van ou Suid-Afrika”) en die invloed van die paswette in "Die pas", die bevrydingsrol van Afrikaans in "Hoor hoe brom die wind", die skiet-dood van Hector Peterson en die invloed van geweld op ons samelewing in "Inzinyanya (Die vergetenes)". Selfmoord ("Dodedans" en "Ek het gedroom (vir Ralph)”), die seermaak van kwetsende woorde ("Stadig oor die klippers"), die reis na binne ("My kamer"), die verlies wat dood bring ("Martjie") en die naderende ouderdom ("Bille en pille blues") is van die onderwerpe wat Amanda Strydom in die derde afdeling, wat oor die menslike toestand handel, verwoord. Die afdeling bevat heel gepas die meeste liedtekste. Die vernietiging van die natuur en die mens se rol daarin kom sterk na vore in die vierde afdeling met liedtekste soos "Doekvoet" en "Op ’n klein blou ghoen". In die laaste afdeling word die verskillende metaforiese reise as deurlopende motief in die vier liedtekste aangespreek. Die afdeling eindig gepas met "Rit huis toe" en veral die laaste reël, "‘perseverance’ was sy naam", wat Amanda Strydom se lewe waarskynlik die beste opsom.

Omdat Strydom so ’n verskeidenheid onderwerpe aanraak, is daar ook ’n verskeidenheid vertellers, benewens die persoonlike "ek", wat in lirieke soos "Liefdeslied", "Rit huis toe" en "Strydom/Amandla" aan die woord is. Van die vertellers is "Madame Julie", die ander vrou in "Houvrou", die onderdrukte swart vrou in "Die pas" en die vrou met die boggel in "Vrou by die spieël".

Ons ken Amanda Strydom as vertolker van die liedtekste op die verhoog, waar sy die fyn emosies van elke tekste meesterlik oordra. Maar wanneer mens die tekste bekyk, spreek haar knap digterlike hand ook. Sy vervolmaak byna die fyn gebruik van herhalings, hetsy dit klank- en woordherhalings is, soos byvoorbeeld gevind in "Ek loop die pad", "Whisky, water, weemoed", "Hooglied", "Stadig oor die klippers", "Doekvoet deur die duister/ Doekvoet deur die dag/ Voel vere vir die vrede" in "Doekvoet" en die a-assonansie in "Die pas", of rym soos in "Ons kan láátlê". Haar digterlike tegniek blyk ook uit haar gebruik van verskillende beeldspraak, soos byvoorbeeld "Die wêreld is ’n skrootwerf" in "Diva", "Jou hare blink soos koring" en "Jou nek ’n dawidstoring" in "Ons kan láátlê", "Ons galop soos wilde perde teen die duin af na die see" in "Silwer somer", "Die klippe word ’n oseaan, my Nissan word ’n skip" in "Rit huis toe", en "Ek wil bruisend en suiwer soos water wees" in "Water".

Amanda maak ook gebruik van intertekste met die kunste en kunstenaars. Daar is verwysings na sangers en akteurs, soos John Denver, Jim Morrison, Jimi Hendrix, Marilyn Monroe, James Dean, Koos du Plessis en James Philips, wat jonk en/of tragies gesterf het. Intertekstuele verwysings na kinderliedere kom ook voor: "Iemand het ’n lappop/ Op die ashoop weggegooi/ Sy was gedaan en stukkend/ Geskeur en nie meer mooi nie" uit "Dickie se lied", en die verskillende kinderliedere in "Hoor hoe brom die wind". Bybelse intertekste kom ook voor in die verwysings na "’n Ragab en ’n Lot", water as motief van genesing en seëning in "Water", die slang in "Gees van die kind", die haan as simbool van verraad in "Op ’n klein blou ghoen", en die nagmaal-simboliek in "Ek het gedroom (vir Ralph)”, wat ook intertekstueel verbind met Kerkorrel se lied "Hillbrow".

Die gebruik van ander Afrika-tale, soos in "Ndiyakholelwa (Ek glo)" en "Izinyanya (Die vergetenes)", is ook ’n tendens van Strydom se liedtekste.

In die postmodernistiese tydsgreep waarin ons vandag leef, wil dit voorkom of musiek en lirieke soos poësie is en word na musiek geluister om dieselfde redes as wat mense poësie lees: hulle identifiseer met die inhoud daarvan. Dit het tot gevolg dat die wisselwerking tussen musiek en poësie vernou en veroorsaak dat sangers ook as digters gereken word. Die toename in publikasies van boeke of liriekboeke deur sangers soos Amanda Strydom, Anton Goosen (Protea Boekhuis), Jak de Priester (selfpublikasie) en Valiant Swart (Lapa Uitgewers) bevestig die gedagte dat die musiek en die poësie nader aan­ mekaar beweeg. Daarom vind ons lirieke van Koos du Plessis, Anton Goosen, Gert Vlok Nel en David Kramer in Groot verseboek en in Pos­kaarte. Dis net jammer dat Amanda Strydom nie in die jongste Groot verseboek opgeneem is nie.

Dié liedtekste is nie net voorbeelde van Amanda se lirieke nie. Dit is nie net "’n waardige toevoeging tot die liedteks-skat in Afrikaans" (soos Hennie Aucamp dit in die nawoord verwoord) nie, maar dit wys die fyn digtershand wat daaragter lê. En dit is waar die waarde van dié boek lê.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top