jy in die boom

  • 0

jy wil ’n vrolike regop
populier wees
maar iewers in jou
sluimer ’n huilmoerbei
wat agterstevoor groei
in handjies wat
grond toe bloei
’n geslote boek
wat die son in die koelte
gaan soek

miskien is jy
kokerboom
wat nederig en trots
in rots en woestyn kan gedy
jou nektar vrylik skink
in kanariegeel blomme
wat uit jou stokkerige vingers drink
mens en dier
verras laat tas
na die geheime in jou bas

dalk is jy ’n wildegranaat
wat reukloos
met jou blomme praat
jou wortels skenk vir geluk
’n liefdesamulet
wat die bose verskrik
’n brousel in die bos
wat ’n bygelowige gees
laat kots

maar eintlik is jy
’n wilgerboom
wat op rivierwalle droom
jou lote sag oor die water vou
as reën en storms
jou aan die modder laat klou
weet dat jou groei
’n menstuin kan laat bloei
jy wat maar altyd eenkant staan
die wêreld sy gang laat gaan

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top