Jy bly my kind: Van verplettering tot kampvegting

  • 1


Titel: Jy bly my kind: ’n Ware verhaal
Skrywer: Lidia Theron
Uitgewer: hemel en see boeke
ISBN: 9780620351133
Prys: R95.95

Klik hier om Jy bly my kind: ’n Ware verhaal te koop by Kalahari.com.

Hierdie outobiografiese vertelling deur Lidia Theron oor die pad wat sy geloop het om haar gay dogter te aanvaar, is reeds in 2005 deur hemel & see boeke uitgegee en is dus geen nuwe publikasie nie. Volgens wat ek kon vasstel, lyk dit egter nie of daar veel mediabelangstelling in die boek was sedert die verskyning daarvan nie. ’n Jammerte, want hoewel mens sal wil glo dat ouers deesdae sonder veel bohaai hul kinders se seksuele oriëntering aanvaar en respekteer, raak ’n mens nog dikwels bewus van die teendeel.

Theron neem die leser na ’n tipiese Afrikaanse gesinsopset in die vroeë 1990’s waar sy as moeder van twee dogters pas met groot skok verneem het dat hul twintigjarige oudste dogter gay is. Hul kind se geboorte en haar grootwordjare word met groot deernis geskets. Daar was vooraf geen tekens dat Liesl nie heteroseksueel is nie; sy was ’n fyn, oraloor goedversorgde jong meisie wat skynbaar normale verhoudings met seuns en jong mans gehad het. Sy het hoegenaamd nie gepas in die stereotiepe beeld van “butch lesbiërs” wat in daardie stadium min of meer die Therons en vele ander ouerpare se verwysingsraamwerk daaromtrent verteenwoordig het nie.

Van aanvaarding was daar eers geen sprake nie, want dit sou beteken dat Theron as ma al die “normale” drome van ’n kommervrye loopbaan, goeie huwelik en kinders vir haar dogter sou prysgee. Dat Liesl verlief geraak het op ander meisies, moes ten alle koste stil gehou word. Hopelik was dit net ’n fase, en hulp was darem wel beskikbaar in die vorm van gebede: hul kerk was bereid om die gesin en die “sondaar” al die pad te ondersteun, solank sy haar sonde bely en haar verderflike leefwyse opsê. Dit het Liesl dan ook vir ’n hele aantal jare op bewonderenswaardige wyse probeer doen. Keer op keer, net om weer toe te gee en terug te val – in ’n diep gat van selfverwyt en die hartseer gedagte dat sy vir haar gesin en die kerk ’n teleurstelling en ’n verleentheid is.
Berading in nog meer gedaantes het geen blywende verskil gemaak nie.

Die besef dat Liesl nie kán verander nie en Theron dit moes aanvaar of haar kind verloor, het na die soveelste terugslag geleidelik begin posvat. Maklik was dit nie, want hulle was so gewoond daaraan om die stand van sake so goed as moontlik weg te steek. Vir Theron was die oopmaak van die kasdeur om ander familielede en hul naaste vriende in te laat, ’n reuse-tree.

Die besef dat haar dogter nog dieselfde Liesl is, word treffend geïllustreer deur Theron se vertelling van hoe maklik en onvoorwaardelik haar bejaarde ma haar kleindogter se “gay wees” aanvaar en ervaar het.

Baie water het reeds in Lidia en Liesl Theron se seë gevloei. Vandag is Lidia ’n kampvegter vir die aanvaarding en regte van gay mense. Jy bly my kind vorm ’n belangrike deel van haar bewusmaking onder diegene (ouers én kinders) wat dieselfde pad moontlik met ’n beswaarde hart moet begin loop. Die boek is goed geskryf in suiwer Afrikaans en bevat inligting wat baie nuttig kan wees om te voorkom dat ’n haas onoorbrugbare afgrond tussen ouer en kind ontstaan.

Indien iemand probleme ondervind om die boek te bekom, kan Theron per e-pos gekontak word by lidiatheron@telkomsa.net.

 

  • 1

Kommentaar

  • Net 'n regstelling. My e-posadres is lidiatheron3@gmail.com Daar is nog net 'n baie beperkte oplaag van hierdie boek beskikbaar en dis ook die meer by kalahari beskikbaar nie.
    Die boek kan direk van my bestel word. U kan vir my 'n e-pos stuur of vir my 'n boodskap op Facebook stuur indien u belangstel om die boek te bekom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top