By my inset van Dinsdag het ek per abuis gemeld dat Jupiter tans saans in die noordweste sigbaar is terwyl dit moet lees noordooste. Dit was nou soos hulle sê ’n bona fide-fout. Ek is darem seker dat dié wat dalk wel gekyk het, vir Jupiter maklik sou opspoor. Hy is tans baie helder en met ’n helderheidsgradering van -2.7, die helderste hemelliggaam uitgesonderd die son en die maan.
Daar heers groot opgewondenheid onder wetenskaplikes na die ontdekking van die exoplaneet Kepler 22b ongeveer 600 ligjaar van ons af. Van die 1 235 exoplanete wat Kepler sedert sy ingebruikneming ongeveer in Mei 2009 opgespoor het, val ongeveer 54 daarvan in bewoonbare sones maar Kepler 22b blyk op hierdie stadium die gunsteling vir die onderhoud van lewe te wees.
Daar is bereken dat die gemiddelde temperatuur op Kepler 22b ongeveer 22°C behoort te wees. Sy deursnit is ongeveer 2.4 keer die van die aarde wat beteken at die omtrek ± 96 000 km is en die oppervlakte 5.76 keer en die volume 13.8 keer die van die aarde is. Aanduidings is dat die hele planeet onder water bedek is.

Groete
Panda

