Jupiter en Venus en boodskap vir Jan Maarschalk

  • 0

Jupiter kan tans vroegaand in die Noordweste hoog bo die horison gesien word. Dit is in ’n baie gunstige posisie vir waarneming met teleskope en selfs kragtige nagverkykers. Dit is tans 4.27 AE’s van ons af. (1 AE = die gemiddelde afstand tussen die aarde en die son.) Met ’n kragtige nagverkyker wat verkieslik gemonteer is en ’n donkermaan, kan selfs die spikkeltjies wat die vier groot mane verteenwoordig met gemak waargeneem word en hulle verskuiwing van dag tot dag is op sy eie manier opwindend.

Venus, vroegaand sigbaar in die weste, is tans nog steeds in ’n posisie anderkant die son en 1.394 Astronomiese eenhede (AE) van die aarde af maar teen Maart 2012 sal dit slegs 0.821 AE weg wees en die aarde vinnig begin opvang.

Die gaping tussen Venus en Jupiter is tans 82º maar die gaping vernou vinnig en oor presies 3 maande – dus op 12 Maart 2012 – sal beide na sononder in die weste slegs 3° 12’ 37” uitmekaar, te sien wees. Natuurlik sal dit maar ’n optiese illusie wees wat aan parallaks te wyte is, want in werklikheid is dié twee planete op daardie datum meer as 4.5 AE’s uitmekaar.

Vir Jan Maarschalk: Astronomie is maar net ’n jarelange stokperdjie. Vandat ek my verstand gekry het, het ek saans buite gesit tot ek die eerste ster kon sien en toe ek kon tel, het ek gesit tot ek minstens 10 sterre kon sien. Dankie, vir jou vriendelike kommentaar.

Groetnis

Panda

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top