Gebore en getoë
Foto: verskaf |
|
Sêgoed van Julian de Wette “Engels is net as meer beskaafd (as Afrikaans) beskou; dit was nie soseer ’n suiwer politieke oordeel nie. Afrikaans is altyd as minderwaardig beskou. Jy is as ’n beter klas mens beskou as jy Engels gepraat het. Ek sien dit nog steeds dat Afrikaanse mense hulself beter voordoen deur Engels te praat. Dis een van die redes waarom ons Napier toe trek – om weer ’n slag onbevange met mense Afrikaans te praat.” (Karring, Winter 1998) “Ek het baie van New York gehou – die musiek, die kunste. Ek was gedurig in die opera. Ek is ook lief vir die skilderkuns en wou nog altyd graag my hand daaraan waag.” (Karring, Winter 1998) |
Julian Leslie de Wette is op 26 Junie 1951 in die Kaap gebore. Sy ma was ’n Vrystater van Wepener se wêreld en sy pa was van die Oos-Kaap. Julian is een van vyf kinders.
Sy pa was Afrikaanssprekend en die gesin De Wette se huistaal was grotendeels Afrikaans. Alhoewel Julian in ’n Engelsmediumskool was, was Afrikaans sy eerste taal. Sy oupa aan sy pa se kant het Afrikaans, Engels en Xhosa gepraat.
Sy pa was ’n onderwyser aan ’n Nywerheidskool in Ottery en Julian self het skoolgegaan aan die South Peninsula Secondary School in Dieprivier, waar hy gematrikuleer het.
Julian se liefde vir skryf kom van sy Engels-onderwysers af. Richard Rive was sy Engels- en Latyn-onderwyser en het ’n groot invloed op hom uitgeoefen. “Omdat ek Afrikaans was, het hy my altyd ‘domkop’ genoem! Ironies genoeg, kom hy self uit ’n Afrikaanse agtergrond! [...]
“Toe ek so dertien jaar oud was, het ek gedigte aan Jan Rabie gestuur en sy reaksie was: wag maar eers tot jy kan skryf voor jy weer iets aan my stuur! ’n Jaar daarna het ek gedigte aan Jack Cope gestuur en hy het my baie aangemoedig.”
Verdere studie en werk
Na matriek is Julian na Zoeloeland om daar in ’n sendinghospitaal te gaan werk. “In daardie stadium kon ek nie besluit of ek vir die kerk wou werk en of ek dokter wou word nie,” vertel hy aan Marion Hattingh en Steward van Wyk.
In 1972 is Julian oorsee, aanvanklik om verder te studeer, maar dit het in ballingskap oorgegaan. Hy is eers na Engeland, toe na Switserland en Nederland, waar hy mediese vakke gestudeer het, en daarna het hy ’n hele aantal jare in New York deurgebring – van 1974 tot 1989. Hy het wyd gestudeer: behalwe medies, ook Engelse letterkunde, kunsgeskiedenis en internasionale politiek.
Julian het vir ongeveer 17 jaar vir die Verenigde Nasies (VN) in die afdeling Openbare Inligting gewerk. In 1989 is hy oorgeplaas na Londen, waar hy vir twee jaar gewerk het. Hy was ook in Namibië tydens die oorgangstyd na onafhanklikheid, waar hy in die kantoor van die VN se spesiale verteenwoordiger gewerk het.
Hy is vir ’n rukkie terug na Engeland voordat hy na Kazakstan in die voormalige USSR verplaas is. Daar het hy vir byna drie jaar as waarnemende hoof van die VN-kantoor gewerk. Dit was pas na die ontbinding van die Sowjetunie. Hy vertel aan Hattingh en Van Wyk: “Toe ek daar kom, was daar niks. Daar was nie kos nie, of ’n potlood of ’n pen in die kantoor nie en ’n mens kon met moeite iets te koop kry. Dit was ’n radikale ander ervaring as die leefwyse wat ek tot in daardie stadium geken het. My vrou het my as assistent gehelp en verder moes ek personeel onder die plaaslike mense werf.
“Wat my altyd sal bybly van my verblyf in Kazakstan, is hoe arm die mense was, maar dat hulle mekaar so goed ondersteun het. Met die oorgang na ‘demokrasie’ (hulle noem dit so, maar dit is nie demokrasie soos die Weste dit ken nie) was ook die professionele mense brandarm. Kultuur en tradisie was feitlik vernietig, maar dit is geleidelik besig om weer terug te kom. Kazak is intussen selfs weer as amptelike taal erken.”
Terwyl hy oorsee was, het Julian op hoogte gebly met ontwikkelings in die Afrikaanse letterkunde deur sy vriendskap met Barend Toerien, wat gereeld boeke by hom aanbeveel het om te lees. Terwyl hulle in Namibië gewoon het, kon hy makliker Afrikaanse boeke in die hande kry, en van sy familie het ook gereeld vir hulle boeke aangestuur.
In 1998 bedank Julian as werknemer by die VN en keer hy en sy vrou permanent terug na Suid-Afrika. “Dit voel ’n bietjie eienaardig om na byna dertig jaar weer ’n gesprek in Afrikaans te voer! Een van die groot beweegredes vir my terugkeer was om my nou voltyds aan my skryfwerk te wy.”
Met hulle terugkeer vestig Julian en sy vrou hulle op Napier in die Suidwes-Kaap. Julian was nog altyd baie lief vir die see. “[D]is my eerste liefde en dan die berge. Dit was my hele lewe lank vir my swaar om ver van die see af te wees. Ons bly nou [voor hulle vertrek na Napier – ET] ook naby die see – Glencairn. As ons eers op Napier woon, kan ons gereeld oorry see toe. Arniston is vir my so ’n pragtige plek. […] Ons sal die stilte verwelkom en ek sien daarna uit om weer tuin te maak en te skryf.” (Karring, Winter 1998)
Julian se gedigte en kortverhale het oor die jare in Poetry Australia, New Contrast, Observations (NY) en die bloemlesing Somehow We Survive (NY) verskyn. ’n Aantal van sy Afrikaanse gedigte is ook in Afrikaanse, Nederlandse en Belgiese bloemlesings opgeneem.
Sy eerste digbundel, Die koning in die buiteland, is in 1977 by Perskor uitgegee, in die tyd toe Bartho Smit nog daar was.
Abraham de Vries (Die Burger, 3 November 1977) het gevoel dat Die koning in die buiteland een van daardie bundels is wat by die eerste lees nie aanklank by die leser vind nie, maar dat daar tog iets is wat bly steek. Hy meen dat ’n herlees van hierdie bundel nie vermorste tyd was nie. “Want – en ek sê dit nóg huiwerig – hier is, tussen ’n magdom digters nou se dae, één wat nie oornag weer gaan verdwyn nie. En van wie ’n mens dit nie hoop nie. […]
“(H)oewel die hoe van hierdie gedigte in hierdie debuut miskien nog heelwat te wense oorlaat, is die wat onmiskenbaar: ’n menslike nóód wat wissel en wankel tussen die vraag: ‘Wat is dit – dié wat my na ’n vreemde land toe dwing?’ en die wete:
Die koning staan blootgestel,
effe onnosel in New York
en sy skurwe hakskene is al
wat die koue weerstaan.
Hy sien sy erf op ’n afstand:
oopgevlek soos ’n snoek,
en hoor hoe die son
deur die Kaap skaterlag.
“Sien u waarom ek dié digter oornag nie ’n verdwyning toewens nie?”
Johann Johl (Volksblad, 25 Augustus 1977) het geskryf dat hierdie dun bundeltjie van 20 gedigte in tema ’n verskeidenheid toon wat wissel van die suiwer (lokaal-) realistiese oproep van insidente, verse oor figure as sentrale fokuspunte van (meestal) dramatiese gebeure, en enkele liefdesverse, tot by die tema van die koning in die titel. En dan haal Johl ook bostaande gedig aan.
“Die verwydering van sy land, ’n al groter vreemdheid teenoor wat daar aangaan, ’n ander vreemdheid in die nuwe tuiste en dan die dikwelse teruggryp na die bekende, is aspekte wat uit latere versreëls weer opklink. Wanneer die bundeltitel hiermee in verband gebring word, verkry die ‘koning’ ’n ironiese lading.
“Met ’n gegewe wat die ironiese en satiriese van meet af aan só pertinent uitspel, verwag die leser dat die lyn verder uitgebou sal word – hetsy deur projektering, skuinsverwysing, kommentariëring of watter procedé dan ook. Dit gebeur nie. De Wette se tematiese stramien is te vlak en besit nie die potensie tot geslaagde ironie en satire nie. As gevolg hiervan bly ironie en satire slegs ’n heel vae vermoede. Die enkellynige gegewe bly deurgaans té enkel; van kontrastering, terugwerkende perspektief-wisseling, woordvirtuositeit, ensovoorts kom niks voor nie. En juis hierdie fasette is noodsaaklik om die doel te laat slaag.”
André P Brink skryf in Rapport van 4 September 1977 dat die Afrikaanse poësie-in-ballingskap stadig begin aanwas. Reeds al in dié konteks sou Julian de Wette se debuut verwelkom kon word.
“Daar is nog ’n rede waarom die leser met meer as die gewone belangstelling dié skraal bundel opneem, en dit is die feit dat vir die eerste keer in ’n baie lang tydperk die stem van ’n nuwe bruin digter hiermee begin Afrikaans praat: op ’n tydstip dat die politieke bybetekenisse van die taal in baie kringe onder ernstige bedenkinge staan.
“Maar vanselfsprekend staan of val ’n bundel volgens die kwaliteit van die poësie daarin. As dit verwelkom moes word bloot op grond van óf die huidskleur óf die ballingskap van die outeur, sou mens jou aan ’n baie eng soort omgekeerde rassisme skuldig maak, of op sy allerbeste aan paternalisme.
“Nie een van dié gesindhede het plek in literêre evaluering nie. Daarom is dit so verblydend dat die bundel gewoon as poësie, as debuut van ’n nuwe Afrikaanse digter, met waardering gelees kan word. ’n Ongelyke bundel, dit sekerlik (daar is min bundels wat dit nié is nie); ’n bundel waarin ’n wekerige retoriek menige verse soos ’n skimmel aanslaan […], of waar cliché-beelde heelparty reëls ontsier […]; of waar ’n sekere stroefheid, ’n digterlike onwennigheid nog meermale hinderlik is […].
“Maar dan is daar óók verse wat op verskillende maniere en om verskillende redes besonder verdienstelik is – juis ook verse waar die eienaardige stroefheid funksioneel word, deel van ’n worp om agter die gewone aanskyn van dinge, groter en onsegbare stiltes aan te spreek:
Dis armoede wat jou teruggebring het,
en gebed;
nou sit jy smeek tussen lang wit kerse
en klou aan die maagd se klam vingers:
die bleek skaduwee in die venster.
“Dié reëls kom uit ‘Die erfenis’, ’n kort reeks wat in sy beste oomblikke iets hallusionêrs verkry, in die voorstelling van die mens as verlate en stamelende wese, droefgeestig en blootgestel in ’n baie onherbergsame wêreld. […]
“Maar daar is ’n ander, versweë, onthutsende ‘wêreld’ agter hierdie bundel. En dit is, verrassend soos dit eers mag klink, die spleen-wêreld van Baudelaire. Mens kan beswaarlik De Wette se titelgedig lees (een van die twee werklik manjifieke verse in die bundel) sonder om te dink aan Baudelaire se magtige reëls: ‘Je suis comme le roi d’un pays pluvieux,/ Riche, mais impuissant, et portant très-vieux.’ (‘Ek is soos die koning van ’n reënerige land, ryk maar magteloos, en nogtans baie oud.’)
“Sonder dat ek vir ’n oomblik invloed wil suggereer, meen ek dat De Wette hier spontaan ’n persoonlike idioom gevind het vir die Franse digter se spleen: dit verbaas dan ook nie om eintlik dwarsdeur Die koning in die buiteland Baudelaire se reël ‘Car le tombeau toujours comprendra le poète’ (‘Want die graftombe sal altyd die digter verstaan’) in jou ore te hoor klink nie.
“Dit geld besonderlik die twee beste gedigte: eerstens die titelgedig, […] en die tweede hoogtepunt van die bundel, ‘Martha aan die Steenbergse gemeente’ met sy haas ongelooflike deureenspel van die eerbiedige en die banale, die verhewene en die platte, die sombere en die komiese, in ’n voorstelling van die graf-geslane mens, verbyster én deur Goed én deur Kwaad. Lewenslank blootgestel aan die dood.”
Brink meen dat op grond van hierdie twee gedigte Julian de Wette se debuut verwelkom kan word as ’n klein maar hoogs besondere nuwe groeipunt.
Verban: verbinne word in 1980 by Perskor uitgegee. André le Roux (Beeld, 16 Februarie 1981) skryf: “Die tema van verbanning, afsondering en mens-verstote neerslagte in Verban: verbinne tree sterker op as in sy eerste bundel, maar die bevrediging van goeie verwagtings wat sy debuut met goeie reg geskep het, ontbreek en ’n mens sou nou fyner poësie, méér afgeronde verse en ’n verbreding van die ‘ek’ se emosies en ervaringswêreld wou gesien het. Daar kom egter iets kort en De Wette se digterskap verloor aan breër geldigheid en nuutheid.
“Dit sou egter kortsigtig wees,” skryf Le Roux verder, “om hierdie verse op grond van tekortkominge skeef te oordeel, want De Wette bly ’n digter uit eie reg. Die waarde van sy tweede bundel lê daarin dat hy met groter sekerheid met woorde omgaan, voortbou en uitbou met verskerpte visie op gedig-materiaal – hoewel nie altyd met goeie geïntegreerde gevolge vir die gedig nie.”
Le Roux sluit af: “As De Wette kan loskom van clichés, gemáákte verse en woordverbindings, ondeurdagte beeldspraak, die (sy) politiek en temas noukeurig kan behandel, sal hy die Afrikaanse poësie dwing om met sy stem rekening te hou.”
DF Spangenberg (Die Transvaler, 5 Januarie 1981) kon weinig positiefs oor Verban: verbinne skryf. “De Wette voer understatement – ’n algemeen aanvaarde tegniek in die poësie – só ver dat ’n mens by haas elke gedig moet raai en gis oor die betekenis van die bepaalde woorde en gedeeltes, en na herhaaldelike lees nog steeds moet raai en gis. Dít dui daarop dat die digter iewers die spoor byster geraak het.”
In 2002 – 22 jaar na sy vorige bundel – word Julian se derde bundel verse, Tussen duine gebore, by Protea Boekhuis uitgegee. Dit is ook sy eerste bundel nadat hy in 1998 na Suid-Afrika teruggekeer en hom in Napier gevestig het.
“Die immer gevoelde verlange na die vaderland en die moedertaal vind neerslag in baie van die liefderyke gedigte in hierdie bundel,” skryf Bernard Odendaal in Volksblad van 20 Januarie 2003. “Die bundeltitel spreek reeks van ’n soort wedergeboorte-ervaring in sy nuwe tuisdorp in die Overberg.
“Familieherinneringe en -betrekkinge, asook die digter se verbintenisse met die sogenaamde kleurlinggroep (‘Boorlinge sonder etnisiteit’) en met die groter Suid-Afrikaanse samelewing, word meestal liefdevol en speels verwoord. Ook die dorps- en natuurlewe in Suid-Afrika word hoofsaaklik deernisvol geteken. Op verskeie plekke in die bundel maak die digter sy kennis van die Afrikaanse literêre tradisie deur verwysings of toespelings duidelik. Uit dit alles straal ’n uiteindelik dankbare vereenselwiging met die vaderland en die moedertaal.”
Odendaal voel dat Tussen duine gebore ’n digterlike stap vooruit verteenwoordig en van ’n sterker-ontwikkelde sintuiglikheid spreek as die vorige twee bundels. Wat styl en vormgewing betref, skiet die poësie egter nog te kort. “Beeldtroebelhede en sintaktiese lomphede kom dikwels voor. Laasgenoemde word soms vererger deur inkonsekwente leestekengebruik en is des te meer opvallend waar die digter hom deur die rymdwang van vaster vorme laat onderkry. Dit lyk bowendien of die lang buitelandse verblyf sy letsels op die digter se beheersing van die Afrikaanse idioom gelaat het. Hiervan getuig die baie onsuiwer woordkeuses, veral wat voorsetsels betref. Nog ’n belangrike tekortkoming is die breuke of wollerighede in die samehang binne individuele gedigte, soms veroorsaak deur die genoemde beeldtroebelhede. Vir my was die eenheid van gedigte in sekere bundelafdelings (‘Familietrekke’, ‘Verbintenisse’, ‘Vermaaklikheid’) ook nie ewe noodwendig nie.
“Poëtiese aanvoelinge en sieninge kom oral voor, maar net soms groei dit tot bevredigende gediggehele. Die laaste drie afdelings bevat enkele verse wat ’n mens oortuig van groei in De Wette se digterskap.”
Philip John (Beeld, 21 April 2003) skryf dat ’n mens reeds uit die titel van die digbundel kan aflei dat ’n Bybelse verwysingsfeer vir dié digter en sy nuutste bundel belangrik is. “Psalm 114 word dan ook afgedruk as ’n soort proloog en vier van die ses afdelings in die bundel het ’n teksvers as motto. Dat al die Bybelverse uit die Ou Testament kom, is belangrik. Hiermee word al die wedervarings en die lewensfeer van die volk van die God van Jakob in die woesteny opgeroep, asook van die mooiste poësie wat ons ken – Dawid se psalms, Job, Jeremia se klaagliedere, Hooglied ensovoorts.
“Daar is egter ’n groot gevaar verbonde aan die gebruik van die Bybelse gegewe as agtergrond: indien die digter se poësie nie ten minste soms dié van die Bybelse agtergrond ewenaar of benader nie, is al wat die leser later hoor die stemme van die Bybelse digters en nie dié van die hedendaagse digter nie. Benewens die gebruik van teksverse as motto’s, sluit De Wette se gedigte aan by ’n Ou-Testamentiese sfeer deur die klem op verskeidenheid, op God se gawe om die woestyn te laat blom; om teen alle verwagting en rede in tog vrugbaarheid in die woestyn toe te laat.”
Vir John is Tussen duine gebore ’n teleurstellende leeservaring, “hoofsaaklik as gevolg van die klem wat die anekdotiese in die bundel kry en die gepaardgaande indruk dat die poëtiese minder sterk teenwoordig is. Die gebruik van die Bybelse agtergrond versterk so ’n indruk ongelukkig nog verder, eerder as dat dit ’n dimensie tot die bundel byvoeg.
“As een van die stroom bundels wat Protea Boekhuis die laaste ruk gepubliseer het, is dit uiteindelik ook ’n bundel wat ’n mens laat vrees dat daar sprake kan wees van ’n herverskyning van die Perskor-faktor van die 1970’s en ’80’s in die Afrikaanse poësie (toe die uitgewerye Perskor en Tafelberg tot die nadeel van digters oorhaastig ’n stortvloed poësiebundels gepubliseer het, waarvan talle swak was). Met net ’n bietjie minder haas en strenger redigering kon dit ’n heel skaflike bundel gewees het en kon ons dié ongemaklike déjà vu gespaar gebly het.”
Lina Spies (Die Burger, 17 Februarie 2003) beskou Tussen duine gebore as ’n besliste vooruitgang op Julian se eerste twee bundels. “Herinnering is steeds ’n sentrale tema in die bundel, maar neem nou die vorm aan van ’n bestekopname van sy verlede; van dít wat hom gevorm het binne ’n gesin, ’n familie en ’n samelewing.
“Ek het waardering daarvoor as ’n bundel waarin ’n digter die opheffing van sy vreemdelingskap weergee as ’n outentieke ervaring; die hernude ontdekking dat jy behoort: aan jou taal, jou land en jou mense. Die vraag wat by my opkom, is of hy hierdie ervaringswêreld werklik poëties bemeester het. Vra sy hoofsaaklik epiese ingesteldheid nie dalk om ’n ander genre, miskien die kortverhaal, nie?”
In Literator (April 1003) berus Marthinus Beukes se sterkste beswaar teen Tussen duine gebore in die gestruktureerdheid en rubrisering van die afdelings wat aanvanklik as rigtingduiders van vitaliteit, wording en voortplanting gesien is. “Die gedigte in die onderskeie afdelings word nie geslaagd met die afdelingsmotto’s uit Bybel- en ander tekste nie. ’n Religieuse atmosfeer word aanvanklik geskep, maar dien niks meer as ’n slegs plastiese en stofferingsdoel nie. Die aanvanklike verwagting van geboorte van ’n onderdrukte of miskende volk word nie enduit volgehou nie. Mens- en natuurgedigte blyk dus nie in bundelverband ’n simbiotiese leefsfeer te besit nie.”
In 2010 publiseer Umuzi ’n roman van Julian getiteld A case of knives. Hierdie roman het ’n lang en interessante geskiedenis; vir sommige skrywers is dit ’n lang en eensame pad voordat hul roman uiteindelik gepubliseer word.
Kirby van der Merwe verskaf die agtergrond van Julian se debuutroman, A case of knives, in Rapport van 5 September 2010: “Met dié boek is dit dalk gepas om die keurverslag (14 Februarie 1982!) wat De Wette van die New Yorkse uitgewers Doubleday vir dié manuskrip ontvang het, volledig aan te haal. Die keurverslag deur ene J Onassis vat die roman goed saam, en ’n deeltjie daarvan word as ’n prikkel op die boek se agterblad aangehaal: ‘Here is a moving South African novel by a sensitive and gifted writer. I would very much like to see us get it; pay enough for it and publish it well. I feel sure that Viking-Penguin will want it and see no reason why they should have a monopoly on these stirring books that are treating one of the major political problems in the world today.
“‘The author, a colored man, is able to put himself inside the Afrikaner’s mind and present him with understanding and elicit our sympathy. The fascinating subject this book treats, is the power of the witch doctor in African society, how the whites are as affected by it as the blacks. As any US government official or businessman can testify, it plays a vital role in working with African countries and I am not aware of its having been the subject of a book before. The language in this book has a curious rhythm. Once you get into it it carries you in its flow and makes your experience of the book more rather than less intense.’
“Daar is min (Suid-Afrikaanse) skrywers, indien enige, wat met ’n keurverslag – goed of sleg – van ‘J Onassis’ kan spog, veral as die keurder die eertydse Amerikaanse presidentsvrou Jacqueline Kennedy Onassis is. Onassis (1929–1994) het ná die dood van haar tweede man, die Griekse skeepsmagnaat Ari Onassis, as boekeredakteur by Doubleday begin werk.
“Die roman, met die destydse werktitel Potiphar’s Wife is toe nie deur Doubleday vir publikasie aanvaar nie. En daarna het dit met ander werktitels by ’n paar uitgewers ’n draai gemaak, ook sonder sukses. Maar soos De Wette dit wil hê, het elke boek sy tyd om te verskyn, al neem dit lank.”
A case of knives speel af in Suid-Afrika van die 1960’s: Suid-Afrika het pas ’n republiek geword en die eerste minister, die voormalige minister van die destydse naturellesake, is besig om sy beleid van rasseskeiding, rasseklassifikasie, die Groepsgebiedewet en dies meer te implementeer. De Wette poog inderdaad om deur die oë van sy hoofkarakter, die seun of jong man Enoch Pretorius, dié staatshoof, ene dr Sybrand Schoon, en sy gesin menslik voor te stel. Die roman kom met ’n interessante kwytskelding voor in die boek: “This story is not essentially about how things were, but about how they might have been … Any person or entity lodging an objection considered frivolous by the registrar will be prosecuted to the fullest extent of the law.”
Kirby van der Merwe vertel verder: “Dié kwytskelding word (dalk onbedoeld) die eintlike motto (daar is twee ander) van die boek. Dit speel, ironies, sentraal in op die moord op die eerste minister deur die gesin se butler.
“Enoch se paaie kruis met dié van die Schoons toe hy naweke by sy oupa, ’n tuinier by die eerste minister se Kaapse herehuis, gaan kuier. Sy oupa Hans is ’n komplekse kêrel. ’n Tuinier ja, maar ’n man, soos dit later blyk, wat eerder raadgewer en tolk en tussenganger is vir die destydse minister van naturellesake en belangrike swart persoonlikhede soos die bekende Transkeise ‘toordokter’, die ‘stinkryk’ Khotso Sethuntsa (vergelyk Felicity Wood se The Extraordinary Khotso, Millionaire Medicine Man of Lusikisiki). Maar hy is ook ’n linkse politieke aktivis wat Enoch aan albei kante van die rasseskeidslyn blootstel – hy ís wel die dissidente stem.
“Oupa Hans is dan in meer as een opsig die drywer van die verhaal. Dit is immers hy wat die jong Enoch opdrag gee om sy vertellings neer te skryf. Dit is in dié (tweedehandse) opskryf van gebeure, soos Schoon se middernagtelike besoeke aan Khotso vir dié se sterk medisyne en Enoch se inkleur daarvan, dat die skrywer homself kwytskeld.
“A case of knives het gebreke: die vloei en vaart van die verhaal word belemmer deur die inkleding, die oordaad onbenullige inligting oor die 1960’s, waaronder die Britse Profumo-skandaal. En die werklike karakters, soos HF Verwoerd en Dimitri Tsafendas (verbloem met skuilname en die skommeling van die chronologie van gebeure) praat te hard saam. Een van die temas – dr Sybrand Schoon / Hendrik Verwoerd se spesiale band met Khotso (en Schoon, wat weens sy beleid van aparte ontwikkeling die ‘beskerming’ van die inyanga verloor) – val plat as jy Felicity Wood se biografie van Khotso gelees het.
“Omdat die boek in die Kaap afspeel, mis dié leser die klank en die tekstuur van die Kaapse Afrikaans van die 1960’s in die dialoog. Maar dis enkele besware wat nie die verhaal, of J Onassis se ervaring daarvan, ongeldig maak nie. Inteendeel. Dit is ’n waardige toevoeging tot die betreklik min romans wat die Verwoerd-era bekyk. Die roman gee ’n outentieke blik op die 1960’s en De Wette se eie grootwordjare en belewenis in die Kaap.
“Dit is inderdaad ’n tydsdokument wat die groter kwessies, die politieke klimaat, die denkwyse van daardie tyd onder die vergrootglas plaas en soms daarmee spot, soos in die geval waar slim (die Schoons se butler) sy baas vang.”
Op LitNet laat skryf Jonathan Amid oor A case of knives: “While many novels have explored the political and personal ramifications of living under the apartheid regime, few have employed such a terrific sense of narrative brio humour as A case of knives, an often hilarious yet ultimately serious-minded coming-of-age tale that uses real events and characters to create an allegorical social commentary on the nature of power, the importance of family ties and the need for the individual story to be told.
“De Wette’s storytelling mosaic deals with interwoven relationships during the 1960s that centre around the South African Prime Minister Dr Sybrand Schoon (a clear reference to Hendrik Verwoerd). Constructed around finely chiselled characters and studies of his relationships with his tribal advisor the witchdoctor Khotso, along with his son Dries and wife Alison, Ou Mevrou Jansen, De Wette rounds out a full and fully realised cast of characters that contribute both tremendous humour and pathos to the novel. The two most important characters are arguably Enoch and his grandfather, Oupa Hannes. Enoch is the studious and shy young protagonist, the son of frighteningly overbearing parents and grandson of the gardener at the Schoon family estate, while Oupa Hannes is the voice exposing much of the novel’s inquiry into machinations of state and society during a time of civil unrest and disobedience.
“While the novel chronicles the fictional events and undercurrents of racial and political upheaval ultimately resulting in the death of Schoon at the hands of the family butler Mr Molineaux (a serpentine character with many of his own demons to battle), De Wette’s plot echoes the reality of the South African Prime Minister Verwoerd’s murder at the hand of Dimitri Tsafendas. Although a large amount of the novel’s enjoyment would be spoiled by giving away too much of the plot and descriptions of its other characters, it is fair to say that muti, racial classification and reclassification, marital and religious debates, horse-racing anecdotes, bureaucratic blunders and storytelling wonders combine to produce a warm-hearted yet thought-provoking meditation on a South Africa of the past.
“With a flair for storytelling and a sensitivity towards his characters, A case of knives cuts deeply through the absurd heart of racism and discrimination, allowing the reader to draw many parallels between a country at war with itself in the past and the uncertainty of a future where leaders with true visions of equality and togetherness are all too scarce. Ultimately, it is a journey for readers that is both compelling and necessary.”
A case of knives is in 2011 vir die Sunday Times Fiksieprys benoem.
Nadat Julian na Suid-Afrika teruggekeer het, het Marion Hattingh en Steward van Wyk hom gevra oor sy indrukke van Suid-Afrika in 1998. Vir hom was daar baie onsekerhede in die land, maar as hy terugdink aan van die ander gebiede wat hy in oorgang gesien het, het dit daar veel erger gegaan.
“Wat opval, is dat mense geneig is om nie te wil erken dat hulle Suid-Afrikaners is nie. In die gedig ‘Verban verbinne’ praat ek oor hoe ek die toekoms van Suid-Afrika beskou. Ek gebruik die term ‘bloedlastering’, dat swart en wit almal teen mekaar laster – dis soos om teen die lewe self te laster. Ons kan ’n nuwe kultuur ontwikkel en ons deel baie met mekaar, maar ons wil dit nie altyd graag erken nie.
“Ek het hoofsaaklik Westers grootgeword – ek is ’n Christen en my skool was feitlik nes enige Europese skool. Ons het min kontak met swart mense gehad, alhoewel my oupa Xhosa kon praat. Dit was een van die redes wat my na Zululand laat gaan het – ek wou graag met hierdie mense kontak maak en hulle leer ken. Ek het nie direk op universiteit met Swart Bewussyn kennis gemaak nie. Veel later het ek Steve Biko se werk gelees. Ek het die gedig ‘Imam’ in my laaste bundel aan hom opgedra. Dit handel oor ons huiwering om ons Suid-Afrikaansheid te erken.”
Publikasies:
|
Publikasie |
Die koning in die buiteland |
|
Publikasiedatum |
1977 |
|
ISBN |
0628011520 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Verban: verbinne |
|
Publikasiedatum |
1980 |
|
ISBN |
0628018401 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Tussen duine gebore |
|
Publikasiedatum |
2002 |
|
ISBN |
1919825703 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
A case of knives |
|
Publikasiedatum |
2010 |
|
ISBN |
9781415201183 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Umuzi |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor en deur Julian de Wette
- De Wette, Julian:
-
- “Life skills – a song of temptation” [gedig]. LitNet, 20 Oktober 2011
- When he’s in a hijack mood [gedig]. LitNet, 8 November 2011
-
- Hattingh, Marion en Steward van Wyk: Julian de Wette: digter terug na jare in die buiteland. Karring, Winter 1998
- Julian de Wette. Versindaba
Julian de Wette se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-06-23 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: verskaf