J.R.L. van Bruggen (Kleinjan) se eenbedryf “Bloedrivier” uit Bakens: Gedramatiseerde mylpale uit die Groot Trek (1938/1939) – ’n terugblik vanuit 2013

  • 0

Opsomming

In hierdie artikel fokus ek op een drama, “Bloedrivier” (uit die bundel eenbedrywe Bakens) deur J.R.L. van Bruggen (Kleinjan) in ’n poging om die 175ste herdenking van die Groot Trek en die Slag van Bloedrivier ook in verband te bring met die dramatiese werk wat daarmee verbind kan word. Van Bruggen het sy bundel eenbedrywe geskryf met die uitdruklike doelwit om in 1938, tydens die eeufeesviering van die geveg, hierdie historiese gebeure ook op dramatiese wyse te herdenk. Hy het met hierdie eenbedrywe probeer om met die gebruik van die sogenaamde dokumentêre dramavorm die illusie te skep van die skynbaar feitelik-historiese weergawe van hierdie gebeure. Sy keuse om in die eenbedryf “Bloedrivier” sterker op sekere bronne (Jan Bantjes) as ander (Sarel Cilliers) te steun kan as veelseggend beskou word. Ter inleiding van my fokus op hierdie spesifieke drama verwys ek kortliks na die voorkoms en rol van dramatiese werk/voorstellings by die Groot Trek-herdenkingsfees en ander feeste (o.a. die grootskaalse gebruik van historiese tablo’s by hierdie feeste). Die teoretiese raamwerk waarbinne my bespreking van die eenbedryf “Bloedrivier” vervolgens geplaas is, sluit aan by sekere aspekte wat die sogenaamde Nuwe Historisme kenmerk. Aangesien hierdie benadering dikwels ’n redelik omvattende en gedetailleerde studie van die sogenaamde sosiale energieë (soos uiteengesit deur Stephen Greenblatt 1988) van ’n tydvak inhou, wat moeilik in die bestek van ’n artikel volledig gedoen kan word, is daar besluit om hier slegs op sekere kernaspekte van die benadering te fokus. Wat in hierdie artikel dus wel aan bod kom, is hoofsaaklik ’n poging om te wys hoe literêre en ander tekste (in hierdie geval historiese bronne/dokumente) op mekaar inspeel; dat die literatuur as kulturele praktyk naas ander praktyke staan (historiese, politiese, sosiale e.a. praktyke); die rol van magsverhoudings binne die betrokke historiese periode, en veral dat alle “waarhede” gewoon histories vasgelê is. Die polemiese sake rondom die Slag van Bloedrivier – veral die Gelofte self – word betrek binne die bespreking van Kleinjan van Bruggen se drama. As gerekende akademikus en opvoeder van sy tyd sou hy wel deeglik kennis geneem het van die verskillende standpunte oor die Slag van Bloedrivier en die Gelofte in sy eie tyd. Ek probeer uitwys in watter mate hierdie drama kan bydra tot die debat oor ’n historiese aangeleentheid en hoe dit as ’n kultuurproduk van 1939 doelbewus aangesluit het by die strewe om Afrikanernasionalisme te vestig en te bevorder deur middel van ook die kultuur en bepaalde kulturele aktiwiteite soos die drama. In sy doelwit om ’n sogenaamd histories korrekte weergawe van die gebeure te gee, poog Van Bruggen terselfdertyd om die ideologie van Afrikanernasionalisme te bevorder.

Trefwoorde: Kleinjan van Bruggen; Bakens; “Bloedrivier”; 175ste herdenking Groot Trek en Slag van Bloedrivier; Bloedrivier-gelofte; historiese drama; Nuwe Historisme


Abstract

J.R.L. van Bruggen’s (Kleinjan) one-act play “Bloedrivier” from Bakens: Gedramatiseerde mylpale uit die Groot Trek (1938/1939) – in retrospect from 2013

December 2013 marked the 175th anniversary of the Great Trek and the Battle of Blood River. This article focuses on the one-act play “Bloedrivier” (Blood River), from the anthology Bakens (Beacons) by J.R.L. van Bruggen (Kleinjan).

Van Bruggen wrote his anthology of one-act plays during the time of the centenary celebrations of these historical events (1938), with the explicit aim of commemorating the events dramatically. He endeavoured, by means of the documentary drama genre, to create the illusion of a seemingly factual version of the historical events. He made a significant choice by choosing the journal kept by Jan Bantjes (and not the recollections of Sarel Cilliers) as his main source.

The theoretical framework for the study is based on aspects of New Historicism. Since this approach often entails extensive and detailed study of the so-called social energies characterising a certain period (as discussed by Stephen Greenblatt 1988), I utilise only certain aspects of this approach: to demonstrate how literary and other texts (in this case historical sources or documents) interact with one another; that literature as a cultural practice stands next to other praxis (historical, political, social, etc.); the role played by power relations within the historical period concerned; and that all “truths” are historically determined.

In an introductory section I discuss the occurrence and role of dramatic work and representations (especially the extensive use of historical tableaux) during the centenary celebration of the Great Trek (in 1938) and at other history-related festivals. I also provide brief biographical information on the author Van Bruggen. The bulk of the article is a discussion of the one-act play “Bloedrivier”.

I highlight the sources on the Battle of Blood River and its covenant which Van Bruggen utilised. The focus shifts to how Van Bruggen depicted various contested aspects of the covenant based on these sources (such as its date, the place where it was officially declared, the covenant itself, historical persons associated with the event, how binding the covenant is on the Afrikaners’ descendants, etc.). Then the second scene of the play, described in the stage direction as “the day after the Battle of Blood River”, is discussed in more detail.

There are only a few primary sources relating to the Battle of Blood River and the covenant. Even one of the main sources, the journal of Bantjes, does not provide detailed information and commentators interpret his descriptions and statements differently. It is, however, generally considered to be the most reliable source because Bantjes kept a diary of the events as they were taking place. The text by Cilliers is regarded by many historians as substantially less reliable because he wrote his recollections down 30 years after the events. The reliability of texts by other authors is also lacking in terms of their recollection of the events.

Van Bruggen’s dramatic representation of the historical preamble to the declaration of the covenant is based on the choice he made out of sources available to him at the time – a choice that was significant and one that resonates in the numerous polemics that characterised the covenant in the decades that followed. The specific focus Van Bruggen placed on Jacob Naudé as a person who refused to commit himself and his descendants to the covenant is significant. Reference to this historical figure is rare in early sources (e.g. Van Zyl 1940) and even in more recent sources, which focus on the demythologising of the covenant, there is either no mention of him or he is referred to briefly in footnotes (Spies 1988; Liebenberg 1988).

The polemical aspects associated with the Battle of Blood River – especially the Blood River Covenant itself – forms part of the discussion of Van Bruggen’s play. As esteemed academic and educator of his time, Van Bruggen would have taken note of the various viewpoints regarding the Battle of Blood River and its covenant. I indicate the contribution this play makes to the debate around this historical event in Afrikaner history, as well as how it corresponds as a cultural product of 1939 to the aspiration of Afrikaner nationalism – namely to establish and promote this ideology by means of culture and cultural activities such as drama and theatre.

Although Van Bruggen ascribed to the ideal of Afrikaner nationalism and through the writing of the Bakens anthology supported this ideal on a cultural level, “Bloedrivier” also undermines some of the aspects related to the Blood River Covenant mythology. One example of this undermining is the prominent role that Jacob Naudé has in this play. The admonitory tone on which the play ends, when Cilliers warns the soldiers against forgetting the covenant, is also telling. Van Bruggen himself would have known by 1938 that what Cilliers feared did in fact occur for many years after the Battle of Blood River when the covenant was not kept. The play thus ends on an ambivalent note: Van Bruggen, although a supporter of Afrikaner nationalism, is also aware of tensions inherent in its myths.

Over time the Battle of Blood River and the covenant have generated numerous historical studies and led to intense polemical debates. These debates have not been limited to academic circles, but have spilled over to and resonated within political and general socio-historical spheres, generating intense emotions within the broader Afrikaner and South African societies. During the 1970s and 1980s various political factions within Afrikaner ranks proclaimed strong views on the Blood River Covenant in academic, theological and popular journals. Since then the more moderate and pragmatic viewpoints have prevailed (although some conservative factions continue to uphold the covenant in the spirit of earlier Afrikaner nationalist viewpoints).

It is proposed that Van Bruggen’s “Bloedrivier” is of value to present-day historians (and not only to literary critics) as a source that contributes to the debates and discussions surrounding the Great Trek and the Battle of Blood River and its covenant. In the context of the 175th commemoration of these events it is worth revisiting a seemingly unknown or forgotten anthology of one-act plays, Bakens, and specifically the historical play, “Bloedrivier”, by J.R.L. van Bruggen.

Keywords: Kleinjan van Bruggen; Bakens; “Bloedrivier”; 175th commemoration of the Great Trek and the Battle of Blood River; Blood River Covenant; historical drama; New Historicism

 

1. Inleiding

J.R.L. van Bruggen (15 Oktober 1895 – 9 Mei 1948), ook bekend as Kleinjan, is die jonger broer van die meer bekende Jochem van Bruggen. Volgens die Suid-Afrikaanse Bibliografiese Woordeboek, Deel II (1968:785) was hy ’n redelik geleerde man vir sy tyd, aangesien hy sy doktorsgraad in opvoedkunde1 in 1922 aan die Gemeentelijke Universiteit, Amsterdam behaal het. Terwyl sy loopbaan meestal ’n opvoedkundige rigting ingeslaan het (vyf jaar lank Afrikaans-onderwyser by die Ho?rskool Helpmekaar in Johannesburg, daarna agtien jaar lank dosent by die Potchefstroomse Onderwyskollege), het hy ook ’n aantal gedigte, romans en dramas gepubliseer. Nie Antonissen (1964:159) of Dekker (1958:110–1) het hom as ’n uitsonderlike skrywer beskou nie, maar verskaf nogtans kort verwysings na sy werke in hulle literatuurgeskiedenisse. Sy historiese roman Bittereinders (1935), wat afspeel in die konsentrasiekamp by Mafikeng, word deur albei wel uitgelig as ’n heel verdienstelike roman.

In hierdie artikel fokus ek op die bydrae van Van Bruggen as dramaturg met spesiale verwysing na sy bundel van dertien eenbedrywe getitel Bakens, wat hy spesifiek geskryf het vir die 1938-herdenking van die Groot Trek. Ek beperk my ook net tot een van die dertien eenbedrywe, naamlik die laaste een, getitel “Bloedrivier”.

Terwyl daar in 2013 verskeie seminare gehou is ter viering van die 175ste herdenking van die Groot Trek en daar ook ’n hele aantal publikasies verskyn (het) om hierdie gebeurtenis te herdenk of in oënskou te neem, is daar na my wete geen studie wat hierdie uitsonderlike gebeure verbind met die rol wat die drama tydens hierdie herdenking en vorige herdenkings gespeel het nie. In die meeste literêre bronne word daar wel dikwels verwys na Die dieper reg van N.P. Van Wyk Louw, wat spesiaal geskryf is vir die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument (1938), asook na die rol wat Anna Neethling-Pohl met die opvoer van hierdie produksie en met vele ander volksfeeste (veral die Geloftefeeste) gespeel het. Daar is egter nog nie ’n indringende studie oor die rol van dramatiese voorstellings tydens die herdenkingsfeeste van die Groot Trek in 1938, of wat na aanleiding van die herdenking geskryf is, onderneem nie.

Alhoewel hierdie ondersoek kortliks sal verwys na die voorkoms en rol van dramatiese werk/voorstellings by die Groot Trek-herdenkingsfees en ander feeste (veral die Geloftefeeste), is die hooffokus van die artikel een bepaalde eenbedryf van J.R.L. van Bruggen in die bundel Bakens, getitel “Bloedrivier”. Hierdie eenbedryf sluit die bundel af op ’n historiese asook dramatiese hoogtepunt, naamlik die aflê en aanvaarding van die Bloedriviergelofte. In talle historiese geskrifte is die gebeure rondom die Slag van Bloedrivier, asook verskeie polemiese aspekte aangaande die Gelofte self, al redelik uitvoerig bespreek – meestal aan die hand van eietydse dokumente. In geeneen van die bekende bronne oor hierdie onderwerp word daar egter enigsins na hierdie werk van Kleinjan van Bruggen verwys nie.

Sy bundel Bakens is spesifiek geskryf vir die 1938-herdenking van die Groot Trek. Sy oogmerk was duidelik om historiese gebeurtenisse (bakens in die Afrikaner se geskiedenis) so getrou moontlik in dramatiese voorstellings weer te gee. My invalshoek in hierdie artikel is dus eerstens om te kyk in watter mate hierdie historiese drama (’n kort eenbedryf) wel aansluit by erkende historiese gegewens rondom die Slag van Bloedrivier en die gelofte (in vergelyking met hoe Van Bruggen dit weergee in 1938, byvoorbeeld veral hoe polemiese aspekte van die gelofte reeds in hierdie eenbedryf van 1938 uitgebeeld word). Die rede vir hierdie (moontlik op die oog af simplistiese) werkswyse is daarin geleë dat die keuse van bronne binne die hele debat van die Slag van Bloedrivier – en veral die gelofte self – reeds ’n aanduiding gee van watter ideologiese beskouings deur die onderskeie partye (die Bantjes-groep of die Cilliers-groep) aangehang is/word. Bronkeuse is ’n aspek wat na 1938 – en veral gedurende die vurige debatte van die 1970’s tot die 1980’s – al hoe meer op die voorgrond getree het. Alhoewel verskeie van hierdie bronne teen 1939 beskikbaar en bekend was, kies Van Bruggen duidelik op wie hy wil steun of nie wil steun nie. Dit is ’n belangrike keuse – veral as die verdere gebruik van hierdie bronne nagevolg word: die Cilliers-weergawe is later deur die sogenaamde regse Afrikaners as hoofbron aangehang, terwyl die meer gematigde en selfs liberale Afrikaners hulle eerder by die Bantjes-weergawe aangesluit het. Mens sou dit dus kon stel dat dit hier gaan oor watter “waarhede” in 1939 oor hierdie historiese gebeurtenis en sy gevolge vir Afrikanernasionalisme (Slag van Bloedrivier, gelofte) in die erkende historiese bronne van daardie tyd verkondig is en watter van daardie weergawes van die gebeure neerslag in die drama gekry het. Tweedens het ek gepoog om na te gaan in watter mate Van Bruggen se “opvoedkundige” ideaal met hierdie eenbedrywe aansluit by die groter Afrikanernasionalistiese beweging van daardie tyd, naamlik die beskouing dat hierdie drama(s) eerder as (’n) kultuurproduk(te) van die tydperk gesien moet word – en nie net as literêre teks(te) nie.

In aansluiting by die Nuwe Historisme (New Historicism) sien ek ook hierdie ondersoek, waarin geskiedenis en letterkunde in ’n historiese eenbedryf saamkom, as ’n “self-conscious dialogue with the past” (Howard 1992:26). Soos wat Howard (1992:26) dit verder stel: “The goal of such a dialogue is not certainly, the wilful reproduction of the present in the mirror of the past, but it involves a steady acknowledgement that the past is not transparent and that the pursuit of history is neither objective nor disinterested.” Hierdie punt blyk veral uit die polemiese diskoerse wat sowel die Slag van Bloedrivier as die gelofte self kenmerk – soos wat uit die bespreking sal blyk. Die Nuwe Historisme het binne die kontemporêre drama- en leerteorie as ’n kritiese literêre teorie veral binne die Anglo-Amerikaanse konteks gewildheid verkry deur middel van die werk van Richard Wilson en Richard Dutton (1992), asook Catherine Gallagher en Stephen Greenblatt (2000). Hulle werk word veral gekenmerk deur ’n herinterpretasie van die Renaissance-drama (met ’n fokus op Shakespeare). In Suid-Afrika kon ek slegs die onlangse doktorale proefskrif van B. Mekusi (“Negotiating memory and nation building in a new South African drama”) opspoor as voorbeeld van ‘n studie wat Suid-Afrikaanse dramas direk aan hierdie teorie koppel.

My argument in hierdie artikel is die omgekeerde van die meer gebruiklike beskouing dat die literêre kritikus bloot historiese bronne (“feite”) gebruik om die literêre werk (in hierdie geval die geskrewe drama/eenbedryf “Bloedrivier”) in ’n historiese konteks te plaas. In my bespreking probeer ek eerder uitwys in watter mate hierdie drama kan bydra tot die debat oor ’n historiese aangeleentheid en hoe dit as ’n kultuurproduk van 1939 doelbewus aangesluit het by die strewe om Afrikanernasionalisme te vestig en te bevorder deur middel van bepaalde kulturele aktiwiteite. In die woorde van Malpas (2006:61):

We might [...] say, then, that historicism is the practice of interpreting texts on the basis of the idea that their meanings are generated by the historical contexts in which they are located, and these contexts change as history moves on […]

en ook:

[A]rt and literature do not merely reflect the ideas, beliefs and desires of a society in a disinterested manner; they are shaped by them and are actively involved in sustaining or challenging them. Like any other discourse, literature and culture are sites of power and resistance.

Binne die bestek van hierdie artikel sou veral die verskillende politieke kampe se sterk oortuigings ten opsigte van veral die Bloedrivier-gelofte en die gepaardgaande polemieke wat vir dekades daaroor gewoed het, Malpas se siening onderskryf.

 

2. Dramatiese voorstellings en die Groot Trek se 1938-herdenkingsfeeste2

Uit beskikbare programme3 van sowel die Groot Trek se landswye herdenkingsfeeste as die onderskeie Geloftefeeste (aanvanklik Dingaansfeeste genoem),4 kon ek nagaan in watter mate kort dramas of dramatiese voorstellings ’n rol in die verrigtinge gespeel het. Alhoewel die programme meestal heel gevarieerd was (toesprake, koorsange, fakkeloptogte e.d.m.), weerspieël die meeste van die programme ten opsigte van dramatiese voorstellings ’n algemene voorkeur vir die gebruik van dramatiese tablo’s wat gewoonlik ’n historiese insident en/of historiese figure uitbeeld. P.H. Kapp se omvattende studie, Ons volksfeeste (Deel III in die reeks Die Afrikaner en sy kultuur), verskaf ’n hele aantal voorbeelde en foto’s van historiese tablo’s en volgens hom was “figure soos Kruger, Steyn, De Wet en De la Rey en grepe uit die geskiedenis van Paul Kruger [...] besonder gewild” (Kapp 1975:108). Hy noem dat die gebruik van historiese tablo’s veral sedert die 1930’s5 baie algemeen by nasionale feeste was – dit het volgens hom selfs “toneelaanbiedings by die [Krugerfees] begin vervang. Dit was die era van die tablo’s” (Kapp 1975:108). Kapp skryf ’n artikelreeks in Die Taalgenoot (November 1967 tot Januarie 1968) en verwys in “Die Voortrekkereeufees van 1938: Deel III” na “Heidelberg met sy opelugtoneelaanbiedings” en na Pretoria met “militêre vertonings, historiese voorstellings, die rolprent ‘Die bou van ’n nasie’, pragtige musiek en koorsang” (Kapp 1967:9).

Volgens die amptelike program van die Groot Trek se herdenking en die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria is daar op Donderdag 15 Desember 1949 om 8:30 nm. die volgende historiese tablo’s aangebied:

HISTORIESE VOORSTELLING. (Plek: Amfiteater).

(a) Retief se tog na Dingaan.
(b) Die 1880-periode.
(c) Die routoneel, 1901.
(d) Unie, 1910.
(e) Die hede, 1949.

Episodes uit “Deur stryd tot oorwinning” van Adèle Jooste. Uitgevoer deur Volksteater, Pretoria (Botha 1952:320).

Voorbeelde uit programme waar Geloftedag by die Voortrekkermonument gevier is en waar spesifieke toneelopvoerings in die programme genoem is, is die volgende:

(1) Geloftedag – 1957, 13 tot 16 Desember by Voortrekkermonument

Gedenkprogram, bladsy 7: “Die pad van Suid-Afrika” deur C.J. Langenhoven (Nasionale Toneelorganisasie, gedramatiseer deur Sarah Goldblatt onder regie van Anna Neethling-Pohl).

(2) Geloftedag 1962, 15 en 16 Desember by Voortrekkermonument

Gedenkprogram op bladsy 8 verwys na “Die vestiging van die volk” deur Francois Marais; aangebied deur die Nasionale Toneelorganisasie (regie deur Anna Neethling-Pohl): Toneel 1: “Die Kaap”; Toneel 2: “Die Oosgrens”; Toneel 3: “Die Gelofte”; Toneel 4: “Neerlaag”; Toneel 5: “Die seëninge”; Toneel 6: Oorwinning”, Toneel 7: “Die hede”.

Terug by 1938 is dit sekerlik van belang om uit te wys dat ’n werk van J.R.L. van Bruggen ook by die Bloedrivier-eeufees opgevoer is. Op die program van Dinsdag 13 Desember 1938 staan daar die volgende: “7:45 nm. Opvoering: Dramatiese Vereniging van Weenen: ’Die Vooraand van die Trek’ deur J.R.L. van Bruggen” (bl. 3). Oor hierdie werk beweer Dekker (1958:342) dat “Van Bruggen se behandeling van die Retief-figuur uitgegroei het tot ’n afsonderlike drama wat hy egter as deel van die ‘Bakens’-reeks wil beskou”. ’n Verdere verwysing na Van Bruggen se betrokkenheid by hierdie feeste wat opgespoor kon word, is die Voortrekker-eeufees wat op 2 November 1938 by Springs gehou is. Sy eenbedryf “Liebenbergskop” (vyfde eenbedryf in Bakens) is daar opgevoer onder regie van ene J.C.P. Meij.

Uit bostaande inligting is dit duidelik dat Kleinjan van Bruggen betrokke was by beide die Groot Trek- en die Bloedrivier-gelofte se eeufeesherdenkings en dat sy bundel Bakens gesien teen hierdie agtergrond van besondere belang is wanneer ’n mens die dramatiese werk wat met hierdie herdenkings geassosieer word, in oënskou neem.

Alhoewel alle programme (beide Groot Trek-herdenkingsfeeste en Bloedrivier-/Geloftefeeste) soos beskikbaar by die Voortrekkermonument se Dokumentesentrum te Pretoria deurgewerk is, is dit duidelik dat daar heelwat ontbrekende inligting is ten opsigte van die meeste van hierdie feeste. Feeste is natuurlik regoor die land gehou en nie alle dorpe se feesprogramme is óf bewaar óf meer beskikbaar nie. Die nagaan van die invloed van Kleinjan van Bruggen se dramas (spesifieke moontlike opvoerings daarvan in skole of by kultuurfunksies) is dus deur hierdie gebrek aan inligting gekniehalter. Pogings om inligting hieroor selfs by die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg, waar hy onderwyser was, te kry, of by die voormalige Potchefstroomse Onderwyskollege, waar hy ook lank werksaam was, het niks opgelewer nie. Hoewel dit seker ’n dekade of wat gelede nog moontlik sou gewees het om hierdie inligting te bekom, is dit nou bykans onmoontlik, aangesien die destydse Onderwysmuseum in Pretoria, wat heelwat van hierdie rekords gehou het, intussen tot niet gegaan het.

 

3. J.R.L. van Bruggen: Bakens (1939)

Van Bruggen se Bakens (met die subtitel Gedramatiseerde mylpale uit die Groot Trek) bestaan uit 13 eenbedrywe: (1) “Bethelsdorp”, (2) “Die weduwee van Lange Kloof”, (3) “Slagtersnek” (eerste bedryf), (4) “Slagtersnek” (tweede bedryf), (5) “Liebenbergskop”, (6) “Die laaste aand”, (7) “Retief by Vetrivier”, (8) “Retief in Port Natal”, (9) “Retief en Dingaan” (eerste bedryf), (10) “Retief en Dingaan”(tweede bedryf), (11) “Die moord by Bloukrans”, (12) “Moeilike tye”, (13) “Bloedrivier”.

“Bloedrivier” is die laaste eenbedryf in hierdie reeks van historiese eenbedrywe. Die kort eenbedryf (ble. 185–204 = 19 bladsye) bestaan uit twee tonele, naamlik ’n eerste toneel met die onderskrif “Die Gelofte”(ongeveer 11 bladsye), en ’n tweede toneel, wat volgens die verhoogaanwysing gesitueer word as “Die aand ná die slag van Bloedrivier” (196) (ongeveer 9 bladsye). Uit die kort voorwoord (“Ter kennismaking”) deur Van Bruggen is dit duidelik dat hy met hierdie dertien eenbedrywe sowel ’n opvoedkundige as ‘n kulturele doelwit wou bereik: “Wat met hierdie uitgawe beoog word is in die eerste plek om as hulpmiddel te dien by die onderwys van geskiedenis in ons skole, en in die tweede plek, om as geskikte materiaal gebruik te kan word vir konserte, funksies, ens., wat deur Kultuurverenigings georganiseer word.” Dat die historiese gegewens van hierdie eenbedrywe vir hom van uiterste belang was, is duidelik as die “skrywer” (deurgaans verwys Van Bruggen na homself in die derde persoon) in hierdie voorwoord sê:

Sy bevindings het hy aanvanklik beperk tot die dramatisering van ons eie geskiedenis, en wel tot daardie tydperk wat direkte verband hou met die Groot Trek. In dertien eenbedrywe het hy toe uitstaande episodes van die Groot Trek gedramatiseer en wel op so ’n wyse dat die kontinuïteit van die hele Trek as geskiedkundige eenheid bewaar gebly is.

Die eerste vraag wat ’n mens kan stel, is natuurlik: In watter mate is die historiese voorstellings wel op historiese feite/gegewens gebaseer, met ander woorde, hoe histories feitelik is die gebeure in hierdie eenbedrywe? ’n Studie van die historiese gegewens in hierdie dramas word bemoeilik deur die feit dat, alhoewel Van Bruggen self die historiese aard van al die eenbedrywe beklemtoon, hy nie ’n formele lys van bronverwysings in die bundel gee nie. Hy verwys egter wel binne ’n aantal van die eenbedrywe na spesifieke historiese dokumente. In “Slagtersnek” (Eerste Bedryf) sê hy in die verhoogaanwysing: “Bezuidenhout en Prinsloo dikteer beurtelings, terwyl die ander burgers so af en toe iets inlas. Dit is die historiese brief wat Christiaan Muller aan veldkornet Stefaans van Wyk i.p.v. aan Jacobus Kruger gebring het en wat tot die gevangeneming van Hendrik Prinsloo gelei het” (59–60). In ’n skrywersnota by die eenbedryf “Liebenbergskop” sê hy: “Trigardt het ons ’n interessante dagboek nagelaat, ’n werk van groot belang vir die bestudering van die Trek omdat ons daarin die mikrokosmos van die Groot Trek sien” (66). In “Die laaste aand” lees Piet Retief op versoek van sy seun ’n gedeelte van sy manifes voor en verwys daarna dat dit reeds in die Grahamstown Town Journal gepubliseer is vir hulle “Engelse vriende” (83). Ook in die opvolgende eenbedryf, getitel “Retief by Vetrivier”,word in die karakterlys by die beskrywing van eerw. Erasmus Smit na nog ’n historiese dokument verwys: “Sy dagboek is een van die belangrikste historiese dokumente uit dié tyd” (92). By die eenbedryf “Retief by Dingaan” versoek Dingaan vir Owen om die traktaat wat hy met Retief sluit, voor te lees. Owen lees dit in Afrikaans voor, terwyl ’n voetnoot vermeld: “Hierdie traktaat is ’n vertaling van die oorspronklike wat in Engels opgestel is en waarvan ’n handskrif-afdruk op las van die Regering in Pretoria gemaak is” (149).

By die eenbedryf “Bloedrivier” kry ons ook in die karakterlys ’n bronverwysing wat ’n mens help om die historiese inligting soos deur Van Bruggen dramaties uitgebeeld in twee tonele, te vergelyk met die inligting soos daarin vervat. Die bron waarna Van Bruggen verwys, is naamlik die welbekende joernaal van Jan Bantjes: “Bantjes, sekretaris van Pretorius; sy joernaal is ’n waardevolle dokument om die figuur van Pretorius en die geskiedenis wat hy gemaak het, te verstaan” (185).

Alhoewel Van Bruggen dus in “Bloedrivier” spesifiek na Bantjes se joernaal verwys, sal dit wel uit onderstaande bespreking blyk dat hy ook van ander bronne (wat hy verswyg) gebruik gemaak het. Die veronderstelling dat die ondersoeker bloot vergelykenderwys die uitgebeelde dramatiese tonele sou kon evalueer aan die hand van erkende historiese bronne oor die gelofte en die Slag van Bloedrivier, en dan tot ’n bepaalde slotsom oor die historiese akkuraatheid al dan nie van die dramaturg se dramatiese voorstellings sou kon kom, is egter nie so eenvoudig nie. Historiese inligting oor die Slag van Bloedrivier, maar veral oor die gelofte self, word deur verskeie historici bevraagteken en gepolemiseer. So stel F.J. du T. Spies (1988:51) in sy artikel getitel “Onsekerheid in verband met die gelofte van 1838” die volgende as onsekerhede: “Ontstaan, plek en datum, inhoud en bewoording, geldigheid of ongeldigheid daarvan”. Sy artikel is opgeneem in die Groot Trek-herdenkuitgawe van die tydskrif Historia in 1988 en hy wys op die verskil tussen hierdie herdenking (150 jaar) en dié van die eeufeesherdenking:

Met die honderdjarige herdenking in 1938, was die Groot Trek ’n groot en besielende gebeurtenis in die gemoedere van miskien die meerderheid van Afrikaners. Nou, met die 150ste herdenking daarvan in 1988, lyk dit enigsins anders. Daar het intussen heelwat vrae ontstaan en daar het ’n proses van ontmitologisering plaasgevind, wat die geesdrif en heldeverering in ’n mate getemper het. Dit het, na dit my voorkom, ook met die gelofte en geloftedag gebeur. (Spies 1988:51)

Dit is dus duidelik dat ’n mens deurgaans in gedagte moet hou dat Van Bruggen sy bundel eenbedrywe geskryf het in ’n besondere tydvak, naamlik in ’n tyd toe die eeufeesherdenking van die Groot Trek die meeste Afrikaners dwarsoor die land meegesleur het en tot ’n grootskaalse oplewing van Afrikanernasionalisme gelei het. Die “ontmitologisering” van hierdie gebeure wat Spies noem, het toe nog in die verre toekoms gelê. Bakens is onteenseglik binne ’n konteks van totale geloof in en ondersteuning van die Afrikanernasionalistiese beskouings van die tyd geplaas.

In die bespreking sal ek wel kortliks verwys na die vernaamste vraagstellings in verband met die historiese gebeure rondom die Bloedrivier-gelofte soos deur Spies bespreek (ontstaan, plek, datum, gelofte self en sy bindingskrag) en dan uitwys wat Van Bruggen se voorstelling van hierdie sake is, asook die moontlike historiese bronne van die tyd waarop hy sy voorstellings baseer.

 

4. “Bloedrivier”: ’n historiese eenbedryf

Die aantal “eerstehandse” bronne oor die Bloedrivier-gelofte is beperk. In Spies (1988:51, 52) se artikel lys hy die erkende bronne in chronologiese volgorde, naamlik:

’n brief van Andries Pretorius aan J.N. Boshoff van 22 Desember 1938 wat op 16 Februarie 1839 in De Zuid-Afrikaan verskyn het, die Joernaal van J.G. Bantjes wat op 14 Junie 1839 ook in De Zuid-Afrikaan verskyn het, ’n brief van Sarel Cilliers aan ds. H. van Broekhuizen van Winburg gedateer 4 Februarie 1866, die Joernaal van Sarel Cilliers wat as aanhangsel opgeneem is in H.J. Hofstede, De Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat (Den Haag 1876). Vir die res besit ons ’n aantal herinneringe van later datum, wat in die Transvaalse Argiefbewaarplek berus, die belangrikste waarvan Gustav Preller in sy reeks Voortrekkermense I–IV tussen 1918 en 1925 gepubliseer het.

In die meeste bronne word Bantjes se Joernaal as die betroubaarste bron ten opsigte van die gebeure vooraf (die gelofte) en tydens die Slag van Bloedrivier beskou.

Vervolgens word dus nagegaan in watter mate Van Bruggen se dramatiese voorstelling (twee tonele) aansluit by die historiese inligting (onderskeie bronne) oor hierdie gebeurtenis.

4.1 Datum van die gelofte

Die presiese datum waarop die gelofte vir die eerste keer voorgelees is, is ’n onderwerp waaroor bogenoemde historici verskil. Spies (1988:56) vermeld dat die joernaal van Sarel Cilliers aandui dat die gelofte reeds op 7 Desember by Danskraal afgelê is, maar dat Bantjes niks oor hierdie plek of datum in sy joernaal skryf nie – hy dui 9 Desember en Wasbankspruit aan as die datum en plek waarop die gelofte amptelik afgelê is.

Volgens Van Bruggen se voorstelling speel Toneel 1 af op Sondagoggend 9 Desember 1838 – die dag waarop die gelofte afgelê word. Volgens die teks en verhoogaanwysing:

LANDMAN: Hier kom die burgers. Ek sal die Kommandant-generaal gaan roep. (Landman af regs in die tent van Pretorius. ’n Aantal boere kom links voor op saam met Potgieter en Jacobs en suggereer net die voorhoede van ’n hele vergadering. Onder hulle is Jacob Naudé en nog ’n burger wat in die onderstaande handeling ’n belangrike rol speel. As die burgers vergader, verskyn Pretorius, Landman, Charl Cilliers6 en Bantjes uit die tent links agter. ’n Tafel word vir Bantjes reggesit. Hy noteer deurgaans die verrigtinge. Pretorius klim op die kanonwa.) (189)

Volgens ’n kort gesprek tussen Uys en Landman net voor bostaande handelinge het die meeste lede van die kommando reeds geweet wat om te verwag (“UYS: Sover as ek kan nagaan, is die hele kommando se gevoelens aangaande die gelofte gepols”, 189). Pretorius verwys ook in sy betoog daarna dat die meeste lede reeds weet wat vir hierdie dag beplan word, aangesien hulle reeds daaroor ingelig is: “’n Paar dae gelede by Danskraal het ons ook vergader.” Wat die presiese datum van daardie byeenkoms was, word wel duidelik wanneer Jacob Naudé sy beswaar teen die aflê van die Gelofte uiteensit, naamlik: “Sinds die voorstel op die 5de van hierdie maand op Danskraal aan ons gemaak is, het ek ernstig gebid tot my God en die God van my vadere vir lig in hierdie plegtige oomblik” (192).

Bantjes (1928:12) verwys na 9 Desember, die “Zondag’s morgens” as die dag waarop die “Hoofd-Kommandant” almal bymekaar roep en versoek dat “zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogt bidden, om zyne hulp en bystand, in het slaan tegen den vyand; dat hy aan den Almagtigen een gelofte doen wilde (indien allen wel willen)”. Preller stel dit in ’n voetnoot tot hierdie gedeelte ook uitdruklik: “Dit is die eerste vermelding van die instelling van Dingaansdag, of die make van die Gelofte, namelik op Sondag, 9 Desember 1838” (Bantjes 1928:12).

Terwyl verskillende persone en historici in die 1950’s en 1960’s óf die Cilliers- óf die Bantjes-weergawes aanvaar het, verklaar Spies (1988:55) dat die Bantjes-joernaal as die “betroubaarste bron” nagevolg kan word. Sy hoofrede vir hierdie aanname is dat die joernaal “’n mooi dag-na-dag-verslag gee van hoe die kommando getrek het na dit op 27 November Saailaer verlaat” het – ’n trekroete wat toe wel taamlik noukeurig nagevolg kan word, “soos dr. E.G. Jansen dit in 1938 gedoen het”. Bantjes verwys dan ook na 5 Desember, waarop ’n belangrike byeenkoms plaasgevind het en waartydens Andries Pretorius, Karel Landman en Sarel Cilliers op “den stel van het kanon” geklim het om die manskappe toe te spreek (Spies 1988:56). Dit is ’n insident wat in Van Bruggen se drama juis deur Jacob Naudé in herinnering geroep word (192).

4.2 Plek van die gelofte

Die presiese plek waar die gelofte afgelê is, is ook ’n gegewe waaroor historici verskil. Volgens sommige is dit Danskraal en volgens ander weer Wasbankspruit. Bantjes (1928:12) noem in sy inskrywing by 8 Desember dat die kommando op sowel daardie dag as op 9 Desember by die Blyrivier oorgestaan het:

Wy gingen dezelve door, en voort, tot dat wy kwamen aan een lopende rivier, door de vorige kommando genoemd, de Blyrivier, gelegen onder eene vlakke berg; hier kampeerden wy. Des anderen daags, zynde den 9e, was alles nog rustig, en wy bleven hier over, om den Sabbath te vieren.

Spies (1988:56) vertel:

Die volgende dag, 8 Desember, het die kommando voortgetrek tot aan die “Blyrivier”, wat deur Jansen7 uitgeken is as die Wasbankrivier en daar bestaan weinig twyfel dat dit wel die geval was. Hier het die kommando Sondag, 9 Desember, oorgestaan en hier is, soos van Bantjes afgelei kan word, die gelofte afgelê.

Dit is duidelik dat Van Bruggen aansluit by wat in Bantjes se joernaal staan, asook, soos wat Spies in 1988 aandui, wat E.G. Jansen in die publikasie Die Voortrekkers in Natal van 1938 hieroor meegedeel het. Van Bruggen stel dit duidelik in die eerste verhoogaanwysing van hierdie eenbedryf dat die gebeure van 9 Desember 1838 afspeel “in die laer wat getrek is by die Blyrivier, en later Wasbank. In die verte is Biggarsberg en Platberg sigbaar” (186). Soos bo aangehaal, was die eerste gesprek oor die gelofte (5 Desember 1838) by Danskraal, maar die amptelike aflê van die gelofte is, volgens Van Bruggen se dramatiese voorstelling, by Wasbank.

Spies (1988:54) stel dit dat daar ná 1938 ’n reaksie ingetree het en dat die “Danskraal-Sarel Cilliers-gegewe as nog ’n mite afgekraak is” – veral na aanleiding van ’n artikel van dr. E.G. Jansen (1938) met die titel “Is die Gelofte op Danskraal afgelê?”. Jansen (1938:54) het glo die roete van die Wenkommando soos dit in Bantjes se joernaal beskryf is, nagegaan en bevind dat die “gelofte die eerste keer op 9 Desember 1838 ter sprake gekom het toe die kommando aan die Wasbankspruit gelaer was, en dat dit daar afgelê is”. Volgens Spies (1988:54) het die meeste geskiedskrywers die Bantjes-weergawe aanvaar, met “die eerste [...] Prof. S.P. Engelbrecht in die gedenkuitgawe van Die Huisgenoot, Desember 1938”, wat ook beweer het dat “Sarel Cilliers onnoukeurig was”. Van Bruggen sou sekerlik van die onderskeie standpunte kennis geneem het en dit is dus opvallend dat hy telkens steun op die Bantjes- (en Jansen-) weergawe en sy dramatiese gegewens nie aan Cilliers se weergawe koppel nie.

4.3 Die gelofte

Ná Pretorius se betoog bestyg Cilliers die kanonwa, sing die burgers Psalm 38 vers 12 tot 16, en lees hy voor uit “Richteren 6 vanaf die eerste tot en met die vier-en-twintigste vers” (198). As hy daarna vra of enigeen beswaar het teen die aflê van die gelofte, volg die gesprek tussen hom en Naudé – redelik uitvoerig gegee oor drie bladsye. Eers aan die einde van hierdie gesprek en wanneer Naudé en die “onbekende burger” die toneel verlaat het, lees Cilliers die gelofte voor. Dit is interessant om daarop te let dat Van Bruggen die gelofte nie in Afrikaans nie, maar wel in Hollands weergee:

CILLIERS: Almagtige God, wij vereenigen ons in ootmoed voor Uw heilig aangezicht en leggen hiermee plechtig een gelofte af dat, zoo Gij ons de oorwinning geven mocht, een Huis tot Uw Grooten Naams gedachtenis te stichten alswaar het Uw zal behagen. Wij smeken Uw hulp en bijstand, almachtige Vader, om ons in onze zwakheid te helpen om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wij den dag der oorwinning in een boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter ere van God gevierd mag worden. Neem, Almachtige God, deze gelofte van ons aan en beschaam ons niet om uws enigen Zoons Jesus Christus wil. Amen, ja amen. (195)

Bantjes (1928:12) se weergawe lui:

dat hy aan den Almagtigen een gelofte doen wilde, (indien allen wel willen), – “om zoo de Heere ons de overwinning geven mogt, een Huis tot zyns Grooten Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen”, – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen en dat wy den dag der overwinning, in een boek zullen aanteekenen om delzelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, op dat het ter Eere van God gevierd mag worden.

Ook in hierdie geval blyk dit dat Van Bruggen sterker op Bantjes se weergawe van die gelofte steun as op ander bronne (o.a. Cilliers se joernaal, asook die latere bewoording van G.B.A. Gerdener wat later algemeen by geloftefeeste voorgelees is, maar wat in der waarheid sy samevoeging van verskillende tekste is, o.a. dié van Cilliers8). Spies wys in sy bespreking daarop dat Bantjes die enigste persoon is wat verwys na ’n “boek” waarin aantekeninge gemaak moet word – blykbaar het so ’n boek nooit bestaan nie. Maar die feit dat Van Bruggen hierna verwys, toon sonder twyfel dat hy sterker steun op Bantjes se joernaal as op enige ander historiese bron wat in 1938 oor hierdie aangeleentheid beskikbaar was. Terwyl hy sekerlik weldeeglik bewus moes gewees het van Cilliers se joernaal, asook van G.B.A. Gerdener se weergawe van die gelofte, kies Van Bruggen duidelik telkens Bantjes se joernaal as sy hoofbron.

’n Aspek van die gelofte wat later ook tot heelwat polemiek aanleiding gegee het, was die beskouing of die Geloftedag as ’n Sabbatsdag gevier moes word al dan nie. Liebenberg (1988) stel dit in sy artikel getiteld ”Mites rondom Bloedrivier en die Gelofte” dat hy saamstem met F.A. van Jaarsveld se studie, “Die evolusie van apartheid” (1979:46–89), waarin hy Sarel Cilliers se weergawe van die gelofte as “’n onbetroubare herinneringstuk” bestempel. Mens moet in gedagte hou dat Cilliers se joernaal eers in 1876 verskyn het en sy eie herinneringe van die gebeure wat meer as 30 jaar vroeër plaasgevind het, oproep. Die besluit om Geloftedag as ’n kerklike feesdag (’n Sabbatsviering) te hou, is eers in 1948 geneem (toe Afrikanernasionalisme sy bloeitydperk ingegaan het). Terwyl bekende historici soos F.J. van Jaarsveld, B.J. Liebenberg en F.J. du T. Spies in die 1980’s saamstem dat verskeie sake rondom die gelofte as mites afgemaak kan word – insluitend die Sabbatsdag- beskouing – blyk uit “regse” publikasies presies die teenoorgestelde beskouing. ’n Voorbeeld is ’n kort publikasie getiteld Bloedrivier: Stem uit die Verlede, Taak vir die Hede, Hoop vir die Toekoms met as outeurs F.J. Strauss en A.D. Pont, wat sowel die sogenaamde “wetenskaplike geskiedskrywers” aanval as die “linkse teoloë en kerkmanne wat hulle daarvoor beywer om van Geloftedag slegs ’n godsdienstige feesdag te maak” (1986:21).

4.4 Die karakters / historiese persone: Wie het die gelofte afgelê en hoe bindend is die gelofte vir die nageslag?

By die aanvang van die eerste toneel (“Die Gelofte”) word die persoonslys verskaf waarin elke karakter (historiese persoonlikheid) redelik goed omskryf word. Hierdie lys stem ooreen met die historiese rolspelers wat betrokke was by die gelofte, naamlik kmdt.-genl. A.W. Pretorius, kmdt. Karel O. Landman, Koos Potgieter, kmdt. Hans (Dons) de Lange, Charl Cilliers, Jacobus Boshoff, Bantjes, Jacobus Uys, Stefanus Erasmus, Jan Jacobs en “ander Trekkerkommandante”.

Van besondere belang is twee ander persone wat ook genoem word, naamlik Jacob Naudé en ’n naamlose “nog ’n Trekker”. Volgens Van Bruggen se eenbedryf is hierdie twee mans die enigste twee Trekkers wat weens gewetensbesware nie die gelofte afgelê het nie. Van Bruggen probeer egter baie duidelik deur middel van sowel die dialoog as die verhoogaanwysings aantoon dat hierdie twee persone nie in ’n negatiewe lig bejeën moet word nie, maar eerder as mense met integriteit beskou moet word wat ernstig gevoel het oor hulle gewetensbesware . So byvoorbeeld word Jacob Naudé in die persoonslys as ’n “waardige Trekker” (186) omskryf. Ná ’n lang spreekbeurt (192) waarin Naudé sy besware teen die Gelofte uitspreek (veral die bindende krag daarvan vir die nageslag) en ná Cilliers se repliek daarop, besluit hy steeds om eerder die vergadering te verlaat. Sy besware word ondersteun deur die naamlose Trekker (omskryf as “’n Onbekende Burger”, 194) en saam verlaat hulle hierdie byeenkoms. Hulle vertrek word, volgens die toneelaanwysing, ook heel waardig deur die res van die Trekkers aanvaar, naamlik: “’n Eerbiedige stilte heers onderwyl die twee broers die vergadering verlaat” (194).

Alhoewel Bantjes in sy joernaal nie na hierdie twee Trekkers – en spesifiek Jacob Naudé – verwys nie, was dit moontlik om ’n bron op te spoor waarin Jacob Naudé wel by name genoem word. In die Bloedrivierse Eeufeesgedenkboek word hy genoem in die lys van “Offisiere en manskappe wat aan die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 deelgeneem het” en onder die opskrif “Kort biografieë van burgers” word hy by punt 49 beskryf as “Naude” [sic] Jacob:1808–1880. Was saam met Retief na Sikonyella om die geroofde vee te gaan haal. Hy het deelgeneem aan die Wenkommando. Hy het ook onder Andries Pretorius aan Boomplaas deelgeneem” (Du Toit en Steenkamp 1939:83). In ’n artikel van H.J. van Zyl getiteld “Hoe Dingaansdag ontstaan het” in Die Huisgenoot (13 Desember 1940) word hy ook weer geïdentifiseer as ’n trekker/manskap wat nie die gelofte wou onderteken nie.

Dit is van besondere belang dat Van Bruggen in sy kort eenbedryf, en in die eerste toneel spesifiek, soveel ruimte afstaan aan hierdie karakter (ongeveer drie bladsye). In lang spreekbeurte kry Naudé die geleentheid om sy besware teen die aflê van die Gelofte uiteen te sit. Terwyl Cilliers telkens repliek probeer lewer op sy besware, oortuig sy argumente Naudé ten slotte nie en verlaat hy (saam met die “onbekende Trekker”) die vergadering sonder om die Gelofte af te lê. Terwyl min eietydse historiese bronne hierdie insident uitlig – Bantjes maak geen melding hiervan nie, terwyl selfs ook Liebenberg en Spies (wat juis in hulle werk die “mite” van die bindende krag van die gelofte beklemtoon) ook nie verwys na Jacob Naudé nie – bespreek Van Zyl in Die Huisgenoot-artikel van 1940 wel Naudé se optrede nogal uitvoerig. Onder die subtitel “Was dit ’n eenheidsgelofte?” verwys hy selfs na korrespondensie met Naudé se familie wat sy optrede en standpunt ten opsigte van die gelofte bevestig. Van Bruggen het self artikels vir Die Huisgenoot gelewer (een van sy eie artikels verskyn ’n week voor Van Zyl s’n in hierdie tydskrif!) en hy sou beslis die artikel oor Naudé aandagtig gelees het.

Die feit dat Van Bruggen soveel prominensie aan hierdie karakter en sy oortuigings ten opsigte van die aflê van ’n bindende gelofte vir sy nageslag weergee, is sekerlik tekenend daarvan dat hy moontlik ’n “gebalanseerde” weergawe van die gebeure wou skep – ook vir potensiële jong gehore soos wat hy in die vooruitsig gestel het. Dit kan ook wees dat hy juis een van die groot polemiese aspekte van die gelofte (naamlik of die nageslag van hierdie Trekkers aan so ’n gelofte gebind kan/moet word) wou aanroer deur ook Cilliers se repliek daarop uitvoerig te gee. Wat ook al sy rede was, dit bly natuurlik ook ’n “dramatiese” gegewe wat as sodanig juis binne ’n dramatiese werk soos die eenbedryf toepaslik is. As ’n mens die tydvak waarin hierdie eenbedryf en bundel geskryf en gepubliseer is (1939), in ag neem, is dit natuurlik ook belangrik om – wanneer ’n mens latere skrywers lees wat hierdie polemiese insident moontlik doelbewus verswyg – juis te onthou dat Van Bruggen reeds in 1939 groot prominensie aan Jacob Naudé se standpunt en sy weiering om die gelofte te ondersteun verleen het.

Die sogenaamde bindingskrag van die gelofte het ná 1938 een van die groot polemiese sake met betrekking tot die gelofte geword, en selfs vandag is daar nog groepe wat sterk uiteenlopende opinies hieroor huldig. In sy artikel getitel “Mites rondom Bloedrivier en die Gelofte” bespreek B.J. Liebenberg (1988) ’n aantal mites soos hy dit geïdentifiseer het. Hy fokus veral op wat hy die “mite oor die binding van die Gelofte” noem. Hy gee ’n oorsig van beskouings oor hierdie saak en verwys na ’n aantal teoloë (veral in die 1970’s) wat streng verkondig het dat hierdie gelofte die hele Afrikanervolk verbind tot die uitvoer daarvan, terwyl sekere historici (o.a. D.J. Kotzé en F.A. (Floors) van Jaarsveld) weer van mening was dat net die direkte nageslag van die Trekkers wat die gelofte afgelê het daartoe verbind is – of op die meeste diegene wat hulle ook graag daaraan sou wou verbind. Veral Van Jaarsveld se standpunt oor hierdie saak en sy argument “dat slegs die paar duisend Natalse Voortrekkers en hul nageslagte deur die 1838-gelofte gebind is en nie die ‘Boerevolk’, d.w.s. die 46 000 Kaaplandse en paar duisend Transgariepse en Transvaalse Afrikaners van 1838 nie”, het groot publisiteit ontvang nadat ’n opsomming van sy artikel in Rapport (13 Desember 1981) gepubliseer is onder die titel “Floors ontdek dwaling oor Geloftedag”. Sy deelname in Maart 1979 by ’n kongres met ’n referaat getiteld “Problems in the interpretation of history with possible reference to examples from South African history such as the Battle of Blood River” by die Universiteit van Suid-Afrika, waar hy oor die geldigheid van die gelofte sou praat, is ontwrig toe ongeveer 40 mans onder leiding van Eugène Terre’Blanche ingebars en hom geteer-en-veer het (Thompson 1985:213).

Die sterk oortuigings van die 1950’s tot 1970’s dat die hele “volk” aan hierdie gelofte gebind is, het verander in ’n baie meer pragmatiese beskouing in die 1980’s, naamlik dat slegs dié wat hulle met die gelofte vereenselwig, daartoe verbind is. Die belangrike rol wat die Bloedrivier-gelofte in die Afrikanergeskiedenis ná die eeufeesherdenking van die Groot Trek gespeel het, kan egter nie oorskat word nie. Thompson (1985:212–3) verklaar: “The Covenant has been by far the most influential element in the Afrikaner political mythology” – sekerlik omdat dit by uitnemendheid die idee van uitverkore-volk-wees vir die Afrikanernasionalis bevestig het .

4.5 Die Slag van Bloedrivier (“die dag daarna”)

In die kort laaste toneel van hierdie eenbedryf gee Van Bruggen die dag ná die Slag van Bloedrivier weer. Die dramatiese gebeure is nou afgeloop en verskeie burgers (Pretorius, Cilliers, De Lange, Landman, Potgieter, Uys, Erasmus en Jacobs) herleef die slag met verwysings na die geskatte Zulu-gesneuweldes (ongeveer 3 000), hulle eie gewondes (drie), die rol wat Grietjie (die kanon) gespeel het, ens. In die slot vermaan Sarel Cilliers die manskappe om nederig te bly oor hulle oorwinning en herinner hy hulle weer aan die gelofte:

CILLIERS: Ek hoop van harte dat jy reg is, Andries, anders vrees ek vir ons toekoms. Ja, daar is nou ’n meer beklemmende nood in my hart as toe ons ons saak aan die Here in ons gelofte opgedra het. Ons mag nie, ons mag nie roem daarop dat ons eie dapperheid ons die oorwinning besorg het nie. (203)

In sy slotwoorde (ook die laaste in die drama) blyk sy bekommernis steeds oor die manskappe se optrede – moontlik profeties in die lig van die jare lange verwaarlosing van die gelofte wat hierna gevolg het:

CILLIERS: Broeders, ek voel beswaard. Daardie spoggery! Daardie selfverheffing oor wat God toekom! Ek voel beswaard. (204)

Die slot eindig dus op ’n vermanende noot, asook met dramatiese ironie. Die leser van vandag – maar ook die leser/toeskouer van 1938 – weet dat die gelofte vir ’n lang tydperk na 1838 nie gevier is nie. Spies (1988:61) skryf:

Die feit dat die gelofte die eerste 26 jaar na Bloedrivier nie in die openbaar herdenk is nie, laat ’n mens jou afvra of die Voortrekkers dit ooit ernstig bedoel het. Die eerste openbare herdenking vind in 1864 plaas en wel op die terrein van die veldslag.

Eers in 1868 is die dag deur die Transvaalse volksraad tot ’n openbare vakansiedag verklaar. Dit is meer algemeen gevier ná die anneksasie van Transvaal in 1877, as gevolg van “die ontwaking van die Afrikaanse nasionale gevoel” (Spies 1988:61). Verskeie kleiner feeste is gedurende die 1880’s gevier (veral van belang was die vyftigjarige herdenking in 1888 by Bloedrivier), maar die dag is eers in 1910 as ’n openbare vakansiedag vir die hele Suid-Afrika verklaar en daarna baie meer algemeen gevier.

Die eeufeesvieringe van sowel die Groot Trek as die Slag van Bloedrivier in 1938 het hernude stukrag aan die oplewing van hierdie feeste, asook aan die rol van die gelofte in hierdie feeste gegee. Van Bruggen se dramas is nie net tekenend van hierdie oplewing nie – hulle lewer ook ’n bewuste bydrae tot die bevordering van hierdie tydsgees onder die breër publiek, maar in besonder veral onder die jeug.

 

5. Ten slotte

Die Voortrekker-eeufees van 1938 was volgens talle bronne ’n fees van ongekende omvang en betekenis vir die Afrikaners van daardie tydperk. Die meeste navorsers beskou die nasionalistiese oplewing wat met hierdie fees gepaard gegaan het, as ’n stuwende krag wat ’n tydperk van sterk Afrikanernasionalisme ingelui het. Grundlingh en Sapire (1989:19) verklaar: “The centenary celebrations of 1938 were a massive cultural and political spectacle which left a decided imprint on Afrikaner political development.” Hulle omskryf hierdie feesviering as deel van “an important populist phase” in Afrikanernasionalisme, aangesien dit ook die retoriek van populistiese bewegings bevat het, naamlik: “‘struggle’, ‘survival’ and ‘salvation’” (Grundlingh en Sapire 1989:27) – omskrywings wat sekerlik ten beste geïllustreer word in die gelofte en die Slag van Bloedrivier.

Dit is dus verstaanbaar dat Kleinjan van Bruggen hom binne hierdie gees van nasionalistiese opwelling van 1938 geroepe sou voel om self ook ’n bundel saam te stel van “Gedramatiseerde mylpale uit die Groot Trek”.

Van Bruggen het met hierdie historiese eenbedrywe probeer om met gebruik van die sogenaamde dokumentêre dramavorm die skyn van ’n feitelik-historiese weergawe van hierdie gebeure te skep. Sy keuse om sterker op sekere bronne (Bantjes) as ander (Cilliers) te steun in die eenbedryf “Bloedrivier” is reeds veelseggend. As gerekende akademikus en opvoeder van sy tyd sou hy weldeeglik kennis geneem het van die verskillende standpunte rondom die Slag van Bloedrivier en die gelofte. Die uitbeelding van die diskoers tussen Jacob Naudé en Sarel Cilliers oor die aflegging en bindingskrag van die gelofte demonstreer ’n ontledende en gebalanseerde blik deur Van Bruggen op ’n hoogs polemiese saak. Naudé se beskouing dat hy nie sy nageslag wou belas met ’n gelofte wat hulle moontlik nie sou/wou onderhou nie en om hulle daarmee saam bloot te stel aan God se toorn, is sekerlik ondersteun deur historiese inligting wat teen 1938 algemeen bekend was, naamlik dat die gelofte vir jare na die Slag van Bloedrivier nie werklik gevier is nie (Van Zyl 1940). Jacob Naudé is dus inderwaarheid reg bewys. Maar teen 1938 was Afrikanernasionalisme so sterk dat die gebeure rondom die Slag van Bloedrivier asook die gelofte weer opnuut met groot vurigheid binne Afrikanergeledere gevier is. Templin (1999:399) verklaar: “Between 8 August and 16 December 1938 a massive celebration of Afrikaner Nationalism took place in South Africa”, en hy sluit af:

The Ossewa Trek was well organised, and proved to be successful in capturing and enhancing the spirit of Afrikaner nationalism. Several scholars believe that this celebration and the enthusiasm it engendered was one of the most significant influences leading to the victory of the “Gesuiwered” [sic] Party, now simply the National Party, in 1948. The emphasis on “Unity” among Afrikaners resulted in more cooperation between the followers of Hertzog and Malan. The ideology, or mythology, or civil religion surrounding the Great Trek – both of the 1830’s and of 1938 – served their purposes well. They kept the dreams of Afrikanerdom alive. (Templin 1999:415)

Die interessante van Kleinjan van Bruggen se Bakens is dat alhoewel hy duidelik die hele ideaal van Afrikanernasionalisme onderskryf en selfs ook probeer uitbou deur werke te skep wat hierdie ideaal stukrag moet gee (veral onder die jeug), ’n drama soos “Bloedrivier” tog ook aspekte van die mitologie rondom die gelofte ondermyn. So kan die lang spreekbeurte wat aan Jacob Naudé toegeken word binne die bestek van ’n kort drama alreeds ’n aanduiding wees van hoe belangrik Van Bruggen sy standpunt ten opsigte van die gelofte geag het. Ook die vermanende toon waarop die drama eindig wanneer Cilliers die burgers waarsku om tog nie van die gelofte te vergeet nie, terwyl Van Bruggen in 1938 terdeë daarvan bewus was van hoe juis dit waarvoor Cilliers bang was, gerealiseer het in die jare na die Slag van Bloedrivier en die aflê van die gelofte in 1838. Die drama sluit dus af op ’n sekere ambivalente noot: Van Bruggen as voorstander van Afrikanernasionalisme is wel ook bewus van sekere spanninge verskuil binne een van die groot mitologieë van die Afrikanernasionalis, naamlik dié van die Bloedrivier-gelofte.

Alhoewel die literêre waarde al dan nie van hierdie bundel in die algemeen, of die spesifieke eenbedryf “Bloedrivier”, nie in hierdie artikel onder die loep geneem is nie, is die eenbedrywe heel aanvaarbaar as dramatiese werk – veral as dit vergelyk word met werke van tydgenote soos Fagan en Grosskopf. Vir moderne lesers en toeskouers sal die grootskaalse gebruik en voorkoms van raspejoratiewe in al die eenbedrywe sekerlik steurend wees. Opvallend is die duidelike meerderwaardigheidsbeskouing van al die trekkers, burgers, kommandolede en ander in hierdie dramas ten opsigte van veral die swart burgers van die land – ’n houding wat uit die meeste van die Afrikaanse dramas van daardie tydperk spreek. Die struktuur van “Bloedrivier” is opvallend: binne hierdie kort eenbedryf val die fokus duidelik meer op die gebeure voor en tydens die gelofte (Toneel 1 getiteld “ Die Gelofte” beslaan 11 van die 19 bladsye van die eenbedryf), as op Toneel 2 (geen opskrif en slegs ’n toneelaanwysing wat stel dat dit die dag na die Slag van Bloedrivier is). Die simboliese waarde van die gelofte blyk dus van meer belang vir Van Bruggen te wees as die fisiese Slag van Bloedrivier – ’n interessante beklemtoning van die gebeure gesien teen die lig van die latere rol wat die gelofte binne die ideologie van Afrikanernasionalisme gespeel het.

Kleinjan van Bruggen se bundel eenbedrywe – veralBloedrivier” – is dus nie bloot literêre tekste wat binne ’n bepaalde historiese konteks geskep is nie. Hulle is terselfdertyd ook kultuurprodukte wat die historiese konteks weerspieël het, en selfs ook beïnvloed het, deurdat hulle die ideaal van Afrikanernasionalisme op die gebied van die kultuur bevorder en uitgedra het. Soos Howard (1992:28) dit stel:

Literature is part of history, the literary text as much a context for other aspects of cultural and material life as they are for it. Rather than erasing the problem of textuality, one must enlarge it in order to see that both social and literary texts are opaque, self-divided, and porous, that is, open to the mutual intertextual influences of one another. [...] Rather than passively reflecting an external reality, literature is an agent in constructing a culture’s sense of reality. It is part of a much larger symbolic order through which the world at a particular historical moment is conceptualized and through which a culture imagines its relationship to the actual conditions of its existence. In short, instead of a hierarchical relationship in which literature figures as the parasitic reflector of historical fact, one imagines a complex textualized universe in which literature participates in historical processes and in the political management of reality.

Nie alleenlik het die Slag van Bloedrivier, asook die gelofte, ’n groot getal historiese studies tot gevolg gehad nie, maar dit is ook opvallend uit hierdie bronne hoeveel polemieke – veral ten opsigte van die gelofte – daaruit gespruit het. Hierdie polemieke het nie net in akademiese kringe afgespeel nie, maar het ook binne die politiese en die algemeen sosiohistoriese sfere geresoneer en geweldige spanninge en emosies binne die groter samelewing opgewek. Die bronne oor die Slag van Bloedrivier en die gelofte is, soos vroeër genoem, ’n redelik kort en beperkte lys. ’n Hoofbron, naamlik die Joernaal van Bantjes, gee self ook ten opsigte van die Slag en die gelofte net beperkte inligting (Bantjes noem byvoorbeeld glad nie vir Jacob Naudé nie), terwyl verskillende kommentators ook uiteenlopende interpretasies aan sommige van sy uitsprake heg. Terwyl Bantjes wel erken word as betroubare bron in die lig daarvan dat hy tydens die gebeurtenisse self van hulle boek gehou het, word Cilliers se joernaal weer deur verskeie historici as minder betroubaar geag. Die rede hiervoor is veral geleë in die lang tydsverloop tussen die gebeure en die boekstaaf van die gebeure deur Cilliers (meer as 30 jaar later). Ook met die ander bronne is daar probleme ten opsigte van hulle volledigheid of word vrae gevra ten opsigte van hoe betroubaar die skrywers se herinneringe is van hierdie gebeure. In vergelyking met die 1970’s en 1980’s, toe politieke faksies in Afrikanergeledere sterk standpunte ingeneem en verkondig het – in akademiese, teologiese en populêre geskrifte – ten opsigte van die Bloedrivier-gelofte, word die jare daarna, tot vandag, meer matig en pragmaties beleef (alhoewel enkele konserwatiewe faksies steeds die onderliggende Afrikanernasionalistiese aspekte van die gelofte glo en handhaaf).

“Bloedrivier” van Kleinjan van Bruggen behoort dus in die lig van bogenoemde argument ook deur historici vandag – en nie net deur literêre kritici nie – as ’n interessante werk beskou te word wat ’n bydrae tot die verskillende diskoerse rondom die Groot Trek- en Geloftefeesherdenkings lewer. Sy dramatiese uitbeelding van die historiese aanloop tot die aflê van die gelofte is gebaseer op ’n keuse uit beskikbare bronne van die tydperk – ’n keuse wat hier bo as veelseggend uitgelig is en wat resoneer in die talle polemieke wat die gelofte in die dekades daarna sou kenmerk. Ook die besondere klem wat Van Bruggen lê op die Jacob Naudé-karakter (wel ’n historiese figuur) wat destyds geweier het om die gelofte te steun, is belangwekkend. In slegs enkele dokumente van die tyd word daar na hierdie figuur verwys (o.a. Van Zyl 1940), terwyl hierdie karakter selfs in latere werke waarin die mitologisering van die gelofte op die voorgrond geplaas word, verswyg word of daar slegs in voetnote na hom verwys word (o.a. deur Spies 1988 en Liebenberg 1988).

Binne die 175ste herdenkingsjaar van sowel die Groot Trek as die Slag van Bloedrivier is dit dalk waardevol om weer eens aan hierdie gebeurtenisse aandag te gee deur besoek te bring aan ’n oënskynlik onbekende en tot groot mate vergete bundel eenbedrywe, Bakens, met as fokus in hierdie bespreking die spesifieke eenbedryf getiteld “Bloedrivier”.

 

 

Bibliografie

Antonissen, R. 1964. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Kaapstad: Nasou.

Bantjes, J. 1928. Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommande met inleiding en aantekeninge van Gustav S. Preller. Bloemfontein: Nasionale Pers.

Botha, M.C. 1952. Die huldejaar 1949. Johannesburg: Voortrekkerpers.

De Jongh, P.S. 1987. Sarel Cilliers. ’n Biografie oor die Voortrekkerfiguur Sarel Cilliers. Johannesburg: Perskor.

Dekker, G. 1958. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasou.

Du Toit, A.G. en L. Steenkamp (opstellers). 1939 Bloedrivierse eeufeesgedenkboek: In opdrag van die Bloedrivierse eeufeeskommissie. Pietermaritzburg: Die Natalse Pers.

Gallaghar, C. en S. Greenblatt. 2000. Practising New Historicism. Chicago: University of Chicago Press.

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.

Greenblatt, S. 1988. Shakespearean negotiations. The circulation of social energy in Renaissance England. Berkeley: University of California Press.

Grundlingh, A. en H. Sapire. 1989. From feverish festival to repetitive ritual? The changing fortunes of Great Trek mythology in an industrializing South Africa, 1938–1988. South African Historical Journal, 21:19–37.

Historia (Groot Trek-Gedenkuitgawe). 1988. 33(2):1–102.

Howard, J. E. 1992. The New Historicism in Renaissance studies. New Historicism and Renaissance drama. In Wilson en Dutton 1992.

Kapp, P. 1967. Die Voortrekkereeufees van 1938 (“’n Volk kom in beweging”, “Die verlede spreek”, “Ons sal nie vergeet nie”). Die Taalgenoot, November, ble. 11–2.

Kapp, P.H. 1975. Ons Volksfeeste (Die Afrikaner en sy kultuur). Kaapstad: Tafelberg.

Keuris, M. 2012. Taferele, tableaux vivants, tablo’s en die vroeë Afrikaanse drama (1850–1950). LitNet Akademies 9(2):744–65. https://www.litnet.co.za/assets/pdf/16GWKeuris.pdf.

Krüger, D.W. (hoofred.). 1968. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (Deel II). Pretoria: RGN.

Liebenberg, B.J. 1977. Andries Pretorius in Natal. Pretoria: Academica.

—. 1988. Mites rondom Bloedrivier en die Gelofte. South African Historical Journal, 20(1):17–32.

Malpas, S. 2006. Historicism. In Malpas en Wake (reds.) 2006.

Malpas, S. en P. Wake (reds.). 2006. The Routledge companion to critical theory. Londen: Routledge.

Mekusi, B. 2009.Negotiating memory and nation building in a new South African drama. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Johannesburg.

Praeg, L. 1992. Die self en die ander: ’n Filosofiese studie van die selfdefiniëring van die Afrikaner in enkele geselekteerde tekste, 1877–1948. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Spies, F.J. du T. 1988. Onsekerheid in verband met die Gelofte van 1838. Historia (Groot Trek-Gedenkuitgawe), 33(2):51–61.

Strauss, F.J. en A.D. Pont 1986. Bloedrivier: Stem uit die Verlede, Taak vir die Hede, Hoop vir die Toekoms. Windhoek: Eros Uitgewers.

Templin, J.A. 1999. The ideology of a chosen people: Afrikaner nationalism and the Ossewa Trek, 1938. Nations and Nationalism, 5(3):397–417.

Thompson, L. 1985. The political mythology of apartheid. New Haven: Yale University Press.

Van Bruggen, J.R.L. (Kleinjan). 1939. Bakens: Gedramatiseerde mylpale uit die Groot Trek. Johannesburg: Afrikaanse Pers Beperk.

—. 1981. Herdruk. Lektuurvoorsiening vir kinders en jeugdige persone. Pretoria: Die Staatsbiblioteek.

Van Jaarsveld, F.A. 1979. Die evolusie van apartheid. Kaapstad:Tafelberg.

—. 1982. Die Afrikaner se Groot Trek na die stede en ander opstelle. Johannesburg: Perskor.

Van Rensburg, A.P.J. 1972. Die simboliese ossewatrek van 1938. Historia, XVII:12–46.

Van Zyl, H.J. 1940. Hoe Dingaansdag ontstaan het. Die Huisgenoot, 13 Desember, ble. 2 en 63.

Wilson, R. en R. Dutton (reds.). 1992. New Historicism and Renaissance drama. Londen: Longman.

 

 

Eindnotas

1 Hierdie proefskrif, getitel “Lektuurvoorsiening vir kinders en jeugdige persone”, word volgens die voorwoord van C. Lohann in die 1981-herdruk as baanbrekerswerk op die gebied van die kinderletterkunde beskou. Dit is teen hierdie agtergrond dus te verstane dat hy met sy bundel Bakens hierdie eenbedrywe spesifiek vir jong mense geskryf het.

2 Verskeie historici (veral Giliomee in sy seminale werk Die Afrikaners: ’n Biografie) bespreek uitvoerig watter idees en temas met die aspek van Afrikanernasionalisme verband hou. Verskeie historiese gebeure, soos die Slagtersnekinsident, die Slag van Bloedrivier en veral die Groot Trek self – veral die rol wat herinterpretasie van hierdie gebeure gespeel het – is al uitvoerig bespreek om die opkoms en groei van Afrikanernasionalisme tydens die 1930’s te verklaar. Sien ook Praeg (1992:63–4), wat die hele uitverkore-volk-gedagte (die Afrikaners soos die Israeliete van ouds) bespreek en hulle geloof dat die volk sal oorleef om “beskawing” na die donker hinterland van Suid-Afrika te bring. Praeg bespreek ook die rol wat sekere ou Afrikaanse literêre tekste (veral dié van S.J. du Toit) gespeel het om hierdie idees rondom Afrikanernasionalisme in die algemene volksbewussyn te vestig en uit te bou.

3 My dank aan die personeel by die Dokumentesentrum, Voortrekkermonument, wat hierdie inligting aan my beskikbaar gestel het.

4 Die dag is lank as Dingaansdag gevier (tot 1948) en is eers daarna Geloftedag genoem. Sedert 1994 staan dit bekend as Versoeningsdag (Day of Reconciliation).

5 Sien Keuris (2012:759), waarin genoem word dat reeds met die 1910-“Pageant of the Union of South Africa” grootskaals van historiese tablo’s gebruik gemaak is en waar die konvensie moontlik sy oorsprong binne die Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis verkry het. Die gebruik van historiese tablo’s by sogenaamde Afrikanervolksfeeste het volgens Kapp (1975:126) reeds voor 1930 voorgekom, o.a. tydens die Vrystaatse Republiekfees van 1883, toe ’n tablo wat op die Vrystaatse leuse gebaseer was, deur drie vroue voorgestel is.

6 Kleinjan van Bruggen (asook Bantjes) gebruik deurgaans die naam Charl Cilliers i.p.v. die meer algemene Sarel Cilliers.

7 Jansen (1938:57).

8 Vergelyk Spies (1988:53).

 

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top