JPJ van Rensburg, professor in Grieks op Stellenbosch, die man wat eerste was om die ou Grieke rêrig Afrikaans te laat praat

  • 5

JPJ van Rensburg

[’n Vertraagde Epitáphios Lógos van ’n oud-leerling aan sy eertydse Griekse leermeester]

Hierdie is noodwendig ’n persoonlike verslag wat ek, pas ná my 82ste verjaarsdag, op rekord moet plaas. Ek is waarskynlik die enigste (hoewel veel latere) tydgenoot van wyle professor JPJ van Rensburg van Stellenbosch wat nog oorgebly het om, uit eie meelewing as oor- en oog-getuienis, hierdie verhaal in enige diepte te kan vertel. Dit is immers nou my plig - voordat die vergetelheid sy gordyn finaal sal laat sak oor hierdie stukkie "drama" in Grieks én Afrikaans. Ek gee wel veel detail, maar baie oor JPJ van Rensburg sal ongesê moet bly. Die uwe het in medias res op die toneel verskyn en dit alles self beleef – wat vir hom ’n groot voorreg was en iets is waarvoor hy altyd dankbaar sal wees.

Professor Johannes Petrus Janse van Rensburg is op 23 Augustus 1911 op Tweedronk in die distrik Standerton in die ou Transvaal gebore. Dít het daarvoor gesorg dat sy goeie gholf-vriende op Stellenbosch hom altyd as "Stannie" aangespreek het. Omdat hy kort van statuur en donker van velkleur was, met kort krullerige hare, het sy vrou (Judith Anna) Wilhelmina, wat ek later aan huis leer ken het as "Tant Wil", hom altyd liefderik haar "Boytjie" genoem. Vir sy studente was hy ons geliefde en alombeminde “Kaffertjie", ’n Israeliet in wie daar geen bedrog was nie. ’n Man enig in sy soort. ’n Man met ’n grenslose intellek en insig. Hy was my groot leermeester wat later ook my groot vriend geword het.

Nadat Van Rensburg in 1929 in die "eerste klas" op Standerton gematrikuleer het, het hy (ook soos ek jare later) na Stellenbosch gekom om hom as predikant te bekwaam aan die plaaslike Teologiese Seminarium. Soos ek, was hy ’n plaasseun. En soos ek moes hy eers die Grieks van die Handboek van die Nuwe Bedeling onder die knie kry. En soos hy, het ek "koue voete" gekry, en het hy onder die Skot professor Charles S Edgar (1903-'43) en die Hollander Pietie van Braam (1913-'46) sy studie in die Klassieke Tale op Stellenbosch voortgesit. Hy het agtereenvolgens die grade BA en MA hier cum laude in 1932 en 1933 behaal. Vir ’n kort tydjie daarna was hy onderwyser in Latyn op Parys in die ou Oranje Vrystaat.

In 1936 (die jaar voor mý geboorte in Namakwaland) verwerf hy die Abe Bailey-beurs vir nagraadse studie in Londen. Hier behaal hy in 1938 die graad MA, ook cum laude, vir ’n skripsie met die titel An Introduction and Commentary to Apuleius: Metamorphosis XI.  Dit was aan die University College in Londen. Terwyl ek hier sit en skryf, lê hierdie skripsie, al vervaal van ouderdom, oop langs my op my lessenaar. Dit beslaan 143 bladsye en is in ’n slap bruin omslag, destyds gebind deur sy vrou self. Omdat hy soveel sentiment daaraan geheg het, het hy dit eers na haar dood in 1973 vir my gegee, net soos ook sy doktorale dissertasie (vir ’n D Litt) daarna op Stellenbosch in 1943 onder die (vir hom) lang titel The Relative Strength of the most important Oriental Religions and their Influence on Roman Life up to the end of the Third Century AD. Sy promotor destyds was professor Pietie Van Braam, met professor Theo J Haarhoff, ’n ander groot doyen van die klassieke in Suid-Afrika, as eksterne promotor. Dit beslaan 263 bladsye en was die heel eerste doktorsgraad in Klassieke Tale wat die Universiteit van Stellenbosch toegeken het. Op 13 Maart 1979, ’n jaar voor sy dood, het Van Rensburg ook hierdie proefskrif van hom een aand met ’n besoek aan sy huis in Soeteweide 6, Universiteitsoord, vir my laat kry – met ’n lang inskripsie voorin. Ook dit hou ek nou in my hande. Alhoewel Van Rensburg al sy nagraadse kwalifikasies met Latyn as hoofvak behaal het, het hy eers in 1951 professor in Grieks aan die US geword. Reeds in Januarie 1947 is hy egter al as professor in Klassieke Tale by die US aangestel (sien GFC de Bruyn, Professore: Universiteit van Stellenbosch en Voorgangers: ’n private uitgawe, 1989,  p 12, lemma 108 – wat ook die rangorde van professorale aanstellings aan die US aandui). Vir 30 jaar was hy dus net professor in Grieks. ’n Merkwaardige oorstap uit die Latynse Letterkunde en die Umwelt, as jy dink wat hy daarna alles vir Grieks op Stellenbosch (en in Suid-Afrika) vermag het. Die Duitsers noem so iemand, reg van sy begin af, ’n Wunderkind. Ek het baie jare later op Cambridge, juis op sy aandrang, aan King's College ’n PhD in die NT Griekse grammatika verwerf, maar ek kon in die vakrigting van suiwer Griekse filologie, reg tot die einde, nooit naby aan hom kom, nadat ook ek op Stellenbosch as dosent aangestel is nie. Hy het ’n meesterlike analitiese brein gehad. Blitsvinnig kon hy ’n grammatiese crux oplos. Ek het hom altyd daarvoor bewonder, al het hy soveel keer vir my gesê: "Gert, ek kan nie doen wat jy met die NT doen nie. Ek is ’n klassikus."

Die Westerse letterkunde, weet almal vandag, vind sy ontstaan, in al sy literêre genres, in die voorbeeld van die oud-Griekse letterkunde (epiek, liriek, die tragedie, die komedie, retoriek, geskiedskrywing, filosofie en later ook die roman). En dit was JPJ van Rensburg wat, ongeëwenaard vir Afrikaans, in vertaling die Klassieke Griekse tekste die een na die ander oor 30 jaar heen oopgebreek het. Hy het altyd suiwer idiolekties vertaal om die atmosfeer en die gees van die oorspronklike te probeer vasvang, sonder om die idioom van die reseptortaal te verkrag. Sy hele lang ry vertalings in Afrikaans het Van Rensburg strykdeur aangebied met ’n gespierde boerse frisheid daarin, vasgelê in ’n sprankelende en ongekunstelde Afrikaanse idioom. Hy kon hoogdrawendheid nooit verdra nie. Die moderne Amerikaanse neiging om dinamies-ekwivalent te vertaal (waarvan Eugène Nida, nou reeds saliger, die groot apologeet was), het hy altyd vermy. ’n Vertaling, op sy direkte beste, het hy geredeneer, bly maar altyd slegs ’n interpretasie van die oorspronklike, soos die Italiaanse spreekwoord ook lui: tradutore tradittore, ’n vertaler is ’n verraaier. Dan is dit juis ’n groot kuns om met die Afrikaanse vertaling uiteindelik ook die reuk en smaak van die oorspronklike teks in te dra. En dit kon Van Rensburg baie goed doen, meen ek (synde ook ’n Graecus). Dit vertel ook die storie van sy "oorgebruik", van die oud-Griekse modale partikels by Homerus, soos "dan","mos", "tog", "darem" en "sommer" (waarvan EL de Kock van die latere RAU hom beskuldig het).  In Van Rensburg se vertaling van die Griekse treurspel Trôádes ("Die vroue van Troje", 1945) het NP van Wyk Louw in sy lang inleiding daarby opgemerk (p 14) dat TJ Haarhoff se vertalings uit Grieks van Aristophanes se Ranae ("Paddas") en stukke uit die werke van die Atheense treurspeldigters Aischulos, Sophokles en Euripides, in sy "Die Antieke Drama" van 1946, vir ’n "poëtiese neteldoek" gesorg het, deur as digter hom streng te hou by die (onvertaalbare) oorspronklike Griekse prosodiese skemas. Theo Wassenaar ("Koning Oidipus" van Sophokles, 1974) en JA Ross (die "Hippolytos" van Euripides, MCMXL) het in dieselfde strik getrap. Ek meen ook dit doen beslis geforseerd aan. Juis daarom het Van Rensburg altyd prosa as medium gekies, sodat hy vry was om nie te probeer vertaal wat nie vertaal kon word nie. En was hy vry om net die inhoud van die Griekse teks so sekuur as moontlik weer te gee. Die oud-Griekse prosodie was kwantiterend (met ’n afwisseling wat in lang en kort sillabes geskandeer kan word) en nie aksentuerend soos in Afrikaans nie. Buitendien weet ons vandag bitter min van die werklike notering van die oud-Griekse musiek (vir die aulós, "fluit", en vir die lúra, "lier") wat koorlirieke begelei het. Wat ons vandag hiervan oor het, lyk na die standbeeld (soos in ’n museum) van een van die oud-Griekse gode waarvan die kop afgekap is en verlore gegaan het.

Toe Van Rensburg in 1980 as professor in Grieks aan die US uittree, het hy vir my plegtig sy  groot Liddell & Scott se A Greek-English Lexicon, wat in 1843 vir die eerste keer in Oxford  verskyn het en 2 111 bladsye beslaan, met dié woorde gegee: "Gebruik dit elke dag vir ’n paar uur, en blaai dit verder stukkend as dit daarop aankom, (geteken tt JPJ van Rensburg)." Grieks, kan ek hier net byvoeg, het in al sy groot verskeidenheid van dialekte (tradisioneel Ionies/Atties, Dories en Eolies – wat egter ’n minder akkurate indeling is) én in die verskillende fases van sy ontwikkeling as taal (Homeries/Epies, Klassiek, Hellenisties, Bisantyns en Moderne Grieks) sekerlik die grootste woordeskat van enige taal op aarde. Deur blote agglutinasie kan dit feitlik enige woord uit sy derduisende wortelstamme skep. Net daar. Die langste woord in die Griekse taal vind ons byvoorbeeld só by Aristophanes in sy Ecclesiazusae ("Vroue in die parlement"), reëls 1169, vervolgens (hier in klank weergegee, in Griekse teks tel dit egter altesaam 169 letters):

lopadotemachoselachogaleokranioleipsanodrimupotrimmatosilphioparalomelitokatakechumenokíchlepikossuphophaphattoperistralektruonoptegkephalliokigklopeleiolago[i]osiraiobaphêtragalopterugôn

Van Rensburg se vertalings uit Klassieke Grieks sluit die volgende in: Homerus (850 vC) se twee eposse, die Ilias (1954, wat 15 693 heksameter versreëls beslaan) en die Odusseia (1963, wat 11 760 heksameter versreëls beslaan); sy vertaling van Herodotus se groot Geskiedenis van die Persiese Oorloë teen Griekeland (490-480 vC), onder die titel Die Ooste teen die Weste, wat 505 bladsye tel in Hans Kirsten van Menlopark, Pretoria, se 1994-uitgawe daarvan en wat eers 14 jaar ná sy dood verskyn het - waarvoor hy weer eens, hierdie keer helaas postuum, soos ook verskeie kere sedert 1948, die SA Akademie-prys vir vertaling in Afrikaans ontvang het.

Vir sy eerste toekenning vir ’n vertaling uit Grieks (Die vroue van Troje van Euripides) wou die Akademie aanvanklik die Hertzog-prys aan hom toeken, maar het hulle toe besef dat net die vertaling sy oorspronklike werk is. Die brief aan hom vir daardie toekenning lê nou voorin my eksemplaar van Die vroue van Troje: op 17 November 1948 geteken deur die bekende Afrikaanse taalkundige FCL Bosman, toe die Sekretaris van die Fakulteit vir Taal, Lettere en Kuns van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Iets meer hier oor Van Rensburg se gigantiese vertaling in Afrikaans van die twee groot Homeriese eposse waaraan hy 14 jaar bestee het. Professor van Rensburg se vrou het my vertel dat wyle Anton Rupert en sy vrou Huberte een aand by hulle kom kuier het. Die Ruperts het glo opgemerk dat daar iewers "dood in die huis" is. Toe vertel Ant' Wil hulle dat haar man sewe jaar lank aan die vertaling van die Ilias van Homerus (die boek waarmee die Westerse letterkunde letterlik begin) bestee (lees: geswoeg) het en dat geen uitgewer in Suid-Afrika kans sien om dit te publiseer nie. Want wie sal ooit so iets wil koop? Op hulle terugrit daardie aand na Thibaultstraat, het Anton toe vir Huberte gesê dat hy hieroor, as uitvoerende direkteur van die Rembrandt Tabak-korporasie, by die eerste en beste geleentheid sal voorstel dat dié maatskappy die uitgee daarvan volledig sal borg om dit teen ’n "billike prys" vir die publiek beskikbaar te stel. Dit het toe ook gebeur. En gou was hierdie juweel op die mark in Suid-Afrika, gedruk deur Pro Ecclessia-Drukkery op Stellenbosch, en teen 15 sjielings per eksemplaar aangebied. In "Van alle kante" het Die Burger van Maandag, 22 November 1954, die lof van hierdie boek besing. Daarin het Van Rensburg dit aan ’n onderhoudvoerder gestel dat dit ’n "unieke blyk van vertroue" in Afrikaans is. Dit was ook in ’n uiters aantreklike formaat uitgegee: ’n boek van 404 bladsye met goue letters op ’n omslag van rooi kunsleer, beskerm in ’n spesiale kartonhouer. Tipies die aanslag van Aton Rupert. Van Rensburg het ook vertel dat hy weke lank, tydens langverlof, in ’n "afgesonderde kamertjie" naby Paardekop in Oos-Transvaal die laaste vyf van die 24 boekdele van die Ilias sit en vertaal het met sy Little & Scott langs hom, terwyl sy skoonmoeder die hele tyd vir hom koffie bly aandra het. Later het hy sy werk voortgesit aan huis van sy eie moeder in Sabie. Gevra of hy dink hierdie werk van Homerus, wat die Bybel van die ou Grieke was, is al sedertdien net soveel keer gelees as die Christelike Bybel self, was sy antwoord dat hy huiwerig is om daarop te antwoord ("comparisons are odious", het die skrywer hiervan hom dikwels hoor sê). "Wat wel waar is, is dat die Ilias van Homerus reeds sy invloed laat geld het amper ’n volle duisend jaar voordat die Christelike Bybel daar was. Alexander die Grote (gebore in 356 vC in Macedonië, ten Noorde van die Griekse moederland, en sterf  in 323 vC aan koors [(of was dit dalk crapula?] in Babilon - toe maar net 32 jaar oud) het die Ilias van Homerus in ’n spesiale juweelkissie wat van die Perse geroof is as sy handboek elke dag op al sy grootse en seëvierende krygstogte in die Ooste saam met hom gedra. Van Rensburg het my later vertel dat ’n vrou uit Portland in die Amerikaanse staat Maine, nadat sy van sy vertaling van die Ilias in ’n nuusberig gehoor het, in ’n brief aan hom gevra het of Afrikaans dieselfde is as Swahili. Sy wou graag ’n eksemplaar daarvan bekom aangesien sy boeke in vreemde tale versamel om iets daaruit te probeer leer. Sy besit wel reeds die Koran in Arabies, maar dit is darem te moeilik vir haar om gelees te kry en te verstaan, het sy bygevoeg.

Danie van Niekerk, een van JPJ van Rensburg se mees begaafde oud-studente, het op 1 Januarie 1955 ’n gloeiende artikel in die "Byvoegsel" van Die Burger oor Van Rensburg se vertaling van die Ilias geskryf. Toe hy vir Van Rensburg vra waarom hy ooit so ’n reuse taak aangedurf het om die Ilias te vertaal, het dié hom ’n menigte redes gegee – waaronder dat dit tog ’n mooi (en pakkende) storie is; dat dit handel oor tydlose karakters, mans en vroue, soos oor Achilles se wrok (die eintlike Leitmotiv van hierdie epos, beskryf oor die bestek van slegs 51 dae in die laaste jaar van hierdie tienjarige oorlog van 1194-1183 vC) en Andromachê wat in haar huis in die ommuurde stad Troje die aand angstig gewag het op die terugkoms van haar man, die vermaarde Trojaanse held Hektor, en selfs sy badwater vir die aand warm gemaak het, sonder dat sy geweet het sy dat sy warm lyk aan beesrieme vasgemaak deur gate aan altwee sy enkels rondom die stadsmure van Troje deur sy Griekse oorwinnaars met ’n strydwa gesleep word (waar die digter Homerus homself hier van "skandelike dade" [aeikéa érga, boek, 22, reël 395] beskuldig het); en derdens, dat hierdie epos eintlik, hoewel in ’n ontsaglike groot pre-klassieke woordeskat en grammatika, tog met die grootste eenvoud geskryf is, binne ’n strenge vormvolmaaktheid van heksameterverse, reël vir reël, waar anapeste (v v -) met spondeë (- -) afgewissel word. Die Ilias is ’n nasionale volksepos waarin elke mens die blote storie kan verstaan, in vergelyking byvoorbeeld met John Milton se Paradise Lost, wat weer ’n kultuurepos is en wat jy alleen kan verstaan in die lig van eindelose geleerde letterkundige verwysings. Tradisie wil dit hê dat Homerus ’n blinde digter van (moontlik) die rotsagtige eiland Chios aan die Klein-Asiatiese kus was. Sy naam self impliseer dit ook etimologies in die oorspronklike Grieks. Net ’n blinde digter, is daar  geglo, kan die vates van sy volk wees, omdat hy die onsienlike kan sien – dit wat die siende nie kan sien nie. Die filosoof Plato het hom tereg die "Opvoeder van Hellas" genoem.

Van Niekerk, in sy artikel hierbo, het (seker met blote wensdenkery) daarna uitgesien dat Homerus se Odusseia ook "eendag" in ’n Afrikaans vertaling sal verskyn. En dit hét.

Sewe jaar later was JPJ van Rensburg se vertaling van die Odusseia gereed. Dié keer het Human en Rousseau van Kaapstad dit onmiddellik gepubliseer en die SA Akademie-prys vir vertaling is daar en dan daarvoor aan hom toegeken. Hoe relatief is alles tog nie in hierdie lewe nie. Die ou Griekse vóór-Sokratiese natuurfilosoof, Herakleitos van Efese, het by geleentheid gesê: nta rheî kaí oudén ménei ("Alles vloei en konstant bly daar niks" - want niemand kan ooit twee keer deur dieselfde water van ’n rivier loop nie). Anton Rupert het hierdie keer ’n kopie van die Odusseia in wit kalfsleer laat bind en aan professor Van Rensburg oorhandig met die volgende inskripsie voorin: "Aan die man wat nie ’n skok sal hè [sic] aan die "Ewigheid" nie. Dankie vir ’n tweede 'sewe vet jare'. Anton Rupert." Sedertdien is die gordyn oor beide getrek, maar Homerus het in Afrikaans agtergebly. Die vertaler sélf het gesorg dat ek daardie gesogte "wit" eksemplaar van Homerus se Odusseia bekom. In die hoofartikel van die Die Burger op Saterdag, 16 November 1963, is Van Rensburg geluk gewens met sy andermaal groot prestasie. Dit is ook genoem dat die ver-Afrikaansing van hierdie twee heldedigte van Homersus nog kan lei tot ’n herlewing van die studie van Grieks in Suid Afrika, waarvan die naelstring deur verwaarlosing hier te lande byna reeds afgesny was. En daar is die wens uitgspreek dat jongmense sal opstaan wat weer na die antieke bron sal wil terugkeer. Die uwe was een van hulle, geïnspireer deur die einste professor JPJ van Rensburg.

Ander vertalings van JPJ van Rensburg wat nou ook in Afrikaans op hulle eie pedestale staan, sluit dié van die volgende oud-Atheense treurspeldigters in: die Antigone (1961) en Iphigeneia in Aulis (1967) van Euripides; die Elektra (1969), Philoktetes (1976) en die Oidipus by Kolonos (1979) van Sophokles (laasgenoemde hier is onverskoonbaar weggelaat deur sy jarelange vriend en kollega, Frans Smuts, die professor in Latyn, in die Suid-Afikaanse Biografiese Woordeboek, vol. V, pp 873-74, ’n man wat ook [tensy dit setfoute was] in die Latynse titel van Van Rensburg se meesterskripsie in Londen ’n growwe fout gemaak het met Metamorphoses XI vir Metamorphosis XI).

Professor Van Rensburg het altyd gesê dat hy Sophokles se Oedipus Coloneus ("Oidipus by Kolonos") eers op sy oudag  gaan vertaal, omdat dit die uiters tragiese verhaal vertel van hoe koning Oidipus van Thebe, heel onwetend, mislei deur ’n orakel van Delphi, sy pa (Laios) doodgemaak het, toe met sy ma (Jokasta) getrou het en by haar vier kinders verwek het: twee seuns (Poluneikes en Eteokles) en twee dogters (Antigone en Ismene). Toe hy tot die waarheid van die wrede werklikheid hiervan kom, het Oidipus sy eie oë met die borsspeld van Jokasta uitgesteek en as blinde banneling na Athene gevlug, aan die hand gelei deur die onwrikbare Antigone. Van Rensburg se Oidipus by Kolonos het dan ook net ’n jaar voor sy dood by Human & Rousseau in Kaapstad verskyn. ’n Orakel vervul.

 Van Rensburg het ook Aristophanes se wulpse komedie, die Lusístrata, in Afrikaans vertaal – "met sondige genot," soos hy altyd gesê het. Maar hieroor later meer as ons by die opvoering van Van Rensburg se vertaalde dramas op Stellenbosch kom. Inderdaad is hierdie vertaalde  dramas in Afrikaans van Van Rensburg ook heel opvoerbaar, juis omdat dit in sulke uiters kollokwuale eenvoud geskryf is.

’n Pragtige boekie wat Van Rensburg ook in ’n Afrikaanse vertaling uitgegee het, is Die mooiste fabels van Esopus (ook 1970, met illustrasies deur JJ Grandville). Hierin is 119 van die 123 fabels van Esopus, ’n Thrasiër wat volgens Herodotus teen die middel van die sesde eeu vC tydens die heerskappy van die bekende koning Amasis in Egipte gewoon het. Dit verhaal almal episodes uit die dierelewe wat dan op didakties-satiriese wyse heerlik die gek skeer met die wonderlike mens se "verhewe" moraal.

Van Rensburg het ook die eerste Afrikaanse grammatika van Grieks geskryf, ’n Eerste Griekse Grammatika (1953, vier keer herduk) met die tipiese dubbelsinnige titel wat hy daaraan gegee het, omdat hy hier, vir die eerste keer, akademies-grammatikale begrippe in die studie van Griekse moes ver-Afrikaans. Inderdaad baanbrekerswerk, bygestaan professor Meyer de Villiers van die Departement Afrikaans-Nederlands op Stellenbosch. Professor Van Rensburg het, na sy aanstelling as professor in Grieks by die US, onmiddellik daaraan begin werk omdat al sy studente (admissante) in werklikheid Afrikaanssprekend was. Vir die vorige amper honderd jaar moes die voornemende Afrikaanse dominee Grieks met behulp van Engelse handboeke leer. Saam met sy Grammatika het Van Rensburg ook Griekse oefeninge met woordelyste (1955) opgestel. Dit alles binne sewe jaar nadat hy in hierdie pos aangestel is. Hierdie Griekse grammatika, plaaslik uitgegee deur UUB op Stellenbosh, het in 1956 gesorg vir mý eerste kennismaking met Grieks én met een van die briljantste en grootste geeste wat ek ooit geken het – ’n leermeester wat my jare later op 21 September 1980 na sy sterfbed in Bellville sou ontbied.

En ja, Van Rensburg het ook by UUB op Stellenbosch die eerste Oorsig van die oud-Griekse letterkunde in 1969 in Afrikaans gepubliseer, onder die motto ΓΗΡΑΣΚΟΙΜΙ  ΔΙΔΑΣΚΟΜΕΝΟΣ (wat hy by die groot [Philip)]August Boeckch, 1785-1867, professor in Grieks op Heidelberg-aan-die-Nekar en ook die Duitse hoofstad Berlyn, geleen het – ’n man wat vandag beskou word as dié grondlegger van die Alertumswissenschaft in Wes-Europa). "Mag ek al lerende (vir ander), oud word," was sy boodskap. En dit is ook hoe ’n dosent in sy vak groei en grootword.

By Van Rensburg se "Die vroue van Troje" (Trôádes in Grieks) het sy vriend en waarskynlik die grootste digter wat Suid-Afrika ooit opgelewer het, NP van Wyk Louw, ’n uiters insiggewende inleiding van 27 bladsye geskryf oor die "Klassieke Literatuur" en oor die "vertaling" daarvan. Van Rensburg het nie die poëtiese tekste wat hy vertaal het probeer her-poëtiseer nie. Laasgenoemde poging kan soms tot verregaande inlegkunde lei. Daarom het hy altyd by prosa gehou, maar prosa wat in sy ritme skerp aangewend was.

Van JPJ van Rensburg se vertalings van Griekse dramas is op Stellenbosch in die HB Thom-teater opgevoer. Aletta Gericke van die SAUK het reeds in 1938 in Londen vir Van Rensburg gevra om die Trôádes, dit is Die vroue van Troje van Euripides, in Afrikaans te vertaal. En hy het dit ook sewe jaar later gedoen. Die eerste opvoering daarvan het in die Kunsskool van Stellenbosch (onder beskerming van die VLV) plaasgevind op 21 en 22 April 1944, met Truida Pohl as regisseuse, bygestaan deur die nimlike Aletta Gericke. Pieter de Waal het hier die rol van die seegod Poseidon gepeel, Ria Olivier die rol van Hekabe (die eggenote van Priamos, die koning van Troje), Aletta Gericke die rol van Kassandra (die profetes-dogter van Hekabe), en Suzanne van Wijk die rol van die skone Helena (wat deur Paris, die prins van Troje, uit Sparta ontvoer is), met Alida Gericke as Pallas Athena. Hierdie anti-oorlogdrama (dit was tydens WOII) is daarna, op 29 April, ook in Kaapstad in die Hofmeyr Hall onder beskerming van die Cape Town Training College opgevoer, met Fred le Roux, later professor in Drama aan die US, as die herout van die Griekse leër voor Troje. Ek noteer dit slegs hier om groot name in die teaterwêreld van die dag weer in ere op te roep.

Van 22 tot 27 Mei 1978 is Die vroue van Troje weer op Stellenbosh opgevoer, dié keer met Ria Olivier (die vrou van professor Fred le Roux) wat die regie behartig het. Die digter Ronny Belcher het die rol van Poseidon gespeel, Estelle Venter was Hekabe, Heidemarie Rossocha was Pallas Athena, Dawid Minnaar was Talthubios, Rachelle Greeff was Kassandra, Emile Aucamp was Astuanax (die seuntjie van Hektor en Andromachê wat die seëvierende Achaioí, dit is Grieke, op barbaarse wyse buite die mure van die stad Troje om die lewe gebring het), en Juanita Swanepoel was die Koorleidster. Hierdie opvoering het ek self bygewoon. Die opvoering het sowat 90 minute geduur sonder ’n pouse tussenin. Al die oud-Griekse dramas is relatief kort in bestek.

Die vroue van Troje is ook weer op 21 Februarie 1987 in die hoofteater in die Windybrow-kompleks in Hillbrow en die Adcock-Ingram van Tuks opgevoer, in Jean Paul Sartre se verwerking van hierdie drama. Babs Laker het die rol van Hekabe gespeel – daardie Trojaanse koningin wat as die tragiese held al haar kinders deur die dood verloor het, die een na die ander met spiese deur die Achajers doodgesteek. Dieter Reible was die regisseur van hierdie drama wat JPJ van Rensburg destyds in Suid-Afrika bekend gemaak het.

Van Rensburg se vertaling van Sophokles se Antigone is weer tydens die Kunsfees op Stellenbosch op 11 September 1961 opgevoer onder regie van Fred Engelen. Die groot naam daardie aand op die program was (die onvergeetlike) Tine Balder, die vrou van profesor Fred Engelen, toe die hoof van die Dramadepartement, en Fred le Roux wat later self, na die tragiese vroeë dood van Fred Engelen, die direkteur van die Dramadepartement aan die US geword het. Dit moes ek, tot my groot spyt, misloop. Juis daardie oggend het ek met die Pendennis Castle na South Hampton in Engeland vertek vir verdere studie aan King's College op Cambridge. My verloofde, Christa de Wit (ons is nou al 56 jaar getroud), het die opvoering egter "namens ons altwee" daardie aand gaan bywoon. Self het ek toe reeds in Grieks III hierdie tragedie in die oorspronklike Grieks bestudeer onder professor PJ Conradie. Van Rensburg sê in sy Voorwoord by hierdie vertaling dat (die aristokratiese) professor WJ du P Erlank (alias Eitemal) hom oorgehaal het om hierdie vertaling uit sy laai te haal (en af te stof) vir publikasie. So ook professor Engelen.

Nog was dit nie die einde nie. Engelen, as minder konserwatiewe Europeër, het Van Rensburg op ’n dag gevra om die Lusístra ("Sy wat leërs laat ontbind") van die komedieskrywer Aristophanes vir hom in Afrikaans te vertaal. Hy het dit toe gedoen en ek was een van die eerstes wat die handgeskrewe manuskrip te sien gekry het. Dit was kaalkop die ware Aristophanes, uiters lagwekkend, maar eweneens uiters kru in sy suggesties en taalgebruik.  Die Dramadepartement het dit begin instudeer. Na slegs één aand is die opvoering daarvan gestaak. Stellenbosch was nog nie ryp genoeg daarvoor nie. Daar was konsternasie onder die spelers. Die destydse Bettie Kemp, nou nog net so jeugdig jonk as toe, wat steeds gereeld op ons televisieskerms verskyn (en radiodiens), was een van dié wat glo hewig teen die summiere stopsit van Lusístrata geprotesteer het. Van Rensburg het die teks later effens afgewater, die angels van die woordgebruik daarin uitgetrek, sonder om die tydlose intrige daarvan te verander. Human & Rousseau van Kaapstad het dit in 1970 gepubliseer. Al wat Van Rensburg voorin die kopie daarvan wat ek ontvang het, geskryf het, was: "Lekker lag, Gert en Christa".

Laastens, iets meer persoonliks oor JPJ van Rensurg. Hy was, soos reeds gesê, kort van postuur en het altyd ’n swart snorretjie gedra. Hy het hoogdrawendheid verpes. Sê alles op die eenvoudigste manier. My kantoor by die Ou Hoofgebou van die US was onmiddelik naas syne. Heel dikwels het hy my soggens tussen klasse gevra om by hom te kom inloer. Dan het hy sy pyp rustig met ’n vuurhoutjie opgesteek en net blou dampe het gestaan. Meermale het hy sy kantoordeur agter my toegemaak en het ons diep dinge gesels. Dit was nie oor Grieks nie, maar oor persoonlike aangeleenthede. Ek was vir hom ’n klankbord en hy was my wyse raadgewer.

Die Van Rensburgs was kinderloos – iets wat vir sy vrou, natuurlikergewys, baie swaar was om te aanvaar. Maar Van Rensburg het nooit toegelaat dat sy probleme na binne sy absolute gentlemanship na buite versteur nie. Hy het altyd die ware heer gebly: diep menslik, altyd opreg, toeganklik vir almal, direk eerlik, simpatiek teenoor die probleme van ander en immer die minsame self.  JPJ van Rensburg was altyd dieselfde man as gister. Toe hy die dag met sy uittrede van my wou weet of hy, omdat hy by daardie geleentheid in die Senaat sekerlik gevra sou word om met ’n gebed af te sluit, sy uitgeskrewe "rympie op ’n stukkie papier" met oop oë kan aflees. Eerlik teenoor sý Skepper en eerlik teenoor homself. Vandag, 30 jaar later, sou ek hom, op blote beginselgronde, ’n beter antwoord kon gegee het.

Sy motto in hierdie onewe lewe het hy so dikwels vir my uit Aischulos se Agamemnon (reël 117) aangehaal: páthei máthos ("deur lyding kom wysheid"). Dít was Johannes van Rensburg (soos sy skoomoeder hom altyd genoem het). Alleen ’n mens wat deur hierdie lewe gelouter is, kan homself  ’n ware mens noem. Professor van Rensburg is slegs drie jaar na aftrede aan prostaatkanker oorlede. Hier op my lessenaar lê die vulpen waarmee hy vir soveel jare al sy vertalings uitgeskryf het. Sy tweede eggenote, Sylvia Barnard, het dit vir my na sy dood gegee. En in my klerekas hang die toga wat hy as Dekaan van Lettere en Wysbegeerte by geleentheid moes dra en wat hy op ’n dag ook vir my gegee het (ék wat nooit ’n Dekaan sou wou wees nie). Dit is vandag kosbare kleinnode vir my, gegee aan ’n man wat nooit ’n vader geken het nie – omdat hý, FC, so vroeg (op 31 Desember 1947), toe ek maar tien jaar oud was, reeds ’n skim in Hades geword het (binne die oud-Griekse tradisie). En sy handgeskrewe manuskrip van Die vroue van Troje het die Universiteitsbiblioteek van die US bekom sáám met my volledige Afrikaanse biblioteek van die vorige eeu deur tydige bemiddeling van die destydse rektor van die US, professor Andreas van Wyk.

Requiescat in pace, ô áriste didáskale. Ek is jammer dat ek nie met u sterfdag na ’n Bellvillese hospitaal kon kom nie, nadat u my dringend daardie dag daarheen ontbied het. Ons moes juis net toe inderhaas na die Oranje Vrystaat gaan waar my eie skoonvader ernstig siek geword het. Wat wou u vir my sê? Ek sal dit nooit weet nie. Maar soos ’n Odusseus, in die 11de boek van Homerus se Odusseia, sal ons mekaar weer in Hades raakloop – en ek sal hoor wat u laaste woorde aan my op hierdie tydelike ondermaanse was - daarvan is ek baie seker. Niks kan ons vir altyd skei nie.

’n Post Scriptum. My studie van die Griekse Ou Komedie van Aristophanes, wat pas by Naledi verskyn het, het ek aan wyle Johannes Petrus Janse van Rensburg, op my eie oudag, opgedra. Professor JPJ van Rensburg was inderdaad die een wat my destyds "Cambridge toe" gestuur het sodat ek daar in NT Grieks kon gaan spesialiseer onder die internasionaal bekende professor Charles Francis Digby Moule van Clare College, een van die enkele Britse medewerkers aan die groot Duitse Theologisches Wörterbuch zum NeuenTestament  in agt volumes (Stuttgart, 1933-76). CFD Moule was vir 25 jaar die Lady Margaret's Professor in Divinity aan Cambridge, die oudste leerstoel aan dié Universiteit wat reeds in 1502 ingestel is. Moule self het 99 jaar oud geword. Op Cambridge, aan Queen's College, was die bekende Nederlandse humanis Desiderius Erasmus van Rotterdam immers die eerste "reader in NT Greek" (1509-14). Tydens sy verblyf op Cambridge het hy die eerste Griekse grondteks van die NT weer vir Europa voorberei, ’n teks wat toe ook op 1 Maart 1516 by Johann Froben van Basel in druk verskyn het – om Hieronymus se Latynse Vulgaat van 404 (voltooi in opdrag van pous Damasus) as laaste gesag te vervang. Die Vulgaat was die kanselbybel in Europa waarvoor ’n kommissie onder pous Clemens VIII in 1592 reeds meer as 3 000 "korreksies" voorgestel het, wat toe nooit aangebring is nie omdat die Vulgaat met die Konsilie van Trente, tydens die Vierde Sitting op 8 April 1546, reeds authentica verklaar was – en dus vir ewig onveranderd moet bly.  Juis daarom moet dié wat die oorspronklike Griekse teks van die tien verskillende NT-skrywers bestudeer, sorg dat daardie teks sover moontlik, deur die blote kollasionering van meer as 5 000 teksgetuienisse tot sy suiwerste staat gevoer word.

Terug op Stellenbosch het ek dan ook, juis met aansporing van professor Van Rensburg, in 1975 die eerste partikuliere Inleiding tot die studie van Nuwe-Testamentiese Grieks in Afrikaans gepubliseer - ’n werk wat destyds in Meppel, Nederland, gedruk moes word en deur Boekhandel T Wever op Stellenbosch uitgegee is. Daarna het ek dit in 1981 opgevolg met ’n aparte analise van die afsonderlike, eiendomlike idioomgebruike van elk van die tien afsonderlike skrywers van die NT, onder die titel Die Skrywers van die Nuwe Testament  - die keer óók deur U.U.B. (SWJ Liebenberg en Seun) op Stellenbosch uitgegee, net soos JPJ van Rensburg se eie Eerste Griekse Grammatika in 1953 wat alleen vir Klassieke Grieks bedoel was. Toe ek destyds, aan die begin van 1956, my eerste kopie van hierdie einste uiters kompakte én saaklike Griekse grammatika by die Liebenbergs se Boekhandel op Stellenbosch gaan koop het, en daarin loop en kyk het al met Van Riebeeckstraat langs, het ek myself afgevra wat ek op Stellenbosch kom soek het. Want, Graecum est, non potest legi  ("Dit is Grieks; dit kan nie gelees word nie"), het die gevierde Roomse Bybelgeleerdes mos altyd in die Middeleeue van alle Grieks gesê.                             

  • 5

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dat The Odessy en The Iliad in Afrikaans vertaal was, is nou werklik vir my nuus. Ek wens ek kon die vertalings te lese kry!

  • Andreas van Wyk

    Baie dankie, Gert, vir jou woorde oor Oom Boytjie van Rensburg, soos ons hom in die familie geken het. Hy en sy vrou Tannie Balos (waar dié familiebynaam vandaan gekom het, weet ek nie). Ek was maar 'n aangelapte familielid (my stiefma, Miems de Jager van Morgenzon, was 'n niggie van hom), maar nadat ek as eerstejaarregstudent in 1960 deur Ma Miems in Groeneweide aan hulle voorgestel is, was ek gereeld 'n genooide gas daar. En op die destyds nog krakerige houtbalkonne van die Ou Hoofgebou was daar altyd tyd vir 'n kwinkslag of selfs 'n kort gesprek.
    Ek het mettertyd ook meer oor hom gehoor deur sy vrinne in die personeel van die Regsfakulteit, veral JC de Wet, wat vroeër jare gereeld saam met hom, James Yeats en Whitey van der Westhuizen 'n handjie brug gespeel het. Soos sy vrou agteruit gegaan het, het besoeke in Groeneweide moeiliker geword. Na sy tweede huwelik met die vrolike Sylvia Barnard van die Universiteitsbiblioteek het hulle sosiale lewe hervat en kon ook die jonggetroude Andreas en Magdaleen van Wyk soms 'n ottermaklotter en 'n bredie aan hulle tafel geniet.
    Van my kosbaarste besittings is kopieë van sy vertalings van die Ilias en die Odusseia in hulle donkerrooi omslae wat hy aan my geskenk het. Ek stem heelhartig met jou saam dat sy besluit om nie die Griekse ritmes in Afrikaans te probeer weergee nie, die regte een was. Sy Afrikaans is kragtig en gespierd, maar natuurlik. Dat ons in die glorietye van die Thomteater Fred Engelen en Tine Balder se produksies van sy vertalings van Griekse dramas kon meemaak, maak daardie besittings nog kosbaarder.

  • Charlotte Vlok

    Ek het sopas begin lees aan die Ilias, ek besit ’n eerste uitgawe in leer gebind wat die eiendom van my pa was. Hy was ’n Professor in Teologie eers aan die Stofberg Teologiese Skool en later die Universiteit van die Noorde, (Prof DJ Booysen). Hy was ’n lewenslange student wat ’n ongelooflike biblioteek opgebou het. Alhoewel ons na sy dood die meeste van sy boeke vir teologiese opleiding geskenk het, het ek tog ’n paar versamelings en antieke boeke terug gehou. Daar is nog nie ’n nasaat wat kans sien vir Grieks en Hebreeus nie, maar die hoop beskaam nie. Dankie vir die bogenoemde artikel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top