Jou Welgevonden-wyne Sundowner-brief; 28 Mei, 2008: Teïsme, ateïsme en sielkunde

  • 0

Neels,

Vriend Melt plaas jou briewe so mooi bo-aan dat mens moet reageer, maar hierdie onderwerp is reeds goed deurtrap.

My benadering verskil van die van Thomas en Klaas. Ek ervaar geen kloof of weerspreking tussen die skeppingsverhaal en evolusie nie. Dit is jammer dat gelowiges so 'n bohaai daaroor maak, want alhoewel dit streng gesproke steeds 'n teorie is, is bewyse vir die korrektheid daarvan legio. Gelowige ontkenners mag hul in dieselfde posisie as plat-aarde entoesiaste bevind wat eers tot besinning gekom het toe hulle die Apollo foto's van ons mooi ronde planeet gesien het.

Dit is moeilik vir feite of waarnemings om teïsties of ateïsties te wees. Feite is feite.

Mag ek 'n teenvraag vra? As die evolusie-teorie, in watter vorm jou ookal die meeste irriteer, môre as onweerlegbaar waar bewys word, sou jy dit ervaar as 'n geloofskrisis? Hoekom?

Jy is reg om terug te gaan tot by die Begin. Die Skepping teenoor die Oerknal. Volgens die kosmoloë het alles begin met 'n "singularity", 'n punt met oneindige digtheid, massa en energie en geen volume nie. God? Weereens dink ek nie daar is teenstrydigheid nie – God kon immers die Oerknal veroorsaak het?

Of dalk is die Heelal verhewe bo alle menslike en Goddelike begrip. Dalk laat die Heelal nie die bestaan van 'n God toe nie.

Neels, soos die ouderdom mens inhaal, en die spreekwoordelike wysheid drupsgewys toeneem, smaak dit my al hoe meer dat hierdie saak meer met sielkunde as enigiets anders te make het.

Voorheen het ek gedink dat gelowiges 'n Rede wil hê terwyl ongelowiges sonder 'n Rede kon klaarkom. Nou besef ek egter dat ongelowiges nie 'n Rede wil hê nie. Dit is die moeite werd om die filosoof Thomas Nagel weer hieroor aan te haal:

I am talking about something much deeper - namely, the fear of religion itself. I speak from experience, being strongly subject to this fear myself: I want atheism to be true and am made uneasy by the fact that some of the most intelligent and well-informed people I know are religious believers. It isn't just that I don't believe in God and, naturally, hope that I'm right in my belief. It's that I hope there is no God! I don't want there to be a God; I don't want the universe to be like that.

Daniel Dennett is op die regte pad. Sielkunde kan antwoorde verskaf oor waarom die mens 'n godsdiensdrang het. Dennett is egter veels te beskeie, want dieselfde vrae kan aan ateïsme gevra word.

Waarom wil sommiges glo terwyl ander nie wil glo nie?

Chigurh

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top