
Foto: Canva
Jou liefde smaak na rooi muskadel
In die drankduiwel se onderspit
het ek vergeefs na liefde gedelf
oor en oor het ek myself
daar op die rotse verloor
om my sorge en verborge spyt
nóg ’n dag nóg ’n wyle te smoor;
voor jy my dronkverdriethart
uit die moordkuil kon wegtoor…
jy is sag op die tong soos volryp pontak
jy smaak na roospienk zinfandel
jou soene is soet soos rooi muskadel
en jou liefde vuurwarm – soos goue konjak.
Ek het aandag in hoolneste gevind
en in verlatenheid versink
tot jy jou liefde oor my uitgestort het
en ek jou dorstig op kon drink
want jou soene is soet soos rooi muskadel,
jy is sag op die tong soos volryp pontak,
jou liefde smaak na pienk zinfandel
en jou hart is opreg – soos egte konjak.
Jy is sag op die hart soos volryp pontak
en jou liefde opreg – soos Franse konjak
Pastiche gedig – Tennessee Whiskey

