Joshua na die reën: "Ek kan maar net praat oor hoe ek dit beleef ..."

  • 2

Joshua na die Reën se eerste album is pas vrygestel en sy aanhangerstal groei vinnig. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Joshua. Hoe’s dinge?

Hallo! Dit gaan goed met my, dankie! Veral noudat die vakansie begin nader kruip, kan ek nie wag om my voete in die seesand te druk nie! En ’n lekker opgewondenheid in my hart vir my broer Pierre (wat ook my bestuurder is) se troue in Desember.

Maar sommer net oor die algemeen gaan dit ook goed ’n geniet hierdie tyd baie met al die onsekerheid en onvoorspelbaarheid vir wat wag in die volgende jaar.

Geluk met die vrystelling van die album en die video vir “Lig op die horison”. Hoe ervaar jy die reaksie tot dusver en hoe voel jy self oor hoe die snitte uitgedraai het?

Die hele proses is vir my keer op keer net een groot verrassing. Ek het altyd gehoop dat wanneer ek my eerste album uitbring, dit iets sou wees waarop ek trots sou wees ’n en ek kan vir seker sê dat ek trots is daarop. Ek dink wanneer mens liedjies skryf, het mens ’n sekere idee van hoe jy graag wil hê dit moet klink wanneer mens dit in werklikheid opneem, maar ek sou nie kon raai het dat dit só sou klink soos wat dit klink nie, en ek dink die geleentheid wat ek gehad het om saam met Ben Ludik (seker een van die land se beste producers) te werk, was een van die lekkerste ervarings van my lewe. Sy manier om dinge te deurdink en mens dan selfs uit te daag om seker te maak wat die boodskap is wat mens eintlik deur jou musiek wil uitdra, was vir my ’n baie groot leerproses en ook bietjie van ’n wakkerskud-ervaring om soms jouself eenkant te sit en goeie raad te aanvaar. En dan kan ek sê die kombinasie van hierdie dinge het gesorg vir reaksie wat my verwagtinge oorskry. Werklik! Ek staan net terug en geniet wat hierdie proses vir die mense om my beteken. Daar's soveel meer as wat mens met jou oë kan sien.

In ag genome dat hierdie jou debuutalbum is, wat was jou verwagtinge toe jy aan die album begin konseptualiseer, die liedjies saamgestel het en so meer? Hoe verskil dit van wat jy voor die proses “in jou kop” gehoor het?

Van die liedjies op die album kom al ’n langerige pad saam met my, en van hulle is baie nuut, maar so ver ek kon het ek my bes probeer om elke woord te deurdink en ook elke noot ’n ek dink daar is ’n verhouding tussen die twee wat mens nie kan skei nie. En die boodskap was deurlopend, van die eerste liedjie wat ek vir die album geskryf het drie jaar gelede tot die laaste een begin van hierdie jaar, ’n boodskap van "onthou" of "herinneringe" of dan "hoop". Onthou wie ons almal eens in ons lewens was ... ’n kind, met drome en ongerepte hoop. Dan het ek ook herinneringe probeer vasvang wat vir my in my lewe spesiaal is, en al soveel keer hoop gegee het om hierdie lewe te leef met alles in my! Daar is ook ’n groot gedeelte van die temas wat ’n diep hunkering in my verklaar wat ek glo baie mense mee sal kan vereenselwig, want op die ou end moet almal droom, en dis maklik om te vergeet om te droom, want mense besef nie meer hulle waarde nie!

Op jou webwerf-biografie staan geskryf: “’n Mens hoor deesdae selde ’n snit op radio wat nie gemanipuleer is deur middel van tegnologiese kulkunsies nie. Teenstrydig met hierdie tendens voel Joshua na die Reën gemaklik om agter die klavier in te skuif en ’n liedjie vas te vang met slegs een opname.” Tog is daar duidelik met tegnologiese/elektroniese elemente gespeel op dié album. Voel jy dit moet een of die ander wees, of wat is jou benadering hieroor? Het jou inslag verander in die proses?

Ek het absoluut geen probleem met tegnologiese elemente nie, want daarsonder sou my album nie moontlik gewees het nie. As ek dit anders kan stel, sou ek sê dit is deels gemik op die stem as instrument. Die stem moet op ’n album die instrument wees wat die minste aan gemanipuleer of geraak word ’n dit is die deel van popmusiek wat die werklike emosie van die liedjie kan oorbring, en as hy so perfek gemaak word net deur tegnologiese hulp, vat dit vir my van die emosie agter die liedjie weg. En al het elektroniese elemente regtig die proses baie makliker gemaak, het ons nog steeds probeer om so ver moontlik regte instrumente te gebruik, eerstens omdat ek weet daar is so baie briljante musikante in ons land wat se geleenthede daagliks minder gemaak word deur elektronies-geprogrammeerde instrumente, en ook omdat ek nooit sal vergeet hoe die trane in my oë opgedam het toe die strykinstrumente die verwerkte dele begin speel het in die studio nie! Maar soms is daar ’n klank wat mens net nie met ’n regte instrument kan kry nie, en daarom dink ek die kombinasie van die twee is vir seker aanvaarbaar.

In dieselfde asem: een van die treffende liedjies op die album is “Sekelmaan”, wat basies net jy en die klavier is. Verkies jy so ’n meer minimalistiese aanslag, of wat geniet jy van die onderskeie aanslae?

Daai was een van die spesiaalste oomlike in my lewe. Ek het agter die klavier gesit by Sunset Studio, tussen Stellenbosch en Franschhoek. Ben het vir my gesê presies wat hy wil hê die klavier moet doen, en toe ons by die laaste vers kom en ek opkyk en daar is trane in sy oë, en ek hoor sy woorde aan my: "Nou kan ek myself ’n producer noem", het dit my laat besef dat elke liedjie ’n spesifieke klank het wat mens óf kan mis, óf kan raakvat wanneer mens begin verwerk! So ek dink ek geniet elke liedjie vir wat hy is, ongeag die aanslag.

Jy noem ook in die biografie jou musiek is “ten alle tye eerlik, onpretensieus en outentiek”. Is dit iets wat in die algemeen in die musiekbedryf (plaaslik en wêreldwyd) verlore gaan? Hoe veg jy om hierdie elemente in jou musiek te behou? Is daar ’n breër oplossing?

Ek wil darem net noem dat ek nie self daai stempel op my musiek gesit het nie, alhoewel ek hoop dit is wat mense in dit hoor. Die biografie is deur Michelle Marais geskryf en ek voel baie geëerd dat sy dit so beskryf het. Ek kan maar net praat oor hoe ek dit beleef, en dit maak nie iemand anders se manier minder reg of minder goed nie. Musiek is vir my ’n baie, baie diep en intieme plek, waar ek voel ek kan iets vir mense sê wat dalk iets in hulle harte kan verander, en selfs in my eie hart. Daarom kan ek net uit my verwysingsraamwerk uit skryf ’n die tye in my lewe, die dinge wat ek al ervaar het. Maar dit is my paadjie ’n daar is spasie vir ons almal se stories.

Jy stel die album as solokunstenaar vry, maar op jou Facebook-blad word talle band-lede gelys. Wat is die situasie op die oomblik wat dit betref, veral wat optredes betref?

Ek raak sommer emosioneel as ek dink aan al die mense wat betrokke is by hierdie projek. Almal om my het net ingespring en gehelp, en dit is wat dit vir my so spesiaal maak. Maar die mense wat saam met my op die verhoog staan, is nie net my band nie, hulle is my vriende, en van hulle is selfs familie. So ja, dit is my soloprojek, maar sonder daai klomp saam met my op die verhoog sou dit nie dieselfde gewees het nie. Ons wissel wel soms af. Party maal bespreek mense net vir my en Lizandra von Hagen (die ongelooflike sangeres wat saam met my op die album sing). Of soms die hele band, Jean de Villiers (my broer op dromme), Ryhno von Hagen ( acoustic, mandolien, fluit), Gerhard Biennedel (bas), Heini Berner (electric) en Pierre de Villiers (my ouer broer agter die klankbord), en as daar geleentheid is, het ons ook ’n strykensemble wat saam met ons optree.

’n Gospel- of Christelike inslag, hetsy subtiel of eksplisiet, het natuurlik die vermoë om vir ’n kunstenaar vinnig talle vriende te wen, óf talle vriende te verloor. Hoe beskou jy hierdie element in die musiek wat jy maak en waar jy jouself graag in die bedryf sal wil sien?

Ek sal nooit wat ek glo as ’n bemarkingstrategie gebruik nie. My skryfstyl laat mense toe om soms self ’n interpretasie vir die lirieke te ontdek. Soos ek vroeër gesê het, ek kan net skryf wat in my hart is, en as mense daarin wil lees wat vir hulle iets beteken, dan is dit die doel wat hierdie album moet dien. Nie slegs musiek wat onder die label “Gospel” val, is musiek wat iets vir mense kan beteken nie. As ek dink aan musiek wat my inspireer en laat droom, dan is daar talle voorbeelde wat ek kan noem, soos Coldplay, One Republic, Brooke Fraser, Kaleidoskoop, Mumford & Sons, Elvis Blue en ander, wat nie onder die Gospel-afdeling val nie, maar wat niks minder as ’n boodskap van hoop uitdra nie. Maar ek het ’n liefde vir musiek wat in die Gospel-kategorie ook val, soos byvoorbeeld Jason Upton, Hillsong ens.

Jou webwerf maak ook melding van jou agtergrond as uitvoerende kunstenaar. Wat is dié agtergrond en hoe dink jy tel dit in jou guns?

Ek het die voorreg gehad om vir ’n jaar saam met Jak de Priester te kon toer en vir hom klavier te kon speel. En toe vir twee jaar saam met Bobby van Jaarsveld. Vir my was dit ’n vrek lekker en interessante leerskool wat ek nooit sou verruil nie. Ek’t ook voor dit my graad in jazzklavier voltooi by Tshwane Universiteit van Tegnologie, en die opleiding was nie net dié van musiek nie, maar ook dié van die lewe en moeilike situasies en om ook te alle tye alles in te sit om te verbeter. So ja, my bure het nou die dag vir my vrou gevra watse snaakse geluide haar man maak. Ek het so gelag, want hulle het verwys na my stemoefeninge wat ek elke dag doen!

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Joshua na die Reën in?

Ek geniet op die oomblik alles soos wat dit kom, maar ek sit juis nou en beplan ons toere en optredes vir volgende jaar. En is vrek opgewonde om vir die eerste keer te gaan optree in verskillende dorpies en stede regoor die land. Ek het ook al begin skryf aan ’n tweede album, maar soos ek vroeër gesê het, ek skryf soms drie jaar aan ’n liedjie!

Wat is die sin van die lewe?

Die sin van die lewe is om spasie te hê in jou hart vir die mense rondom jou, en so mekaar te herinner aan die dinge wat ons vergeet het.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Wonderlike musiek die. Ja, en musiek hoef nie as Gospel uit gegee te word om 'n boodskap te hê nie. Sien uit na die volgende Album, maar geniet intussen die een.

  • Hey

    Ek wil net graag weet waar ek jou tweede cd kan koop. Kry dit nêrens en soek al lank. Is mal oor jou musiek. Dis kuns met woorde ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top