jorrisonstraat braamfontein

  • 0

vir Willem-Piet

gay staan vir happiness
en ook vir the bird cage in jorrisonstraat braamfontein
lagplek jolplek speelplek gayplek seksplek jou plek
waar jy bedags kos maak vir die doves ondernemers
slap oorkant jou in jorrisonstraat braamfontein
waar jy snags jou klante by die ingang met sy uitspattig geverfde
pouvere, ingekoude voëls en blomme inwag  deurkyk en  verwelkom
ja jou plek waar gloria gaynor gereeld van binne af oor survival sing
waar queens en gays jags saamsing want survival in die gaybedryf
is smal en enduit happiness uiteindelik niks meer as  piel 

as jy maar net in die son kon lê dan sou ek by the bird cage kon inglip
en sou ons kon closedans en jy sou al jou ballroom moves kon uithaal en
as jy maar net onder die son kon lê en tan sou ek myself nie oorkant
die straat by doves moes insleep en sou jy nie so befok bleek en stram
vir my in stasie gelê en wag het nie en met die laaste tango
wat ons gedans het het ek ‘n lang rok van sawwe swart fluweel gedra
jy het met fluoressente tande oop teen my voorkop gelag as ek oor die ritme 
en oor jou voete trapvaltrap en ek sien nog die stringetjie hare in jou nek
wat simpel en onvanpas vir 43 teen jou breë rug afkrul en ek onthou
jy was gay en jy was met tye happy en jy was vreesloos en jy sou survive
maar dit was ‘n lieg want nou is jy lyk 2453/02
wat op 15 september by die staatslykhuis in joubertstraat braamfontein
ingeklok het met 3 steekwonde in jou nek en jy was leeg
en wit en dun soos ‘n blanko A4-vel en dié wat jou ken moes jou kom uitken
ek wat jou geken het onthou skielik die oggend wat jy my gebel het vir geld
en toe ook vertel het hoe jy met die pregnant girltjie wat in die flat langs jou bly 
hospitaal toe moes jaag want haar water het voor jou deur gebreek
en shame sy was maar net 17 en haar boyfriend het ‘n skof gewerk en
jy het opgewonde en in detail vertel hoe die baby op pad suidrand toe
op jou vuil agterseat gebore is en jy het laggend ‘n bold statement gemaak
en gesê dat jy nou maar kan doodgaan jy het mos jou goeie daad gedoen
(vir jou is daar ‘n seun in transito gebore)  
die vrugwater en geboortebloed het jy uit jou groen volkswagen laat valet
maar hoe valet ek die violence en jou vermoorde liggaam uit my toegeklemde oë 
en hoe skraap ek jou agter my bewende ooglede uit waar jy bloedstollend lê

‘n onbekende naamlose babaseun het survive
omdat hy geweet het hoe om teen verwagting in te bly leef 
maar vir jou het luck gatkantom geswaai
binne die smal radius van joubert- en jorrisonstraat braamfontein
en as ek nou (boetie) roep antwoord  (          )

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top