Jong lesers: Kewerwraak deur MG Leonard

  • 0

Kewerwraak
MG Leonard

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485308942

Kewerwraak is geskryf deur MG Leonard, met illustrasies deur Elisabet Portabella. Dit volg op Kewerknaap en Kewerkoningin, wat ook hoofsaaklik draai om die lewe van Darkus.

Hierdie boek was vir my ongelooflik lekker om te lees, want dit is spannend, interessant en totaal briljant.

Sake in die boek staan as volg: Darkus se pa, dr Barthomolew Cuttle, is gevange geneem deur die bose Lucretia Cutter, en mense begin dink hy is die bose genie wat agter al die aanvalle op boere se gewasse en al Lucretia Cutter se ander bose dade sit.

Kewers speel ’n groot rol in hierdie boek – hulle word in die boek, nes in die werklikheid, “misverstaan”: in die boek het hulle regtig besonder unieke talente.

Darkus, sy vriende, hulle kewers en twee vriende gaan op ’n reis na Praag en dan na hulle finale bestemming, Ecuador. In Ecuador wil hulle ’n reddingspoging aanwend om vir dr Cuttle, ’n vriendin se seun en Lucretia Cutter se dogter, Novak, te red, voor iemand anders die bioom vind en dit bombardeer, maar hulle probeer om ’n gewelddadige konfrontasie met Lucretia Cutter te vermy. By Novak, in een van haar ma se tronkselle, gaan dit ook nie baie goed nie. Sy bly dieselfde nagmerrie hê oor iets wat sy kan doen, maar is te bang om dit te toets wanneer sy wakker is.

Goed en sleg veg teen mekaar in hierdie verhaal deur kewers te gebruik, wat die boek net nog meer spannend maak. 

In hierdie boek sien ’n mens dinge deur verskillende mense se oë, dus help dit jou om die storie beter te verstaan. Ek sou hierdie fantastiese fantasieboek aanbeveel vir seuns en dogters van ouderdomme van 8 tot 12.

Ek dink dat MG Leonard hierdie boek op ’n uitstekende manier geskryf het, en sy het aan my bewys dat kewers nie die walglike kreature of monsters is wat party mense dink hulle is nie.

Lees hierdie boek!

  • Karla Sandrock is 10 jaar oud.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top