Jong blaar

  • 0

Sit, na die hele dag se vloek en skel en werk vroegaand by die groot-oogmonster en 'n man met klein skouers kom ingestap. Gesig is grys en seer. Mens het soms net soveel tyd om al jou pos op te vang, want ons het mos nie meer die genot om 'n koevert oop te skeur nie. Koeverte met vensters in kon mens mos weggooi, want dis skuldeisers. Nou se dae is die epos van 'n dame wat mooi en wulps klink en dans van die bank of iemand wat kerm vir geld. So sit ek en pos lees toe die man met krom skouers instap, jong telge, goddeloos en besig kermend vir koeldrank en chips en Cadbury's. Hy gee, anders as sy gewoonte, toe aan elke versoek. 

Ek staan maar op en groet die man en sy hand is pap. Gesig wys my hy's nie helemal hier nie. Ek vra hom hoekom hy dan nou so gou terug is van oorsee en hy sê niks. Ek los hom, want Sakkie sit en kerm oor sy vrag hout en ons praat is uit en later sien ek hom knielend by ons plaaslike spook. Die vrou wat eintlik in die begraafplaas moes wees en eintlik net vroegaand uitgelok word vir haar sopie 100 Pipers hier by die plek waar almal dink hulle is welkom. Ek noem haar Die Son want van elke mens weet sy meer as die mens homself en as sy dit nie weet nie, vind sy dit uit. 

Kromskouers kniel by haar en ek hoor net hier en daar sinne, want hy snik hoorbaar. Telge vryf sy skouers en hulle vra vir Wilson Toffees en hy beduie hulle kan kies soos hul harte begeer. Snik hoe hy moes terug, want daar’s fout by die huis. 

"My vrou het met ****** rondge***." 

"Wie is *******?"

"Jy weet, die mense wat by ons die bungalow huur se klong." 

"Jirre nee. Die kind is dan net nou die dag uit die verbeteringskool. Is hy al 16?" 

"17" 

"Dis amper statutêre verkragting," beduie die ou vrou wat eintlik al in die begraafplaas moes wees. 

Lang jare het my al geleer om so min as moontlik te sê en nog minder intens te luister. Tog. Mens se hart gaan uit, want iewers was ons al in so 'n situasie of het al gehoor daarvan. Ek onthou hoe my arme moeder 'n situasie moes beredder met 'n spulse biologie-onderwyseres toe ek nog net agtergekom het waar die bye die nektar kry en hoe kwaad ek was omdat lekker mos lekker was en dit nie meer geproe kon word nie. 

Dit was nie 20 minute nie toe die hele familie instap. Kromskouers ruik nog erger na eik en hy struikel oor sy sinne. Ek beduie na die bottel en hy vra of ek 'n glas het en ons ryg vir hom 'n poli-glasie uit. Beduie dat hy 'n blokkie ys sal vat, maar Coke vat te lank en hy sluk weg. Kinners vreet Beacons, want nog nooit het hulle dit so gehad nie. 

Soms moet mens oplet en soms moet jy wegkyk. Ek verkies om altoos weg te kyk, maar hierdie ding moes ek sien aankom het. Die ouer vrou en die jong knaap was, noudat ek dink altoos danig met mekaar. Sy koop en jy weet mos hoe 'n jong knaap is: vatterig. Nie dat ons nie vatterig is noudat ons einde se kant toe staan nie, want hulle sê mos, al is hy op 'n klip geteken ...

Vroutjie, en vir die eerste keer sien ek sy het haarself mooi gemaak, met snaakse kleure naels en hare wat wuif en rooier lippies as wat ek eintlik nog nie regtig raakgesien het nie, staan ongeduldig en trippel. Ons almal maak of ons nou net niks gesien het nie, beduie vir haar dat sy kan kom sit. Sy sê nee, sy moet loop kos maak, die kinners is honger en man het net gisteraand van oorsee af teruggekom. Die mense beduie hy was nog nie eers oor Johannesburg met die airplane nie toe die knaap intrek en die musiek begin speel. Alles goed wat nie meer klink soos ons musiek nie. 

Die hele tyd staan sy en SMS of WhatsApp of hoe mense deesdae ook gesels. Mens kan mos sien as iemand dringend wil praat. Jy weet, as jy bel en die persoon antwoord nie, dan bel jy weer en weer en weer. Vingers gaan mal. 

Sien later die skuldige jong man stap hier verby met 'n maergat jong meisietjie. Haar ogies blink, want hulle kom nou net van die rivier af en by die rivier gebeur dinge waaroor net die visse uitpraat. Ek sien sy vingers klingel die Samsung (ek vermoed) en ek verbeel my hy probeer vir die getroude 40-jarige vrou beduie dat hy net gou gaan kyk het of die vis gaan byt vanaand. 

oester

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top