Johnita le Roux (1952–)

  • 1

Gebore en getoë

Johnita le Roux is op 5 Februarie 1952 gebore as Johnita Louw, die middelste kind en enigste dogter van die stasiemeester op Vlottenburg. Haar pa, Frederick Louw, moes tydens die depressie van die 1930’s die familieplaas in die Hantam verlaat om werk in die stad te gaan soek. Hy het werk by die Spoorweë gekry, maar het altyd ’n diepe heimwee na die Hantam gehad. Op 38 is hy getroud – ’n introvert, eksentriek en hooggespanne en ’n stoere nasionalis. Johnita se ma was vyftien jaar jonger as hy en was ’n laatlam uit die Overberg se wêreld uit ’n familie van “Bloed-Sappe” – nog meer in haarself gekeer as haar man.

Haar pa het altyd aan haar vertel “hoe swaar die Afrikaner onder die Engelse gekry het”, terwyl haar ma “pro-koningshuis” was (De Kat, Junie 1995). Sy het in ’n asosiale omgewing grootgeword waar daar nie veel van die tradisies van ’n tipiese Afrikaner-omgewing te bespeur was nie. Sy vertel aan Rachelle Greeff in De Kat van Junie 1995 dat sy kleintyd op Bonnievale in die suidwes-Kaap gebly het, waar haar pa stasiemeester was. “Ons het aan die verkeerde kant van die spoor gebly en ek weet hoe dit voel om nie in tel te wees nie. Al was ek in die wit skool, het ek met plaaswerkers se kinders gespeel. Ek onthou hoedat ’n bruin ma per ongeluk die wit stasiehuise se buitetoilet van sement en nie hul aparte een van sink, so ’n entjie van ons s’n, gebruik het. Sy’s aangespreek hieroor, maar haar mond was natuurlik ook nie stil nie. Daar op die hoek van die huis het sy gestaan, driftig met haar vinger boontoe gewys en gesê daar’s net een God vir ons almal.”

’n Groter kontras as haar grootwordplek en die Hantam waar hulle vir Ouma gaan kuier het, sal ’n mens nie sommer elders vind nie. Johnita vertel self: “Een hap deur die blink rooi skil van ’n Star King-appel wat knars en sappend klief, en ek is terug in die geel Peugeot, op pad deur die stomme Ceres-Karoo. Agter my, in ’n kegel van stof, suig berge op – kasteels getof – en tol weg met die groen van ’n weker plek wat deel uitmaak van ’n ander ek.”

Johnita gaan skool op Bonnievale tot standerd agt, toe haar pa na Athlone en Hazendal op die Kaapse Skiereiland verplaas is. Hulle gaan woon in die suidelike voorstede van Kaapstad, waar daar in plaas van grond net sand was. En ten spyte van die mooi natuurskoon was sy tog in ’n mate eensaam te midde van die woeligheid van die stad. In 1969 matrikuleer sy aan die Hoërskool Zwaanswyk in Retreat.

Verdere studie en werk

Johnita is in 1970 na die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar vir ’n BA-graad inskryf. Die lewe in die koshuis het soms gedreig om haar te oorweldig en sy ontvlug gereeld na haar ouerhuis om die stilte te kan meemaak. In 1972 verwerf sy haar BA met ’n onderwysbeurs en in 1973 haar BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands: Letterkunde met ’n nagraadse beurs van die universiteit. Na universiteit werk sy vier jaar lank (van 1974 tot 1977) as verslaggewer by Die Burger in Kaapstad. Sy trou in 1976 met Koos le Roux, navorser en later bestuurder van aandelebeleggings by Sanlam en Southern Life. Sedert 2003 het hy sy eie beleggingsaak.

Johnita neem waar as vroueredaktrise by Die Burger, met ’n aanbod om vas in die pos aangestel te word, maar sy soek ’n nuwe uitdaging en kies moederskap. Sy het in die bloeijare van apartheid (laat 1980’s) Die Burger uit haar huis verban “omdat hulle die volk so in die donkerte kon hou”. Sy het ook nie meer Afrikaanse tydskrifte gekoop nie, “omdat die plaaslik-gemoedelike aard daarvan skreiend geïgnoreer het dat die mure daarbuite reeds brand. Ek het die pers verkwalik dat hulle die volk so in die duister gehou het, want daar is baie goedhartige mense wat ’n ander keuse sou maak as hulle van al die lyding geweet het” (Sarie, 24 Mei 1995).

Die “algehele verblinding van die NG Kerk” was vir haar ’n enorme probleem. “As die mense maar eerder die Bybel as Die Burger wou glo. Daardie blinde geloof dat jou leiers jou nooit sal bedonner nie ... Ek het mettertyd in soveel wrewel verval veral teen die ideoloë in die samelewing en my ook bloedneus geloop teen die plaaslike Broederbond. Ek het hulle agter kanselklede sien staan wat sê: ‘So spreek die Here’, en ek wou naar word” (De Kat, Junie 1995).

Haar en Koos se drie kinders, Aliza, Janci Anien en Stephan Jakobus word onderskeidelik in 1977, 1980 en 1982 gebore. Hulle vestig hulle in Stellenberg, van waar hulle ’n lieflike uitsig oor die Hottentots-Hollandsberge, asook oor Stellenbosch se berge, het. Van 1977 tot 1990 hou Johnita haar besig met vertalings en is sy vir vyf jaar die redakteur, fotograaf en verslaggewer van Die Stellenberger, ’n maandblad van die NG Gemeente Stellenberg. Sy neem ook lesse in olieverfskilder en verkoop etlike skilderye op uitstallings. Johnita skakel in by Koinonia, ’n beweging wat gelowiges van verskillende kerkverbande in gereelde kontak met mekaar bring, veral oor rasseskeidslyne heen.

In Junie 1990 is Johnita saam met agt ander vroue uit die Boland op ’n ekumeniese besoek na Soweto en Mamelodi. Die besoek is deur die Sentrum vir Kontekstuele Hermeneutiek van die Departement Bybelkunde van die Universiteit Stellenbosch gereël. Die vroue het snags in Soweto geslaap en bedags verteenwoordigers van onder meer die ANC (Walter Sisulu, Mathews Phosa), die PAC, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die Black Sash ontmoet, asook vir Beyers Naudé. Ná die besoek het Johnita uit haar werk as redakteur van die gemeenteblad bedank, sodat sy kon begin werk aan die storie van Die dagstêrwals wat al so lank aan haar karring om geskryf te word. Sy het vir dertien jaar knipsels, sêgoed en gedagtes bymekaar gemaak, vertel sy aan Rachelle Greeff in De Kat (Junie 1995). “Ek het maar my ore uitgeleen aan dinge wat my interesseer en dan het ek dit, en ook sekere aantekeninge wat ek gemaak het, geliasseer. Daar was ’n sekere era, streek en sentimente waaroor ek inligting ingesamel het, maar ek het nie geweet waarnatoe dit my vat nie totdat ek voor die rekenaar gaan sit het. Toe het die storie van dag tot dag gegroei.”

Sy het ongeveer vier maande aan die roman geskryf. “Toe dit eers kom, was dit soos ’n skip wat net seil, wat hom deur niks van koers laat bring nie. Ek het verwonderd gesit en sien wat op die skerm verskyn” (De Kat, Junie 1995).

Haar eerste skryfprobeerslae was twee kortverhale: “Dis Marie, jy weet mos”, wat in Huisgenoot verskyn het, en “Een aand in ’n ander tyd”, wat in Sarie gepubliseer is. Sy beskryf dit aan Magda Gouws (Die Taalgenoot, Julie 1995) as “duifies wat uitgestuur is om vas te stel wat daar buite aangaan en albei het met ’n olyftakkie teruggekom.”

Sy is in 1993 se winter vir drie dae alleen na Onrusrivier naby Hermanus. Al wat sy saamgeneem het, was ’n kartonboks vol inligting wat sy daar by die see gaan orden het, en dit is daar waar die openingsin van Die dagstêrwals haar binnegeval het. “Ek het dadelik gehardloop en dit gaan neerskrywe, want as jy dit nie doen nie, is hy verlore,” vertel sy aan Ina Duvenage (Sarie, 24 Mei 1995). En gou-gou het sy die openingsparagraaf neergeskryf. “Uit my koerantdae weet ek as ek eers die begin het, kan ek aangaan.”

Nog ’n paar maande het egter verloop voordat sy agter haar rekenaar kon gaan sit en in alle erns kon begin skryf. “Ek was skoon bewoë toe ek uiteindelik kon begin. Ek het net eers vinnig ’n stamboom opgestel, sodat ek nie ’n karakter uitpluk wat nie biologies of biografies moontlik is nie, en die opstal en vir myself geteken. Sodat ek nie om ’n verkeerde hoek gaan as ek daar in my verbeelding rondgaan nie.”

Die dagstêrwals is die storie van Miriam Africanus, ’n vrou van die Hantam met ’n wit pa en ’n bruin ma, wat oor 54 jaar afspeel. Maar dit is ook ’n aanklag teen Afrikaner-nasionalisme en die ideologie van apartheid.

Groot was Johnita se verbasing toe die boek met die ATKV-prys vir goeie en gewilde prosa bekroon word. Dit was ook op die kortlys van 1995 se M-Net-boekprys en die CNA-debuutprys. Die skildery op die boekomslag is deur Johnita self gedoen en haar skilderye is oral teen die mure van haar huis te sien. Tydens die ontvangs van die ATKV-prys vertel sy dat die skryf van Die dagstêrwals ’n soort van katarsis vir haar was. Want teen daardie tyd het sy besef dat haar kinders se geskrewe Afrikaans besig is om agteruit te gaan omdat hulle baie min Afrikaans gelees het. “Soos ’n banneling na sy land verlang, het ek na Afrikaans verlang. Ek het weer Die Burger bestel om by my huis afgelewer te word en gereken die koerant sal ná die verkiesing meer verteerbaar wees op ’n mens se nugter maag. [...] En toe die gulhartigheid waarmee ek ontvang en onthaal word – deur die Afrikaanse pers en nou ook die ATKV.”

Die beoordelaars van die ATKV-prys, Adriaan Snyman, Elfra Erasmus, Marion Hattingh en Anso Smit, het gesê Die dagstêrwals is ’n “menslike storie waarin op sensitiewe wyse vertel word van Miriam se eerste liefdeservaringe, haar huwelik (en armoedige bestaan), haar liefde vir haar kind en verlange terug plaas toe”. Dit is ’n boek “wat die leser gelyktydig laat wonder oor die misterie, maar ook die dwaasheid rondom die menslike bestaan met die nogmaalse besef dat 'n Hoër Hand die geskiedenis van die mens bepaal” (Beeld, 9 Maart 1995).

Oor Die dagstêrwals skryf Hans du Plessis in Beeld (19 Desember 1994) dat dit ’n goeie debuut is wat lekker lees. “Jy sou agteroor kon sit en ’n lekker storie geniet, ’n storie wat diep aan ’n mens kom vat, want hy lyk of hy uit die Hantamberg kon gekom het en omtrent net daar moontlik sou gewees het. ’n Roman wat met ’n mens bly praat as jy dit al neergesit het. Vir my gevoel ’n boek wat mooi moontlikhede oopmaak vir die skrywer Johnita le Roux.”

In Die Burger van 8 Maart 1995 skryf Gunther Pakendorf dat hierdie eersteling van Johnita le Roux ’n baie gunstige indruk gelaat het. “Dit is ’n verfrissende kombinasie van kontreikuns, liefdesverhaal en politieke roman wat nog nie op hierdie manier in Afrikaans aangebied is nie. Op een vlak laat Die Dagstêrwals ’n mens aan Die Swerfjare van Poppie Nongena dink, want hier gaan dit ook oor ’n bruin vrou van die platteland wat in die Kaap onder die wiele van die apartheidstelsel vergruis word. En die gegewe word hier ook vanuit die perspektief van die bruin vrou weergegee. Maar by Le Roux gaan dit in wese oor ’n ongelukkige liefde teen die agtergrond van politieke ontwikkelinge in die tydvak 1940 tot 1994.

“Die hooffiguur is Miriam wat as kind van arbeiders op ’n plaas in die Hantam grootword. Dit is haar ongeluk dat sy as anderskleurige met ’n ligte vel en blou oë nóg by die Khoi-nasate inpas, nóg by die blanke base. As kind is haar posisie tussen die twee nog draagbaar; sy word in die kombuis van die groot huis groot, speel met die wit kinders, en word selfs ’n ruk by die plaasskool geduld. Dis die liefde van die ontluikende jong vrou vir Braam Verburg – hy wat eendag die baas van Eeden gaan wees wat haar laat besef dat sy nooit deur witmense aanvaar sal word nie. Want al is sy self, sonder om dit heeltemal te besef, ’n afstammeling van die Verburgs, besluit sy om haar liewer by die bruinmense te skaar. Deur haar grootjie Sara Eland wat in die kliprante woon, voel sy ’n byna mistieke verbintenis met die oer-inwoners van die streek. Na lang en moeilike jare in die Kaap waartydens die apartheidsbestel bestendig word, keer Miriam in 1966 weer na haar hartland terug. Dis ’n hartseer weersiens met ’n plek waarvoor sy so lief is, maar waar sy steeds net as bediende geduld word. Sy ruim met die skimme van haar verlede op, ook met Braam, vir wie sy steeds ’n teer gevoel koester.

“Johnita le Roux hanteer haar verhaal met vaardigheid en selfvertroue. Die wel en wee van die plattelandse gemeenskap, die opwinding van die groot sonsverduistering, die ritueel van boekevat saans, die jolyt tydens die dans op ’n naburige plaas, die afstand én wedersydse afhanklikheid van baas en kneg word alles knap en aanskoulik oorgedra. Die skrywer het boonop ’n goeie oor vir lewendige dialoog, en die kostelike brokkies streektaal uit die mond van Hantam boorlinge is nêrens kunsmatig nie. Ook die simboliek van enkele woorde of voorwerpe word met kundigheid aangewend. (...)

“Die algemene stewige indruk ten spyt is Die Dagstêrwals egter nie sonder probleme nie. Die roman se sterkte is sonder twyfel in die eerste deel geleë, waar die plaaslewe ’n vars en onmiddellike indruk maak. Die tweede deel is minder lewendig, en die slotgedeelte oortuig hoegenaamd nie, omdat dit nie mooi by die voorafgaande inskakel nie, en ’n mens kry die indruk dat die skrywer hier in ’n verleentheid was. Ek vind ook dat die politieke pap ’n bietjie te dik aangemaak is. ’n Mens kan die baie aanhalings van uitsprake van politici en ander nog aanvaar, maar daar is te veel onnodige passasies wat die leser oor geskiedkundige of politieke feite wil inlig, wat nie by die verhaal as sulks inpas nie, en dus eerder irriteer.”

Joan Hambidge het in Insig geskryf: “Dis ’n talent wat ’n mens laat uitsien na ’n volgende roman.”

Oor die vergelyking met Poppie Nongena het Johnita aan Rachelle Greeff in De Kat (Junie 1995) gesê: “Ek was eers verbaas, toe gevlei en later verontwaardig, want waarom móét sulke parallelle gevind word? Ek het nie eers eenmaal gedink aan Poppie met die skryf van my boek nie.”

In 1998 verskyn Johnita se tweede roman, Kus van die winterskerpioen, wat handel oor ’n Skot wat in 1938 na Suid-Afrika kom om ’n Boervrou te vind van wie hy slegs die naam het. Hy weet die familiedolk wat sy broer by hom gehad het toe hy tydens die oorlog gesneuwel het, is in haar besit. Tydens sy soektog na die vrou maak hy kennis met die Afrikaner se geskiedenis en met die opkoms van Afrikaner-nasionalisme.

Ook hierdie roman word goed ontvang. Willie Burger skryf in Beeld van 21 Desember 1998: “’n [K]enmerk van die roman is Le Roux se spel met die taal. [...] Baie fassinerende inligting oor die Boereoorlog en die politieke woelinge van die dertigerjare word in die roman betrek. Die roman gee uiteindelik ’n blik van hoe ’n nasionalisme wat geen teëspraak duld nie die Afrikaner se vrye gees inperk.” In Die Burger van 3 Februarie 1999 skryf Lizette Potgieter: “Die krag van dié roman lê daarin dat Le Roux betekenisse en gevolge van historiese gebeurtenisse en vraagpunte op ’n eerlike manier ondersoek en blootlê deur ideologiese beginsels te bevraagteken.”

Van 1999 tot 2003 is Johnita betrokke by die aanbied van geletterdheidsklasse vir twee volwasse huiswerkers wat geen skoolopleiding gehad het nie. Sy vertel dat sy met sterre in haar oë by die geletterdheidsprojek in is, aangevuur deur die ideaal om uit te deel van dit wat sy self so ruim ontvang het. Verskeie leerkragte gooi tou op en min meld aan. Intussen groei die leerdergetalle. “Vyf jaar later stap ek oorwonne daar uit. Net my twee leerders se vurige gebede elke week het my later nog laat aanhou terwyl een na die ander leerkrag die projek verlaat.” Na vyf jaar neem die staat die geletterdheidsprogram oor en kan Johnita “begenadig” daar uitstap.

So het haar derde roman, Een vir die wolfskof, ontstaan oor presies hierdie jare waartydens sy lees-en-skryfklasse vir twee ongeletterde vroue gegee het. Maar in vergelyking met haar eerste roman, wat dadelik deur Human & Rousseau vr publikasie aanvaar is, en met die tweede een, wat ook geredelik gepubliseer is, het sy eers met Een vir die wolfskof geleer wat dit is om waarlik met ’n manuskrip te verkeer en “met hom om en om te gaan”. Dit is die storie van ’n moord in die familie wat ’n hele bloedstreep deur ’n hele rits generasies trek. ’n Antieke kruis wat van ’n veroordeelde moordenaar gebuit is, moet weer by hom in die graf begrawe word. Berta Jordaan besluit om hierdie tog saam met haar berader, Larey, aan te pak om só die vloek op haar gesin te probeer verbreek.

Thys Human skryf in Rapport van 17 April 2005 dat hierdie roman Johnita vestig as ’n skrywer om mee rekening te hou. “Een vir die wolfskof [is] ’n roman wat belangrike vrae stel oor vergelding, vergifnis, genesing, geweld en genade. Nie alle lesers sal noodwendig tevrede wees met die antwoorde wat die teks self op hierdie vrae verskaf nie. Tog is dit ’n roman wat die leser tot nadenke stem en dwing om gevestigde aannames te bevraagteken. En miskien lê die grootste waarde van Le Roux se omvattende en ambisieuse roman juis hierín.”

Joan Hambidge skryf in Volksblad van 17 Januarie 2005: “Dit is ’n pakkende roman waarin ’n vroueskrywer inbeweeg in die manlike domein. Die wêreld van die plaas en veral die soldaat word hier oopgemaak.”

Een vir die wolfskof se manuskrip word in 2003 aangewys as die naaswenner in die Romanwedstryd van Sanlam/Insig/Kwela/RSG as ’n manuskrip met potensiaal.

Oor hoekom die roman-genre Johnita pas, vertel sy: “Omdat party stories oor soveel eras en sulke wisselende landskappe strek en dit karakters betrek wat in so ’n mate verwikkel is dat die storie slegs in romanlengte vertel kan word. Dis soos ’n olieverfskildery teenoor waterverf. Nog erger: soos olieverf versus houtskoolsketse. Beide laasgenoemdes werk oombliklik of glad nie. Jy kan nie met behoud van die vars, onmiddellike klaarheid daaraan uitvee of invul nie. Olieverf, daarenteen, neem dae om droog te word en kom so eers laag ná laag tot volle gestalte. As jy egter té gou met ’n volgende laag aangaan, raak die kleure en lyne ook vertroebel soos wanneer jy aan houtskool of waterverf peuter, en verloor jy dan eweneens die vlymskerp fokus en ’n deurdronge definiëring.” Sy beveel sterk aan dat die ooglopende gedurig bevraagteken moet word, dat daar gebeur moet word teen die bekende en dat die tentpenne in ’n mens se kop sonder ophou versit moet word. Behou te alle tye ’n sin vir die ironiese, die relatiewe en die komiese.

In 2014, tien jaar ná die publikasie van Een vir die wolfskof, verskyn Johnita se volgende roman, Die engel en die bont bees.

Magrieta Malgas, die kleindogter van ’n reënmaker en die half-Koranna Klein-Lit, word in die 1970’s saam met Frederik Wentzel en Nanumatse Karse aangekla vir onwettige delwery. Hulle verweer is dat hulle die rivierwal oopgeskiet het om Frederik se ma se as te begrawe.

Susara Vermeulen is ’n joernalis wat aanvanklik oor die saak verslag gedoen het en sy word deur haar nuusredakteur na die Oranjerivier gestuur om die saak verder te ondersoek en daaroor te berig.

In die hofsaak word daar melding gemaak van die diamant wat die Matabele-krygsvrou, Ntatisi, op haar voorkop gedra het, en so tussen die ou mites en liriese oomblikke word Ntatisi se storie vertel en loop Susara en Magrieta se verhaal ineen en word dit “’n reis na kennis van die mistieke, die self en lotsverbondenheid in Afrika” (uitgewers se inligtingstuk)

Jeanette Ferreira oor Die engel en die bont bees: “Uit die metafore van ’n gesuurde brood en ’n rivier wat die oewers oorstyg, groei hier ’n wonderlik verbeeldingryke roman. Só word feite die klein begin van groot mites wat eweseer oortuig, diep verweef in Ou Afrika en die vele tonge van Afrikaans. Uitsoek-Le Roux” (http://www.randomstruik.co.za/books/die-engel-en-die-bont-bees/5451).

Elsabé du Toit skryf in Die Burger van 23 Julie 2014 dat die verhaal vanweë die baie feite in die roman nie maklik lees nie en dat baie lesers nie sal kan bybly by al “die strooptogte en daaropvolgende vergeldingsveldtogte van die herderstamme en die Matabeles” nie. Vir haar is dit nie gewilde fiksie nie, maar tog ’n aanwins vir die Afrikaanse prosa.

In Die engel en die bont bees speel Johnita met die verskillende tale van die streek, soos Oranjerivierafrikaans, Namakwalandafrikaans en die taal van die Namas wat al amper verdwyn het. In ’n onderhoud met Elmari Rautenbach wou Rautenbach weet waar Johnita se spel met taal en die nuuskierigheid oor taal sy oorsprong het.

Johnita se antwoord: “Seker maar ’n innerlike stemvurkie wat op sonderlinge tongvalle en die emosio­nele trilling daaragter ingestel is. Ek is twee jaar ouer as my broer, Chris, maar kan sy eerste kinderlike taalgebruik onthou. Pleks dat ek my drie kinders met hul huiswerk gehelp het, het ek eerder hul koddige sêgoed neergeskryf en ek lag nóú nog daaroor. Die aksente van ontheemde Hantammers, soos my pa en tantes en ooms wat ná ses geslagte die grond moes verlaat en ’n lewe in die stad kom maak, het vir my sinoniem met heimwee na ’n verlore idille geword. Die idille, met sy min grond en baie uitspansel, het sy boorlinge só styf aan hom gebind dat hul taal van mooidoenery gestroop was. Daarteenoor was die graanboer-Afrikaans van my ma se Overberg die ‘Willow Pattern’ van ’n meer gekunstelde bestaan, waar spot – soos die porselein – fyner was.”

Die engel en die bont bees se storie het sy begin in die 1970’s met Susara in haar Volkswagen op pad en daarna neem die verhaal ’n sprong na 50 jaar vroeër, en nog verder terug, na die 1800’s, waar ’n sendeling en die vee-oorloë tussen die Korannas en die Matebeles ’n rol speel. Rautenbach wou weet oor Johnita se navorsing: “In ’n vasgevalde situasie het ek só desperaat vir be­weging geword dat ek alleen met ’n bakkie via Putsonderwater oor Kuruman tot in Botswana is! Vir die skof oor die grens heen het ek Alta Kooper van die Kalahari en haar seun darem by my gehad. In 2011, met die oorstroming van die Augrabies-waterval, het ek gestaan onder die seldsame reënboog wat die rivier dán oor die semiwoestyn opkook. Dis glo ’n toorheks wat op die middelste eiland haar brousel oor ’n onberekenbare neerslag van spoeldiamante sit en stook. Voorts het ek opgelees tot ek skuins lê en daarna skuins gelê en verder gelees.

Om haar vinger op die pols van al die verhaallyne te hou, het Johnita gebruik gemaak van “A4-eksamenskryfblokke met aantekeninge in twee verskillende kleure pen, ’n aansteekbord vol prikkels, en lessenaars in hoefystervorm om die rekenaar. Bronboeke ook aan alle kante. Só word die eksamenblokke afgewerk tot een waarin die laaste prikkels uiteindelik afgemerk word. Daarna is die volgorde van die storielyne ’n paar keer verander. Daarna het dit op nóg ’n eksamenblok soos wiskundesomme gelyk om met kontinuïteit kop te hou. Die woord ‘hoofbrekens’ ken ek nou aan eie lyf.”

Publikasies:

 

 

 

Publikasie

Die engel en die bont bees

Publikasiedatum

2014

ISBN

9781415207031 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Johnita Le Roux

  • De Vries, Anke: Belledonne kamer 16 (uit Engels). Kaapstad: Tafelberg, 1978
  • Karssen, Gien: Nogeens vrou (uit Nederlands). Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers
  • Lee, Peter, Greg Scharf en Robert Wilcox: Brood vir die lewe (uit Engels). Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers
  • Montgomery, RM: Avonture onder die see (uit Engels). Kaapstad: Tafelberg

Biografiese artikels oor Johnita le Roux beskikbaar op die internet

Artikels deur Johnita le Roux beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-10-22
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Willem Swanepoel

    Lewe Johnita le Roux nog? Indien wel, hoe kan ek haar kontak? Ek wil graag 'n boek wat sy vertaal het skandeer en elektronies beskuikbaar maak aan belangstellendes.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top