John Miles (1938–)

  • 1

Gebore en getoë

John Miles is op 1 Augustus 1938 in Port Elizabeth gebore, sy ouers se middelste kind, met ’n broer, Michael Henry, wat tien jaar ouer is as hy en ’n suster, Monica, sewe jaar jonger. Hy is na sy oupa Johannes Daniël Smith aan moederskant vernoem, maar met al die Johannes Daniëls in die familie besluit die Engelse buurvrou om hom John te noem en die naam het gebly. Hy word as ’n alleenkind groot in Port Elizabeth, Jansenville en King William’s Town. Hy gaan skool op King William’s Town tot standerd 8 (deesdae se graad 10) en matrikuleer aan die Hoërskool Erasmus op Bronkhorstspruit.

Sy ouers was afstammelinge van die 1820-setlaars. Sy pa kom uit ‘n groot gesin en het ’n ambag geloop. Hy bekwaam hom as ’n bakker en John vertel in Die Burger van 5 Maart 2008 aan Elmari Rautenbach dat hy in 2007 sy eerste brood gebak het “so half uit respek vir my pa”.

"Ek vermoed dat my ma se familie geglo het dat sy ’n bietjie 'af' getrou het. My ouers was godvresende mense, en daar is nie in ons huis politiek gepraat nie. My ma het loseerders ingeneem, somtyds Afrikaanse plaaskinders wat Dale College in King William’s Town bygewoon het."

In John se ouerhuis was daar net godsdienstige boeke, en koerante wat ’n groot indruk op hom gemaak het. Hy kom op skool in aanraking met fiksie en respekteer al wat skrywer is. Hy dink egter later met ’n mate van afsku terug na die idilliese en sentimentele boeke van sy skooldae, soos Oupa Landman se viool. Hy vertel: “Ek onthou dat ek van vroeg af geweet het ek wil nie daardie paadjie [om na Dale College te gaan] loop nie; dat ek trots is om Afrikaans te wees. Later sou ek en Elza [sy vrou] die sentiment deel – dat Afrikaans nie aan die Afrikaner behoort nie.”

Verdere studie en werk

John vertrek in 1956 na die Universiteit van Pretoria om vir predikant te gaan studeer. “Dis hier wat die proses van onthegting langsamerhand begin het – daar was nooit ’n Damaskus-oomblik nie. In my eerste jaar moes ons garagedienste vir die bediendes van ryk mense hou, ’n soort Sondagskool, twee, drie keer per week. Ek het gaandeweg besef die teorie lyk anders as die praktyk; dat ek ook geval het vir die grappie van ‘’n statebond van nasies’. Die teologie het my nooit gesien nie; ek het ’n MA in sosiologie verwerf,” vertel hy aan Rautenbach.

Rautenbach skryf dat John se "belangstelling in die mens as sosiale en politieke wese, sy sin vir reg en geregtigheid, en sy belangstelling in die filosofie (...) tydens hierdie jare aan die Universiteit van Pretoria formeel gevorm (is). Hy voel-voel aan ’n honneursgraad in filosofie. Hy beskou sy aanraking met die filosofiese werke as ’n bevryding van die afgesonderde lewe en denkwyse waaraan hy as kind gewoond was. Letterkunde was nooit sy vak nie, maar altyd sy belangstelling."

Later werk John vakansies in die myne, in ’n prokureurskantoor en in ’n fietswinkel en bestuur ’n lykswa en ’n ambulans. Hy werk ook as klerk in die staatsdiens en as navorsingsbeampte in die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap.

In hierdie stadium begin hy gedigte skryf – volgens sy eie oordeel “vreeslik powere gedigte”. Drie van sy gedigte uit 1963 word opgeneem in Standpunte en een in DJ Opperman en Le Roux se Stiebeuel 2 van 1965. “Standpunte het twee van my gedigte gepubliseer, maar ek vermoed ek was ’n kwotadigter. Die enigste jonge ...”

Hy begin weer studeer en behaal sy honneursgraad in Afrikaans. Hy trou met Elza Botha, later ’n bekende kunstenaar, en die egpaar het drie kinders: ’n dogter, Elske, en twee seuns, Paul en Karel. John word dosent in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg.

Vanaf 1967 was hy verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se Departement Afrikaans en Nederlands. Hierdie aanstelling was vir John ’n waterskeiding en ’n skuif wat sy loopbaan “onherroeplik in ’n sekere baan geplaas het – te meer omdat hy toe deel geword het van ’n veglustige klein bende teen die groot gesagsfigure”.

Onder die toesig van NP Van Wyk Louw is John saam met PG du Plessis, Chris Barnard en Bartho Smit lid van die redaksie van Kol, ’n letterkundige tydskrif wat in die een jaar van sy bestaan die eer gehad het om die opstelle van André P Brink en Breyten Breytenbach te publiseer wat uiteindelik die Sestigers uitmekaar sou laat spat.

Hy begin in daardie tyd ’n lêer met beginsinne vir ’n roman en die lêer raak al dikker. “Ek het op ’n ou tikmasjien gewerk, een waar jy die toetse hard moes slaan om ’n letter te kon produseer. Dan slyp ek my werk en sien ’n spogsin, maar dit staan nie op die regte plek nie; dan knip ek maar uit en sellotape dit op die regte plek. Uit hierdie bemoeienis kap ek uiteindelik die eindproduk in kortkortverhale op waarvan so vierstuks in Kol verskyn het.”

Die uitgewers begin vra vir ’n manuskrip. Lappies Labuschagne, keurder van Nasionale Boekhandel in Transvaal, keur dit egter af. By Bartho Smit van Afrikaanse Pers Boekhandel se keurder kry John ’n baie goeie verslag, maar die hoofuitgewer roep vir John in. Een van die sinnetjies in een van die stories moet uit. “Die sinnetjie het te doen met die karakter X wat aan die bediende se bors vat.”

“Maar, meneer, hoekom?”
“(Paaiend) Mnr Miles, u weet mos, ’n mens dóén nie so iets nie.”
“Maar ... dis funksioneel!”

In 1970 verskyn John se eerste bundel kortverhale, Liefs nie op straat nie, by Buren Uitgewers. Die opskrif van een van die resensies in een van die Transvaalse dagblaaie lui: “Liefs nie op straat nie net vir die kooi”.

Die bundel bevat meestal kort-kortverhale en John Miles se woordvernuf en sy besonderse tegniese talente word in die verhale duidelik tentoongestel. Hy kry dit reg om ’n "wye wêreld in ’n enkele gebeurtenis of beeld vas te vang" (Hennie Aucamp: Dagblad, HAUM-Literêr, 1987).

Miles fokus op verskillende aspekte en só slaag hy daarin om die verskillende moontlikhede om die verhale te interpreteer te verbreed. Hierdie aspekte behels die natuurlike teen die bonatuurlike, die wêreld van die kind teenoor dié van die volwassene en die "lewe teenoor visioene van die dooie" (AP Brink: Voorlopige rapport. Human & Rousseau, 1976).

In 1973 verskyn Okker bestel twee toebroodjies, sy eerste roman, ook by Buren Uitgewers. Op Wikipedia word daar as volg oor Okker geskryf:

Okker bestel twee toebroodjies lei die prosa van die sewentigs in, waarin die individu meegesleur word in ’n sinlose meedoen aan ’n golf van geweld. Die mens vat met geweld wat hy wil hê om sodoende te probeer oorlewe in ’n wêreld wat hy nie begryp nie. Die staatsaanklaer Okker Smit, wat pas uit sy werk bedank het en wie se vrou Chrissie hom verlaat het, bestel een Vrydagaand in die winter in die dorpie Carnarvon twee toebroodjies in die plaaslike kafee. Hy is hier om ’n vriend van sy kinderdae, Ben Venter, te ontmoet. Dan word hy teen sy sin ingetrek in ’n lang reeks gewelddadige gebeurtenisse saam met Ben en sy geheimsinnige Tante. Die aksie gaan van Carnarvon na Johannesburg, waar verskeie geweldsdade plaasvind, en dan na ’n Bosveldplaas. Wanneer Okker kortstondig daarin slaag om van Ben ontslae te raak, ontmoet hy vir Jenny, die meisie met die wit hare wat haar protes teen oordadige tekens van geweld demonstreer deur aanhoudend met die vuis teen die vernielde bak van ’n Lincoln Continental te slaan. (Petrus Swanepoel in Rapport, 29 Julie 1973)

Okker word in die roman stereotipe van die gewone mens wat met rus gelaat wil wees en met sy eie klein lewe voortgaan, maar dan teen sy wil ingesleep word by dinge wat hy nie verstaan nie en hoe meer hy hom wil loswikkel uit die gemors, hoe minder verstaan hy. Terselfdertyd is hy nie vry te spreek van aandadigheid in die toedrag van sake nie en speel die gebeure wat in sy jong dae tot Radue se dood gelei het, ’n belangrike rol. Waar die prosa van die Sestig gewerk het met mites en seks met ’n religieuse konnotasie, skets Miles hier ’n realistiese wêreld, waar wreedheid en geweld die botoon vier en seks beleef word ter wille van seks, met geen religieuse konnotasie of selfs liefde nie. (André Brink in Voorlopige rapport)

Tesame met die kritiek en fokus op geweld en seks ondersoek die roman veral die konsepte van aandadigheid en skuld. Die verlede is ’n ewigheid wat die hede in ’n hel omskep, met die vooruitsigte vir die toekoms ’n ewigheid van uitsigloosheid. Die einde in so ’n uitsiglose wêreld is verstandelike disintegrasie." (Elize Botha in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1975)

John was die medestigter van Taurus, die Afrikaanse uitgewery wat hom gewy het aan die publikasie van werke wat die hoofstroomuitgewers vanweë die Wet op Publikasies nie wou uitgee nie. Taurus het begin toe John, Ampie Coetzee en Ernst Lindenberg besluit het om André Brink se ’n Oomblik in die wind self uit te gee, omdat geen ander uitgewer na Kennis van die aand en die bohaai daarrondom dit wou uitgee nie.

“’n Vennootskap is gestig met ’n respektabele rekenmeester daarby, maar die knoop het gelê by die aansoek vir ’n munisipale liksens. Ons kon onsself nie as ’n uitgewery registreer nie – ons sou onnodig aandag trek, toe noem ons onsself ’n ‘posbesteldiens’ en kry so ’n groot pienk vorm wat by ‘die perseel’ opgeplak moes word sodat mense beswaar kon maak as hulle wou. Dis opgeplak, ja, maar agter my voordeur in Melville! Ons moes ook ’n drukker vind wat nie Afrikaans verstaan nie en vind toe New Era Printers, ’n Indiërdrukker in Vrededorp. Hy’t net bokse gedruk, maar gedink boeke is ’n moerse uitdaging. Ampie het hom Ramvol genoem. En dis hoe Taurus begin het ...”

Taurus het ’n tuiste gebied aan ’n hele generasie van Afrikaanse protesskrywers of skrywers van werke wat die groter uitgewershuise nie wou uitgee nie – vanaf Dan Roodt se Sonneskyn en Chevrolet tot Emma Huismans se stories oor die “struggle” en RR Ryger se novelles. Teen die vroeë negentigerjare besluit die direkteure van Taurus om die uitgee van nuwe publikasies te staak weens die verslapping van sensuur en word die argief aan NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein geskenk.

In 1978 word John se volgende roman, Donderdag of Woensdag, gepubliseer, en in 1983 Blaaskans – die bewegings van Flip Nel, beide deur Taurus. Donderdag of Woensdag is ’n satiriese avontuurroman wat handel oor ’n groepie Afrikaner-terroriste wat die president van hulle land ontvoer in ’n poging om ’n beleidsverklaring teweeg te bring. Die staatsgreep word uitgevoer met die medewerking van die hoof van die veiligheidspolisie wat self die leisels oorneem, en so word die ander lede van die komplot slagoffers van die nuwe gesag. In Beeld van 5 Junie 1978 skryf JP Smuts: "Die tydsproblematiek, ingelei deur die titel, bring duidelik die boodskap dat dit wat gebeur, reeds gebeur het en dat daar geen sekerheid kan wees nie." Deurdat die aksie plaasvind van Spanje na Suid-Afrika, verkry die roman "universele toepassing met sinspeling dat alle geweldstrukture en soeke na mag eenders is. Deur die slot van die roman direk aan te sluit by die begin, verkry die roman ook ’n sikliese aspek, wat suggereer dat dit wat gebeur het, aanhoudend sal aanhou gebeur." (JP Smuts: Burgerband, Tafelberg, 1985)

In 1978 word Donderdag of Woensdag deur ’n komitee van publikasies verbied. In 1979 word die publikasie die geleentheid gegun om deur ’n deskundige komitee van letterkundiges ondersoek te word. Die aanbeveling van die komitee dat die verbod opgehef moet word, is egter nie aanvaar nie. JA Heyns ontvang die opdrag om die appèlraad van raad te bedien omtrent die godsdienstige aspekte van die roman. Hy bevind dat die roman godslasterlik is en beveel aan dat die boek ongewens bevind moet word. In 1983 is die verbod opgehef.

Taurus publiseer in 1980 John se Stanley Bekker en die boikot, en dit word die eerste Afrikaanse kinderboek wat verbied word. John vertel aan Elmari Rautenbach oor die ontstaan van die boekie: “Elza het by ’n private skool, St Barnabas anderkant Westdene, kunsklas gegee. Die kinders het begin sleg voel dat dit altyd die township-skole is wat die spit afbyt en op ’n dag hul eie protes gehou. Hulle is deur die bank deur die polisie opgelaai. Ek het haastig ’n storie aanmekaar geflans soos hulle daaroor gepraat het en Elza het die kinders gevra om dit te illustreer. Die idee was dat dit die begin van ’n skoolboekiereeks sou wees, maar ja, toe loop dit dood ...”

As gevolg van die verbod op hierdie twee boeke is John as ’n “omstrede” skrywer gemerk. Hy kan egter beskou word as die voorloper van die skrywers van die 1970's met sy ontginning van geweld as tema en sy skryfwerk wat die rassepolitiek betrek.

Donderdag of Woensdag en Blaaskans beskou die Afrikanerdom en die politieke “struggle” vanuit ’n skewe en absurde hoek. Hulle is nóg in hulle uitkyk op die opposisie teen apartheid nóg in hulle soms bedrieglike narratiewe strukture ongekompliseerde romans. Shaun de Waal sê in 1997 oor John se werke wat eksperimenteer met tyd, struktuur, collage en wat die leser se verwagtinge omvergooi: “I don’t like the realistic mode of writing. Everything is insecure, and that’s why I opt for that type of experience in a novel.”

André P Brink resenseer Blaaskans – die bewegings van Flip Nel, in Rapport van 23 Oktober 1983. Flip Nel is ’n onderwyser in Pietersburg en ’n rugbyheld. Hy word betrek by ’n swart buurstaat en politieke opstand. "Op pad na Pietersburg raak Flip se motor onklaar en hy soek hulp by die naburige plaashuis op Blaaskans, die plaas van FC Bezuidenhout. Intussen word Flip se motor gesteel en deur bemiddeling van Bezuidenhout kom hy uit by Vogelstruisstad, hoofstad van ’n tuisland, waar hy die diefstal aanmeld. Hier word sy weldoener Bezuidenhout vermoor. Flip ontmoet hier vir Kasteel Prinsloo, ’n swaer van FC maar ook sy politieke teenstander, met sy familie en ondersteuners. Flip word hierna tydelik geïnkorporeer deur die Weermag wat opstokery van die boere, onder leiding van Kasteel, teen die swart mense wil verhoed. In die proses word kommentaar gelewer op die werklikhede van apartheid Suid-Afrika, die ideologieë, die armoede in die tuislande en veral die geweldkultuur wat allesoorheersend is. Die geskiedenis van die rebellie van Slagtersnek (ook in die name van die karakters) is ’n belangrike relativeerder van die aksie wat hom in die huidige uitspeel. Die simboliese titel van die roman dui op die rustyd ('blaaskans') wat rugbyspelers tussen helftes kry, waarna hulle in die teenoorgestelde rigting speel (wat dan ook met die aksie in die roman gebeur), asook na die naam van die plaas Blaaskans, wat ’n fisiese buffer is tussen twee vyandige uiterstes. Die roman beeld moderne Suid-Afrika uit in sy verwikkelde saamleefpatrone, politieke ideologieë."

John se suksesvolste boek, Kroniek uit die doofpot, verskyn in 1991, ook by Taurus. Dit vertel die verhaal van ’n swart polisieman wat deur ’n blanke senior aangerand word en ’n lang en futiele stryd om reg en geregtigheid voer in weerwil van obstruksie en intimidasie deur juis dié mense wat veronderstel is om geregtigheid te laat geskied. Hy baseer hierdie boek op dokumente by die prokureurs vir Menseregte. Hierdie prokureurs het Richard Motasi bygestaan in sy saak – ’n saak wat laat vaar is toe Motasi op ’n geheimsinnige manier dood is. John slaag daarin om Motasi suksesvol te transformeer in Tumelo John Moleko. Drie pryse word in 1992 aan die boek toegeken: die CNA-prys, M-Net-prys en Helgaard Steyn-prys. Ses jaar na die publikasie van die roman het die moordenaars voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie getuig hoe hulle die Motasi’s vermoor het.

Oor Kroniek uit die doofpot skryf Joan Hambidge in Beeld van 1 Julie 1991: “[Dit] is ’n meesleurende verhaal. Dis aangrypend, ontstellend en kan geen leser koud laat nie, ofskoon die koudlaatsindroom júis deel van die berugte wit polisie se manier van doen is in dié vertelling [...] Dit is ’n ontstellende leeservaring. Terselfdertyd ook ’n verpligte een wat ’n mens se gewete aanspreek.”

JC Kannemeyer sê (Beeld Kalender 24 Oktober 1991): “Die gespanne, gelade prosa maak Kroniek uit die doofpot Miles se allerbeste werk en een van die merkwaardigste en sterkste romans in die Afrikaanse prosa as sodanig. Ons het hier te make met literatuur van ’n besondere orde: enersyds ’n ‘tydsdokument’ wat ’n nugter relaas van ’n eietydse stuk werklikheid verskaf, andersyds ’n roman wat die aktualiteit verbysteek en ’n kunswerk geword het wat sy geldigheid sal bly behou lank nadat die geweld van die jare tagtig tot geskiedenis gereduseer is.”

In sy commendatio vir die Helgaard Steyn-prys sê Jacques van der Elst: “Kroniek uit die doofpot word aangebied as ’n 'polisieroman', oënskynlik ’n onskuldige ondertitel wat die illusie wek van ’n lekker ontspanningsverhaal. [...] Die leser word egter gekonfronteer met ’n skrikwekkende en ontstellende relaas wat deur die tegniek van onderbeklemtoning, die Less is more, soveel ontstellender word. [...] Hoe is dit dan – altans: dis my ervaring – dat Tumelo John ’n ongelooflike gevoel van identifikasie en medelye by ’n mens wakker maak? Ek dink dis veral John Miles se verhaaltegniek van ‘factie’, waarby ’n moontlike subjektief gekleurde wêreld ontstellende werklikheidswaarde kry deur die dokumentêre voorstelling van die gegewens, die dokumente uit die Checkerssak. [...] Dit is ’n roman vir en van sy tyd.”

John antwoord hierop: “Ek meen nie dit is onhoflik van my om u daaraan te herinner dat maar ’n hand vol jare gelede hierdie geleentheid nie moontlik sou wees nie. Nie van u kant af nie en ook nie van myne nie. Daar bestaan immers die denkbeeld dat ’n prys soos hierdie staan vir die gevestigde orde, met my daarteenoor wat vanuit literêre hoek alles sou aanmoedig om daardie waan-orde aan te vreet. [...] Kroniek uit die doofpot dateer uit ons Noodtoestand van die tagtigerjare. Ek wou met hierdie roman doelbewus soveel as moontlik lesers bereik, ook lesers wat dalk andersins nie my sienswyse deel nie. Ek wou alles moontlik doen – op die wyse van ’n roman, natuurlik – om juis my Afrikaner-medeburger te oortuig van die waansin van onverdraagsaamheid en onbillikheid, en uiteindelik van die volstrekte dwaasheid waarin die beleid van Totale Paraatheid ons laat beland het. Intussen beleef ons Suid-Afrikaanse samelewing ’n omwenteling. Dit het moontlik geword dat Kroniek uit die doofpot wyer uitreik. En hierdie prys is seer seker geen geringe aanbeveling nie. [...] Ek voel my besonder geëerd om hierdie toekenning uit die hand van regter Tienie Steyn te ontvang en sal trots wees om my roman te koppel aan die Helgaard Steyn-toekenning.”

In 1997 word Kroniek uit die doofpot in Engels vertaal deur Eithne Doherty onder die titel Deafening silence en die Engelse weergawe word verwerk tot ’n minireeks van vier episodes met dieselfde titel wat op SABC3 vertoon is. Dit is ook in Nederlands vertaal.

In John se Wits-jare het hy en Elza ’n plasie in die Waterberge gehad. Omdat die plek so onder klippe was, het hulle die plasie Enkelverstuit gedoop, maar Ampie Coetzee het gemeen Gatafgeval of Morsdoodgedonder sou ’n beter naam gewees het. Die berghut hier het John self gebou. Hy het ’n kursus van drie maande in messelwerk gevolg om die huis te bou.

Sedert sy aftrede in 1998 bly hy in die Onder-Bokkeveld naby Nieuwoudtville. Tydens sy huisbouery op die plaas Katstaartlaagte het hy in ’n tent op sy plasie gebly waar hy 60 km ver kan sien met geen mens of dier in sig nie. Hier boer hy met rooibostee en olyfbome en het hy ook ’n halwe hektaar onder boegoe. Hy bly saam met die kunstenaar Saar Steenkamp. Die huis is gebou met die hulp van die messelaars van Loeriesfontein, wie se taal- en woordgebruik vir hom ’n bron van verwondering is. Hy vertel aan Sonja Loots in Rapport: “Hulle praat nog van die ‘sponnings’ aan die kant van vensters en deure. En die plek waar hulle dagha meng, is ‘die baan’.”

Toe Rachelle Greeff hom vra hoekom hy juis die Noord-Kaap gekies het, antwoord hy: “Dis ’n lang storie ... iewers in die jare sewentig het ek hier rond kom veldwerk doen, destyds vir die Afrikaanse taalatlas. En in die eerste sin van my roman van 1973, Okker bestel twee toebroodjies, bestel die karakter sy toebroodjies in ’n Carnarvonse kafee. Ek kuier al lank hier.” (Insig, November 2003)

In 2001 was John in ’n ongeluk toe ’n trekker bo-op hom geval het. Gelukkig het hy in die modderwater gelê en was die volle gewig van die trekker nie op hom nie. Hy het egter al sy ribbes behalwe een gebreek en het oop beenbreuke opgedoen. Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt: “Ek dink die ongeluk was ’n motivering om weer te skryf. Ek was reeds besig om daaraan te werk, maar ek het besef ek moet vinniger iets doen.”

Die gevolg was Die buiteveld, wat in 1993 gepubliseer is. Dit vertel die verhaal van Smerski, ’n Portugese taalkenner wat tydens sy vakansie vir Isabel, ’n jong vrou wat hom aan ’n skildery van Goya herinner, ontmoet. Hulle word minnaars en Isabel dwing hom tydens hul reis om stelselmatig alles te onthul wat hy tot nog toe probeer verdoesel het: soos die bloed aan sy hande en die misterie van sy verdwyning in Angola.

Rachelle Greeff vertel in Insig dat John ’n hekel het aan politieke korrektheid. "Dit was so onder die apartheidsregering en dit is so in die vooswordende 'nuwe' bedeling. In Die buiteveld lees jy byvoorbeeld onder meer oor skeptisisme ten opsigte van openbare skulderkennings. Die sydelingse klappe is ewe rustig."

John sê: “Ja, minder aanvallend as die sewentiende-eeuse John Bunyan in sy Pilgrim’s Progress, wat hierdie soort ‘goeie daad’ wat die establishment voorskryf, sien as nog ’n manier waarop die armes om die bos gelei word.

In 2008 word hy met sy 70ste verjaardag deur die Woordfees op Stellenbosch vereer en vertel hy aan Elmari Rautenbach dat hy aan ’n nuwe manuskrip werk. Dit is ’n roman wat hy “’n episode” noem en waarin ’n karakter soortgelyk aan Smerski van Die buiteveld terugkeer. “Ek noem dit solank Voetstoots – ’n episode, met verwysing na die white noise van vandag se bestaan.”

Daar gaan ’n geruime tyd verby (ses jaar) na die publikasie van Die buiteveld voor John se volgende roman, Voetstoots, in 2009 verskyn.

Louise Viljoen (op LitNet) som die roman op as die verhaal van die tandarts August Lotz. Nadat sy vrou in ’n motorongeluk, waarvoor hy deels die verantwoordelikheid dra, sterf, gebruik hy al sy energie om die ongepubliseerde dagboek van Robert Jacob Gordon, ’n amptenaar van die VOC in die 18de eeu en ook ’n reisiger, persklaar te maak. In die loop van hierdie projek bevind hy hom op ’n dorpie in Namakwaland, waar hy ’n gedig in ’n tweedehandse winkel ontdek. Hierdie vonds loop daarop uit dat hy vir hom ’n huis aldaar aanskaf.

Tydens sy verblyf daar word hy aangeraak deur die gebeure op die dorp en raak hy veral betrokke by die polisievrou Tessa en haar seun Otto. En deur sy betrokkenheid by hulle word hy ook ingetrek by Tessa se verhouding met haar gewelddadige man, Andries, van wie sy besig is om te skei.

Die subtitel van die verhaal is ’n Episode, wat sinspeel op die gebeure wat in drie dele afspeel, naamlik "Kersnaweek", "Opvolg" en "Rondom Nuwejaar".

Vir Louise Viljoen is dit veral die vertelstrategie van Miles wat opval: "Net soos in Kroniek uit die doofpot skep Miles hier 'n skrywersfiguur wat die leser bewus maak van die feit dat hy besig is om 'n verhaal te maak van die werklikheid wat hy ervaar. In vergelyking met Kroniek uit die doofpot werk Miles in Voetstoots nogal spaarsamig met hierdie strategie en raak die leser net op enkele punte bewus van hierdie skrywer se teenwoordigheid. Dit gebeur aan die begin en die einde van die roman wanneer hy die leser direk aanspreek, maar ook wanneer hy in die loop van die roman opduik as die geheimsinnige beeldhouer of filmmaker in 'n swart Citroën wat hom kort voor die gebeure in die omgewing gevestig het, wanneer karakters soos Hannah en professor Thompson uitvra oor August en ná die katastrofale hoogtepunt van die episode met August en Otto praat. Hierdie skrywer-karakter bied homself in die slothoofstuk aan as 'n 'vertolker' van die gebeure in die dorp, maar verklap dan ook dat die episode wat hy in hierdie roman beskryf, vervleg is met een wat hy self beleef het en nie kan vergeet nie. Ten slotte vertel hy waarom hy gekies het om die episode so te beskryf dat dit op 'n hoopvolle noot eindig. (...)

"'n Verdere aspek van Miles se vertelstrategie is die wyse waarop hy die verhaal broksgewys voor die leser laat ontplooi deur dit vanuit verskillende vertelperspektiewe aan te bied. Deurdat die verhaal afwisselend aangebied word vanuit die oogpunt van die skrywer en die twee hoofkarakters, word die prentjie geleidelik 'ingevul' of vollediger gemaak vir die leser. Hierdeur word die spanning soos in 'n film deur middel van skielike verskuiwings van perspektief en fokus opgebou.

"Die roman is 'n duidelike terugverwysing na Miles se eie oeuvre waarin sekere temas hulle tot dusver uitgespeel het: dié van die nadenkende skrywer, die bemoeienis met geweld, die kritiese beskouing van die verskillende soorte sisteme wat die mens al ontwerp het om binne te leef, soos die kapitalisme en die sosialisme, en die gefassineerdheid met die werk van verskillende beeldende kunstenaars en skrywers. (...)

"Voetstoots is een van Miles se mees toeganklike, maar ook mees verweefde romans tot op datum. Naas Kroniek uit die doofpot is dit een van die hoogtepunte in sy oeuvre. Dit is geskryf in sy kenmerkend onopgesmukte styl en sober Afrikaans, maar dra 'n rykdom van besonderhede, besinning en lewenswysheid oor. Dit is 'n roman waarin daar vertel word van 'n traumatiese episode, maar ook gaandeweg ‘n handleiding vir die lewe uitgewerk word. (...) John Miles bedink in sy nuwe roman, Voetstoots, strategieë om die leser by die storie betrokke te kry en te hou."

Ander menings oor Voetstoots kom van Neil Cochrane (Beeld, 2010): “Voetstoots is geen literêre piekniek nie – dit is ’n komplekse roman wat getuig van oorwoë outeursinnovasie. Lesers wat daarvan hou om uitgedaag te word, sal dit ’n boeiende teks vind omdat dit ’n noulettende lees en herlees vra.”

En in Volksblad skryf Hennie van Coller: “In baie opsigte sluit die boeiende roman aan by eietydse Afrikaanse prosawerke wat bestek opneem van die huidige tydsgewrig en probeer besin oor hoe daar geleef kan word in ’n gewelddadige land met ’n traumatiese verlede.”

Henriette Roos sluit haar resensie in Tydskrif vir Letterkunde (47:2) so af: "En dit is een van die blywende waardes wat Miles se oeuvre my steeds bied: die teenwoordigheid van figure wat sonder uitsondering moreel integere mense is – karakters vir wie ‘voluit leef’ ook beteken harde werk, die nakom van verpligtinge en die aanvaarding van verantwoordelikhede, die poging om te vergoed vir oortredings en gebreke. Voetstoots verskyn in die jaar wat John Miles sy sewentigste verjaarsdag vier en Human en Rousseau hulle vyftigste bestaansjaar herdenk, en watter voortreflike bewys lewer hierdie roman nie dat kreatiewe voortreflikheid nooit kan verouder nie."

’n Volle sewe jaar verloop voor die verskyning van John se volgende roman, Op ’n dag, ’n hond, in 2016 by Human & Rousseau.

Tydens die bekendstelling van Op ’n dag, ’n hond in Bloemfontein het die filosoof Johann Rossouw en Francois Smith, dosent in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat, met John oor sy nuwe roman gesels.

In die uitgewers se inligtingstuk word geskryf dat baie van die temas wat in sy vroeëre werke is, ook in Op ’n dag te vind is – "’n besinning oor die vervlietendheid van die menslike bestaan en die onontkombaarheid van die dood, deurgaans gekenmerk deur die skrywer se herkenbare, amper moedswillige, humor.

"Die verhaal begin in ’n klein tuinwoonstelletjie waar ’n oud-onderwyser een stormagtige aand musiek sit en luister, min wetend dat daar die volgende dag ’n lewensveranderende voorval met ’n hond op hom wag. Algaande bring terugflitse die onderwyser se hele verlede tot stand en word dit eindelik ’n roman waarin die hoofkarakter ’n bestekopname van sy lewe doen. Sy hart word as ’t ware geweeg om sy lewenswaarde vas te stel."

John het in Die Burger (1 Desember 2016) met Murray la Vita gesels: "Ek kies in die begin ’n karakter en ek gee hom drie dae tyd in die hede. Ek gee hom drie dae om te lewe ... Uit die hede, dis waaruit alles kom, en dis eintlik al wat daar is, behalwe die gewig van die lewe.

"Dit was my opdrag aan myself. Daardie twee, drie dae waarin jy hom (die oud-onderwyser) dophou om te kyk hoe hanteer hy sy omstandighede, en dan die verlede wat saamspeel, want die toekoms bestaan nie; die toekoms is moontlikheid waarin kans ’n geweldige groot rol speel. Ek voel nogal sterk dat mense maklik verlei word met die idee dat hulle lewe ’n plan het, want dis altyd terugskouend dat jy een of ander iets uitlig en dan miskien sê: Hier het ek ’n bietjie afgedwaal, maar dit was die groot ding."

John verduidelik verder aan La Vita: "Heelparty van die groot geeste het al die klem daarop gelê dat ons ... die mens is eintlik ’n wese wat ’n verhaal kies en volgens die verhaal leef. Wel, dít is eintlik wat agter die boek lê. Hierdie is die derde boek ná my Johannesburgse dae en ek kom nou, terugskouend, agter dat ek telkens fokus op een karakter. Die eerste een (Smerski in Die buiteveld) was, kom ons sê ’n man hier in sy dertigs; en die tweede een (Augustus Lotz in Voetstoots) ’n man hier in die veertig, vyftig; en ek het doelbewus gedink ek wil ’n ouer man kies in hierdie geval."

Dan was daar nog iets wat in sy lewe gebeur het wat ’n impetus was om Op ’n dag te skryf: "My vrou van destyds (1970's, begin 1980's) het gaan skoolhou voltyds en op ’n dag kom sy by die huis aan met ’n hond. Die hond het onverklaarbaar haar klaskamer uitgesoek en onder haar tafel gaan lê en toe aan die einde van die dag toe weet sy nie wat om met die hond te doen nie en toe bring sy hom maar huis toe.

"Nou, dit was wel iets. Ek het geweet ek gaan ’n hond inbring en ’n hond gaan ’n soort sneller wees om dinge aan die gang te sit verder in sy lewe."

John praat verder met La Vita oor die rol van die hond in die storie. Hy wou iets meer maak van die hond, maar die woorde van een van die Jamese het hom binnegeval: "If you want to make a symbol of a tree, first make the tree a tree." En die hond in Op ’n dag is ’n hónd.

"Maar met die herhaling en met sy halwe obsessie om weer die hond op te soek, kry dit simboolstatus ... Iets wat moeilik vas te vat is; dit kan iets van die gewete wees miskien; ek wil dit nie uitspel nie. Maar aanvanklik moet ’n mens ook onthou ... daai lewenslustige hond wat daar op die hokkieveld baljaar, dit is natuurlik ook die hede, daai léwe en die lewensdrif wat uitgelewe word. Ek dink die onderwyser is baie bewus daarvan, hierdie energieke hond. Met ander woorde: hy is ’n hond ook voordat dit ’n kwel-element word, want ons kom natuurlik agter hy het op ’n keer ’n hond uitgesit."

John self beskou sy laaste drie boeke as ’n soort trilogie. "In die sin dat dit gaan om ’n lewensfilosofie wat uitgespeel gaan word; die Stoïsynse aanslag. Dit dateer van Sokrates en daarna zen; dit strek oor eeue heen, om nou dan by Marcus Aurelius in die tweede eeu ná Christus met daai merkwaardige Meditasies van hom baie goed geboekstaaf te word. Een van die eerste dinge wat ’n Stoïsyn behoort te doen, is om te onderskei tussen dinge waarby hy kan ingryp, waaraan hy iets kan doen, en daar is sekere dinge wat buite hom lê.

"Dit waarby jy betrokke is, moet jy jou laat lei deur die rede en die natuur moet jy volg, want die natuur is rede. En dan, waar jy natuurlik wel vrye keuse het, is jou aansporing om goed te doen ... Maar jou intensie om goed te doen is belangriker, want jy het geen beheer oor die afloop daarvan nie." (Die Burger, 1 Desember 2016)

Publikasies

Publikasie

Liefs nie op straat nie

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1983

ISBN

0624020045 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Buren
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Okker bestel twee toebroodjies

Publikasiedatum

1973

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Buren

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donderdag of Woensdag

Publikasiedatum

1978

ISBN

0620030232 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stanley Bekker en die boikot: April–Mei 1980

Publikasiedatum

1980

ISBN

0620047003 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kroniek uit die doofpot

Publikasiedatum

  • 1991
  • 1992
  • 1995
  • 2005 (Klassieke uitgawe)

ISBN

  • 0947046399 (sb)
  • 0798129549 (sb)
  • 079813383X (sb)
  • 0798145498 (sb)

Uitgewer

  • Bramley: Taurus
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1992
  • M-Net-Boekprys 1992
  • Helgaard Steyn-prys 1992

Vertalings

  • Engels, vertaal deur Eithne Doherty 1997
  • Nederlands, vertaal deur Riet de Jong-Goossens 1992

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voetstoots: ’n episode

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150804 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op ’n dag, ’n hond

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174329 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

John Miles as redakteur
Hermans, WF: De donkere kamer van Damokles. Pretoria: Academica, 1979, 1986 (Literatuur van die Lae Lande) [ISBN 0868740373 (hb)]

John Miles as samesteller
Drumpel 1: Saamgestel uit die skeppende werk van hoërskoolleerlinge, deur AJ Coetzee en John Miles. Johannesburg: McGraw-Hill, 1971

Artikels oor John Miles beskikbaar op die internet

Artikels deur John Miles beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Miemie Wessels

    Dankie. 'n Ware leerskool. Op 'n onverklaarbare manier het hierdie boeke nog nie vir my meer as kennisse geword nie. Sal nou by die laaste een begin ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top