Johannes, Wouter, Russell Botman en die US

  • 0

Nou die oggend op RSG praat Kobus Bester met prof Botman en vra, onder andere, waarom word tweetaligheid op die Afrikaanse universiteite (US in hierdie geval) afgedwing maar nie op die Engelstalige universiteite nie. Die prof het dit nooit geantwoord nie.

Ek het nie die indruk gekry dat hy spesifiek die vraag ontwyk nie, ten spyte van die feit dat Kobus dit twee maal gevra het, maar dat hy die vraag nie mooi gehoor of verstaan het nie. Sy antwoord op daardie vraag was dat die US hom daartoe verbind het dat Afrikaans nie daar sal verdwyn nie. Onsin, natuurlik, want Afrikaans is besig om daar te verdwyn.

Johannes Comestor, in nog een van sy uitstekende en logiese briewe, spreek dieselfde probleem aan en, onder andere, wys op die dubbele standaarde en onregverdigheid in hierdie verband.

Wouter lewer ook kommentaar op hierdie taalkwessie en wat hy sê kan g’n mens uitmaak nie. Al wat ek kan uitmaak is dat hy dit eens is met Russell Botman, en lyk dit my die oorgrote meerderheid doserende personeel aan die US, dat ’n universiteit wat onderrig in slegs Afrikaans aanbied ’n onding is.

Wat ek wil weet is hoekom hoegenaamd voorsiening maak vir studente wat onderrig in Engels wil hê? Let wel, nie Engelssprekende studente nie want dié is heeltemal bereid om onderrig in Afrikaans te ontvang; daar was baie van hulle destyds op Tukkies. Daar is mos Ikeys en UWC ’n klipgooi van Stellenbosch af (waar, terloops, geen voorsiening gemaak word vir studente wat onderrig in Afrikaans wil ontvang nie), hoekom gaan hulle nie soontoe nie?

Wouter se verduideliking of gevolgtrekking, na ’n lang onsamehangende relaas, hou net nie water nie: "Afrikaanse universiteite en so ook die skole moet daarom ’n stille dood sterf en die opvoeding van die totale bevolking in Engels geskied. Geen ander bevolkingsgroep het sulke voorregte nie." Wat drek.

Daar is net een verklaring wat sin maak en soos ek al 10 jaar gelede vir Gerrit Brand gesê het: Met die aankoms van “demokrasie” was Afrikaanse onderwysinstellings die toestroming gespaar wat die Engelse onderwysinstellings getref het. Die liberales, Engelse spesifiek in hierdie geval, se kamtige filantropie het geboemerang en daar sit hulle toe met die gebakte pere, gebakte pere in die vorm van finansiële druk, verlaagde akademiese standaarde, vernietigde studentelewe die toetie.

Hierdie toestroming het natuurlik al lankal begin by die Engelse onderwysinstellings – "they had to put their money where their mouth was" – wat tot gevolg gehad het dat Engelssprekende studente al hoe meer by Afrikaanse universiteite ingeskryf het waar nog ’n studentelewe, en ’n wêrelderkende akademiese peil, gehandhaaf was.

Hierdie gemors van vandag kom dus nie van die regering, of in-Engels-wil-leer studente af nie maar via die regering van die Engelse instellings af. Hulle was nie bereid om in alleen in die bed te slaap wat hulle opgemaak het nie.

Wat verbysterend is, is dat Afrikaanssprekendes die transformasiestorie sluk, dat hulle werklik glo dit is ’n logiese voortvloei van demokrasie. Dit is nie, dit is net mooi andersom, dit is ’n manifestasie van onderdrukking; hier is nie sprake van ’n demokrasie nie.

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top