Johann Johl (1951–1996)

  • 0
Sêgoed van Johann Johl:

“Die lewe is soms somberder nog as die dood.” (Uit: Roulet)

“Woorde skend betekenis.” (Op Verslangs op Facebook)

Vind hy die feit dat literatuur sy werk is, nie inhiberend wanneer dit kom by sy eie skryfwerk nie? “In ’n sekere sin kan dit so wees, maar ek ervaar dit nie so nie. Ek werk op my beste teen ’n weerstand in. ’n Mens leer met die analitiese manier van literatuur bestudeer op ’n ander manier dink: meer ironies dink. My werk aan Ironie het ook ’n onherroeplike invloed op my manier van dink gehad. As Boogskutter is ek half perd, half mens; half emosie, half intellek. Soms gaan dié dinge met mekaar saam, soms wissel hulle mekaar af, maar dit is nie inhiberend vir my eie skryfwerk nie.” (Beeld, 24 Januarie 1995)

Oor die belangstelling in Afrikaanse poësie in die 1990’s: “Ek het by Tafelberg-uitgewers gehoor hul laaste vier digbundels is almal binne ’n jaar uitverkoop. Die helfte van Roulet se oplaag is reeds uitverkoop, al het daar nog nie een resensie verskyn nie (tot op daardie stadium). Ek glo ’n verbeeldingryke bemarkingstrategie kan help om die werke van jong Afrikaanse digters in die Dietse lande bekend te stel (…). Die Afrikaanse poësie is wyd geskakeerd. Mense sê poësie is te moeilik of esoteries, maar dis twak – daar is iets vir almal om te lees. ’n Mens het egter altyd nuwe stemme nodig.” (Beeld, 24 Januarie 1995)

Wat die sogenaamde nuwe taalstryd betref: “Dit laat my dink aan ’n klomp historiese albatrosse wat ’n mens met jou saamdra. Daar is soveel kreatiewe dinge waarop ’n mens eerder kan konsentreer en met dié soort backlash wil ek niks te doen hê nie.” (Beeld, 24 Januarie 1995)

In 1993 oor die verkope van Afrikaanse boeke: “Dit is ’n bose kringloop, mense koop nie meer boeke nie, want dit is te duur. Terselfdertyd kan uitgewers nie boekpryse verlaag nie, want die mark is so klein. Uitgewers het nie erns met die bemarking van boeke nie. Daar is ’n behoefte aan ’n verbeeldingryke bemarkingsaksie vir Afrikaanse boeke.”

Gebore en getoë

Johann Hermann Johl is op 17 Desember 1951 op Aliwal-Noord in die Noordoos-Kaap gebore. Sy ouers was Paul en Lorna Johl en sy grootworddorp was Kestell in die Oos-Vrystaat. Sy pa was skoolhoof van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en later onderwysbeplanner van die Departement van Onderwys. Hy was ’n bekende in Bloemfontein in musiekkringe en het manskore afgerig. Johann het ’n broer, Paul.

Ná ’n kort verblyf in Welkom in die Vrystaat het Johann aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer.

Sy liefde vir musiek en woorde het hy aan moedersknie ontwikkel en dit het sy lewenslange passie gebly.

Verdere studie en werk

Ná skool het Johann sy militêre diensplig verrig en daarna het hy aan die Universiteit van die Vrystaat vir sy BA in Musiek (met hoofvakke Afrikaans-Nederlands, Duits en Musiek) studeer, wat hy in 1974 met lof geslaag het. In 1975 het hy sy honneurs in Afrikaans-Nederlands ook met lof verwerf. Sy MA-graad het hy in 1976 behaal, weer eens met lof, onder studieleiding van dr Charles Malan. Die titel van sy verhandeling was Die polêre spanning liggaam-gees in die nuwe Afrikaanse prosa. Hy was primarius van sy universiteitskoshuis.

Hy was ’n uitsonderlike student. Met dié stelling het prof Elize Botha saamgestem. Sy was in 1984 ’n beoordelaar van sy proefskrif, Ironie by Etienne Leroux, en het hom beskryf as “’n ware intellektueel én ’n ware ‘scholar’”. Hy het die DLitt et Phil-graad aan RAU behaal onder die promotorskap van FIJ van Rensburg en sy eksaminatore was eenstemmig in hul hoë lof oor die studie, skryf Ronél Johl. (Stilet, Maart 1997)

Johann Johl was getroud met Ronél van der Merwe. Sy is ook ’n oud-Kovsie wat, net soos Johann, haar doktorsgraad onder leiding van prof FIJ van Rensburg verwerf het. Hulle het twee kinders, Corné en Gheta.

In 1977 het Johann onderwys gegee aan die Hoërskool President Steyn net buite Bloemfontein, en vanaf 1978 tot 1980 was hy dosent aan die Universiteit Durban-Westville. In 1981 het hy ’n lektoraat aan die Randse Afrikaanse Universiteit (tans Universiteit van Johannesburg) aanvaar.

Op die betreklik jong ouderdom van 37 jaar het die mantel op sy skouers geval om in 1988 die bekende prof FIJ van Rensburg as hoogleraar in Afrikaanse letterkunde aan dieselfde universiteit op te volg. Hy was tot sy afsterwe ook voorsitter van die Departement Afrikaans.

Hy was as studieleier betrokke by etlike voortreflike akademiese studies – onder andere by die MA-verhandeling van LD van den Berg getiteld “Omskrywingskonstruksies in die oeuvre van Etienne Leroux” – ’n studie wat in 1989 met die RAU-Kanseliersmedalje vir voortreflike magisterstudie in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte bekroon is.

Johan was die skimredakteur – saam met Ronél Johl – van Spits, ’n polemiese blad wat van 1985 tot 1990 onder die beskerming van die Departement van Afrikaans van die RAU uitgegee is. Hy en Ronél was ook redakteurs van FIJ van Rensburg 65, ’n huldigingsuitgawe van Spits wat in 1987 by die uittrede van die hoogleraar verskyn het. In 1994 was hy gasredakteur van Stilet, mondstuk van die Afrikaanse Letterkundevereniging – ’n uitgawe waarin sy kollega HCT Müller, wat in Oktober 1993 op 50 voortydig oorlede is, gehuldig is. Hy was lid van die Afrikaanse Letterkundevereniging, asook van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap.

Afgesien van ’n groot aantal resensies, waarvan die meerderheid gedurende die sewentigerjare in Die Volksblad verskyn het, was hy ook outeur van meer populêre en oorsigtelike bydraes. ’n Groot aantal akademiese artikels het uit sy pen verskyn.

In 1986 verskyn sy monografie oor Etienne Leroux, getiteld Leroux-ABC. Volgens Joan Hambidge (Die Transvaler, 5 Mei 1987) is hierdie handleiding didakties: “dit wil nie volledig wees nie (daarom nie ’n a–z-boek nie), maar gewone basiese apparaat aan die jong student verskaf. En hierin slaag die skrywer gewis. Want Johann Johl neem die student op ’n reis deur die wonderlike wêreld van Etienne Leroux se prosa.” Sy beskou die boekie as ’n goeie inleiding vir die student.

Charles Malan (Beeld, 10 Augustus 1987) meen dat Johann Johl goed toegerus was om hierdie inleidende werk oor Etienne Leroux se romans te skryf omdat hy sy doktorale studie oor ironie by Leroux voltooi het en heelwat oor hom gepubliseer het. “Studente en selfs ‘lekelesers’ behoort besonder bruikbare sleutels tot die romans in hierdie werk te kry. Omdat die werk nie volledig wil wees nie, maar verteenwoordigend, spits die skrywer hom toe op belangrike romans en ‘basiese apparaat’. Aan die einde van elke bespreking volg vrae, opdragte en suggesties vir verdere studies. Dit kan sterk aanbeveel word as ’n algemene, leesbare gids tot die wesenlike van Leroux.”

HAUM-Literêr het in 1988 Johann se volgende studiegids, Ironie, gepubliseer. Henning Snyman (18 Junie 1988) skryf in sy resensie dat as enige moderne literator ’n studiegids oor die ironie saamstel, dit beteken dat hy rekenskap moet gee van die geskiedkundige, vertolkende en “gebruiksmoontlikhede” van hierdie kenmerk binne die letterkunde. “Daarnaas moet hy lewe (werklikheid) en taal versoen en moet hy ’n gawe besit om te rubriseer en te sistematiseer. (...) Johann Johl het met sy studiegids oor die ironie merkwaardig goed gevaar. Dit is duidelik dat hy die ironie ‘met liefde’ bedryf, maar kundig kombineer hy hierdie liefde met sy wetenskaplike en analitiese werkwyse. ’n Groot inleiding tot die ironie wil en kan ’n gids van hierdie omvang nie wees nie, maar dat Ironie ’n uiters bruikbare en keurige handboek is, val nie te betwyfel nie.”

Heilna du Plooy (Beeld, 22 Augustus 1988) meen dat veel moeite gedoen is om die inligting in die boek hanteerbaar te maak en sy vind die gebruik om aan die einde van ’n samehangende gedeelte die kerngegewens in ’n omlynde blok op te som, baie nuttig. “Desondanks dink ek dat die hoeveelheid teorie wat gegee word, die aandag aan fyn onderskeidinge in die teoretiese uiteensettings en die noukeurige, maar soms ingewikkelde formulering, veroorsaak dat die boek nie sonder meer in ’n student se hand gestop kan word nie. Die boek behoort wel baie nuttig te wees vir studente, maar ek glo dat hulle leiding nodig sal hê.”

In 1990 is Johann se eerste digbundel, Gewalste woord, deur Tafelberg uitgegee. Hy is een van vier akademici wat in 1990 met ’n digbundel debuteer. Die ander is Tom Gouws, Prévot van der Merwe en KP Prinsloo.

Ia van Zyl was die resensent vir Republikein van 1 Februarie 1991 en vir haar wys die titel reeds op die aard van die gedigte in Gewalste woord – ’n “linguistiese spel – gedigte wat tot die intellek spreek eerder as tot die hart. Die drie motto’s wat die bundel inlei, is tekens van die drie belangrikste temas: musiek, die geteisterde geskiedenis van ’n volk wat deur die geskiedenis eerder verwond as gevorm is en linguistiese spel. Die drie temas lewer ook onderling kommentaar op mekaar. (…)

“Van die mooiste gedigte in die bundel is wanneer die digter sy emosies vrylaat in twee gedigte oor sy dogtertjies. Gewalste woord is ’n netjiese debuutbundel waarin ’n persoonlike kriptiek soms tot duisternis lei, maar wat in die geheel genome ’n stewige en genietbare bydrae tot die Afrikaanse poësie lei.”

Ina Gräbe (Rapport, 17 Maart 1991) voel dat ’n mens van ’n skerpsinnige literator wat hom onder meer in die ironie as literêre verskynsel verlustig, vernuftige verse te wagte kan wees. “Die verrassende in Johann Johl se debuutbundel is egter dat vernuftigheid omgesit word in ’n verteerbare musikale idioom; en omgekeerd dat die musiek-as-metafoor ’n medium word vir die vertaling van getuienis uit die verlede of impulse uit die hede. Die ‘gewalste’ in die titel dui nie net op die woord-as-musiek nie, maar ook op die woord as kragdadige hervormer, wat selfs ‘die krag van staal’ kan ‘troef’ en ‘plet’ ‘in ironie-gewalste taal’ (Liefde). (...) Inderdaad ’n bundel waarin woordvernuf omgesit word in leesplesier.”

TT Cloete (Beeld, 3 Desember 1990) beskryf Gewalste woord as een van die verrassings van daardie tyd. Hy meen dat die titel van die bundel op die dubbele aard van Johann se poësie slaan: “aan die een kant ’n meer gekonstrueerde vers, aan die ander kant ’n meer, onbewuste, dromend-denkende vers (‘Atlas’). Enersyds is daar ’n geneigdheid tot die musikale of musies-ritmiese vers, waarop die betekenis van wals en dansbeweging dui, andersyds is daar die besinnende bewerking van die gedig, waarop die ander betekenis van die woord wals dui, naamlik as plet. (...) Die debuutbundel van Johl is nie poësie vir die lui leser nie. Dit is ook nie poësie vir die gemaksugtige hart nie. Dit is eerder ’n fyn balans tussen die emosionele en die intellektuele. Dit titel met sy dubbele betekenis wys al daarop. Dit is die poësie van ’n reeds bedrewe hand en wat as debuut boei en vol belofte is, omdat dit getuig van ’n ryk en verrykende digterlike gemoed.”

Johann Johl se tweede digbundel getiteld Roulet is in 1994 gepubliseer.

Johann het aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 24 Januarie 1995) vertel dat veertig dae en veertig nagte in Rusland die dryfveer agter Roulet was. In 1990 het hy ’n groep besoekende Russiese studente ontmoet wat Afrikaans bestudeer. Die Staatsuniversiteit van Moskou het hom uitgenooi om in 1991 as dosent ’n lesing in die Afrikaanse letterkunde daar te gaan lewer. Hy het tussen die Russe geleef en het ook later Duitsland besoek. Roulet is die verslag van daardie reis.

“Ek het veertig dae en veertig nagte daar deurgebring en aanvanklik in ’n hotel in Moskou gebly,” het hy verder uitgebrei oor hierdie ondervinding. “Dit was 39 grade (Fahrenheit) en baie koud – en toe die winter verby is, moes die warmwaterstelsel afgeskakel word sodat dit herstel kon word.

“Die Russiese poësietradisie speel ’n groot rol by dié land se jeug – hulle hou veral van liriese, swymelende verse. Die poësie van Uys Krige en die kortverhale van PJ Haasbroek is besonder goed ontvang, maar die werk van NP van Wyk Louw het glad nie aftrek gekry nie.

“Een Sondagmiddag het ek gelê en slaap, toe kom klop ’n Rus wat Afrikaans aan ’n toerismeburo doseer my wakker. Hy was snaaks aangetrek en het stewels, ’n beret en ’n serp gedra. Toe sê hy omtrent die hele Joernaal van Jorik van DJ Opperman vir my op.”

Volgens Johann was sy besoek aan Rusland ’n ontmoeting met ’n ontsaglike kultuur. Hy het aan Engelbrecht vertel: “Voor ek gegaan het, het ek min geweet van die leefwyse daar en ek het vooroordele gehad – soos wat hulle ook maar vooroordele het - en grense moes afgebreek word voordat ek by die gewone mense kon uitkom. My blootstelling aan die verbode ondergrondse poësie van Rusland en Oos-Europa het my gou ’n ander blik gegee op wat daar aangaan.

Roulet werk met grense. Ek was daar vóór Boris Jeltsin se tyd, en met die politieke omwenteling daar én hier in Suid-Afrika, was dit ’n tyd, soos George Weideman gesê het, waarmee ’n digter of iemand wat onder die oppervlak grawe, iets moes doen.”

Johann het aan Engelbrecht verduidelik dat dit ’n nuwe manier van leef, van alleen leef, behels. “Roulet is ’n kansspel; en soms werk ’n mens se lewe in ’n heeltemal ander rigting uit.”

Op die flapteks van Roulet word die bundel as volg beskryf: “Die politieke omwenteling word ingeprent op ’n persoonlike omwenteling in die lewe van die digter en dit behels die oorgang na ’n nuwe wyse van leef, ’n soort vertaling van die een in terme van die ander, uiteindelik ook ’n soeke na die wortels van twee wêrelde, ’n besinning op kontak tussen lande en mense, tussen ek en ander, en ’n herskrywing van verlede en hede die onsekere toekoms in.”

In Stilet van Maart 1997 skryf Ronél Johl dat die voorspel tot Johann se tweede bundel, Roulet, ’n dramatiese omwenteling in sy persoonlike lewe was. “(Sou hy, met sy intieme kennis van die werkinge van die ironie, waardering gehad het vir die finale ironie dat juis op die punt toe hy genoeg waagmoed gehad het om sy ‘swart hings van Afrika’ op te saal om die eerste tree na ’n nuwe begin te neem, dit ook die eerste seker tree na sy dood was?) Die bundel is, myns insiens, benewens ander dinge, ook die verslag van ’n persoonlikheid wat die brawe stap neem om daardie aspekte van die self wat ’n leeftyd lank ontken moes word, te konfronteer ten einde ’n nuwe begin te kan maak, ’n proses waarin sy Russiese verblyf van ‘40 dae en 40 nagte’ ’n belangrike kataliserende rol gespeel het. Maar selfs hier blyk dit hoe moeilik dit is om te ontkom aan ’n leeftyd van jouself hoorbaar en kenbaar te probeer maak in ander se klanke en woorde – soveel van die ‘mens’ moet in dié laaste bundel steeds afstandelik geobjektiveer, verhuld ‘openbaar’ gemaak word.”

Bernard Odendaal skryf in sy resensie in Volksblad (15 Desember 1994) dat Johann met Roulet (1994) die ryke belofte wat hy met sy debuutbundel getoon het, bevestig. “Die bundel is kompleks, dog toeganklik, relatief omvangryk, dog deurgekomponeer, in talle opsigte nuut en eksperimenteel, dog byna deurgaans van hoë emosionele spanning. Meer nog as in sy debuut oortuig die balans tussen intellektualiteit en sentiment. Uit die bundelmotto is dit duidelik dat dit om hergeboorte gaan, om die oorgang van die bekende na die onbekende. Dit betref in die eerste plek veranderinge in die intiem persoonlike lewe (die trauma van egskeiding met resulterende gevoelens van skuld, vereensaming, twyfel), maar in die tweede plek ook die onlangse politieke staatkundige omwentelinge in Suid-Afrika en Rusland.

“Daar kan twyfel bestaan oor sekere aspekte van die bundel, maar sulke kritiek word oorskadu deur die individuele meriete van verreweg die meerderheid van die gedigte, asook deur die ontroerende totaalindruk wat dié belangrike digterlike dokument van ’n diep menslike ervaring op die leser maak.”

Oor Skrywers en boeke op die Afrikaanse Radiodiens sê Louise Viljoen dat die gedigte in hierdie bundel dikwels teësinnig is om moontlike betekenisse prys te gee, maar dat dit meestal die noukeurige leser met verrassende poëtiese insigte beloon. “By ’n vergelyking met Johl se eerstelingbundel blyk dit dat veral die reisgegewe met die invoer van nuwe klanke, landskappe, historiese en artistieke intertekste ’n besondere verruiming van Johl se palet as digter gebring het. Alhoewel kennelik die produk van ’n akademiese digter, bevat Roulet vir die grootste gedeelte verse van ’n uitsonderlike poëtiese en emosionele integriteit.”

JC Kannemeyer het in Rapport van 12 Februarie 1995 nie baie vleiend oor Roulet geskryf nie: “By die lees van Johann Johl se Rouletmoes ek die elementêre ‘waarheid als een koe’ in ’n mens se ervaring van die literatuur weer in herinnering roep. Ons het hier te make met ’n besondere lywige bundel poësie wat vir sy boustof in ’n hoë mate steun op esoteriese verwysings na die geskiedenis, kuns en literatuur van Rusland, ’n wêreld waarvan die meeste Afrikaanse lesers – ten spyte van ons kennis van Tolstoi en Dostojewski – betreklik min weet. Vir die deursnee mens van sy potensiële leserskring skryf Johl dus ’n besonder moeilik kommunikatiewe tipe vers, iets waarmee ’n digter moet rekening hou indien hy sy vers wil laat praat. Daarby sal hy met sy woordkeuse en beelding moet tref indien hy wil hê dat sy leser die enorme navorsingswerk moet doen wat vir ’n vollediger begrip essensieel is.”

En dan het Kannemeyer sy bespreking afgesluit: “Vir my persoonlik kommunikeer Johl se bundel nie en spoor die intrinsieke gehalte van die verse my nie genoegsaam aan om die moeite van ’n lang stuk navorsing te onderneem nie.”

Op hierdie resensie van Roulet deur Kannemeyer het Bernard Odendaal in Rapport van 19 Februarie 1995 as volg gereageer: “Na my mening sou die resensent op veel meer afgekom het wat ‘tref’ indien hy met minder vooroordeel die bundel ter hand geneem het. Dit is ’n bundel met ’n epiese karakter, en soos dikwels in sodanige bundels is daar gedigte (en ander stukke teks) wat eintlik net hulle sin en poëtiese waarde kry binne die bundelgeheel. Dié ‘leemte’ word myns insiens egter oorskadu deur die individuele meriete van die gedigte, en deur die ontroerende totaalindruk wat die bundel maak.

“Dit verwoord ’n diep menslike ervaring, naamlik die verhaal van ’n man wat hom ná ’n traumatiese egskeiding – met gevolglike gevoelens van skuld, selftwyfel en selfverwyt – moet (her-)ontdek. Sy ontdekkingstog word geëggo deur sy kennismaking as Afrikaner met die eens vyandige en totaal andersoortiggeagte Rusland en sy inwoners, en vind plaas juis in die tyd dat sowel Suid-Afrika as Rusland ingrypende politieke en staatkundige omwentelinge ondergaan het. Dit groei dus uit tot poëtiese verkenning van die universeel menslike: ‘…tot ek uit die warreling van klank / kan uitstap, weet dat wat my bind aan tyd en plek / strek ver terug en lei ook (goddank) êrens heen’ (‘Paramnese’, p 112). Die heling, so word gesuggereer (afdeling 7), lê in die vermoë om weer lief te kry.

“Ek vind dit daarom gemeen van die resensent om Johl se verse af te maak as te intiem en impressionisties om ’n ‘grootse siening of ’n omvattende greep’ te kan bevat, en te impliseer dat dit verveel terwyl hy erken dat hy nie kans gesien het om hom oor die bundel in te span nie. Dit sou gepas gewees het as die resensent hom eerder daarvan weerhou het om oor die bundel te skryf.”

In 1999 het Jo Prins sy MA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal met sy tesis ’n Postmodernistiese lesing van Johann Johl se Roulet. Prins skryf dat Roulet met sy Russiese verwysing die leser in meer as een opsig insae gegee het in Johl se waagspel met die lewe en met skryf. “Ná die verskyning van Roulet is in resensies daarna verwys as die verhaal van ’n man wat homself ná ’n traumatiese persoonlike ervaring moet herontdek. Sentraal binne dié herontdekking staan die reismetafoor wat nie maar net metafoor bly nie, maar inderdaad aangewend word om al reisende ander wêrelde en ander ‘ekke’ te verken. (...) As die skrywer/reisiger van Roulet het Johl in so ’n mate die grense van genres en lande oorgesteek, dat die buitelyne (of die definieerbaarheid) begin vervaag het om sodoende ’n oorvloei van die een land of genre te bewerkstellig.

“’n Mens sou kon sê dat dié opheffing van grense in die outeur se ervaring van die werklikheid op dieselfde proses in die gemoed van die outeur dui, dit wil sê die opheffing van emosionele of psigiese grense wat verder die leser se aandag fokus op die ontstaan as ’t ware van ’n nuwe genre.”

AP Grové (Insig, Februarie 1995) het sy bespreking van Roulet afgesluit: “Kyk ’n mens terug op die bundel as geheel, is dit duidelik dat daar veel sorg aan die opset bestee is. Dis ’n intelligente, sinvolle opset met ’n magdom historiese en ander inligting wat die gedigte omraam en in ’n mate ook ondersteun.

“Die digter wil ’n saak uitmaak en die gevolg is dat sy bundel ’n oorlade, informatiewe indruk laat, dat die gedigte self meermale ’n informatiewe karakter kry, iets van ’n verslag word, wat beteken dat die taal nie genoegsaam ontgin word nie, maar eerder in die verskaffing van inligting moet dien.”

In haar huldeblyk ná Johl se afsterwe, skryf Joan Hambidge (Insig, Desember 1996): “Die bundel (Roulet) word opgedra aan die geliefdes hier en daar en in dié bundel vind ons onder die slim postmodernistiese spel onthullende liefdesgedigte. Dit is ’n bundel wat bewys dat dit wat ver van ’n mens lê, dikwels die naaste aan jou hart is. Een van die verruklikste gedigte in die bundel is ‘Walentin Serof: Meisie met perskes (1887)’ langs ’n afdruk van die skildery. ’n Deel daarvan lui:

Ure kyk ek terug na jou
jou ligpienk rok, jou oë
jou neus, jou hare, mond
en wens net soms dat jy
al groter was sodat ek
jou kon uitvra, jou gedig
kon hoor oor my wat eweneens
bly staar na jou, bly kyk
uit tralies van ’n raam
hier waar ek sit
by my lang silwer mes.”

In sy rubriek Verslangs het Jo Prins (Beeld, 26 Junie 2010) gaan kers opsteek by die bekende Johannesburgse kunstenaar Hannatjie van der Wat oor die redes hoekom Johann Johl hierdie skildery gekies het om ’n gedig oor te skryf. Hy het die gedig geskryf nadat hy in Rusland was. En dáár het hy ’n hele omkeer in sy persoonlike lewe ervaar.

Van der Wat was van mening dat Johann Johl voor dié gedig gaan staan het as ’n hartseer, eensame en terneergedrukte mens. “Die kontras tussen hom en die dogtertjie in die son was so groot. Hy projekteer sy seer op haar, die onderwerp en digter is albei alleen. Johl vind in dié gedig die fyn balans tussen onbewuste droomdenke en gekonstrueerde vers. Wat ook kenmerkend was van die gedigte in Gewalste woord.”

In werklikheid lyk dit of die meisie op die skildery (die kunstenaar se niggie) nie so teleurgesteld is soos die digter haar uitbeeld nie. Sy speel op ’n afwesige manier met die perskes en die digter vra haar of sy besef hoe dun die skil is. Hierop antwoord Van der Wat: “Hier praat hy van homself wat ook moontlik gekneus is en hy vergelyk homself met daardie perskes – buite mooi en binne ’n donker pit.”

In sy eie interpretasie (ook in Verslangs) het Prins self oor die gedig, “Walentin Serof: Meisie met perskes (1887)” (ook in Verslangs), bespiegel. Vir hom is hierdie gedig ’n belangrike deel in Roulet, veral binne die tema van die opheffing van grense, onder meer tussen woord en verf.

“Wat interessant is,” gaan Prins voort, “is die idee dat nie net die outeur na die meisie sit en kyk nie, maar sy kyk (en skryf) ook terug. Dis amper asof daar ’n osmose is wat die outeur en leser déúr die prosesse van spieëlbeeld en ewebeeld neem tot op die punt waar die verskillende wêrelde so inmekaar vloei dat die grens, die deurlaatbare wand van die doek, heeltemal verdwyn. (…)

“Die outeur se intieme houding en die maniere waarop hy die meisie aanspreek (byvoorbeeld ‘meisiekind’ en ‘kind’) dui waarskynlik op ’n groter betrokkenheid as net die gewone.

“In die laaste reëls van die tweede afdeling (die amper bybelse uitnodiging om te neem en te eet) word die vermoede van ’n intieme betrokkenheid bevestig wanneer die outeur dit stel: ‘dis van my liggaam, net soos jy’.”

Prins meen ook dat ’n mens onvermydelik dink aan Johann Johl se oudste dogter, Corné, oor wie hy geskryf het in Gewalste woord: “Die ingekeerdheid van die kind word beklemtoon waar sy daar sit met die silwer mes en die vier perskes – wat by haar gelos is deur dié wat haar ‘ook’ verlaat het. Maar nie net maak die outeur deel uit van die mense wat die kind verlaat het nie, hý self is ook in haar greep.

“Te midde van die onskuld van ‘perskedons’ en ’n naderende onvermydelike afstand doen van juis dié onskuld, trap die outeur klei met ’n eie interne konflik wat hy brand om eendag ook met háár te deel. Net soos ’n pa kan, kyk hy ure na haar. (…)

“En nou, jare ná Johl se dood, wonder ’n mens hóé sy kind se vers oor haar pa die wand sou oorgesteek het. En of hy dalk nou ’n heel ander skildery sou gekies het om dié gesprek mee voort te sit.”

Johann en Rika is intussen geskei. Op 16 November 1996, ongeveer ’n maand voor sy 45ste verjaardag, is Johann in Johannesburg oorlede nadat hy die laaste paar weke van sy lewe ernstig siek was. Hy is op 4 September 1996 in die Park Lane-kliniek in Johannesburg opgeneem met beroerte-simptome en longinfeksie. Dit het eers later bekend geword dat hy MIV-positief was en vigs ontwikkel het. Op 21 Oktober is hy in ’n hospice vir VIGS-pasiënte aan die Wes-Rand opgeneem. Hy is deurentyd deur familie, vriende en kollegas bygestaan. Hy word oorleef deur sy twee dogters, Corné en Gheta. (Volksblad, 22 November 1996)

In sy tweede bundel, Roulet, verwys Johann na “daardie vonnis wat jou lewend hou / om dag vir dag te sterf ...” (Beeld, 25 November 1996)

Ronél Johl skryf in haar huldeblyk in Stilet van Maart 1997: “In sy laaste weke wou Johann Johl nie meer luister na die musiek en woorde wat voorheen sovéél vir hom beteken het nie – uiteindelik was dit net genoeg om net te wéés. Hy was nie bewus daarvan dat daardie ‘bokspringende balletjie’ besig was om sy finale lê te kry nie, maar selfs terwyl hy dit nog ontken het, was hy besig om uiteindelik aan dié lewe wat hom met tye so diep terneergedruk het, te ontglip ...

“Maar dit is nie die einde nie. As ’n mens terugkeer na die algemene reaksie op sy gedigte, is dit opvallend dat dit veral die gedigte oor sy twee kinders aan die einde van die eerste bundel is wat mense met hulle egtheid tref. Dit is in hierdie twee gedigte waar dit waarmee hy elders soveel probleme gehad het, wegval en sy woorde dit onverbloemd demonstreer: Hy het sy kinders liefgehad en in hulle leef die liefde voort ...”

Joan Hambidge skryf in Insig (Desember 1996): “Daar is sekere mense wat op die agtergrond bly, nie omdat hulle niks werd is nie, maar vanweë ’n geaardheid of instelling. Johann Johl was so ’n literator en mens. Beskeie, dog ’n faktor. Nooit ’n selfingenome persoon nie, maar altyd deeglik bewus van al die strominge in ons bedryf. Met sy fyn, fyn sintuig vir die ironie het hy dan ook ’n belangwekkende studie oor dié onderwerp geskryf en sy debuut as digter, Gewalste woord, is allerweë in ons kritiek geloof as poësie vir die fynproewer. Johann Johl se poësie was afgerond soos hy was. Tot in die laaste vesels toe versorg en afgewerk. Oor sy tweede bundel, Roulet, was die kritiek eweneens gunstig. (…)

“Ek wens vandag, by die skrywe van hierdie huldeblyk, dat ek weer met Johann kon praat. (...) ’n Mens kan egter nie ironies raak oor ’n vriend se dood nie. Ook nie oor jou gevoel dat jy wens dat daar nog ’n keer was wat ’n mens kon gesels het nie. Maar ’n mens is dankbaar vir afdrukke wat bestaan, vir die gedigte wat die toets van die lewe se roulet kan deurstaan.

Die lewe is soms somberder nog as die dood –
ek dink aan hulle wat oor selfmoord of roulette
kan skryf maar self bly leef, g’n selfervaarde wenk
kan nalaat, ook nie met genoegdoening dié dood
kan smaak: dit bly so onvervuld, die dood so uitgestel … (…)

“Dit was waar van Johann Johl. Min van ons het hom wérklik goed geken. Alles was altyd ironies verskuil en ook in sy poësie moes ’n mens dikwels hard soek na ’n direkte uiting. Oor ons verlies kan ek net Johl napraat:

Konstabel, ek kom rapporteer
met my relieke uit ’n droom
die diefstal van ’n dood.”

Publikasies

Publikasie

Ironie by Etienne Leroux

Publikasiedatum

1984

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: JH Johl

Literêre vorm

Doktorale tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Leroux-ABC

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1988

ISBN

  • 0620097337 (sb)
  • 0620133570 (sb)

Uitgewers

Krugersdorp: Sikelela-uitgewers

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ironie

Publikasiedatum

1988

ISBN

079862633X (sb)

Uitgewers

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Literêre studie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gewalste woord

Publikasiedatum

1990

ISBN

062402959X (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Roulet

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032949 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Johann Johl as redakteur

  • Onomheinde sin: huldigingsuitgawe vir FF Odendal / saam met FIJ van Rensburg en R Johl. Johannesburg: RAU, 1989

Johann Johl as samesteller

Artikels oor Johann Johl beskikbaar op die internet

Artikels deur Johann Johl beskikbaar op die internet

Johann Johl se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-04-20 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top