Johan Combrink-gedenklesing: Willem Fransman oor Afrikaans se ander baadjie

  • 0

Die Vriende van Afrikaans se Johan Combrink-gedenklesing het op 6 Februarie 2014 in Stellenbosch plaasgevind. Die sprekers Christa Prinsloo, Eldridge Jason en Willem Fransman van Son-redaksie het oor die tema  “Afrikaans se ander baadjie” gesels. Willem Fransman deel sy gedagtes van dié aand met LitNet.

Uit die passie van ons Heer (Avondmaal)
WEG Louw

Daar was ’n stilte in die oppersaal
Toe hy met sterk verhewe hand hom draai
en sê: “Die man wat My vannag verraai,
sit saam met My aan hierdie Avondmaal …”

In twyfel het hul daardie woord herhaal
en wis nie dat hul voor die hanekraai
soos blare van ’n boom van hom sou waai …
Maar één was doodsbleek in die lampestraal!

Toe het Hy brood geneem en God gedank,
dit met die hand gebreek en dit geseën:
die beker het Hy boordevol gegooi

met wyn wat dartel was en vonkelrooi
maar hooggehou, was in geen hand voorheen
ooit wyn so rooi en aardse brood so blank!

Toe ek ’n kind was, was die letterkunde so wit soos die nagmaalsbrood in die kerk en in WEG Louw se gedig “Avondmaal”.

Wit skrywers, wit digters, wit akteurs, wit akteurs wat swart gegrimeer was om swart of bruin rolle te vertolk. Dié van julle met lang geheues sal nog onthou dat Pieter Hauptfleisch swart gegrimeer was om Tingtong in die film-weergawe van Die Wildtemmer en Seun van die Wildtemmer (1973) te speel.

Dit was egter nie ’n nuwigheid nie … nee. Wie sal vergeet dat die wit akteur Glynn Day se gesig en hande swart gegrimeer was sodat hy Outa in Athol Fugard se verhoogdrama Boesman en Lena in 1969 kon vertolk. Akteurs van kleur was nie op dieselfde verhoog as wit akteurs toegelaat nie.

Ek was net standerd 3, maar vir my as seun het dit nie reg gelyk nie, maar aan die ander kant, watter kind het apartheid in sy volheid verstaan!

In standerd 6 maak ek kontak met As die son ondergaan van SV Petersen (reeds in 1945 geskryf). Dis die verhaal van ’n skugter jongman, Jan Volkwyn, wat die omgewing van sy jeug verlaat en na Kaapstad gaan waar hy, as gevolg van die verleiding van drank en seks, afgetakel word totdat hy aan die einde terugkeer na die veiligheid van sy plattelandse bestaan.

Maar in daardie beskeie boekie lees ek ’n taal wat ons nié in die klaskamer praat nie … sien ek ’n ander baadjie van Afrikaans.

Toegegee dat die spel en skryfwyse van woorde soos ons dit vandag ken, nog maar snaaks op die oog val ...  

Kassiem is ernstig “Djy wiet, Salie, ’n mens moenie soema die bloeming boere hulle wy gie nie. Kyk, hulle’t ’n spesjil seksjin van die trein vi’ witttes … en een ou lousie kerriets vi’ die sou-called ’Non-Jorripiens’. Wel, I-mien-toe-sy, Non Jorripiens betieken simplie ewwerie Diek-Tom-en Herrie wat nie wit is nie.”

Ek raak daar en dan verlief op die skrywer en sy skryfwerk.

In daardie tyd leer ek ook vir Lennie Koza ken wat by die Parow-munisipaliteit se “rent office” in Marigoldstraat in Tiervlei gewerk het. Ons vind uit dat hy ’n skrywer is wat in Kaaps dig en skryf. Ons gaan betaal die huishuur nét by hom sodat ons kan hoor hoe ’n regte egte skrywer uit ons eie omgewing praat!

Weer raak ek verlief – maar dié keer op ’n Taal – ’n Taal wat net ons in die townships praat.

In my standerd 8-jaar maak ek kennis met Adam Small se werk.

Broadway:
A-town, B-town, B-town, C-town, C-town, D-town … hie kom ôs … hie kom ôs … hie kom ôs an …

Toe weet ek: Dit is hoe ek wil skryf. Dit is die ander baadjie van Afrikaans wat ek wil aantrek! Dis hoe ek wil skryf – Kaaps en in geen ander taal!

En ’n jaar of wat later maak ek ook kennis met die skryfwerk van Peter Snyders. Hierdie kort, skamerige man met die langerige hare maak selfs ’n groter impak op my.

Waar Small die sosio-ekonomiese en maatskaplike euwels van die dag in sy skryfwerk aanspreek, kom Snyders met ’n meer menslike gesig vorendag. Hy raak die spreekbuis van die man op straat wat sy baadjie na die wind draai – selfs vir sy eie vriende.

Die gesteelde TV

En tussen Small en Snyders vind ek my digtersbaadjie, en ek sny die lappie mooi en gee dit ’n Cape Flêts kleur.

Ek wil

Ek willie fêncy poetry skryffie
oekie special expressions gebrykie
net skrywe in ôse taal
soes ôse mense ’it praat

Roep ’it wat djy wil, but ôs call’it
streetpoetry en ek sê soema:
straatpraat of Township Afrikaans

Ek wil skryf
van ôse feelings
van ôse fears
van ôse joys
van ôse sadness
van ôse frustrations
van ôse ambitions
in ôse Township Afrikaans

Ek wil’t skryf
vi ôse oue’s
vi ôse sust’s en broe’s
vi ôse kinnes
vi ôse bra’se
vi ôse communities
oek vi ôse Non Black-vrinne
soelat ammal my kan verstaan
en ’it kan enjoy

Soe, as djy nie ôse Taal ve’staan nie,
en djy djou upstairs wil hou
moet djou grênd Ôffikaans:
dan sê ôs poelitely:
Vra net die meaning van ’n wid
Soe nie dan tatta djy an,
but moetie vi’ ôs ko’ djudge ’ie
’cause ô skryf Afrikaans soes
ôs dit innie Townships praat!

Maar daar is tog die versugting van mense, selfs bruin intellektueles wat waarsku – in die woorde van Peter Snyders:

Of hoe

Moetie rai gammataal gebrykie
dit issie mooi nie:
dit deghreid die coloured mense
of hoe?

Wat traai djy om ’n coloured culture te create
of dink djy is snaaks om soe te skryf
of hoe?

Traai om ôs lieweste op te lig
ôs praat mossie soe nie,
Of hoe?

Maar ek, ek weet dat dit belangrik is dat ’n skrywer sy eie stem moet vind. En my skrywerstem, my digterstem, sal ’n Kaapse baadjie dra – finish en klaar!

Om daardie rede is al my radiodramas, op twee na, in Kaaps geskryf. Dit was ’n bewustelike besluit wat ek geneem het. ’n Besluit wat maklik kon geboemerang het.

Joernaliste, rubriekskrywers en ook skrywers moet daarteen waak om hul gemeenskappe net in een taalhoek, in ons geval die Standaardafrikaans-hoek, te verf. Afrikaans het vele ander, selfs veelkleurige, baadjies wat net so goed is, en wat met net soveel trots gedra moet word.

Maar saam met dit kom ’n sterk waarskuwing: almal wat Kaaps praat, is nie noodwendig ongeskoold nie. Die deursnee bruin mens is drietalig: Afrikaans, Engels (in ’n mindere mate) en Kaaps. Daar is gegradueerdes wat met bruin kollegas Kaaps praat. Kom ’n wit kollega die kantoor binne, sal daardieselfde kollegas skielik oorslaan na ’n Afrikaans wat hul kollega verstaan en kan saampraat.

Skrywers moet hul lesers as veelkantige, veelsydige wesens sien. Nie almal is ongeletterd, funksioneel geletterd nie. Gegradueerdes lees selfs die Son! Kortom, die skrywer of joernalis moet nooit die leser se intelligensie onderskat nie. Soos jou manlike lesers ’n skop-skiet-en-donder-verhaal soek, soek die vrouens soms ’n sagter vorm van kreatiewe vermaak soos ’n “they-lived-happily-ever”-einde.

Gedurende die tweede week van die skooljaar is ek besig met die WoW- (Woorde Open Wêrelde-) projek en ek sien weer die ander baadjie van Afrikaans by bruin skole. Ek doen met matrieks Die Krismis van Map Jacobs van Adam Small, veral die greep waar Map vergifnis van sy misdaad by die Here afsmeek.

        (Greep van ongeveer 7 minute word gevoelvol voorgedra.)

Komaan, lede van die Vriende van Afrikaans, skrywers, en elkeen hier teenwoordig. Kom ons gebruik dieselfde energie wat ons aan die dag gelê het om apartheid te beveg en ons raak kollektief betrokke om ook Afrikaans se ander baadjie af te stof en te bevorder.

Johan Combrink het vir ons by die Afrikaanse Skrywersvereniging ’n ander baadjie van die Afrikaner en Afrikaans gewys.

Daar is ’n ou gesegde: “So lank daar jagters is, sal die verhale van leeus deur jagters vertel word.”  Dit het tyd geword dat ons, die leeus, ons eie jagtersbaadjies aantrek en ons sy eie stories begin skryf.

Lees ook Eldridge Jason se lesing.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top