Johan Combrink-gedenklesing: Raakspraak en wraakspraak

  • 1

Martie Retief-Meiring, Kabous Meiring en Saartjie Botha

Foto: Izak de Vries

Sosiale media is die mees demokratiese ding wat kon gebeur het met die mens en sy denke, maar dit bied ook ’n teelaarde vir boendoehowe.

Dit was die strekking van ’n gesprek tussen die veteraanjoernalis Martie Retief-Meiring en haar ewe bekende dogter, die TV-aanbieder Kabous Meiring tydens vanjaar se Johan Combrink-gedenklesing in Stellenbosch. Die Combrink-gedenklesing word jaarliks aangebied deur die Vriende van Afrikaans.

Die tema van die gesprek was wraakspraak en die gevolge daarvan in ’n tyd van dinamiese verandering, en ook hoe Afrikaans geraak word as een van die emosionele brandpunte op ons sosiale wraakspraak-landskap.

Ma en dogter het ’n tweegesprek gevoer oor ’n paar brandpunte in die diskoers wat dikwels op sosiale media bespreek word. Van die sake waaroor hulle gepraat en soms skerp van mekaar verskil het, was kwessies soos die rol van Afrikaans, die onderwys, die omstrede blackface-voorvalle wat dikwels die nuus haal en die onlangse #Me Too-veldtog wat wêreldwyd opslae gemaak het op sosiale media.

Albei die sprekers was dit eens dat seksuele teistering ’n onding is wat uitgeroei moet word en dat sekspeste aan die kaak gestel moet word.

Martie Retief-Meiring

Foto: Izak de Vries

Hulle het egter gewaarsku teen die tropmentaliteit wat dikwels op sosiale media voorkom. Martie het gesê die #Me Too-veldtog is ’n sprekende voorbeeld hoe ’n saak wat daarop gemik was om vroue te bemagtig, kan handuit ruk. Mense wat dit nie verdien nie is ongenuanseerd beledig en vervloek. Dit kweek ’n tipe kuddementaliteit in die kuberruim waar feite nie meer saak maak nie en die deelnemers aan die gesprek hulle glad nie meer steur aan die besonderhede van elke geval nie.

Kabous het by haar aangesluit en gesê die kuberwêreld is vol hekwagters wat nie onderskeid tref tussen werklike oortredings en onskuldige gedrag nie. Hulle stel nie belang om seker te maak wat was die spesifieke oortreding of wie het wat gedoen nie. “Jy is óf die een óf die ander, óf dom óf slim, óf reg óf verkeerd, óf ’n feminis óf ’n sekspes, óf ’n rassis óf ’n liberalis ...” Sy sê stereotipering is aan die orde van die dag in sulke gesprekke en die kontra-stemme kry die wind van voor.

Martie het gesê sy het dit nie teen robuuste debat op sosiale media nie, maar soms word sake so skeef getrek dat die waarheid daaronder ly.

Sy het ondermeer verwys na die sogenaamde blackface-episode ’n jaar of wat gelede op Stellenbosch toe een van die studente, Poekie Briedenhann en haar vriendin op sosiale media gekruisig is oor ’n doodonskuldige voorval wat niks te make gehad het met die vernederende blackfacing nie. Die “belaglikheid” van hoe ’n instituut soos die Universiteit Stellenbosch die saak hanteer het terwyl die twee studente onder wraakspraak moes deurloop het haar verstom.  “Waarom die onmiddellike veroordeling sonder om eers vas te stel wat die feite is?” het sy gevra.

Kabous Meiring

Foto: Izak de Vries

Haar dogter Kabous het ook gevra dat daar onderskeid getref moet word tussen optredes wat ooglopend rassisties is en onskuldige pret wat niks te doen het met rassisme nie. “Almal het die gesigte raakgesien wat pers was en nie eers swart nie, maar niemand het eers die daggazol op die gewraakte foto opgemerk of iets dáároor gesê nie.”

Sy beskou haarself as liberaaldenkend, maar sê sy kan nie glo hoe dit gebeur het dat linkse denke soms so wreed kan raak in die kuberwêreld dat mense geen geduld meer met mekaar het nie.

Saartjie Botha

Foto: Izak de Vries

Die Woordfees-direkteur Saartjie Botha wat die gesprek gelei het, het vertel hoe iets onskuldig maklik in ’n storm kan ontaard. Sy het vertel van nuwe baniere wat KykNET in Stellenbosch aangebring het vir die Woordfees met drie K’s op ’n wit agtergrond. Daar was onmiddellik mense wat dit verbind het met rassisme en ekstremisme omdat dit hulle laat dink het aan die berugte Ku Klux Klan in Amerika. Sy sê dit was uiteraard hoegenaamd nooit die bedoeling nie, maar daar is besluit om liewer die vlae af te haal en met ander vlae te vervang.

Volgens Martie is dit belaglik. Sy sê sy het die drie K’s self gesien en begryp nie die bohaai nie. Waarom het dit nou so verskriklike letter geword? Toe sy by die liberaalgesinde Vrye Weekblad gewerk het, het hulle al besef die twee letters wat die beste leesbaar is op ’n plakkaat is die letters K en A.

Al die sprekers was dit eens oor die belangrikheid van Afrikaans. Hulle is bekommerd oor die feit dat mense dink Afrikaans sal nie daaronder ly as dit nie meer ’n akademiese taal is nie.

Martie het die verloop van die taaldebat by die Universiteit Stellenbosch as tragies bestempel. “Wat sal word van die taal as jy dit tersiêr vernietig? Is ons besig om onsself te vernietig?" wou sy weet. Sy sê daar moet liewer tyd en energie spandeer word om die ander nege inheemse tale te help ontwikkel as om Afrikaans af te skaal.

Kabous stem saam oor die belangrikheid van Afrikaans, maar sê dit maak haar ongemaklik wanneer wit mense namens bruin mense oor Afrikaans praat. Haar ma het volgehou dat bruin mense in die Kaap ook daaronder ly as Afrikaans in die slag bly en sê dit is niks anders as kultuurverkragting nie.

Willa Boezak

Foto: Izak de Vries

Die gesprek is op ’n ligte noot afgesluit toe Willa Boezak wat ook in die gehoor was vertel het hoe belangrik dit is dat ons ook saam vir mekaar kan lag. “Is ons nie dalk besig om die gawe van lag te verloor en ’n humorlose nasie te word nie?” wou hy weet.

Boezak sê dis al so erg dat hy nie eers meer van "hotnotsvis" wil praat nie, maar liewer van "histories agtergeblewe seekos".

Chareldine van der Merwe ontvang die gaste

Jean Oosthuizen en Naomi Bruwer

Foto: Izak de Vries

Deidre Le Hanie

Foto: Izak de Vries

'n Aanhaling deur Margaret Atwood waarmee Kabous Meiring die gesprek geopen het.

Foto: Izak de Vries

Amanda de Stadler vertel van die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek.

Foto: Izak de Vries

Carel Jansen van die Rijksuniversiteit Groningen

Foto: Izak de Vries

Chareldine van der Merwe het die bedankings gedoen en 'n geskenk aan Amanda de Stadler, wat later vanjaar uittree, oorhandig.

Foto: Izak de Vries

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top