JK Rowling maak my skrik

  • 0

Ek kan toor en dit maak my bang. Ek het nooit eens lesse geneem nie. Toor is nie boos nie, dis net slegte maniere. Almal toor, veral kapitaliste, magnate en sakereuse. Toor in sy kruuste vorm is niks anders as manipulasie nie: om die hef in die hand te kry en ander na jou pype te laat dans. Om mag in pag te hê. Om jou wil af te dwing en jou bonkige goue ring onder almal se neuse te vryf.

Van kleins af toor ek nou en dan per ongeluk. Lê ek snags in die bed met toegeknypte oë en wens die katterige cool meisie wat my spot omdat ek nie my beenhare skeer nie en pouses alleen op die muurtjie sit en lees, kry ’n pitsweer. Die volgende dag kom sy skool toe, weliswaar nie met ’n pitsweer nie, maar met ’n reuse blinde puisie op die ken – toor werk nooit presies uit nie. As kind besef ek ek is verveeld met my Barbie-pop se spitstieties en tandepasta-glimlag. Op die plek gaan pleeg sy selfmoord deur van die vensterbank af in die toilet te duik.

Om te kan toor laat my nie magtig voel nie, dit laat my hulpeloos voel, buite beheer soos ’n wegholwiel.

Hoe later hoe kwater. Ek werk eenkeer in ’n vriendin se maatskappy toe sy my inroep en sonder seremonie afdank. Toe ek by haar kantoor uitstap, glimlag ek, maar ’n ysterdeur in my hart klap toe en ek weet: ons is nie meer vriende nie. Later die aand stuur sy vir my ’n sms om te sê sy is heeltemal uitgefreak: toe sy by die huis kom, het ’n prent wat ek eenkeer vir haar gegee het, van die muur afgeval, die glas in skerwe. Toe ek eenmaal so kwaad word vir iemand dat ek duister gedagtes oor hom sit en dink, kry ek ’n oproep dat hy ’n hartaanval gehad het. Jammer, ek sal nie weer nie!

Magiese realisme verwys na prosa, dikwels uit Latyns-Amerika of die sogenaamde Derde Wêreld, wat magiese of fantastiese elemente by realiteit inklits. Ek lees skrywers soos Jorge Luis Borges, Gabriel Garcia Marquez, Isabel Allende, Laura Esquivel, Jeanette Winterson, Patrick Süsskind, Toni Morrison, Alice Hoffman, Isaac Bashevis Singer, Jonathan Safran Foer, Haruki  Murakami, Joanne Harris, Ben Okri en ons eie Etienne van Heerden en beskou hul blik op die werklikheid nie as magies nie, bloot as realisties. Dis my realiteit: foto’s wat van die muur afval wanneer die onderwerp vir my kwaad is, bier wat skuimend ontplof wanneer ek ontsteld is, waterpype wat bars wanneer ek my trane inhou. ’n Babavoël wat hom te pletter val uit ’n nes wanneer my verhouding op die rotse loop. Magiese realisme is my werklikheid. Woorde skep en opgekropte gevoelens manifesteer dramaties.

Die mens by wie ek die heel meeste geleer het oor skryf, is Jeanne Goosen. Sy reken die sigeuners het haar gesteel toe sy klein was en haar geleer om te toor. Sy glo om te skryf is soos om te droom wanneer jy wakker is.

In een van my gunstelingboeke, Paul Zindel se Pardon me, you’re stepping on my eyeball, skryf die jong protagonis op ’n muur: "Reality is a crutch for those who can’t face science fiction."

Ek vat nie graag my ateïstevriende in die gesig nie, maar om in die onsigbare te glo was vir my nog altyd so onwillekeurig soos asemhaal; dis ongeloof en gesonde twyfel wat ek sukkel om bymekaar te skraap. Ek is liggelowig en vreet alles vir soetkoek op, tot tien teenstrydige dogmas voor ontbyt. Wat ek nie onder die knie kan kry nie, is reëls en voorskrifte.

Ek kan toor en dis nie altyd boos nie. Soms is dit gerieflik. As ek begin wonder oor ’n onderwerp, vlieg boeke oor die presiese onderwerp van rakke af tot in my hand. Skakel ek die radio aan, is daar juis ’n gesprek oor die spesifieke onderwerp aan die gang. Voor my selfoon lui, weet ek dat dit gaan lui (ek word soms wakker, ergerlik, ’n paar sekondes voor die oproep) en wie die beller is. ’n Skeptiese vriendin verduidelik nou die dag vir my dat ek bloot hoogs intuïtief is, ingestel op subtiele tekens wat ek onderbewustelik prosesseer. Dis seker waar; ek loop rond soos ’n sif, die ene oop sweetgaatjies en orente, vibrerende armhare. Ek het soveel stopsels in my tande dat ek selfs kortgolf-radiostasies in my kop opvang. Maar daar is meer dinge in die hemel en op die aarde as wat ons filosofie kan wegverduidelik.

En moenie met my sukkel nie – onthou, dis die onbeholpe, bysiende bleeksiele wat die dodelikste toor: dink maar aan Liewe Heksie en die Potter-seun. En blinde puisies het geen ouderdomsperk nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top