Vir Stemme, LitNet se dialoogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV, is tien dramaturge genader om kort dialoë te skryf. Twintig akteurs is gevra om daarin te speel en tien regisseurs het elkeen ’n stuk afgerond.
In Brian Fredericks se dialoog Jirre, waar’s my kind? vertolk Charlene le Roux en Curtley Pitt die rolle. Andre Samuels was in die regisseurstoel.
Jirre, waar’s my kind?
Brian Fredericks
Dis ’n dialoog tussen ’n ma en haar jongste seun, Ashley. Haar oudste seun, Warren, wat gestremd is, word op ’n Maandag ontvoer. Warren het sy eie kat, Sammy, wat oral saam met hom loop. Die dag van Warren se ontvoering kom Sammy alleen huis toe. Die ma jaag vir Sammy weg. Die ma en Warren het elke Sondagaand die woongebied se katte gaan voer. Die eerste Sondagaand na Warren se verdwyning gaan voer sy en Ashley die katte. Sy hoop om vir Warren by die katte te kry.
Ashley: My ma is lief vir twee goed: my oudste broer Warren en die hele plek se katte. Ek lê nagte wakker en vra myself waar pas ek in. Dis Warren dié kant toe, Warren daai kant toe. Warren hou nie van wit brood nie, nou moet almal bruin brood eet. Ek moet elke middag by die huis wees wanneer die Oasis-taxi vir Warren kom aflaai. Ek weet my broer is nie normal nie, maar is dit verkeerd van my om ’n social life te wil hê?
Ma: Ag Jirre! Ashley bly kerm. Die Jirre het vir my geseën met ’n spesiale kind. Warren sal nie kan trou of kinders maak nie. Maar daai’s my kind al kan hy nie ordentlik praat nie. My liefde vir my kinnes loep diep … al twee my kinnes.
Ashley: Warren is weg. Verdwyn. Die huis is vir ses dae so stil soos ’n begraafplaas. My ma se lyf is hier, maar haar kop soek na Warren. Ek mis ook my broer. Die mense sê vir die konstabel ’n vreemde man het vir Warren opgelaai in ’n blou Toyota. Warren ken nie altyd die verskil tussen ’n vreemde en ’n bekende persoon nie.
Ma: Elke Sondagaand dan voer ek en Warren die katte langs die kerk. Dis straatkatte, huiskatte en wildekatte. Warren se eie kat se naam was Sammy. Sammy het sonder Warren hier aangekom en toe jaag ek hom weg.
Die dag toe Warren verdwyn sit Ashley en sy girlfriend, Vanessa, hier in die voorkamer. Ek’s besig met wasgoed in die badkamer. Warren weet nie van beter nie en hy’t nou glo aan Vanessa se boude gevat.
“Shame,” sê Vanessa, “Was jou broer so gebore of was hy in ’n ongeluk?”
Toe strip my moer. Jy lag nie vir my kind nie. Ons soek ook nie jou jammerte nie. Ek’s nie ’n onbeskofte vrou nie, maar toe smyt ek vir Vanessa hier uit.
Ashley: Ek’s nie skaam vir Warren nie. Ek lieg nie. Toe my ma skel, toe loep ek en Vanessa. Warren was nog hier in die straat saam met Sammy.
Ma: Ek soek net closure. Waar’s my kind? Wonder of hy lewe of iets het om te eet. Ek het Sondagaand die katte gaan voer en gehoep ek gaan vir Warren daar kry. Ashley loep saam my, maar die katte was alleen langs die kerk. Hulle miaau en spin en hulle sterte staan regop in die lug. Bly om my te sien.
Ashley: My ma gee vir almal die katte brood, piesangs en gekookte hoender. Toe kom Sammy in die straat af en kyk my ma stip aan met plat ore. My ma se hele gesig en oë verander. Toe haal sy chocolate, hoenderbene en hoendervel uit en hou haar palm na Sammy uit.
“Mammie!” sê ek. “Daai goed gaan vir Sammy dood maak.”
My ma se hele lyf begin ruk. Sy val op haar knieë. Ek gaan nader om haar te troos. Ek voel ook haar pyn.
Ma: Jirre, waar’s my kind Warren?
**
Stemme is supported by the National Arts Council.
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar: