![]() |
Sêgoed van JFW Grosskopf “Ek het ’n renons aan gekunstelde of boekagtige Afrikaanse prosa. As oud-joernalis kan ek gerus bysê: of koerantagtige, as amptenaar: of kantoor-Afrikaans. As ons taal eg moet bly, en lewendig en groeikragtig, dan moet ons wat skrywe altyd weer met fyn en beskeie ore luister na die eie klanke van die suiwere Boerespraak.” (Voorwoord tot Die Leeumelker, 1942) “Hoe ouer ek word, hoe groter word my eerbied vir taal en vir woorde. Woorde is vir ons soos goud vir die goudsmid of diamant vir die slyper.” (Uit: Afrikaanse skrywers aan die woord. Saamgestel deur PJ Nienaber, p 152) “Ek glo dat die stemming en wese van ons land en landskap die Afrikaanse styl sal bepaal – soos dit die Griekse en die Germaanse styl bepaal het. Die wydheid en die hardheid – byna die wreedheid – van ons eie land, sy breedgestrekte lyne en haas ondraaglike helderte van lig, moet die stof lewer vir die stramien waarop elke digter in prosa of vers sy eieselwige patroon borduur. En Afrikaans alleen, hier gebore en geword, moet die geskiktheid daarvoor hê.” (Uit: Afrikaanse skrywers aan die woord. Saamgestel deur PJ Nienaber, p 153) |
Gebore en getoë
Johannes Friedrich Wilhelm Grosskopf is op 25 November 1885 in Bloemfontein gebore, waar sy vader sendeling van die Lutherse gemeente was. Sy moeder (gebore 1864, distrik Lydenburg) was die oudste dogter van eerwaarde H Grützner, wat in 1859 saam met A Merensky (vader van Hans Merensky) na Transvaal gestuur is as die eerste buitelandse sendelinge wat die Republiek in sy gebied laat arbei het.
JFW Grosskopf het sy skoolopleiding aan Grey-kollege in Bloemfontein gehad en was een van die leerlinge van die bekende dr Johannes Brill.
Hy het later vertel dat hy as twaalfjarige knapie op Bloemfontein van sy klasonderwyser in Engels Annandale’s concise dictionary as ’n prys ontvang het. Voorin het die onderwyser geskryf: “Knowledge is power. Thought is the well-spring of knowledge. Words are the vehicle of thought.” En die woorde het later in Grosskopf se lewe nog altyd ’n invloed op hom gehad.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was hy veertien jaar oud. Die intog in Maart 1900 van lord Roberts en sy troepe in Bloemfontein het ’n “diep en droewige” indruk op die jong kindergemoed van Grosskopf gelaat.
Verdere studie en werk
Begin 1902 is JFW Grosskopf na die Victoria-kollege op Stellenbosch, waar hy in 1904 sy BA met “honneurs” in moderne tale afgelê het, en twee jaar later het hy sy MA behaal. Hy was ’n jaar lank onderwyser in Nederlands en Duits aan die Diocesan-kollege in Rondebosch in Kaapstad. (Afrikaanse skrywers aan die woord)
Begin 1908 is hy met ’n Queen Victoria Scholarship van die ou Kaapse Universiteit na Europa en het hy in Berlyn, Leipzig en Wenen in die lettere gestudeer. Maar hy het veral in die regte en staatshuishoudkunde belang gestel en is later na Leiden, waar hy in 1913 in die Romeins-Hollandse Reg gepromoveer het. Hy het daarna nog twee semesters staatshuishoudkunde in Zürich gestudeer.
In 1909 tot 1910 was hy in Wenen, en daar is sy toneelbelangstelling aangewakker. Daar was die keiserlike Burghtheater en Hofoper met hulle hoë tradisie, deel van die volkslewe, het Grosskopf geskryf. “Vir jong offisiere en studente, afsonderlik, was daar ‘staanplekke’ net agter die parket, vanwaar jy alles uitstekend kon sien en hoor. Ek twyfel of dit daar een sjieling gekos het om wêreldberoemde kunstenaars te hoor.
“Aan die universiteit in Wene het ek ook ‘Dramaturgiese Oefeninge’ bygewoon (dit was eintlik gereelde kolleges) van professor Alexander von Weilen Weil, wat een-tyd aan die hoof van die Burgtheater gestaan het. In dié semester het hy dramas van Ibsen – een van die meesters – uit die gesigspunt van die toneel ontleed, nie van die letterkunde nie.”
Grosskopf het ook in Afrikaanse skrywers aan die woord vertel: “Dit is vir my vandag eintlik grappig dat ek met Bernard Shaw op die toneel deur middel van Nederlands en Duits kennis gemaak het. Op Dingaansdag 1909 het ek in Wene ‘Der Arzt am Scheideweg’ (‘Doctor’s dilemma’) gesien in die Deutsches Volkstheater. In Praag, waar ek ’n paar dae vertoef het nadat ek Wene verlaat het, het ek drie maande later ’n uitstekende opvoering (deur die geselskap van die Weense Burgtheater) gesien van Gustav Freytag se ‘Journalisten’, wat ’n veel dieper indruk gemaak het as ’n opvoering wat ek tevore al ergens bygewoon het. ’n Verafrikaansing van hierdie lewende ou stuk sou later my eerste dramatiese publikasie word.”
In April 1914 is Grosskopf terug na Suid-Afrika. In opdrag van die universiteit van Oxford moes hy soveel moontlik ongeskrewe Voortrekker-herinneringe soek en opskrywe. Hy het vertel: “Maandelank het ek veel verkeer gehad met manne en vroue wat omstreeks 1836–38, al was dit as kinders, aan die Groot Trek deelgeneem het. Dog toe het die historiese noodlot my in sy greep gekry. Vinnig en deeglik is die koffiehuis- en teater-agtergrond van Europa uitgevrywe.
“Toe ons eie Vrystaatse held, Christiaan de Wet, en die Transvaalse Christiaan Beyers (wat ek albei persoonlik geken het) in verset gekom het teen die regeringsbeleid, het ek, ofskoon sonder groot optimisme, dit my plig geag om by hulle te staan. So het ek ook ’n ‘rebel’ geword, saam met Jacques Pienaar en Jopie Fourie. Na ses avontuurlike en gejaagde weke (ook letterlik geja) in die bosveld het ek nege maande gehad om tot besinking [sic] te kom in die gevangenis op Pretoria.
“Toe kon ek nooit weer regtig terugkeer tot ’n smaak in die effens oorryp reukie van baie van die letterkundige werke van die Europa van voor 1914 nie. Daardie eerste agtien maande ná die terugkoms in my eie land het my, byna soos ’n verraste ontdekkingsreisiger, ander mense, met ’n ander historiese en landskapsagtergrond, leer ken (of weer leer ken) en verstaan. Dit was ná ses indrukryke jare in die ou wêreld. ’n Besoek van verskeie maande (1922) aan die Boere-vestiging naby Kilimandjaro het my nog ’n helderder blik gegee op die baanbrekergrondslag van die Afrikaanse lewe en kultuurstyl – die geskiedkundige gietvorm waaruit, van 1652 af, alles gekom het wat eg en regtig Afrikaans was. As jy effens lus het om te skrywe, dan dring sulke indrukke en oortuigings tot uiting.”
Van Desember 1914 tot Augustus 1915 was hy in Pretoria in die gevangenis en is later met ’n geldboete ontslaan met die voorwaarde dat hy hom nooit weer met die regte of die politiek in Suid-Afrika mag bemoei nie.
In 1915 het Grosskopf tot die redaksie van Ons Vaderland in Pretoria toegetree en twee jaar later is hy as hoofredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein aangestel. In Bloemfontein moes hy hard werk, maar sy ou liefde vir die drama, “lank teëgehou, het weer uitgebars”.
“Reeds in Leiden, totdat die eerste doktoraal-eksamen die eerste eis gestel het, het ek eenmaal begin aan ’n Afrikaanse drama oor ’n effens patologiese jong Afrikaner wat uit Europa na sy land teruggekeer het; vyf of ses bladsye dialoog was al geskrywe. Nou, self koerantskrywer, wou ek die ou wens om Gustav Freytag se Journalisten vir ons eie land te bewerk, regtig uitvoer. Die koerantskrywers was egter nie ’n reëlregte vertaling nie. Ek moes selfs die konstruksie bietjie verander om by ons werklikheid aan te pas; dit was vir my ’n nuttige oefening in drama-opbou. Saam met DF Malherbe se vertaling Die skoonseun van Meneer Pourier (Augier-Sandeau) het dit in 1919 in die reeks ‘Die Burgerleeskring’ (Kaapstad) verskyn.”
In 1920 is hy na Stellenbosch as professor in staatshuishoudkunde. Hier het hy hom later hoofsaaklik op die landbou-ekonomie toegespits.
Begin 1935 het hy hoof van die afdeling ekonomie en markte in die Departement Landbou geword. Gedurende hierdie tyd was hy ook vir etlike jare die eerste voorsitter van die Mielieraad, die Koringraad en die Tabakbeheerraad. Hy het in 1945 uit hierdie amp getree en toe tegniese adviseur van sy ou afdeling en adjunkvoorsitter van die Nasionale Bemarkingsraad geword. Van 1935 tot 1945 was hy ereprofessor (honorêr) in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria.
In die 1930’s het hy in die Carnegie-kommissie gedien wat die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika ondersoek het. Sy verslag is in 1932 gepubliseer as Ekonomiese verslag: plattelandse verarming en plaasverlating.
In 1922 het JFW Grosskopf saam met Sangiro ’n paar maande in Oos-Afrika deurgebring; hul ervarings het Sangiro in Op safari beskryf. Tydens sy verlof in 1934 het hy Europa en die Verenigde State van Amerika besoek.
Hy was twee maal getroud – eers met Franki Neethling van Pretoria in 1916 wat in 1918 oorlede is en in 1925 met Cornelia Johanna Wagner, ’n boeredogter uit die distrik Humansdorp in die Oos-Kaap.
Met Grosskopf se sestigste verjaardag het MPO Burgers (Transvaler, 27 November 1945) in ’n huldeblyk gesê dat Grosskopf as dramaturg ’n unieke plek in ons letterkunde ingeneem het en dat daar etlike belangrike kenmerke in sy dramatiese werk waar te neem is:
- “Bewustheid van sy volk, ekonomies en kultureel. Aan die begin staan hy sterk onder die invloed van die groep naturalistiese dramaturge van die jare 1900–1910.
- Hy is daarby ook estetikus en skryf vir artistieke genot; hy verhef die stof en behandeling tot ’n estetiese vlak.
- Hy is die idealis, met agting vir die ware edelmoedige, die karakteradel van waardige mense.
- Die oog vir die tragiese: uitbeelding van ’n stukkie mense-noodlot in bondige vorm, alleen deur woord en wederwoord.
- Hegte bou van stukke.
- Humor wat kalm en menslik is en nooit plat nie.
- Sy taal is die taal van die volk en het die bekoring van die kragtige taaleie.
- Hy is eksperimenteerder, byvoorbeeld nog met die hoorspele.
- Selfkritiek – hy is nie gelukkig as kritici loof wat hy nie self goed vind nie.”
JFW Grosskopf is op 3 Julie 1948 in Pretoria oorlede. Hy is in die nuwe kerkhof Pretoria-Wes ter ruste gelê na ’n diens wat deur dr Wim Nicol in die NH of G Kerk, Pretoria-Oos, waargeneem is. By die graf het die skilder JH Pierneef treffende hulde gebring. Eerw O Papke van die Lutherse Kerk het die diens by die graf gelei.
Alhoewel Grosskopf dus ook op die gebied van ekonomie as skrywer werksaam was, het hy sy belangrikste bydrae as skeppende kunstenaar, kritikus en vertaler gelewer. As kunskenner het hy in 1945 ’n studie oor Hendrik Pierneef geskryf en as literêre kritikus het hy in Die Volksblad, Die Huisgenoot en De (Die) Volkstem enkele gevoelige resensies geskryf oor onder meer die publikasies van Leon Maré, DF Malherbe, CJ Langenhoven en Toon van den Heever, het JC Kannemeyer in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I (Pretoria: Academica, 1978) geskryf.
Grosskopf was van kleins af lief daarvoor om stories uit te dink. In ongeveer 1903 of 1904 het sy eerste verhaaltjie in druk verskyn in The South African News, en wel in Engels. In 1908 of 1909 het Jannie de Waal se maandblad, De Goede Hoop, ’n studenteverhaaltjie opgeneem getiteld “’n Snaakse briefwisseling”. In 1915 het die verhaal “Ongenooide gaste” in Ons moedertaal verskyn. Dit is in die gevangenis in Pretoria geskryf.
JFW Grosskopf het vroeg al in Afrikaans begin skryf. “In Desember 1909 al,” het hy vertel (Afrikaanse skrywers aan die woord. Saamgestel deur PJ Nienaber), “toe ek student in Wene was, het ek Balzac se meesterlike novelle (Une passion dans de désert) begin vertaal. Die sogenaamde Tweede Afrikaanse Taalbeweging het in my ’n lankal klaar bekeerde volgeling gehad. Kort voor my vertrek na Europa het ek in Desember 1907 die kongres van Kaapland se Afrikaanse taalverenigings in Kaapstad bygewoon en dit (naas ds Postma) as plaasvervangende afgevaardigde vir Steynsburg. Uit Pretoria het dr Klaas Hoogenhout en adv N de Wet gekom.
“Met jeugdige geesdrif het ek besluit om deur vertalings uit ander tale my eie Afrikaans te skool en te brei en te oefen. Moenie vergeet nie ons moes elkeen ons skryftaal vir onsself verower. En so het ek graag verse vertaal uit Engels, Duits en Frans, maar ook prosa. Ek het nog proewe van vertalings uit Jonathan Swift, Schopenhauer en onder andere ook Balzac se Une passion dans le désert (onder die titel Woestynliefde).”
Grosskopf se verhale (onder andere ook Woestynliefde) is in 1942 gebundel onder die titel Ou Leeumelker en ander vertellings. Hierdie vertellings handel oor die avonture op die jagveld, sy studentedae in Wenen en ander ervarings in Europa, sy deelname aan die rebellie en veral sy siening van situasies en mense. Kannemeyer (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I) het geskryf dat “hoewel hierdie vertellings plek-plek te wydlopig en amorf is, Grosskopf sy lesers by herhaling oortuig het deur sy liefdevolle oproep van ’n stukkie verlede en deur sy nugter, onopgesmukte hantering van die woord.”
Maar dit is met sy dramas dat hy bekendheid verwerf het en dit is interessant dat sy “voorarbeid” op hierdie gebied ook ’n vertaling was. Sy eerste werk was Die koerantskrywers (1919), ’n Afrikaanse verwerking van Gustav Freytag se Die journalisten. Die toneelstuk is dikwels met groot sukses opgevoer en het herhaalde drukke beleef.
In 1920 is ’n Esau: ’n Bosveld-drama in vier tonele gepubliseer en die verskyning daarvan was ’n groot gebeurtenis vir die Afrikaanse toneel – die beginpunt van ’n nuwe tydperk – en in baie opsigte kan Grosskopf, naas Leipoldt, beskou word as die grondlegger van ons drama. Oor ’n Esau het die skrywer vertel (PJ Nienaber: Afrikaanse skrywers aan die woord): “Die eerste gedagtes vir die drama het opgekom onder die indruk van die Opstand van 1914, en die daelikse kontak in die gevangenis in Pretoria met baie oom Bartels, maar die toneelstuk het gedurende die eerste paar maande van 1919 in Bloemfontein sy vaste vorm gekry.”
Terwyl Grosskopf in die tronk was, het hy die kans gekry om ’n beeld te kon vorm van die tragiese omstandighede van ou Transvaalse boere se probleme as gevolg van ’n onnatuurlike en gewelddadige ekonomiese en historiese omwenteling.
Grosskopf het verder vertel: “Die gedagte om die botsing dramaties in ’n broedertwis te laat uitkom, is gewek deur ’n preek wat dr Herman Fourie in 1915 in die Pretoriase tronk vir sy medegevangenes gehou het na aanleiding van die Bybelse geskiedenis van Esau en Jakob.
“In hierdie drama het oom Jakob hom aangepas by die veranderde ekonomiese toestand en ’n welgestelde boer geword. Sy broer, oom Bartel, het egter verarm, want hy wou nog soos die mense in die ou tyd boer toe grond en wild volop was.”
Vir Kannemeyer (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I) het Grosskopf met ’n Esau regstreeks by Oost se Ou Daniel aangesluit deurdat die Afrikaner se ontwrigting weens toestande wat verander het, deels as boustof vir die drama gedien het. ’n Esau het as agtergrond die Bosveld kort nadat die Vrede van Vereeniging gesluit is. Die belangrikste tema van hierdie drama is die konflik tussen die twee broers wat baie van mekaar verskil – veral as gevolg van die nuwe maatskaplike orde en die twee stelle lewenswaardes wat daarmee saamgaan.
In 1926 is drie eenbedrywe wat oorspronklik in Die Huisgenoot verskyn het, uitgegee, naamlik Die peswolk, Die spookhuis en In die wagkamer. In die wagkamer was dalk die beste stuk van die drie deur die smartkreet, die roue realisme en die tragiek, het PJ Nienaber geskryf. Dit is ook verwerk tot die eerste Afrikaanse klankrolprent Moedertjie, wat in 1931 in die Capitol-teater in Pretoria vertoon is en waarvoor Grosskopf in 1932 ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het.
As die tuig skawe: drama in vier bedrywe het in 1926 verskyn. Dit is deur baie as die beste drama tot op daardie tyd in Afrikaans beskou. Dit is saam met Drie eenbedrywe in 1926 met die Hertzogprys vir drama bekroon.
In ’n Esau is die maatskaplike problematiek reeds aanwesig, maar in As die tuig skawe vorm dit ’n veel groter bestanddeel. Hierin het Grosskopf – onder meer met die besondere soort prosadialoog waarmee hy, volgens die voorwoord, “die taal van sy karakters probeer weergee” – die nouste by die tradisie van die naturalistiese en burgerlike drama aansluit. Volgens Kannemeyer (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I) steek die stuk egter nie in die maatskaplike problematiek of in die blote tipering van ’n bepaalde soort mens vas nie.
“Die vroulike hoofkarakter, Krissie, ly byvoorbeeld nie uitsluitlik as gevolg van die maatskaplike toestande waarin sy moet lewe nie, maar ook as gevolg van haar persoonlike problematiek (die toestand van haar huwelik, haar onbegrip vir Gert en haar onverskillige optrede teenoor hom). Naas die fisieke armoede is daar dus ook sprake van geestelike armoede wat gaandeweg in die hooftema van die drama ontwikkel.
“Hoewel Grosskopf se gebruik van die noodlot en die wyse waarop hy die onthullingstegniek in As die tuig skawe toepas, dus nie as heeltemal geslaag beskou kan word nie, het hy met dié stuk vir ons betreklik vroeg in die Afrikaanse toneelliteratuur iets laat ervaar van die klassieke moira en die hoofkarakter wat deur middel van ’n geleidelike ontwikkeling in die dialoog tot ’n besef van haar foutiewe optrede gelei word,” skryf Kannemeyer.
In sy Aspekte van die Afrikaanse literatuur (1940) het FEJ Malherbe geskryf dat in As die tuig skawe Grosskopf die hoogtepunt bereik het van wat hy ons tot op daardie stadium gegee het. “Dit was een van die beste dramas in Afrikaans. Hy het daarin geslaag om iets van sielsarmoede te onthul in sterk gekonsentreerde huislike ellende, iets van die menslike verset teen die magte wat ons bepaal, en dit in enkele beweginge wat soms van intens dramatiese felheid is.”
Kannemeyer het in die eerste deel van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I as volg oor Legende en Padbrekers geskryf: “In Grosskopf se latere twee dramas van groter omvang, Legende (1942) en Padbrekers (1947) kon Grosskopf nie die peil van As die tuig skawe handhaaf nie. Alhoewel Legende, wat grotendeels op die lewe van Paul Kruger en die geskiedenis van die Afrikaner gebaseer is, in vyf eenhede verdeel is, toon dit geen ooreenkoms met die hegte konstruksies van die Griekse drama nie. Dit is eerder ’n kroniekspel wat meer epies as dramaties ontwikkel, met die hooffiguur, Karel Veldkamp, telkens as die bindende element.
“Padbrekers is die gedeeltelik sinnebeeldige verhaal van ’n volk wat onder ’n idealistiese leier teen die oormag in verset kom en in die krisisuur ’n eerbare dood bo onvoorwaardelike oorgawe verkies.
“In albei die pas genoemde dramas ontbreek die nodige spanning en karakterontwikkeling en is die realistiese en allegoriese vlakke nie bevredigend met mekaar verbind nie. Die gevolg is dat die spele ’n sekere tweeslagtigheid in hulle hele opset vertoon.”
Kannemeyer was verder die volgende mening toegedaan: “Grosskopf het deur sy toneelmatigheid, realistiese dialoog, dramatiese situasie en konfrontasies tussen karakters in ’n vroeë stadium ’n belangrike bydrae daartoe gelewer om die Afrikaanse toneelliteratuur van die futlose klug en historiese melodrama te laat wegswaai in ’n rigting wat meer moontlikhede bied. Met enkele van sy eenbedrywe en met As die tuig skawe kon hy die Afrikaanse leser en gehoor vir die eerste keer iets van die klassieke noodlotsidee laat ervaar. Al het hy vandag sy belangrikheid te danke hoofsaaklik aan die literêr-historiese plek wat hy beklee, kom die eer hom toe dat hy die eerste skrywer was wat die Griekse noodlotsgedagte in Afrikaans gebruik het en bereid was om op verskillende gebiede en met ’n verskeidenheid kategorieë te eksperimenteer.
“Onder die ouer dramaturge in Afrikaans was hy die hardnekkigste eksperimenteerder wat hom op verskillende terreine begewe het.
“Deur die sorgvuldige en uitvoerige toneelaanduidings in sy dramas gee hy nie alleen blyke van ’n deeglike kennis van die realisering van ’n teks op die verhoog nie, maar kon hy ook aan opkomende toneelaktiwiteite daadwerklike leiding gee, selfs al voel ’n mens dit by die lees meermale as hinderlik aan.”
Sy kennis van die dramateorie blyk ook uit die voorwoorde wat hy tot sy stukke geskryf het. Só het hy in die voorwoord tot Die klipdolk geskryf: “By lesers sowel as skrywers het die kortverhaal alhoemeer in die guns gekom. Vir die kort-spel het Afrikaanse lesers egter, so lyk dit ten minste, nog nie so reg ’n smaak ontwikkel nie. En tog is daar menslike motiewe wat in die kort-spel (ook vir ’n leser) met aangrypender raakheid en beknoptheid uitgebeeld kan word as wat in die meer omstandig beskrywende en vertellende prosa moontlik is.” (Transvaler, 27 November 1945)
Een van die kortspele wat in Die klipdolk en ander kort-spele (1941) opgeneem is, is Oorlog is oorlog. In Ons Eie Boek van Desember 1944 het Jaco van der Merwe dit as ’n “sterk fragment teen die agtergrond van die Engelse oorlog” beskryf. “Dit besit volgehoue dramatiese spanning en goeie speelmomente, maar myns insiens is die fabel, die raamwerk waarop Grosskopf sy persone borduur het, té opsetlik behendig uitgewerk.”
En in Huisgenoot van Augustus 1941 het HA Mulder geskryf dat Oorlog is oorlog uitstekend is: “Hier is geen woord te veel nie en werklikheid en idee vorm ’n ononderskeibare eenheid. Hoe gelaai met dramatiese betekenis is byvoorbeeld die simpele gebaar waarmee Rachel ‘byna willoos’ die mes na die kas se rand skuiwe! Rachel bly die sterk vrou of, sou ’n mens amper sê, sy ryp in die paar oomblikke tot vrou.”
’n Hele aantal ander wetenskaplike werke benewens sy verslag vir die Carnegie-kommissie het ook uit Grosskopf se pen verskyn, onder andere Boerdery as nering (1937), Koöperasie in Suid-Afrika (1923), The position of the native population in the economic system in South Africa (1933), The economic aspects of farming (1936), The economic aspects of our agricultural industry (1938), Outlook on the land (1929), Economic views on the agricultural industry (1938) en Agro-ekonomiese opname van die Unie van Suid-Afrika (1942).
Publikasies:
Publikasie |
’n Esau: ’n Bosveld-drama in vier tonele |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Bloemfontein: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
As die tuig skawe: drama in vier bedrywe |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 1926 saam met DF Malherbe en AG Visser |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
In die wagkamer: ’n noodlotstuk: ’n eenbedryf |
Publikasiedatum |
1926 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Eenbedryf |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die spookhuis: ’n kermisklug: ’n eenbedryf |
Publikasiedatum |
1926 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Eenbedryf |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Drie een-bedrywe vir een aand |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Eenbedryf |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 1926 saam met DF Malherbe en AG Visser |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die armblankevraagstuk in Suid-Afrika. Deel I: Ekonomiese verslag: Plattelandsverarming en plaasverlating |
Publikasiedatum |
1932 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Stellenbosch: Pro Ecclesia |
Literêre vorm |
Kultuurgeskiedenis |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die klipdolk en ander kort-spele |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Ou Leeumelker en ander vertellings |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Legende: drama uit ons volksverlede |
Publikasiedatum |
1942 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die goeie hoop: toneelstuk in een bedryf |
Publikasiedatum |
1945 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Eenbedryf |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Hendrik Pierneef: die man en sy werk: ’n waardering |
Publikasiedatum |
1945 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die daad van Koedri en twee ander kort toneelstukke |
Publikasiedatum |
1946 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Eenbedryf |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Hendrik Pierneef: the man and his work |
Publikasiedatum |
1947 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Padbrekers: ’n mense-tragedie |
Publikasiedatum |
1947 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
JFW Grosskopf as samesteller:
- Die Voortrekker: Afrikaanse leesboek vir Standerd V.Bloemfontein: Nasionale Pers, 1924/1938
- Die Afrikanerkind: skoolleesboek vir Sub-standerd B. Bloemfontein: Nasionale Pers, 1925
JFW Grosskopf as vertaler:
- Twee dramas.Kaapstad: Nasionale Pers, 1919
- Freytag, Gustav: Die koerantskrywers: blyspel in sewe bedrywe. Kaapstad: Nasionale Pers, 1922/1925/1930/1933/1937
- Lessing: Altyd my liefste. 1947
- Berg, Bengt: Met die kraanvoëls na Afrika. Pretoria: Van Schaik, 1949
- Wangemann, Th: Maléo en Sekoekoeni. Kaapstad: Van Riebeeckvereniging, 1957
Artikels oor JFW Grosskopf:
- Burgers, MPO: Die kuns van JFW Grosskopf. Transvaler, 27 November 1945
- Dr JFW Grosskopf te ruste gelê. Bron onbekend, [Julie 1948?]
- Dr JFW Grosskopf tree af. Transvaler, 27 September 1945
- Hugo, Dirk: ’n Dramaturg gehuldig. Transvaler, 27 November 1945
- Hulde aan geleerde. Bron onbekend, [Julie 1948?]
- JFW Grosskopf
- JFW Grosskopf
- JFW Grosskopf. In: PJ Nienaber (samest): Afrikaanse skrywers aan die woord
- Kannemeyer, JC: Dood van JFW Grosskopf en Kleinjan. Boekewêreld, 6 Mei 1998
- Mense op die voorgrond. Transvaler, 18 Februarie 1948
- Nienaber, PJ: Lewenskets van JFW Grosskopf. Transvaler, 27 November 1945
- Brandwag, 16 September 1946
- Skrywers wat in November verjaar. Brandwag, 8 November 1946
- Steyn, Jaap: Hoe het skrywers die AB Oorlog ervaar? Boekewêreld, 18 November 1998
- Van Blerk, Nicolaas: Die taalywer van JFW Grosskopf. Huisgenoot, [datum onbekend]
- Van Wyk, Johan: The father in two Afrikaner nationalist plays by JFW Grosskopf. Journal of Literary Studies, 1989
JFW Grosskopf se ATKV-Skrywersalbum is oorspronklik op 17-09-2013 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne
-
- Kannemeyer, JC. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Pretoria: Academica
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.