Jeugresensie: Jasper op hoërskool deur CF Beyers-Boshoff

  • 1

Jasper op hoërskool
CF Beyers-Boshoff
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485303664

Jasper op hoërskool is die eerste titel in dié gewilde jeugreeks. Dit is die eerste keer in 1959 uitgegee en daar was verskeie herdrukke van die reeks. Vanjaar het Protea Boekhuis met ‘n heruitgawe van die reeks begin.

Christiaan Frederik Beyers-Boshoff (1926–1989) was ’n baie produktiewe skrywer wat veral vir die Jasper-boeke onthou sal word. Hy het ook tientalle tydskrifverhale, kortverhale en ontspanningsromans geskryf. Hy het veral bekendheid verwerf vir radioverhale soos Ongewenste vreemdeling, Dans van die flamink en My liedjie van verlange. Twee van sy draaiboeke, Catch me a dream en Karate Olympia, is in Amerika verfilm en versprei.

Daneel Swart, 11 jaar oud en in graad 5, het Jasper op hoërskool gelees en hier is sy mening:

Die soort boeke wat ek gewoonlik lees, is goed soos Dagboek van ’n Wimp, die Hoe om jou draak te tem-reeks en feiteboeke met prente in, soos die Hoezit-boeke. Ek hou ook baie van die tydskrif National Geographic Kids en boeke soos Guinness Book of Records.

Lees ook:
Jeugresensie: Die laaste geveg deur CS Lewis
'n Babalela vir Kersfees

Jasper op hoërskool is een van die dikste boeke sonder prente in wat ek al gelees het. Dit het my so ’n week geneem om die boek klaar te lees, maar toe ek eers oor die helfte was, het ek baie vinnig en lekker gelees.

Die storie gaan oor ’n seun met die naam Jasper en sy bende wat op die dorp Leliesvlei woon. Dié viermanskap (Jasper, Mossie, Giep en Ferdinand) het baie avonture, maar hulle het ook vyande – Floors en sy bende. Die ding wat vir Jasper die kwaadste maak, is wanneer iemand hom Poenskop noem, en Floors doen dit sommer baie kere.

Ek hou van al die lekker dinge wat hulle aanvang en al die stoute goed wat hulle doen.

Daar was ’n paar woorde in die boek wat vir my ’n bietjie outyds was en wat ek eers moes gaan uitvind wat dit beteken. Dit is woorde soos “bloemlesing”, “kladpapier” en “kweperlat”. Ek het ook nie geweet wat “seepkiskarretjie” en “kleilatoorlog” is nie, maar toe ek eers uitgevind het wat dit is, het dit vir my na baie pret geklink.

Jasper-hulle vang baie kattekwaad aan, maar hulle is eintlik ouens met goeie harte. Dit was gaaf van hulle om hulle R50 vir klein Fransie te skenk vir sy hartklep-operasie. Dit was vir my moeilik om te glo dat so ’n groot operasie net R600 kon kos en dat R12,50 die meeste geld is wat Jasper nog ooit in sy lewe in sy hand vasgehou het, maar miskien was die ou tyd anders as nou.

Ek glo die boek is net vir seuns. Meisies sal nie van hierdie tipe avonture hou nie. As daar nóg Jasper-boeke is, sal ek hulle ook lees.

  • 1

Kommentaar

  • Ek lei dus af dat die Jasper-boeke is nie ge'moderniseer' nie (ek neem aan die empiriese geldstelsel is reeds destyds in die herdrukke na desimaal oorgeskakel).
    Welgedaan, Protea!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top