Titel: ’n Beeldskone nagmerrie
Skrywer: Sunel Combrinck
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637001472
Sunel Combrinck se tweede boek in haar jeugfantasiereeks Die ontwaking van winter is onlangs gepubliseer, ’n Beeldskone nagmerrie. Daar is nie juis ’n groot verskeidenheid fantasieverhale in Afrikaans nie. Dis meestal ’n genre wat ons aan kinderverhale toeskryf. En is daar nie wonderlik oorspronklike fantasiekinderverhale nie! Heerlike stories soos Babalela deur Martie Preller, Arboreta van Riana Scheepers, Klaas Vakie se lang nag deur Annelize Bester, Emma en die Bleg ook deur Preller, om net ’n paar te noem.
Hoewel young adult (YA) fantasy ’n relatief nuwe genre in die Engelse wêreld is, wat op die voorgrond getree het met reekse soos Harry Potter en Twilight, is dit deesdae ’n baie gewilde en bedrywige genre. Nnedi Okorafor se Akata Witch is ’n heruitgedinkte Harry Potter-storie wat afspeel in Nigerië met ’n African American albinomeisie as hoofkarakter; Tomi Adeyemi se Children of Blood and Bone is unieke Afrika sword-and-sorcery fantasie en het oor die 200 000 graderings op Goodreads; Cassandra Clare se The Mortal Instruments en Leigh Bardugo se Grisha-verhale is albei in TV-reekse ontwikkel en Sarah J Maas se Throne of Glass-reeks is al meer as ’n miljoen keer deur Goodreads-lesers gegradeer.
Maar in Afrikaans het fantasiejeugfiksie nog nie groot momentum opgebou nie. Carina Stander se Bergengel-trilogie is beslis die beste plaaslike voorbeeld: Drie lywige stories met ’n unieke en fabelagtige avontuur van die seun Eron. In Fanie Viljoen se Wêreld van Wolwe-reeks word die immergewilde weerwolf-tema ook gebruik.
In Sunel Combrinck se eerste fantasieboek Hartklop word ons bekendgestel aan die wêreld van die fae en aan die fae-tiener Lumi. Maar in hierdie tweede boek of novelle, ’n Beeldskone nagmerrie, word die storie voor Hartklop vertel, die verhaal van Tir na Hoige se oorsprong. (Tir na Hoige, Land van die Jeug, is die Keltiese onderwêreld wat gereeld in Ierse feëverhale gebruik word as die Land van die Elwe.)
Die voorwoord noem dat die verhaal afspeel voor skepe aan die Kaap die Goeie Hoop aangeland het of die Khoi-San in die Karoo was, in ’n koninkryk met die naam Kasteelhoogte. Die mense en fae leef saam, maar die fae is meestal slawe en word sleg behandel deur die mense. Dus is ’n ondergrondse opstand aan die broei en word planne beraam om die koninklike opperfae-wisselkind, wat volgens ’n profesie gebore word, veilig te hou. Die wisselfae-baba Melody word voor Huis Beckett gelos en aangeneem deur die mense, heer en lady Beckett. As jong meisie red Melody die seun Donoghue uit ’n rivier met toorkrag, wat verbode is. Donoghue is die seun van die wrede koning van Kasteelhoogte, maar ten spyte daarvan word die twee vriende en later ook verlief op mekaar.
Die novelle is dun, 119 bladsye in redelike groot teks, en kan binne ’n aand klaargelees word. My eerste indruk van die boek is dat dit vir 10- tot 13-jarige lesers is, maar kom gou agter dat die storie dalk gerig is op ouer kinders, al is die skryfstyl vir ’n jonger gehoor, want daar is heelwat geweld en suggestie van tienergevoelens wat beskryf word. Die vrouekarakters in die boek word in die hoofrolle geplaas en is sterk, maar het ook hulle foute. Ek sou graag meer van Melody se oppasser, die fae Ivy, wou leer wat in die agtergrond is as ’n hofdame, maar wat eintlik ’n vegter is. ’n Mens is tot aan die einde nie seker of sy ’n goeie of slegte fae is nie.
Sy laat haar vuis oor die swaar hout van die voordeur gly. Klop dan selfversekerd. Een, twee, drie keer. Haar hart klop skielik vinniger en harder teen haar ribbes. Sy wag tot sy ’n geritsel aan die ander kant van die deur hoor. Dan, in ’n breukdeel van ’n sekonde, los sy die Wisselkind op die voorstoep in die koue en verdwyn agter ’n breë pilaar in.
’n Feëverhaal aan die Kaap kan sorg vir interessante leesstof, maar daar is geen verwysing na inheemse feë nie (fynbos-feetjies?), al word inheemse bome soms genoem. Die Ierse feëwêreld sit hier ongemaklik vir my in ’n vaagbeskryfde Suid-Afrika. Maar dit kan gedoen word. Die Kanadese skrywer Charles de Lint het menige wonderlike verhale geskryf van die mitiese figure in sprokies en feëverhale wat saam met Europese immigrante oorgekom het en in die vreemde moes aanpas.
Jonathan Amid noem in sy resensie van Hartklop: “[…] daar [word] te veel aan lesers uitgestippel wat betref wie karakters is, wat hul aard is en hoe hulle veronderstel is om te dink en op te tree.” Show, don’t tell is ook in ’n Beeldskone nagmerrie ’n tekortkoming. Daar is min karakterontwikkeling, belangrike dinge gebeur net, soms selfs in die agtergrond, en dit word dan net genoem sonder om die gebeurtenis self te beskryf. Daar is min dialoog en sekere deurslaggewende optrede van karakters aan die einde word nie verduidelik nie, net gesê.
Kyk. Neem in. Onthou.
Die Banshees draai terug na Alastor. Woordloos. Sonder klank. Maar die swart niksheid van hul oë waarsku: Eendag sal ons ons dag kry.
En dan draai hulle terug.
Die skryfstyl kan dalk beter werk as ’n boek vir jonger lesers waarin minder beskrywings en karakterontwikkeling nodig is, maar op 17-jarige lesers van YA fantasy wat baie moontlik reeds boeke soos Throne of Glass en City of Bones gelees het, gaan hierdie boek waarskynlik nie ’n indruk maak nie.
* Sunel Combrinck is tans ’n besigheidstudie-onderwyseres aan die Hoërskool Eldoraigne. Sy is ook hoof van die VasgeINK-skryfskool wat daarop gemik is om voornemende skrywers blootstelling aan die skrywersbedryf te gee. Sy is betrokke by die Romance Writers Organisation of South Africa (ROSA) as hoof van die Pretoria-afdeling. Sy het twee boeke geskryf, Hartklop en ’n Beeldskone nagmerrie.
* Combrinck neem op 6 Oktober vanjaar aan ’n Aardklop-boekgesprek deel: Werklik waarskynlik? – Fantasie en wetenskapsfiksie. Met Elrien Scheepers, Sunel Combrinck en Nadine Petrick.