|
Eerskomende Dinsdag word Bob Dylan se nuwe album, Tempest, uitgereik. Rolling Stone-tydskrif het dit reeds gesalf as ’n top-poging: vyf sterre, die hoogste wat hulle gee. “Dit herinner ’n mens aan die feit dat Bob Dylan nou, onder sy tydgenote, feitlik alleen staan,” skryf Will Hermes, die resensent. Die album, sê hy, is “verbluffend”. Hier is solank die amptelike video vir een van die snitte, “Duquesne Whistle”:
|
Ek het onlangs op die langpad gesit en radio luister. Daar kom altyd ’n punt dat dit nie meer snaaks is om dieselfde CD’s weer ’n keer te hoor nie. Dit is ’n vreemde ervaring, met 5FM en ’n magdom ander stasies wat nie een iets speel wat van só ’n aard is dat jy die search-knoppie dadelik slaan nie.
Hierdie irritasie het my laat terugdink aan die een radioprogram waarna ek soos klokslag ’n uur lank elke week geluister het, naamlik Malcolm Gooding se Going Gooding op die ou Radio South Africa, daar vroeg in die sewentigs.
Saterdagaande tussen die 11-uur nuus en middernag. My groot vreugdes in die lewe was indertyd Pink Floyd, Bob Dylan, Roy Harper, Captain Beefheart, Dory Previn en Traffic.
Wat Gooding gedoen het, was om deure oop te maak na musiek wat niemand daardie jare op die radio sou speel nie. Musiek wat nie die ou Radio 5 se speellyste sou haal nie, en té modern was vir die SABC/SAUK se ander dienste.
Onthou, dit was voor Chris Prior se dae.
Ek onthou goed hoe ek en my vriend Steve Zietsman een aand na die Firgrove-inry-bioskoop is sodat ons Going Gooding kon luister terwyl ons na die Valachi Papers kyk. ’n Bottel port het die gaping tussen klank en beeld help oorbrug.
Gooding, wat sonder ’n sweem van ironie beskryf kan word met daardie pragtige Leonard Cohen-woorde “ … was born with the gift of a golden voice”, het skynbaar self besluit wat hy speel. Van sommige van die liedjies het hy só baie gehou dat hy hulle elke week gespeel het. Dit het nie regtig saak gemaak nie.
Só ’n sterk indruk het hulle gemaak dat ek nou nog gereeld daarna luister. Daarom, vir diegene met goeie geheues, maak ek vandag ’n aftellysie van Malcolm Gooding se grootste geskenke aan ons.
Rick Wakeman – The Six Wives of Henry VIII
Wakeman het voor 1973, toe hierdie album uitgereik is, reeds vir die Strawbs en Yes gespeel – trouens, hy het dit gekomponeer terwyl hy saam met Yes op ’n konsertreis was. Die album het gewemel van instrumente wat vandag alledaags en selfs verouderd is, maar destyds baanbrekend was: die Minimoog-sintetiseerder en Mellotron. Asook klavier, orrel en klawesimbel, uiteraard, plus kore en simfonie-orkeste. Lede van sowel Strawbs as Yes het hom verder bygestaan: Bill Bruford, Dave Cousins, Steve Howe, Dave Lambert, Chris Squire en Alan White. Die snit wat Gooding die meeste gespeel het, was “Catherine Howard”:
Shawn Phillips – Second Contribution
’n Sanger-komponis van Fort Worth, Texas, was in die laat sestigs en vroeë sewentigs ’n baie invloedryke, eksotiese figuur op die musiektoneel. Groot name van dié tyd (Eric Clapton, Paul Buckmaster, Donovan, Steve Winwood en Bernie Taupin) het hom gehelp met sy albums, en die eklektiese aard van sy musiek het gesorg dat mens jou luister moes ken daarvoor. Malcolm Gooding het veral een snit van hierdie 1970-album met graagte gespeel – “The Ballad of Casey Deiss”. Ek plaas twee videogrepe hier onder: eers die snit soos dit op die album geklink het, en een wat opgeneem is by die Bass Line in Suid-Afrika. Phillips het in 2011 ophou musiek maak en hom in Port Elizabeth gevestig.
England Dan & John Ford Coley – Fables
Dan Seals en John Edward Coley het onder hul alias ’n loopbaan gehad wat van 1971 tot 1996 geduur het. Hulle was veral gewild in Japan, maar het darem ses top 40-treffers in die VSA gehad ook. Die bekendste daarvan was “I’d really love to see you tonight”. Maar in 1972 was hulle nog aan die begin van hul loopbaan, en Malcolm Gooding het gesorg dat Suid-Afrika een van die lande was waar Fables skitterende verkope had. Die eerste snit daarop was “Simone”, en ek sal verbaas wees as daar ’n enkele program was waarop Gooding dit nie gespeel het nie.
Loggins & Messina – Sittin’ In
Jim Messina, voorheen van Buffalo Springfield en Poco, was al besig om ’n eerbare lewe te lei as produksieleier vir Columbia Records toe hy die jong sanger-komponis Keny Loggins ontmoet. Hulle het ses albums saam gemaak – hoofsaaklik ligte folk-rock. Die eerste daarvan, Sittin’ In (1971), was die een waarop Gooding smories was, en hy het veral twee snitte met groot vrug gespeel. Dikwels ná mekaar: “Danny’s Song” en “The House at Pooh Corner”. Laasgenoemde bly een van my groot gunstelinge.
Cat Stevens – Teaser and the Firecat
Gooding het geweldig baie snitte van hierdie album, asook Tea for the Tillerman, gespeel. Oor Stevens het ek reeds enkele maande gelede in “Naklanke” geskryf. Die snit is dus my eie keuse, en ek is seker Gooding sal saamstem: “Moonshadow”.

