Vroeg in Mei vanjaar ontmoet ek die dinamiese, bekroonde en ikoniese digter Diana Ferrus, wat onlangs deur die Universiteit Stellenbosch (US) met ’n eredoktorsgraad erken is. Terwyl die twee van ons lekker staan en gesels, vra ek haar hoekom sy dink geskiedenis belangrik is. “Die verlede is ook die teenwoordige tyd en selfs ook die toekoms,” sê sy toe aan my.
Ek moet bieg dat ek nie dadelik gaan refleksie doen het oor haar woorde nie. Maar hier waar ons vandag Jeugdag en Jeugmaand vier, dink ek spesifiek aan hierdie woorde.
16 Junie 1976: ’n baie belangrike dag in die geskiedenis van Suid-Afrika, waar jongmense besluit het om op te staan. Op te staan teen ’n regime wat diskriminerend was teenoor dié wat nie wit genoeg was nie. ’n Regime wat sonder skaam swart mense se regte geskend het. ’n Regime wat namens ander besluit het.
Hierdie jongmense, omtrent 20 000 van hulle soos dit in die geskiedenisboeke opgeskryf is, het besluit hulle is gatvol van ’n regime wat hulle onderdruk. Gatvol van ’n regime wat vir hulle dikteer wat hulle in die lewe mag en nie mag word nie. ’n Regime wat gesê het wie mag dokters word en wie nie. ’n Regime wat gesê het wie mag plaaswerkers word en wie nie.
Dít het hierdie jongmense gedryf om standpunt in te neem. Te baklei vir gelykheid en regverdigheid, veral in terme van opvoeding. Die tipe opvoeding soos in die woorde van Nelson Mandela waar hy sê: “It is through education that the daughter of a peasant can become a doctor, that the son of a mineworker can become the head of the mine, that a child of farm workers can become the president of a great nation.”
Ons herdenk die jeug van 1976 wat vreesloos, bors teen bors teen die apartheidpolisie gestaan het. Hulle lewens op die spel gesit het vir ons almal se vryheid. ’n Baie duur prys is deur hierdie jongmense betaal, en dit was ’n prys wat met bloed betaal is. Bloed van jongmense soos Hector Pieterson en vele meer.
Alhoewel sommige van ons verkies om eerder die geskiedenis te vergeet, en te fokus op die toekoms, is dit tog belangrik om oor die verlede te besin. Juis omdat daar baie waardevolle lesse in hierdie tipe gebeurtenisse is.
So wat is dit wat ons as vandag se jongmense hieruit kan leer?
Vir my is die belangrikste les die feit dat hierdie jongmense standpunt ingeneem het. Indien hulle dit nie gedoen het, sou ons nie vandag hier gewees het nie. Sou ek nie nou in die middedorp van Stellenbosch gewoon het nie.
Sou ek nie nou die eerste in my familie gewees het om by ’n universiteit soos die US te studeer nie. Sou van my vriende nie nou in hulle derde jaar van studie in medies, meganiese ingenieurswese ensovoorts studeer het nie.
Dit is dus ’n teken dat die stem van die jeug ’n baie belangrike rol en funksie in ’n samelewing kan speel. Die jeug van 1976 het dit bewys, en hulle rol in die geveg teen apartheid toon dit duidelik.
My vraag en kommer, dus: Wanneer gaan ons begin om soos die jeug van 1976 standpunt in te neem? Wanneer gaan ons ook begin gatvol raak vir die gemors waarin ons land is? Wanneer gaan ons besluit dat hierdie 28 jaar van demokrasie nie is hoe dit veronderstel is om te wees nie?
Ons land is in ’n totale krisis, en ons gaan gebuk onder verskeie pandemies. Nie net Covid nie, maar ook geslagsgebaseerde geweld, werkloosheid, misdaad, armoede, hongersnood, staatskaping, geestesgesondheid, en die lys gaan aan.
Hoe meer mens eintlik van al hierdie probleme in ons land hoor, hoe meer raak mens depressief daaroor. Daarom is dit nie verbasend dat duisende jong graadvangers besluit om eerder die land te verlaat nie.
Maar help dit ons enigsins?
Siende dat die jeug die toekoms van hierdie land is, help dit nie juis om van ons probleme af weg te hardloop nie. Dit het tyd geword dat ons as jeug besef niemand gaan ons land red indien ons nie nou eienaarskap daarvan neem nie.
Niemand gaan ons ernstig opneem as ons nie nou besluit om standpunt in te neem nie. Ons kan nie toelaat dat ons land voortploeter soos dit tans doen nie.
Soos in die woorde van Ferrus, die verlede is ook die teenwoordige tyd; as die jeug van 1976 nie standpunt ingeneem het nie, sou ons nie nou gelyke en regverdige onderrig vir almal gehad het nie. En dit gaan so bly tot in die toekoms te danke aan die opofferinge in 1976.
Wat is ons bereid om vandag op te offer ter wille van die toekoms van onsself, die generasies wat nog moet kom en die toekoms van ons land?
Kommentaar
'n Jongman uit veerstaal wat sy saak met onwrikbare taaltrots stel; inspirasie vir elkeen wat in die oggend wakker word met Afrikaans in die mond.
Wonderlik, William. Mag jy nooit ophou skryf nie! Die verlede is 'n abstraksie. Deur ons herinneringe aan die verlede, herskep ons die verlede elke keer in ons gedagtes. Dit is die beginsels wat die lesse word, wat ons vorentoe neem. So die geskiedenis is soos enige wapen. Dit kan ten goede of ten kwade gebruik word. Die geskiedenis as abstraksie self, is goed om kennis van te hê. Dit verruim die perspektief en gee insig. Mense praat baie oor die waarde van sogenaamde "institutional memory". En die samelewing is ook maar 'n groot instelling.
Maar wat die geskiedenis as dissipline betref, daar word die waters meer troebel. Want die geskiedenis as dissipline sal nooit vry word van ideologie en politiekery nie. Deels maar omdat die mens swak is, en geneig tot groepsmentaliteit. Maar andersyds omdat ons politieke diere is wat onsself bewustelik wil laat geld.
Diana is 'n wyse mens.