
Foto: Canva
Jesus is nie daar nie
Op my reis het ek gevind
mense dien God,
maar Jesus
is nie daar nie.
Kerke is vol
maar Jesus
is nie daar nie.
Gesprekke is groot
maar Jesus
is nie daar nie.
Godsdiens is baie
maar Jesus
is nie daar nie.
Ek het Hom gevind
waar ek die bedelaar voed,
ek het Hom gevind
in weerlose oumense,
ek het om gevind
in agterstraatkinders.
Ek het Hom gevind
in vergifnis,
as Sy liefde deur my spoel.
Lank gelede in ’n polisiesel
het ek Hom gesien,
in ’n mal man.
Om Hom later te ontmoet
in ’n kragtige weersien,
toe Hy in my kom bly het.
Om nooit weer weg te gaan
om my te volg
tot Hy my oortuig het
Hy is wie Hy is.
Weer het ek uitgeroep
en geskree:
waar is Jesus?
Tog kon hulle my nie sê nie
want as Jesus nie in jou bly nie,
as Sy woord jou nie lei nie
sal jy nie weet waar om Hom te kry nie.
Hy staan soms
eenkant, by ’n emosievolle graf
om te huil vir die mense.
Nou is hulle weerbaar,
verbrysel en stukkend,
tog weet Hy,
as die begrafnis verby is
verhard die harte weer,
as die seer gesond is
sondig hulle net meer.
Ek het gesoek na Jesus
in die kerk,
tussen God se kinders,
maar Jesus
was nie daar nie.


Kommentaar
Dis hoe jy voel en dinge ervaar. Jesus is daar waar jy dit die minste verwag!
Wie waarlik Hom soek, sal Hom vind.
Dit is waarheid. Jesus is nie op die aarde nie. Die Woord is baie duidelik. Die Woord het mens geword en tussen die mense kom woon. Hy, Jesus, het opgestaan uit die dood en Hy, Jesus, het opgevaar en sit aan die regterhand van Vader waar Hy vir ons intree. Jesus was baie duidelik dat Hy die aarde gaan verlaat en dat Hy die Heilige Gees as ons helper agter gelaat het om in ons te woon.
Die kernkopseer van godsdiens word hier weer in volle glorie uitgestal vir die ganse wêreld om te aanskou. Die digter betreur die disfunksionele tradisies van godsdiens. Jesus word effektief 'n simbool van konneksie met andere, die vergestalting van die spirituele, daardie rare oomblikke wat die lewe as sinvol of die moeite werd ervaar word, ervaringe wat altyd onverwags opdoem, en tevergeefs gesoek word in georganiseerde godsdiens.
Maar die kommentator staan gereed om die digter te herinner dat Jesus op 'n keer in antieke Israel in die uitspansel in opgestyg en die ruimte in verdwyn het. Slegs die "Heilige Gees" kan nou hier op aarde wees, want Jesus het tog opgestyg na "bo" en is nou in die "hemel".
David Kramer het net so 'n probleem met Johnny Raakvat. "Hulle sê 'n man kon hom nie mis nie, maar niemand kan sê waar hy nou is nie."
Afgesien van Jesus en Johnny Raakvat, is daar ook nog Orczy se Scarlet Pimpernel wat so glibberig is.
Ek kyk op na die kommentatore
Waar sal die suiwerste teologie vandaan kom?
Van die insigte van Div, wat sus - jy moet net aanhou soek?
Of via Botha wat vermaan - nee!
Dit bly 'n geslote boek?
Hier staan ek dus
verlore
Geen heil vir my beskore
My Bybel: 'n onbruikbare instrument
in die futiele gesoek na
die afwesige Dirigent