Jenna Bush se Ana's Story, A Journey of Hope is lig, soos spookasem

  • 0

Ana's Story, A Journey of Hope

Jenna Bush

ISBN: 9780061477928

Trade Paperback

Published by HarperCollins

R124,95

Laat ons dit dadelik uit die pad kry: die outeur is die dogter van die Amerikaanse president George W Bush. Die leser probeer hierdie feitjie uit die oog verloor, maar dis nou nie asof Jenna die boek onder ‘n skuilnaam geskryf het nie. Op die agterblad pryk die oulike, heilsame Bush-gesiggie, en indien daar nog enige twyfel sou bestaan, word haar stamboom op die agterflap vermeld.

Die boek is deur en deur Amerikaans, en pure Texas: sonskyn, selfhelp, goue koring, gesonde outydse waardes en domastrante optimisme: kom ons ruk die hele wêreld voor ontbyt reg.

Dis gebaseer op Jenna se werk vir Unicef in Latyns-Amerika. Dit vertel die ware verhaal van Ana, ‘n Latyns-Amerikaanse meisie wat met die MI-virus gebore is, as kind gemolesteer is, ellende, kinderhuise en pleegsorg getrotseer het, en self op sestien swanger geraak het. Ana se veggees en lewenslus skemer tog agter Jenna se ordentlike woorde deur, maar mensig, die boek, wat handel oor armoede en sosiale probleme, is dan so weelderig uitgegee, in hardeband op dik glanspapier met kunsfoto’s wat die ellende romantiseer in technicolor.

Jenna noem die boek in die voorwoord ‘n mosaïek waarin sy met woorde eerder as met klein gekleurde teëltjies ‘n beeld van Ana se verlede en ‘n raamwerk vir haar toekoms skep, maar haar skryfstyl herinner eerder aan ‘n kinderboek: alles word chronologies en mooi duidelik opeenstapelend gekonstateer, met min interpretasie, net ‘n skeutjie popsielkunde hier en daar ingegooi. Die tema is swaar, maar die inhoud lig, soos spookasem. Dis gesaniteer en bloedloos. Dit is naïef maar selfbewus, soos ‘n skoolopstel.

Ons volg Ana se wedervarings totdat die storie op ‘n punt eenvoudig ophou, soos ‘n pen wat opdroog. Ons word ingelig dat Ana besig is om haar lewe verder te leef en sodoende self haar storie klaar te skryf. Daar volg, met netjiese bullet points:

• Voorstelle oor hoe lesers kinders in hul eie gemeenskappe en die wêreld oor kan help

• ‘n Lys webwerwe en organisasies vir lesers wat bykomende inligting oor die temas van die boek verlang

• Mites en algemene wanopattings oor MIV/Vigs en molestering

• Vrae vir gebruik in skole of leeskringe om bespreking aan te help oor die uitdagings wat Ana en ander kinders moet trotseer.

Die boek eindig met ‘n vraag:

How did this book affect you? How can you help kids like Ana? What can you do to help children break free from the cycles of abuse, illness, poverty and silence?

Nouja, ‘n goue sterretjie en ‘n handvol Brownie-punte aan Jenna Bush. Dis ‘n aangrypende storie, dis opvoedkundig, en deel van die opbrengs van die boek gaan aan Unicef. Ek is nie so seker of die boek uitgegee sou gewees het as dit nie was vir Jenna se pa se profiel nie. Ek is seker dat ek dit nie sou gelees het as dit nie was dat ek vir LitNet daaroor moes skryf nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top