Japer Hu

  • 0

Japer Hu het in ’n karige broekie kieme van die gym se sauna se wit teëltrappe afgespuit met ’n tuinslang. Tussen die stoom en vet kaalgat mans het hy op ’n simpel manier aandag gekry. En as hulle cheap kiloun-sweet so van die matte af opslaan in die aantrekkamer, het hy vir homself in die neonbeligte spieëlmuur gekyk terwyl hy die wasbakke sorgvuldig afvee en gedink. Aan niks spesifieks nie. Net in ’n waas gedink. Hy was toe al so wasig soos daardie toegestoomde spieëls.  

Saans het hy om die Olimpiese swembad omhul in ’n majestueuse glasstruktuur geloop op tot by die voordeur, waar sertifikate en foto's van vleispaleise met are-spiere pryk. Imagine, het hy gedink. Soms bietjie stilgestaan en gekyk.

By die huis het hy en sy vrou saans microwave dinners geëet terwyl hulle sitkoms gekyk het waarvoor niemand gelag het nie. In die koulike bed het hy nagmerries gekry van die dag toe hy as kind in ’n springkasteel saam met drie van sy maatjies oor die N1 gewaai is. Dan het hy net geskreeu: “Wê-da-fak-is-da-wata-fant! Wê-da-fak-is-da-wata-fant!” tot hy ontnugterd wakker geword het en sy vrou voor die TV gekry het en hulle saam infomercials gekyk het tot sy in die skemer opgestaan het om vir haar Fruit Loops vir ontbyt te gaan ingooi.

Mevrou Japer Hu was maar ’n skemermens. Nie te veel lig nie. Nie te veel klank nie. Meestal ook vol skemerkelkies. En pienk magnesiumpilletjies vir haar hipokonderse oudiosensitiwiteit.

Japer ry een oggend in die hartjie van die winter om hulle susterskind wat daar gekuier het, by die lughawe af te gooi. Dit was nog donker toe hy op pad terug in ’n diensstraatjie sy 60 hou en ’n kar sien aankom sonder ligte. Instinktief gooi hy sy ligte. Een lucky koeël later was Japer nog ’n klakkelose bende-ontgroening-statistiek.

Sedertdien sit ’n klomp vet kaalgat mans met puisies op hulle boude – in die einste sauna wat Japer Hu daagliks afgespuit het.

Die begrafnis was kort, bot en amper saaklik. Die afterparty was weer heel prettig met pork chaumain, koeitjies wat uit worteltjies gekerf was en in plaas van bowties, koeksisters. Mevrou Japer Hu was al bitterlik diep getrek met die preek en met vingers vol stroop het sy op die patio aan die slaap geraak terwyl die huis nog vol mense was.

Haar oë was die volgende oggend botdik. Nie gehuil nie, maar vir ’n verandering geslaap. Haar lewe tot dusver was rukkerig en gespanne, soos ’n kar wat gesleep word in spitsverkeer.

Sy het haar daardie selfde dag na die Griek, Aeolos Tros, se vis en chips shop gehaas en in die man se arms geval. Haar oondjie was nog aan. Kan jy nou meer.

Baba Elfinka Tros was ’n klein engeltjie. In haar pa se shop grootgeword en na vis geruik tot sy op hoërskool was. Haar ma was stomgeslaan toe die engelkind model word en op ’n mooi dag semiparallel op die lyne van ons landsvlag vir ’n kaalbastydskrif poseer, Swank of Wank of so iets.

Die Griek het haar terstond onterf.

“Jy is so lamsakkig en simpel soos my oorleë man,” het mevrou Tros gekap. “Ten minste is ons kind op ’n voorblad. En jy? Kyk waar sit jou maag. En jou asem ruik soos potjiekos drie dae oud.” Dan het hy baklei en soos ’n besetene geskreeu. Haar  aan haar maklike lewe herinner.

So het dit vir lank aangegaan. Mevrou Tros wat eers mevrou Hu was, het intussen begin tolletjiebrei en heeldag Come Dine With Me gekyk. Een oggend kom haar buurvrou daar aan met ’n blou bottel absint. Wurm de lot. Van Spanje. Sy is later weg en mevrou Tros het dwergies in haar voorkamer getel.

Daardie aand kom die Griek by die huis en dis weer “lamsakkig” voor en “lamsakkig” agter. Sy sê sy wed vandag haar erfporsie dat hy nie eens ’n vroumens vir hom sal kan nadersleep wat die moeite werd is nie. Sy sal hier sit en wag. Maar hy kom nie huis toe as hy nie iemand saambring wat rok dra nie. Sy sal dit wil sien. Hy is toe daar uit. Sy, met haar nagrok in sulke stroke met ’n vleismes ont-sequin, ’n bad getap, ABBA opgesit en daarin gaan klim met bokswyn.

Haar engelkind het ’n paar dae later hoogs pregnant terug van Italië afgekom en Ma moes help baba vang. Met koolkopblare op haar borste het Elfinka maar in ’n soutbad vir die steke en pyne gelê en Ma het die baba voor die TV geskud. Sy het die vis en chips shop gebel om te sê van die kind, maar hy het neergesit.

Op ’n dag het ma Tros toe besluit om ’n fenshui vrou in te kry, want die huis voel nie lekker nie. Hulle het toe die meubels al in die rondte geskuif en ’n dagboek onder ’n bank ontdek. Japer Hu. Hy skryf:

’n Ode aan my dooie voëltjie

’n Sterk storm het jou sonder ’n veertjie in my lewe gewaai. Vir 17 jaar het jou hele 44 g hierdie huis “gerule” met ’n arendsvlerk. Jou tjirpgroet in die oggend, jou badtyd, nessiebou en blertsies. Jou hele wese mis ek en sal ons vir nog baie lank doen. My hart is stukkend. Sweef soos net jy kan, pappa se hanslammer.

Het Japer dan ’n voëltjie gehad? Sy lees verder:

Jy click net as jy besef dat jy na jouself moet opkyk en jouself moet sien soos die wêreld jou sien. Mens kom alleen hierin. En jou lewe bepaal of jy langs iemand begrawe gaan word of nie. Dis half ’n landmerk: ek was suksesvol in die soeke na my ander helfte. Kosbaarder as goue ringe gekoop met bloedgeld. Kosbaarder as nagmerries oor duwweltjies in speelparkies. En veel meer kosbaarder as fly-by-night mense met net seks op die brein en ’n troebel hart. Ek weet ek het stagneer en ek is bitterlik jammer daaroor. Ek sal uit hierdie groef kom. Tussen slaap en werk raak mens soms verlore. Maar ek het haar lief en wil vir haar verandering bring.

Mevrou Tros het haar kop stadig in haar hande laat sak. Bittersag het sy gesanik. Toe het sy begin lag. So gelag dat die trane oor haar hoë wangbene geloop het. Van daardie melodramatiese sanik-lagge soms onderskep deur sulke sedigdawerende stilblypouses. En toe spoel ’n tipe vrede oor haar.

Elfinka het toe gehoor dat dit haar pa sou gewees het, het hy nie Florence Nightingale op daardie trietsige wintersoggend gechannel nie.

Haar dogter en die baba het gaan lê. Terwyl sy op die mat gesit het, Tiger Balm gesnuif en tolletjie gebrei het, het die Griek daar ingekom met die bar maid van die Windjammer. Sy was ’n eksballerina en die Griek sou haar vir ’n chemical peel gevat het. Hy het toe vir mevrou Tros gesê dat sy moet uit. Die bar maid het ingetrek. Elfinka en die baba kon enige tyd kom vis en chips kry.

Mevrou Tros het elke dag vis saam met ’n kwart-tub kreatien en geil hoeveelhede rou eier geëet. Steroïed-inspuitings in haar kuite drie keer per maand. Bodybuilding gedoen dat dit ’n naarheid was en haar naels tot in die lewe gekou.

Na ’n paar maande het sy weliswaar haar doel bereik. Om haar foto teen die gym se muur op te kry waar sy haar in haar geestesoog verbeel het dat Japer dit sal sien as hy saans swembad om op pad huis toe loop. Sy’t toe gouer langs hom loop lê as wat sy gedink het. Sy kon nie die baba se skril stem vat nie. In die skemer van haar kamer het sy haar pienk pilletjies toe met Japer se ou bloues verwar.

Haar hart het darem vir die eerste keer in jare weer bietjie vinniger geklop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top