vergete vywer
’n padda spring van die wal
geluid van water
(Basho, 1644–1694)
leerder:
daar is ’n padda
wat die heelnag kik en hik
soos ’n kraan wat drup
leermeester:
in egte haikoes
spring die padda in ’n poel
en verdwyn vir goed
in egte haikoes
vermy die digter verge-
lykings soos die pes
in egte haikoes
verwag ’n mens bloukraanvoëls
in plaas van krane
leerder:
daar was ’n padda
in hierdie haikoe, maar hy’t
vir die kraan geskrik
padda:
die haikoedigter
tel heelnag lettergrepe –
padda langs ’n poel
Kommentaar
sjoe!