
Jan van Tonder in gesprek met Phyllis Green.
Met Covid-ontwrigting voorlopig iets van die verlede, is Pretoria se jaarlikse gesamentlike leeskringbyeenkoms weer vanjaar aangebied met die swier wat in die verlede kenmerkend was van dié geleentheid. Dié uithalergeleentheid het plaasgevind op 6 Mei.
Die gesamentlike leeskringbyeenkoms het ’n imposante geskiedenis: In 1919 is die Mabel Malherbe Leeskring, eers bekend as die Afrikaans-Hollandse Leesunie, die eerste van sy soort in Pretoria gestig. Teen 1940 het dié leeskring so in gewildheid toegeneem dat daar ’n behoefte ontstaan het om meer leeskringe te stig. Mabel Malherbe en Esther Kritzinger het die wens uitgespreek dat lede van leeskringe nie van mekaar vervreemd sal raak nie, en in 1941 is die eerste gesamentlike leeskringbyeenkoms gehou. Tydens die geleentheid het die befaamde aktrise en akademikus Anna Neethling-Pohl ’n voordrag gelewer uit die werk van NP van Wyk Louw. Sedertdien is die jaarlikse gesamentlike leeskringbyeenkoms vereer met van die voorste skrywers in Afrikaans, in gesprek met vaardige akademici en onderhoudvoerders in die publikasiebedryf. Die leeskringbyeenkoms het ook die geleentheid geword waar gewaardeerde vriende mekaar een maal per jaar raakloop en leeskringlede ’n binnekykie kry in die lewens, werk en skryfwyse van Afrikaanse skrywers.
Vanjaar was die ervare boekeredakteur Phyllis Green in gesprek met die skrywer Jan van Tonder. Van Tonder se Sagie-drieluik (Is Sagie, Is weer Sagie en Sagie is), nou saamgevat in een boek, is sopas uitgegee. Die eerste Sagie-verhaal het in 1987 verskyn en die laaste in die lewensverhaal van die kinderlik-onskuldige Sagie wat eers deur sy streng vader voorberei word om alleen die boerdery én die lewe te behartig, en die wyse waarop die hardwerkende Sagie wel ná die afsterwe van sy pa sy weg deur die lewe vind, het vanjaar die lig gesien.

Jan van Tonder het talle boeke geteken.
Jan het die gehoor aan sy lippe laat hang met anekdotes oor sy lewe en werk. So byvoorbeeld het Jan se kinderdae, as een van sewe kinders wat grootgeword het in ’n spoorwegdorp, as inspirasie gedien vir Roepman wat in ’n soortgelyke dorp afspeel – ’n milieu waarmee lesers later eerstehands mee kon kennis maak toe Roepman verwerk is in ’n suksesvolle rolprent. Jan vertel dat sy broer vir hom stories in die bad vertel het en so ’n liefde vir stories by hom gevestig het.
As tronkbewaarder in Durban het Jan soms ’n notaboek ingesmokkel en wanneer dit begin voel het asof sy wagpos op die tronkmuur hom in ’n psigologiese tronk vaskeer, het hy geharde misdadigers waargeneem en begin skryf. Hy het die kriminele, wat lank reeds hul onskuld prysgegee het, se “skuldlae” in die verbeelding afgeskil, en sodoende het die karakter van Sagie, die toonbeeld van onverganklike onskuld, beslag gekry. Phyllis Green het gewag gemaak van Van Tonder se empatiese uitbeelding van Sagie, sodat hy, ten spyte van beperkte vermoëns, nooit in ’n karikatuur ontaard nie.
Op ’n vraag of daar nog ’n Sagie-verhaal gaan verskyn, het Van Tonder pittig opgemerk dat sy uitgewer hom dieselfde vraag gevra het, waarop hy geantwoord het: “Ek sal dit met Sagie bespreek.” Sy antwoord aan die uitgewer was kort en kragtig: “Sagie wil nie.”
Na aanleiding van die voltooiing van die Sagie-drieluik het Jan die gehoor vergas deur te vertel hoe hy in die vroeë tagtigerjare getaak is met die verantwoordelikheid om bobbejane weg te hou van ’n plaashuis. ’n Geslaan met ’n stok op ’n asblikdeksel het net kortstondig ’n invloed gehad, want kort voor lank was kees se kind weer terug op die werf. Jan word toe ’n skietding in die hand geprop met die raad: Bobbejane is intelligent – as jy een skiet, maak jy van hom ’n voorbeeld en die bobbejaanprobleem is opgelos. Ná Jan die skoot getrek het, het een bobbejaan vooroorgebuig bly sit. By nadere ondersoek was die dooie bobbejaan ’n dragtige wyfie. Jan het die wyfie huis toe gesleep en die volmaak-gevormde kleintjie uit die wyfie gesny, ’n oplossing by ’n aptekersvriend gekry en die kleintjie in ’n glasbottel bewaar. Met die jare het Jan ’n tipe verhouding met die klein bobbejaantjie gebou, aan wie hy belowe het dat hy die klein kesie by sy ma sal begrawe die dag as die laaste Sagie-verhaal voltooi is. Die laaste Sagie is net voltooi toe Jan ’n gaatjie in die deksel van die glashouer met die bobbejaantjie in ontdek. Die aptekersvriend het hom meegedeel dat oksidasie reeds plaasgevind het en dat Jan se stille skryfgenoot nie meer “gered” kon word nie. Jan het besluit – dis tyd dat die bobbejaantjie teruggaan na sy ma toe.
Toe hy uitgevra is oor die sterk vrouekarakters in sy romans het Van Tonder dit daaraan toegeskryf dat hy grootgeword het met ’n ma en susters wat innerlike krag uitgestraal het, en tog ook oor ’n sagter kant beskik het. Jan, wat van kleins af ingestel was daarop om na mense te luister en hulle ongemerk waar te neem, het lakonies opgemerk dat hy as seuntjie in die stilligheid baie dinge by sy tienersusters gehoor het wat nie vir sy ore bedoel was nie.

Die gehoor het Jan van Tonder se aantekeninge oor Sagie se karakter heel amusant gevind.
Op ’n vraag oor sy skryfstyl het Van Tonder gemeld dat hy nie soos ander skrywers ’n profiel skep vir elke karakter nie, dikwels op en af loop terwyl hy sy karakters bedink, en wanneer eienskappe van karakters by hom opkom, hy dit op ’n reep papier neerkrabbel. Tot vermaak van die gehoor het Van Tonder ’n ellelange reep papier uit ’n plastieksak gedop wat ’n “karakterskets” van Sagie is.
Op ’n vraag of Van Tonder dit al oorweeg het om ’n outobiografie te skryf, het hy die gehoor laat skater met sy gevatte antwoord: “Nee, ek is nog te jonk.”
Van Tonder beskou homself as ’n swerwer. Tans bly hy in Dwarskersbos, maar sy eintlike hartsland is die Klein Karoo.
Die byeenkoms is afgesluit met ’n vertoning deur die Andante Ensemble, waarna Jan van Tonder boeke geteken het en geselsies aangeknoop het met geesdriftige leeskringlede.

Jan van Tonder gesels met Marie Oosthuizen terwyl hy haar kopie van sy Sagie-drieluik teken.
Sagie se storie – ’n Drieluik (Is Sagie, Is weer Sagie en Sagie is) word uitgegee deur Human & Rousseau.
Koop Sagie se storie by Graffiti.