Jan Rap - oor transformasie en dies meer

  • 1

Jan,

Ja, die ANC-regering is verbind tot transformasie, maar dit sou meer regverdig gedoen kon word as al die amptenare op laer vlakke ook regverdigheid voor oë gehad het. Afrikaans en Afrikaners veral, word erg benadeel. Dit is soos in die apartheidsjare: ’n Mooi ideaal, maar beamptes op laer vlakke het die swartes soms baie sleg behandel. Ek wéét, ek het dit self gesien.

Ek kan verstaan dat hulle die geweldige armoede en algemene agterstand van swart mense wil uitwis. Hulle sal dit egter nie regkry deur die handjievol wittes uit te dryf nie. Myns insiens is werkskepping en geboortebeperking die roete wat gevolg moet word.

Rykes is nie altyd slim nie. Om ryk te wees moet jy ’n mate van oneerlikheid in jou hê, glo ek, of ten minste moet jy ongevoelig wees vir ’n ander ou se verlies. ’n Vriend van my, nou oorlede, was nie juis slim nie maar het taamlik ryk geword. Hy het uit ’n arm huis gekom. Toe ek laas my huis verkoop het, het ek al die swak plekke aan die koper uitgewys, anders sou my gewete my gepla het. Daarteenoor sal ’n handelaar in tweedehandse motors ’n kar ophemel, terwyl hy goed weet die ding is ’n wrak.

Groete,

Varkspek

 

  • 1

Kommentaar

  • "Om ryk te wees moet jy ’n mate van oneerlikheid in jou hê, glo ek, of ten minste moet jy ongevoelig wees vir ’n ander ou se verlies." Sjoe. Ek mis dalk 'n konteks in die gesprek, maar in isolasie is hierdie 'n vreemde sin. Daar is nie een pot goud en hoe meer jy het, hoe minder het iemand anders nie. Om die waarheid te sê, ryk mense is meestal entrepreneurs wat welvaart skep, poste skep, baie belastings betaal. In kort, 'n groot aanwins vir die land. Natuurlik is daar skelm ryk mense. Daar is skelm arm mense ook.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top