Jan Rap en Thys se Afrikaners

  • 2

Dagsê Jan Rap en Thys

Jan Rap laat my baie dink aan ’n stelling wat uit die ou NP/PFP dae kom. Daar is toe gesê dat die ouens wat die PFP ondersteun getrou PFP stem maar telkens uiters verlig is as die NP die verkiesing wen. Net soos die PFP ondersteuners destyds geweet het hulle idees het nie ’n kat se kans om ’n verkiesing te wen nie, weet hy voor sy siel dat geen bruin- of swartman na homself as ’n Afrikaner sal verwys nie. Die begrip Afrikaner het altyd na blanke mense verwys en om nou ewe vroom te verklaar dat almal wat sê hulle is Afrikaners, is Afrikaners, is bloot ’n poging om die verdelingslyne en eksklusiwiteit van die verlede te perpetueer. Ek glo dat hierdie verdelingslyne nadelig is vir die voortbestaan van Afrikaans.

Thys Human daarenteen sê prontuit wat Jan Rap oënskynlik te bang is om te sê – Afrikaners is wit. Ek vermoed daar is nog ’n hele rits ander vereistes soos strewe na ’n volkstaat, die verheerliking van apartheid, Christelikheid ens. Thys sê self hy het probleme as ateïs om as deel van die groep aanvaar te word. Ek het ’n baie sterk vermoede dat ek en ’n klomp van die persone wat Thys in sy skrywe aan Jaco noem, nie as Afrikaners gedefinieer kan word volgens hierdie eng definisie nie.

Al is dit so dat almal wat Engels praat nie Engelse is nie kan ’n mens tog aan ’n paar onderskeidende kenmerke dink wat ’n Engelsman herkenbaar maak. Net so is my gevoel dat daar sekere kenmerke is wat van ’n persoon ’n Afrikaner maak. My betoog is dat ons rondom die een ding wat ons aan mekaar bind, naamlik ons land van herkoms en die taal wat ons praat, saam groepeer. Die enigste rede (lees mooi stadig Jan Rap) hoekom ek die woord Afrikaner wil gebruik is omdat die woord Afrikaner vir my ’n mooi soepel woord is en omdat woorde soos Afrikaanse en Afrikaanssprekende lomp terme is en nie lekker wil posvat nie.

Jan Rap en Thys voel sterk dat die term Afrikaner nie gebruik mag word om breedweg mense wat van Suid-Afrika kom en Afrikaans praat, te beskryf nie. Ek is heeltemal bereid om ’n ander woord vir hierdie versameling mense te gebruik as die woord “Afrikaner” eksklusief na ’n sekere groep mense verwys. Kom ons praat dan oor wie en wat die Afrikaner is en of daar iets soos ’n nuwe en ’n ou Afrikaner is.

Afrikanergroete (durf ek dit gebruik?)

Thomas

  • 2

Kommentaar

  • Thomas

    Pasop dat hulle dit nie by jou regkry om die term "Afrikaner" vir die eng verkramptes te ko-opteer nie. Wat gaan ons die meerderheid konserwetiewe Afrikaners dan noem wat veel  meer in die meerderheid is en DA gestem het! Want hulle wil nie eers hierdie mense Afrikaners noem nie!

    Jaco Fourie

  • Thys Human (PTA)

    Nee. Jy durf nie. En ek en Jaco het al die sg. "Nuwe Afrikaner" bespreek – my standpunt is dat daar nie so iets bestaan nie – julle wil net die term Afrikaner steel om julle lamsakkige, hanskakie klomp eintlike Afrikaner-haters aansien te gee. Soek ’n ander term – skei dan af en skei uit om die Afrikanervolk te probeer vernietig en afskryf.  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top