Jan Rap en die nuttige Engels

  • 2

Jan, ek het nou lus daarvoor en antwoord jou hiermee.

Jy besef dit self, maar ek wil dit nogtans herhaal: Afrikaans is 'n klein taaltjie wat deur net omtrent 3 miljoen mens gepraat word in 'n land aan die suidpunt van Afrika. Daarteenoor is Engels die amptelike taal in van die magtigste lande in die wêreld, met 'n gesamentlike bevolking van honderde miljoene. Boonop word dit regdeur die wêreld gebruik vir internasionele handel. So, ek is maar net realisties as ek verwag die Portugeessprekendes in Brasilië sal my dalk in Engels kan bedien. Dat hulle Afrikaans sal gebruik, kom nie eens by my op nie.

Onthou tog ook: motors en toerusting word meesal vervaardig vir die internasionale mark, daarom die Engels.

Ek voel nie dat ek gebreinspoel is wat betref Engels nie. Ek het op 'n klein dorpie grootgeword, waar mens byna net Afrikaans gehoor het, behalwe vir in die Griek se kafee. (Die Griek het my op sy beste Afrikaans "Skolpad" genoem, omdat ek stadig was om te besluit wat ek wou hê.) Eers nou op my oudag voel ek vir die eerste keer dat Afrikaans afgeskeep word ten gunste van Engels onder die SAP-regering. (Hulle moet Sappe wees, want hulle praat net Engels.)

(Wouter, ek stem glad nie saam dat Afrikaans ooit onregmatig bevoordeel was nie, ons het net ons normale, aanvaarbare dosis gekry. Die Nat-regering het selfs moeite gedoen vir die swart tale, skole en universiteite, radiostasies en TV, wat hulle nie voorheen gehad het nie.)

Ek is nie so gedienstig en gedweë as wat jy dink nie. In die winkels en by die bank probeer ek eers Afrikaans, maar as ek sien die klerk kan nie, slaan ek oor na Engels. Mens moet ander se tale ook respekteer en kan net eenvoudig nie verwag die swart klerk moet jou in Afrikaans bedien as hy/sy nie kan nie. Ek het ook Firefox in Afrikaans, wat ek meesal gebruik, en ek het ook Thunderbird in Afrikaans, maar vir e-pos gebruik ek Outlook Express, want dit werk vir my gemakliker.

Opsommend wil ek net së dit gaan daaroor dat ek probeer realisties wees, maar ek weet nie of dieselfde van jou gesê kan word nie. Is jy nie dalk effens uit voeling met die werklikheid nie? Is jy dalk gebreinspoel deur onderwysers en lektore om Engels te bestry? Is Engels dalk die vak wat jy gedop het?

Groete,

Varkspek  

  • 2

Kommentaar

  • Jy is natuurlik reg, maar dit gaan in hierdie gesprek oor internasionale gebruik van Afrikaans versus Engels. Daar is honderde miljoene mense wat Engels as eerste taal het in die wêreld, teenoor 6.8 miljoen mense wat Afrikaans praat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top