Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2018

  • 0

Foto: Amanda Botha

Die Universiteit van Wes-Kaapland kondig graag aan dat aansoeke ingewag word vir die vyfde toekenning van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs. Hierdie beurs, befonds deur ’n ruim bemaking van wyle Marjorie Wallace, se hoofdoel is om ’n belowende of  ’n gevestigde skrywer in staat te stel om vir ’n jaar lank te fokus op  ’n projek in skeppende skryfwerk in Afrikaans. Die beurs beloop R400 000. Die skryfprojek moet op publikasie gerig wees. Daar sal met die beurshouer onderhandel word om in die loop van die jaar op paslike wyse deel te neem aan konferensies, seminare, en/of die openbare lesingsreeks van die Universiteit.

Die beurs word toegeken in die gees van Jan Rabie en Marjorie Wallace se werk en strewe ten opsigte van Afrikaans as taal van ’n breë gemeenskap.

Die motiverende dekbrief moet onder andere die aansoeker se rekord as skrywer kortliks uiteensit. Elke aansoek moet vergesel word van ’n volledige CV, ’n eksemplaar van onlangse werk, ’n deeglike projekvoorstel met ’n werksplan en beoogde teikendatums asook enige ander toepaslike inligting. Aansoekers moet ook ’n aanduiding gee van reëlings wat getref sal word om vir die periode van die beurs voldoende tyd aan die beoogde manuskrip te gee.

Verdere besonderhede en ’n meer gedetailleerde inligtingstuk kan aangevra word by Janine Pekeur, rabiewallacebeurs@gmail.com of 021 959 2112.

Aansoeke moet die Universiteit bereik teen Vrydag 17 November 2017, en kan gestuur word na:

Steward van Wyk, Departement Afrikaans en Nederlands, Jan Rabie & Marjorie Wallace-Beursfonds, Universiteit van Wes-Kaapland, Privaatsak X 17, Bellville, 7535.

Elektroniese aansoeke kan gestuur word na rabiewallacebeurs@gmail.com; en aansoeke wat per hand afgelewer word, moet by kamer D28 op die grondvloer van die Nuwe Lettere-gebou ingehandig word.

Die Universiteit behou die reg voor om nie ’n toekenning te maak nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top