Jan Rabie (1920–2001)

  • 0
 
Foto: verskaf deur NALN

Sêgoed van Jan Rabie

“In Parys het ek myself leer vind. Hoe meer mens jou liefde vir die wêreld verbreed, hoe meer weet jy en jy besef dat jy êrens ’n wortel moet hê in dit waarvoor jy self verantwoordelik is – in hierdie geval Suid-Afrika.”

“Ek het my rol gespeel as ’n Kaapse soort waghond, want ek het aanmekaar gesê ’n Afrikaner is iemand wat Afrikaans praat. Ons het bruiner Afrikaners en witter Afrikaners. Die plek van die bruin Afrikaner was my hoofdoel. Ek word verwyt omdat ek nie oor die Swarte geskryf het nie. Maar ek het hom nie geken nie, nie in die Kaap nie. Maar dit het alles uiteindelik nie veel gehelp nie, want rassisme is tot vandag toe nog ingewortel.” (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2001)

Toe die Wonder van Afrikaans verkondig is uit Sondagpakke en oor whiskeyglase, het Jan met sy kortbroek en sandale oor glase rooi wyn gewaarsku: “Julle donners gaan nog maak dat Afrikaans geháát gaan word vir julle malligheid met apartheid; dis nie eens ’n goeie Afrikaanse woord nie!” (Beeld, 14 November 2000)

In 1980 met sy 60ste verjaardag: “Ek wil hê die wêreld van Afrikaans moet nog groter. Daar is nog hoop vir ons – die mense moet net besef Afrikaans is ons beste wapen teen rassisme. ’n Mens moet êrens begin. My slagspreuk was nog altyd dat ons die aksent van kleur na die taal moet verplaas. Ons moet Afrikaans sterk maak, anders is ons in ons peetjie! Die punt is net, dit is wit en bruin en baie ander mense wat Afrikaans praat. Wanneer ons ‘Afrika’ sê, sê ons ook ‘Afrikaans’. Afrikaans is ons enigste wortel in Afrika, en hierdie wortel groei al langer as driehonderd jaar.” (Oosterlig, 18 November 1980)

Oor die destydse aanbevelings van die Cronjé-kommissie oor sensuur: “Een ding is seker, as ’n volk se beste geestesprodukte deur ’n geheime komitee verbied kan word, en dit buite die gereg en die howe om, en daardie volk laat dit toe, dan het daardie volk geen selfrespek, geen vryheidsbegeerte en moed, en geen toekoms meer oor nie. Dan teken hy sy eie geestelike doodsvonnis, en verdien dit.” (Die Burger, 9 Oktober 1957)

“Ons het net een funksie en dis om te help dat Afrikaans leef, want Afrikaans is alles wat ons is en was.”

“Ek beskou Afrikaanswees as die belangrikste ding in my lewe. Hierop rus my menswees en skrywerskap.”

In 1991 oor die nuwe geslag Afrikaanse skrywers: “Hierdie klomp verdra nie meer die gewone, manlike, meer reguit prosa nie. Daar is ’n katterige verwyfdheid, skerpigheid in hul prosa. Ek wil nie graag ’n moderne skrywer wees nie. Dit is te moeilik. En as ek nou weer van interpunktualiteit, en post-modernisme en die vreeslik geleerde woorde moet hoor wat hulle van Parys en oral af inry ... Dis ’n verskriklike akademiese, onvrugbare mode. Hulle is soos skerpioene wat hulle angeltjies vir hulself eintlik reghou.” (Vrye Weekblad, 29 November – 5 Desember 1991)

Oor Afrika: “Moenie ’n fout maak nie, daai spul wit en swart Transvalers wil ek glad nie hier hê nie. Ek was bewus van my Afrika-konneksie en ek het doodgewoon gewonder waar ek kan deelneem. Maar wat het Afrika my gegee?” (Vrye Weekblad, 29 November – 5 Desember 1991)

Oor kleurpolitiek: “Omdat ek besef het, wat die wit Afrikane betref, is daar net een genade vir hom in Afrika, en dit is om uit die verdomde gemors van kleur te kom. En daarom stoot ek nog altyd die geskiedenis en taal as ’n eenheidsfaktor, die ontstaan daarvan ook, dit is vir my die groot stryd vandag en die blêddie KP’s [Andries Treurnicht se Konserwatiewe Party-lede – red] is aanmekaar tussenin met hulle velkleur en so, hulle mors alles op.” (Vrye Weekblad, 29 November 1991 – 5 Desember 1991)

“Afrikaans is die grootste nie-rassige prestasie in ons Suiderland sover. Gesamentlik geskep deur mense van drie vastelande – Afrika, Asië en Europa. En daarom is dit nie die besit van eensydige politieke partye nie, maar behoort dit aan almal wat dit praat, skryf en liefhet. En daarom ook is my taal my beste wapen teen rassisme en ek wil nog bysê – sonder Afrikaans is ek niks.” (Die Burger, 22 Mei 1992)

Wenke aan jong skrywers: “Hulle moet asseblief onthou hulle het ’n storie om te vertel. Al is dit die intellektuele tipe roman, of die seksuele, of wat ook al. Onthou, die storie is altyd die belangrikste, of behoort die belangrikste te wees.” (Rooi Rose, 15 November 1995)

Die grootste bedreiging vir die demokrasie: “’n Herhaling van die stront ... Dis geen demokrasie nie – hulle sê net so. Hulle’t dadelik op die soustrein gespring. My naam vir Mandela is sieketrooster.” (De Kat, September 1998)

Op 20 Mei 1953 in sy dagboek: “Ek weet nou dat Europa my geleer het dat ek dwarsdeur ’n aanvanklike estetisme getas het na waarvoor ek eintlik bestem is: l’engagement.” (Rapport, 24 Desember 2000)

“Dit is moontlik om Parys meer lief te hê as ’n vrou.” (JC Kannemeyer: Jan Rabie, bl 136)

“’n Mens moet probeer, want dis beter vir jou om teen die hele wêreld te stry as teen jou eie gewete.”

Oor ’n nuwe geslag bruin digters: “Ons letterkunde behoort nie meer slegs aan behoudende blankes en sensors nie: die revolusie kry ook stem in Afrikaans.” (Beeld, 11 Augustus 1983)

Word hy ooit geteister deur vrese? “Ja. Hoekom nie? My kruik is leeg. Dis nie soos die weduwee se kruik wat weer gevul word nie.” (De Kat, September 1998)

Jan se raad om fiks te bly: “Moet nooit ophou om die voggies van die wingerdstok te drink nie. Selfvoldane mense gaan gou dood. Hulle sit net by die huis en dink oor hulleself. As jy lief is vir iets anders, soos jou medemens of die natuur, sal jy mos besig bly terwyl jy aandag daaraan gee.” (Oosterlig, 12 Februarie 1985)

Wat doen hy vir Moeder Aarde? “’n Mens moet jou aanpas by die subtiele veranderings in jou omgewing. Jy kan nie net bly vat en vat uit die natuur asof dit nooit gaan opraak nie. Ek haal byvoorbeeld net vir ’n spesiale geleentheid seekos uit om die seelewe te help beskerm. Ek glo jy mors nie met die kos wat jy het nie, jy verwerk dit vir later.” (Sarie, 7 Junie 1995)

Voor die Kaapstadse Persklub in 1978: “Apartheid is a main cause of the rift between power leaders and culture creators. Because it concerns our brown half, and therefore ultimately Afrikaans as a living language. The whiter the NP (National Party), the lesser Afrikaans and the lesser the loyalty of the writers. The lesser Afrikaans the NP is, the more it tries to woo the English voter. To stay in power is now the ideal. Dissident Afrikaans intellectuals are now expendable because the NP appropriated Afrikaans to itself.” (Cape Times, 13 Julie 1978)

“[M]ens hoef nooit terug te gaan nie; niks wat goed geleef is, gaan ooit weer verlore nie. Die rivier van my jeug haal nog asem in die kronkels van my drome; die getye van daardie liefde stu nog steeds deur my skryfwerk, onverloorbaar myne.” (Uit: “Rivier van my jeug” in Klein koninkryk: vertellings uit die jeugland, Tafelberg)

“Dis alles deel van die ontdekking van ’n hartstogtelike Afrikanerwees, my-taal-wees – as korreksie op Afrikaner-wees, witman-wees.” (Uit: Paryse dagboek; aangehaal deur André P Brink in Rapport van 24 Desember 2000)

“’n Lewende letterkunde is deel van ’n volk se stryd om te bestaan. Dit is sy magtigste wapen, dit is nie ’n ekstra dingetjie wat jy Sondae soos ’n hoed op jou kop sit nie.” (Republikein, 3 Julie 1981)

Gebore en getoë

Jan Sebastian Rabie is op 14 November 1920 in George in die Suid-Kaap gebore. Hy was die oudste seun van Johannes Wilhelm Rabie, ’n onderwyser, en Susanna Maria Rabie (gebore Le Roux). Ná hulle huwelik het die Rabie-egpaar op Rondevlei tussen Sedgefield en Wildernis gaan woon. Hulle eerste kind, Martha Johanna, is op 9 April 1919 gebore, en omdat dit ’n redelik moeilike bevalling was, is hulle aangeraai dat Susanna na George moet gaan vir die tweede kind se bevalling. Dit is hoekom Jan op George gebore is. Hy was die sesde geslag van die Leipzig-Rabies in Suid-Afrika en die vierde geslag wat die betrokke voorname dra – die vroeëre Sebastians was almal as Bastian bekend. Sy vader het egter die besluit geneem om hierdie naam na Sebastian te verander. Ná Jan het nog vier broers en twee susters gekom.

Van die Tuinroete af het die gesin na Stellenbosch verhuis, waar Jan se pa sy studie as onderwyser voortgesit het. Op Stellenbosch is Jan amper aan kinkhoes oorlede, maar met die nodige bystand en sorg is hy deurgehaal.

Nadat meester Adolf Schumann, skoolhoof van die Klein-Drakenstein-skool in Dal Josafat, in 1923 oorlede is, is Jan se vader as skoolhoof aldaar aangestel.

Ná twee jaar, in 1926, het die gesin na Riethuiskraal in die distrik Riversdal en naby die stranddorp Stilbaai verhuis, waar Jan op vyfjarige ouderdom begin skoolgaan het. Hier het hy die volgende 11 jaar van sy jeugjare deurgebring. Die laaste vier van hierdie 11 jaar is hy na die skool op Riversdal, maar is altyd naweke en vakansies na Riethuiskraal – sy “hartsplek”. Dit is in hierdie pragtige tuinbouvallei, langs die destydse Kafferkuilsrivier, waar hy sy dae deurgebring met swem saam met sy vier broers, en elke boek wat hy in die hande kon kry, verslind het.

“Ek het my vader en die skool se boekerye verslind en oplaas ook ’n hele Engelse ensiklopedie. Dit het my gehinder dat daar nie so ’n heerlike bron van inligting in my taal was nie, en ek begin toe self een skryf. Links en regs het ek papier en tyd gesteel, en my regterarm twee jaar lank lam geskryf. Toe ek by die letter D kom, het my pennevrug al op kniehoogte gestapel gelê. Ongelukkig het ek dit laat vaar. Al my aandag is opgeëis deur ’n nuwe bevlieging – ’n verfdoos propvol kleure. ’n Jaar of wat het ek toe geluksalig kwas gestoot deur fraai landskappies soos nêrens op aarde bestaan het nie,” het hy aan die Vaderland (17 September 1971) vertel.

Jan het gemeen dat dit juis daardie eerste skryfwerk was wat hom ’n veelsydige nuuskierigheid oor die hele wêreld besorg het. Sy ma was ook ’n baie nuuskierige mens en hy het dit seker by haar geërf. Van sy pa het hy sy knaphandigheid gekry. Hy kon alles regmaak.

Jan het in Klein koninkryk: vertellings uit die jeugland (Tafelberg, 1980) geskryf dat hy sy babajare in die Boland maar sleg onthou: “Voor my vyfde jaar is my geheue ’n toegevalle tonnel, dalk nog vol sielkundige molle. My bewuste hartsplek is langs die stil, diep Kafferkuilsrivier, waar ek my sesde tot sestiende jaar deurgebring het, by water en waterklofies, veertien kilometer van die see af wat die rivier langsaan laat asemhaal het, elke ses uur seewaarts en elke ses uur bergwaarts. Die asemhaling van ’n rustige moederdier.

“Ons het van die Paarl af oor stamppaaie met ’n ou regop Ford Lizzie gery wat op elke hoogte gekook het. Maar dit was ’n wonderbaarlike ontdekkingstog. Die wonderlikste nog toe ons oor die kalkrante afsak na die diep vallei waar my vader prinsipaal van ’n driemanskool sou gaan word. Dit was ’n uitsig oor die beloofde land. Begrens deur twee rye van jou waarlik blouige bergies, tweehonderd, driehonderd meter hoog, elke hier en daar oopgekerf in diep syklowe. Groen vakkies landerye en groen pluisies lemoen- en okkerneutbome. Op gereelde afstande pophuisies. Met onder in die middel die rivier wat donker kronkelend tussen sy some riet blink en wink. En toe gaan die pad ook nog deur ’n steil klofie met fonteinwater wat kristalwit rondom die Fordjie se wiele opspat.”

Van sy twaalfde tot sy sestiende jaar was hy ’n leerling aan die Hoërskool Riversdal – ’n bietjie skaam en teruggetrokke en sonder dat hy ooit veel aandag getrek het. Hy het in 1936 hier gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Van 1937 tot 1939 was Jan ’n BA-student aan die Universiteit Stellenbosch, en hier het sy eerste letterkundige pogings die lig gesien in Stellenbossche Student. Op universiteit het Jan nog soveel soos vroeër gelees, ’n bietjie geskilder en uiteindelik via romantiese versies en bergklim tot sy eerste kortverhaal gekom.

Jan het homself as eerstejaar só beskryf: “(E)n skielik is ek in my eerste langbroek gestop om my in die manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch te gaan aanmeld as dopeling, die kleinste, skaamste, afgeknoudste eerstejaar wat seker ooit voor meisies gebloos het. Feit is, ek het begin dig, hopeloos romanties. Vol klinkende ryme: eik/lyk; verlange/wange; en dies meer. Vol bewondering vir die prag (nie die mag nie) van die woord, my woord natuurlik.

“Dit het my jare geneem om tot prosa te promoveer, en selfs nou nog bevat my prosa sinne wat niks van ’n nugtere relaas wil weet nie, maar sommer soos swawels hul eie wilde draaie wil vlieg.” (Vaderland, 17 September 1971)

In 1940 het Jan sy Sekondêre Onderwysdiploma aan die US behaal en as twintigjarige het hy in 1941 begin skoolhou, tot 1944, onder andere op Umtata, Jamestown en Knysna. Hy het vertel dat hy slegs tydelik gaan onderwys gee het om sy vader terug te betaal om hom met die ander kinders se studies te help. (Vaderland, 17 September 1971)

Hennie Aucamp was by Jan in die skool in Jamestown in die Oos-Kaap: “Dit moes ongeveer in my standerd twee jaar gewees het. In daardie stadium het ek nog nooit ’n lewende skrywer gesien nie, maar toe kom Jan Rabie op ons dorp aan. Hy was net ’n paar maande daar, maar niemand het vergeet dat hy daar was nie. Of dit koue was of nie, dié weet ek nie, maar hy het altyd sy truie met die V-hals omgekeerd aangehad, met die ronde hals na voor. Wat ek ook onthou, is dat hy skattejagte tot daar aan die einders toe georganiseer het, sodat die kinders eintlik laat gekom het by die koshuis. Nog iets het gebeur in die kort tydjie wat hy daar was. Sy roman, Nog skyn die sterre, ’n patriotiese Voortrekkerroman, het toe verskyn. Dit is dan my eerste herinnering aan Jan Rabie en miskien het my beeld van ’n skrywer daar en dan gevorm. Iemand wat so ’n klein bietjie anders was en baie speels is.” (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2001)

Jan se broer, At, vertel: “My pa het langverlof gevat en Jan het in my pa se plek by die driemanskooltjie waargeneem as skoolhoof. In daardie tyd het ek hom naweke gesien wanneer ek van die dorpskool af huis toe kom. Dit is eintlik waar ek begin nader kom het aan Jan. Hy het daar gekom met ’n ou opwen-grammofoon en daar het ek vir Mozart en Beethoven ontdek. Dit sal ek hom dankbaar bly my lewe lank. Ons het daardie band later opgebou toe hy teruggekom het uit Parys.” (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2001)

Jan het vertel: “Daarna (na die onderwys) het ek voltyds skrywer geword en kort voor lank met R300 in my sak Parys toe vertrek. Ek moes sewe jaar oorsee bly omdat ek nooit genoeg geld gehad het om terug te kom nie.

“Die onmiddellik oorsaak van hierdie swerflus was die APB wat my ’n opdrag gegee het om ’n reisboek oor Natal te skryf. Na vier maande se ‘groen reis’ met ’n rugsak op my rug, had ek toe lus vir verdere, oorsese reise.” (Vaderland, 17 September 1971)

Jan het in 1971 aan Vaderland vertel dat die werk waarop hy die trotsste was, effe ensiklopedies van aard was: “Ek het my so geskaam dat doodgewone seeterme (byvoorbeeld barnacle – seepok) nie in ons Afrikaanse woordeboeke voorkom nie, dat ek tien jaar lank elke moontlike oomblik afgeknyp het om ons Kaapse kus van Port Elizabeth tot Lambertsbaai te verken. So het ek die eerste behoorlike, gedokumenteerde lys van ons kus se flora en fauna opgestel. Kyk maar voor in die Groot Woordeboek van die Afrikaanse Taal: daar staan dat medewerker JS Rabie 2 181 kaartjies bygedra het. As ons Voortrekkers nie kan verder gaan nie, moet hulle ander paaie soek.”

In 1942 het Jan ’n roman oor die Groot Trek voltooi en dit het in 1943 onder die titel Nog skyn die sterre verskyn. In Perspektief en profiel (1982) skryf Jan Spies as volg oor Jan Rabie se eerste boeke:

Nog skyn die sterre: “Jan Rabie het reeds in hierdie eerste werk ’n aangetrokkenheid tot die historiese openbaar – iets wat veral later in sy Bolandia-reeks te sien is.”

Geen somer (1944): “Hierdie roman het ’n stygende loon getoon en dit het die skrywer se landelike jeugherinneringe as inhoud en agtergrond. Die vertelling verloop gaaf en daar word ’n fyn aanvoeling vir die sensitiewe in die mens geopenbaar. Daar is ook verrassende beeldvondste.”

Vertrou op môre (1946): “Hierin word ’n redelike taalfrisheid en -oorspronklikheid gehandhaaf.”

Die pad na mekaar (1947): “Hierdie roman getuig van skerp insigte in die mens se gedrag en wek die indruk dat die skrywer weet waarvan hy praat. Uit hierdie aanvanklike vier boeke ontstaan die verwagting dat die skrywer ’n man van die toekoms is. Veral die laaste drie boeke kan onder hulle tydgenootlike ‘gewones’ gereken word as goed.”

In 1945 het Jan die onderwys verlaat en voltyds teruggegaan na Stellenbosch vir sy MA-graad in Nederlands. Terug op Stellenbosch het hy begin skryf aan sy vierde roman, ’n liefdesverhaal, waaraan hy baie van sy tyd en energie bestee het. Na die verwerwing van sy MA-graad in Desember 1945 het hy hom in Simonstad gaan afsonder om hom aan sy skryfwerk te wy. In Maart 1946 is hy na Johannesburg, waar hy Bartho Smit by ’n lesing deur C Louis Leipoldt by die Universiteit van die Witwatersrand ontmoet het.

JC Kannemeyer vertel dat Jan en Bartho gou hegte maats geword het en ter wille van kostebesparing Jan se kamer gedeel het. “Dikwels is hulle saam na die Duitse Klub waar jy vir ’n appel en ’n ei kon gaan eet en waar hulle naweke ’n bietjie uitbundig kon raak.” By die Duitse Klub het hulle vir Peter Blum ontmoet en die drie het gereeld in Jan en Bartho se kamertjie na musiek gaan luister of poësie voorgelees.

In 1948 het Jan na Europa vertrek, waar hy onder meer aan die Sorbonne in Parys gestudeer het. Hierdie aanraking met die suide van Europa het ’n sterk invloed op sy skryfwerk uitgeoefen. Gedurende hierdie tyd het slegs Groen reise (1950), die reisboek oor Natal, verskyn. Wat vir Jan Spies in hierdie reisverhaal tref, is die intensiewe waarneming van die skrywer. “Ook van belang is die feit dat hy hom hier openbaar as iemand wat beslis op sy eie manier kyk na sake, en juis daarom ’n nuwe blik werp op veel waarvoor die oog al stomp geword het vanweë tradisie. Iemand wat krities besin, is hier aan die woord.”

Ina Rousseau het in Ons Eie Boek (1951) die mening uitgespreek dat die skrywer van hierdie reisboek iemand is wat die gawe ontvang het om met sukses te reis: “Dit is veral die entoesiasme wat verhoed dat die werk ooit die vorm aanneem van ’n dorre reisbeskrywing of aardrykskundehandboek. Geen interessante besonderheid – hoe onbenullig ook al – skyn hom te ontgaan nie. Die leser word verplig om alles te sien met dieselfde gretigheid as dié van die skrywer.”

In Parys het Jan sy toekomstige vrou, die Skotse kunstenaar Marjorie Wallace ontmoet. Sy het aan Susanné du Preez (Rapport-Tydskrif, 24 Mei 1992) vertel: “In ’n mate dink ek die manier waarop ek Jan ontmoet het, was ’n voorspelling tot ons lewe saam. Dit was in ’n klein hotelkamertjie van ’n medeskilder. Daar het mense ingestroom. En dan was daar ’n vreeslike mooi bruingebrande man met ’n breë gesig en donker, donker oë en ’n kortbroek, and he said: 'I am a South African'. Nou, dit het nie baie beteken nie, I mean, Hongare en Russe was vir my baie meer eksoties. And then he said: 'But I am not an ordinary South African, I’m an Afrikaner.' En dit was Jan. As ek terugdink, hierdie I’m an Afrikaner is die essensie van Jan, en sy Afrikanerskap, en sy behoefte dat ek moet Afrikaans praat.”

Die Vlaamse skrywer Hugo Claus onthou Jan as ’n felle jong man met ’n swart baard en blitsende oë wat op ’n straat in Parys uitroep: “Ek is ’n boer!” (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2001)

Jan was baie arm in Parys. Hy moes dikwels snags in die mark gaan werk en ’n paar sent verdien of koolblare optel waarvan hy dan sop gekook het. So ’n pot sop moes hy dan “rek” deur elke dag water by te voeg vir tot drie weke aanmekaar. Een van die interessante dinge wat hy gedoen het, was om nagmodel vir pornografiese foto’s te wees, maar hy het later so maer geword dat hulle hom nie meer wou gebruik nie. “Snags na twaalf het ek die stasies van die ondergrondse spoorstelsel, die Metro, in Parys uitgevee. Dan het ek weer snags straatbiljette opgeplak. Daarvan het ek die meeste gehou. Ek het al die interessante boemelaars en straatvroue leer ken.” Hy het koerante gevou teen een sjieling en agt pennies per uur, bloed geskenk vir geld, en was ook verbonde aan ’n skool wat voornemende immigrante Engels en Afrikaans kon leer.

Tydens Jan se verblyf in Parys (van 1948 tot 1955) het hy omtrent die hele Franse letterkunde van hoek tot kant deurgelees in tweedehandse boeke wat hy dan weer vir ander omgeruil het. In hierdie tyd het hy Peter Abrahams ontmoet, ’n Sotho-skrywer in selfopgelegde ballingskap. “Hy kon nie terugkeer na Suid-Afrika nie, omrede sy blanke vrou. Ek kon wel. En dit was dan die finale les wat ek in Europa geleer het. Dat hoe meer ’n mens se gees oopmaak vir die wêreld, hoe meer besef jy jy is verantwoordelik vir ’n klein deel daarvan. Dat ek terug Suid-Afrika toe móés gaan. Om my mense te gaan help bevry.” (Die Burger, 29 April 1988)

Uys Krige het ’n vir week by Jan en Marjorie kom kuier – en drie maande gebly. Jan het Krige gehelp om Paul Éluard se gedigte te vertaal en Krige vir Jan om die verhale vir 21 te slyp.

Buiten die Franse tradisie en kuns was dit veral die eervolle posisie wat die intelligentsia in die Franse samelewing beklee het wat die Sestigers beïndruk het. “Die Sestigers het tot nou toe slegs minagting van hul owerheid ondervind. Die hele Franse kunswêreld onder leiding van Sartre het byvoorbeeld by die regering gepleit dat die dief Jean Genêt vrygespreek moet word omdat hy ’n wonderlike digter is. En die regering hét geluister. Parys het ’n hele geslag Afrikaanse skrywers verryk en opgevoed. Veel meer as wat Johannesburg en Kaapstad toe kon.” (Die Burger, 29 April 1988)

Jan se verhouding met Marjorie was op ’n katastrofe gegrondves. Jan het vertel: “Daardie eerste somer in Frankryk het ons ons rugsakke gepak en Parys verlaat, suide toe, son toe. En toe word al ons besittings en geld in Italië gesteel. Wat ’n hou op die maag was dit nie! Êrens het ek koolblare gebedel, asook ’n ou goiingsak om ons goedjies in te dra. Met Marjorie se bietjie geld in haar handsak het ons ’n kombers en tandeborsel gekoop. En noorde toe begin loop. Dit het ons ’n maand gevat om terug te kom in Parys.

“Snags het ons in hooimiedens geslaap en soms het gasvrye boere vir ons melk en brood gegee. Ek in kortbroek en sandale en sy ook nie veel warmer aangetrek nie, met sneeu aan weerskante van die pad, maar dit was juis hierdie katastrofe wat ons, in ons armoede, hegter aan mekaar gebind het. Wel, na soveel koudkry het ek ook Marjorie se liefde vir die suide en die suiderson begin deel en ook gehelp om ’n kaggel in haar ateljee geïnstalleer te kry. Ons was voortaan, wat mens sou kon noem, verloof. Ses jaar later het Marjorie my Suid-Afrika toe gevolg, net betyds vir die Kaapse somer!” (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2001)

Die dramaturg Bartho Smit het sy pak as trouvere vir Jan aangebied en midde-in ’n sneeustorm is Jan en Marjorie op 4 Januarie 1955 in die Britse ambassade in Parys getroud. Oor hulle verhouding het Marjorie op ’n keer gesê dat hulle met hulle ontmoeting ’n argument begin het en dit nooit klaargemaak het nie.

Kort na Jan se terugkeer uit Parys, in 1956, het hy ’n pos by die SAUK aanvaar waar hy vir 18 maande omroeper was. Jan en Marjorie het hulle in Cheviot Place in Groenpunt in Kaapstad gevestig.

André Brink het in 1976, 20 jaar na die verskyning van 21, geskryf dat dit tyd is dat daar vir Jan dankie gesê word, veral dankie vir die vensters wat hy vir ’n hele jonger generasie oopgemaak het net deur hulle aanraking met die mense wat hy en Marjorie was. “Dit het algaande ’n toeloopplek vir ons jonges geword, dié Cheviot Place: méér as ’n toelooppplek: ’n pelgrimsoord. Party van ons het dan en wan by ander ouer skrywers aangedoen: hulle het ons geïnspireer, geleer lees, of gehelp dink. Maar Jan? Jan-en-Marjorie het ons iets geleer van wat dit beteken om te lewe, om mens te wees. Jy’t by daardie ou rammelkashuis met sy houttrap en gekleurde ruite aangekom, dadelik oorweldig deur ’n intensiteit en ’n warboel van lewe: die skilderspaar Erik Laubscher en Claude Boucharain, óú vriende van die Rabies, uit die Paryse tyd nog.

“En dan Jan en sy Skotse Marjorie. Beddens en boeke; komberse en bobotiebakke; borde en baie, baie bottels rooiwyn; skilderye klaar en halfklaar; briewe gesaai oor die tafels; baaibroeke en handdoeke ... en ’n nimmereindigende kom en gaan van mense. Dit was die visuele indruk.

“Eers het dit die jong dissipel aangelok omdat dit so ‘boheems’, so heerlik vry voorgekom het. Maar boheemsheid skaaf af: vryheid kan ’n verskoning vir traaknieagtigheid wees. En dit was Cheviot Place nooit. Wat na lukraakheid en patroonloosheid gelyk het, was nooit net uiterlike allure nie: dit was sigbare tekens van die lewe van mense wat hul prioriteite agtermekaar gekry het. Mense vir wie die lewe voorop staan.” (Rapport, 28 Maart 1976)

In 1956 het Jan se bundel kortverhale 21 by Balkema verskyn. Die 21 sketse en verhale waaruit die bundel bestaan, is in chronologiese volgorde gedruk sodat die leser die ontwikkeling van die skrywer noukeurig kan volg. Hierdie werk van hom word allerweë as die begin van die vernuwing van die Sestigerbeweging beskou, en Jan staan daarom as die eerste Sestiger bekend.

André P Brink skryf in sy bespreking van 21 in Tydskrif vir Letterkunde, September 1957: “Tussen die baie werke wat verlede jaar op die Afrikaanse boekemark gestoot is, was daar een bundeltjie wat beskeie, maar baie beslis laat weet het: ‘Hier is ek.’ Tot dusver het die meeste kritici eintlik nog net ‘kennis geneem’ van die werkie. Werklike reaksie, aanvaarding van die uitdaging, was daar na my wete nog nie. Jan Sebastian Rabie se Een-en-twintig hou inderdaad vir die skerpsinnige leser dié uitdaging in dat dit ’n absoluut unieke kunswerk in ons letterkunde is; dat daar niks in ons prosa is wat eintlik naasteby daarmee vergelyk kan word nie.

“Dit is ’n een-en-twintigtal sketse, verhale, sketsverhale en wat dies meer sy, waarin daar vir die eerste keer deur ons prosa na die pante van ons poësie gegryp word. Uys Krige sien in sy voorwoord – nie oral ewe betroubaar nie – tereg in Rabie se verhale, of in baie daarvan, die poème en prose: die Franse prosagedig, waarin veel van die elemente wat gewoonlik in die taal gereserveer word vir gebruik deur die digter, ook nou in die prosa met welslae toegepas word: klank, ritme, beeldspraak.

“In ’n ander belangrike opsig is hierdie bundel ’n aanduiding van ’n agterstand tussen prosa en poësie wat nou ingehaal wil word: die prosa werp hom hier midde-in die tydsgebeure van ons eeu. Die dinge wat ons ervaar en beleef word nou deurgestoot in die prosakuns, waar Van Wyk Louw, Opperman en andere dit al lank in die poësie ingelê het. Dit beteken nie net dat die motiewe van ons tyd in Rabie se werk as tema gebruik word nie. Die motiewe is die aansporing tot die kunsuiting, is inderdaad die kunsuiting self. Dis nie ’n poging – soos Willem van der Berg se werk tot hoë mate is – om die ‘nuwe’ dinge van ons eeu te sê nie: dit dit. Dit is veral in twee vorme dat hierdie nuwe – laat ons dit noem ‘moderne’ – strominge in Rabie se werk tot uiting kom: enersyds ’n filosofiese grondslag (die eksistensialisme); andersyds ’n uitingsvorm (surrealisme). […]

“Oor Rabie se taal en sy soms meesterlike beeldingsvermoë kan veel gesê word. Dit is immers hierin dat die grootste verkunsting van sy ideë is. […] Laat dit duidelik gesê word: Een-en-twintig het géén verwant in die Afrikaanse prosa nie. Mens moet die moderne Franse en Amerikaanse literatuur gaan raadpleeg om sy modelle te vind.”

CJG was die resensent van 21 in Die Burger van 13 November 1956: “Jan Rabie het in ’n vreemde stem met ons begin praat en hy eindig wanneer hy op die punt staan om homself te ontdek en sy eie stem te vind. Ek beskou Jan Rabie as die Afrikaanse seun van Henri Michaux, die Franse digter wat uit ’n diepe persoonlike smart ’n wêreld skep van skrikwekkende eerlikheid. Veral die eerste verhale staan so kennelik onder Michaux se invloed dat dit na parodieë lyk. Stadigaan begin Rabie egter, namate hy sekerder word van sy vak, hierdie invloed te verwerk, gee hy dit ’n persoonlike wending om dit meer te maak as net stilistiese en literêre gemaaktheid: dit word deel van homself. Afgesien van die invloede wat in Rabie se boek werksaam is, is dit nogtans duidelik dat ons hier ’n skrywer met ’n onteenseglike gawe het, maar hierdie vermoë is ongemaklik in die vorm wat hy gekies het.” Hy sluit sy resensie af: “Een-en-twintig is ’n boek wat ’n skrywer van ontwyfelbare begaafdheid aan ons openbaar, maar een wat tot dusver nog nie sy medium gevind het nie.”

Op hierdie resensie het Peter Blum hom in ’n brief in Die Burger van 26 November 1956 as volg uitgespreek: “Ek was erg onthuts oor CJG se resensie van Jan Rabie se Een-en-twintig in Die Burger van 13 November. Hierdie werkie het my by sy verskyning reeds geboei met sy oorspronklikheid en frisheid van taalgebruik – ’n indruk wat versterk is deur herhaalde lees daarvan. In die eerste plek is Rabie g’n debutant nie (CJG het 21 Jan Rabie se debuut genoem), want hy het reeds vier romans en ’n reisverhaal agter sy naam, benewens talryke kortverhale, sketse en gedigte in tydskrifte.”

Volgens Blum het Rabie se verhale glad nie invloede van Michaux getoon nie, aangesien daar in Rabie se stukke – benewens die hegte struktuur van die skets of kortverhaal – twee eienskappe is wat totaal by Michaux ontbreek, naamlik humor en deernis.”

Uys Krige het in sy voorwoord die poème en prose as volg beskryf: “Byna altyd is dit ’n vinnige, vurige vertolking van ’n enkele stemming of siening, of van ’n enkele gevoel of gewaarwording; en as dié siening, gevoel of gewaarwording meervoudig word, het dit tog ’n sekere beperktheid of ingeslotenheid en ’n liriese inslag wat meer aan die gedig laat dink as die skets of verhaal.” (Uit: Voorwoord van 21)

In Tydskrif vir Letterkunde van September 1956 het M Solz geskryf dat dit om hierdie rede moeilik is om al die stukke in hierdie bundel in een kategorie te wil plaas. “Dit is nie suiwer impressionistiese sketse nie, en daar is ook nie een wat as ’n voldrae kortverhaal beskou kan word nie. Dit is meer soos ’n sterk kristallisering van ’n idee wat dikwels sonder enige bekleding in ’n ekspressionistiese vorm weergegee word. In hierdie opsig is dit iets nuuts in Afrikaans. In die geval van baie van die sketse laat die werk trouens ’n eksperimentele indruk. Die gehalte is ook nie deurgaans dieselfde nie. In ’n paar gevalle grens die sketse aan die surrealistiese soos in ‘Drie kaalkoppe eet tesame’. […] In die beste sketse is daar telkens ’n deurlopende idee wat in die verskillende uitbeeldinge vervat is: Die verantwoordelikheid van die lede van die mensdom teenoor mekaar. […] Veral opvallend is die eenvoud wat die strewe van die groot kunstenaar is. Hy het die kuns bemeester om nie te veel te sê, en daardeur hierdie besonder moeilik en aantreklike kunsvorm geweld aan te doen nie.”

Hennie Aucamp het gesê dat die eintlike kortverhaalgeskiedenis maar begin het met Jan Rabie se 21. “Dit is ’n suurdeeg wat bly deurwerk in die Afrikaanse letterkunde.”

Human & Rousseau publiseer in 2000 21+ in ’n beperkte oplaag met Jan se 80ste verjaardag.

“Al een-en-twintig stukke van 1956 is weer daar plus 13 van die Engelse tekste soos die 21 prosas aanvanklik geskryf is,” het Stoffel Cilliers in Volksblad (8 Januarie 2001) geskryf. “Hy het eers die stukke in Engels geskryf ter wille van sy Europese vriende en Marjorie, wat op daardie stadium nie Afrikaans magtig was nie. Hierdie stukke is volgens André P Brink ‘uit kratte en laaie en bokse en lêers opgediep’. In die algemeen beïndruk die Afrikaanse prosastukke meer as die Engelses na vorm en inhoud.

“Die heruitreiking sal waarskynlik deur die meeste ouer Sestiger-lesers met nostalgie begroet word. Dalk vind die hedendaagse lesers dit net so opwindend soos die lesers van 21 in 1956.”

Vir Elize Botha (Beeld. 29 Januarie 2001) was die eerste feestelikheid van die bundel natuurlik die herlees van die 21 tekste self. “Opwindend is dit om te beleef hoedat ‘Drie kaalkoppe eet tesame’, ‘Die man met die swaar been’, ‘Ek het jou gemaak’, ‘Droogte’, ‘Die nuwe piramides’, om maar ’n paar te noem, hul status as klassieke fabels in ons letterkunde ná Sestig behou: fabels van die verskrikking van vraatsug, die prys van medelye, die vernietigende aard van die liefde, die lotsverbondenheid van wit en swart in ons land, die piramides van gesag wat die mens ‘bemagtig’ om wolf teenoor sy medemens te wees. […] Die herlees van die bundel het my egter ook weer laat besef in welke mate hierdie verhale nie net vernuwend was nie, maar in die naas mekaar bestaan van ouer en nuwe vormgewing en taalgebruik ’n tipiese oorgangsteks was.

“Die nagaan van die publikasiegeskiedenis van 21 lewer ook ’n plus op. Die eerste uitgawe is deur die bekende uitgewer AA Balkema versorg. DH Steenberg wys in ’n aantekening in sy profiel oor Rabie in die jongste uitgawe van Perspektief en profiel (Deel 2) op die betekenis van ‘mondigheid’ wat in die titel beslote is. Maar dat daar uiteindelik 21 tekste in die bundel gestaan het, so het Jan self vertel in die huldeblyk aan Balkema, was die gevolg van die uitsoekwerk wat Balkema gedoen het uit die stuk of 30 prosastukke wat Jan aan hom voorgelê het. (Die anekdote staan ook in die WD Beukes en andere, Boekewêreld 1992:193).”

André P Brink meen in 2000 dat 21 na amper ’n halfeeu nog steeds soos ’n paal bo water in die Afrikaanse prosa staan. As ’n mens na die bakens kyk wat destyds die Afrikaanse fiksie gedefinieer het – CM van den Heever, DF Malherbe, Jochem van Bruggen, Eitemal se Jaffie, FA Venter – het daar ’n “klein geel bundeltjie soos ’n vlieënde piering vol aliens van ’n vreemde ver planeet” geland. “Daarvandaan was die plaaslike prosa nooit weer dieselfde nie.” (Rapport, 24 Desember 2000)

In 1957 word Swart ster oor die Karoo, Jan se eerste “wetenskapfiksie” en die eerste moderne wetenskaproman in Afrikaans, gepubliseer. “Dit was vir my ’n ontdekking van ’n nuwe medium en, bowenal, ek is dolverlief op ruimtefiksie. Dit was lekker en, buitendien, ’n skrywer kan nie vandag net blommetjies aanbid nie. Hy moet iets weet van die groot wording van sy planeet, waarheen dit gaan en die probleme.” ’n Heruitgawe van Swart ster oor die Karoo is in 1980 deur Human & Rousseau uitgegee.

Hierna volg Die groen planeet (1961) en Die hemelblom (1971) in dieselfde genre (Jan Spies in Perspektief en profiel, 1982).

Die groen planeet is ook in 1983 heruitgegee. WEG Louw het die oorspronklike verhaal in Die Burger van 5 Mei 1961 bespreek en tot dié slotsom gekom: “Wat ’n mens aan dié geskrif nie altyd kan bewonder nie, is vreemde stilistiese wendinge en foute. ’n Neiging ook, as ek dit só kan stel, om ‘giggelrig’ te wees. Maar die fantasie word op merkwaardige wyse volgehou en bevat, synde ’n les in die aanpassing, ook wel ’n aktuele boodskap vir ons tyd.”

Jan Rabie se derde boek met die wetenskapfiksie as onderwerp is Die hemelblom. Die resensent van Oosterlig (21 Desember 1976) het só geskryf: “Die hemelblom verdien om gelees te word. Soos in alle goeie wetenskap is die basis van Die hemelblom ’n universele sedeboodskap – die graf wat die mens vir homself grawe met sy onbeteuelde en onverantwoordelike besoedeling van sy eie omgewing. Rabie se verhaal wat die gevolge van die besoedeling op die aarde en die mens se reaksie daarop beskryf, is ontstellend meesterlik geskryf. […] Rabie verdien beslis lof met dié werk van hom.” (Geen melding van resensent se naam)

Jan se volgende bundel kortverhale was Dakkamer en agterplaas: verhale 1947–1957. Wat vir André P Brink dadelik opgeval het, is “dat die verbluffende fyn-spel van woord en simbool en die verrassende nuutheid van Een-en-twintig in hierdie bundel aansienlik getemper is, ofskoon die ontstaansdatums van die verhale in die bundel nie aanmerklik verskil van dié in die vorige een nie. Daar is egter genoegsaam aanduiding van Rabie se eksistensialistiese aanvoeling: die mens se geworpenheid in die lewe; veral ook die mens as verlate van God en die naaste. […]

“Die bundel in sy geheel is allesins ’n aanwins vir ons kortverhaalliteratuur, ondanks opsetlikhede en ’n geneigdheid tot vooropgestelde simboliek of die keuse van filosofie bó verhaal. Ek wil nog glo dat Rabie onder die heel nuwe prosaïste in ons taal ’n aanvoeling en ’n slag met die fynste nuanseringe van taalgebruik en segging het wat eintlik net in die poësie ’n gelyke vind.

“As die verhale in Dakkamer en agterplaas minder ontstellend nuut is as in die eerste bundel, is daar juis in die groter besadigdheid die moontlikheid vir verdere ontwikkeling, omdat dit dikwels dieper gaan en nader aan die essensieel menslike kom.” (Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1958)

Voor die publikasie van Ons, die afgod (1958) het Jan gesê: “Ek moes eers Europa ontdek, voor ek kon besef hoe lief ek vir my land is. Maar, nadat daar geen rasseprobleme in Europa was nie, om terug te kom en apartheid in volle swang te sien, het my gal laat omdop. Ek het ’n boek geskryf Ons, die afgod. Ons maak ’n afgod van ons vel. En dit het nogal ’n beroering veroorsaak.” (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2001)

Jan het ook aan Weekblad (geen datum) oor die skryf van Ons, die afgod gesê: ‘Ek was nie net skrywer nie, maar ook Suid-Afrikaner, wat soms miskien jammer vir die boek is. As mens teen ’n stilte inpraat, praat jy miskien te hard. Ek het net verantwoordelik probeer wees teenoor die volledige waarheid van my land.”

In ’n resensie oor Ons, die afgod in Die Burger (21 November 1955) het HJG geskryf dat Rabie oor rassewrywing in die Boland skryf, oor liefde en haat. “Dit is ’n tema waaruit uitstekende romans gebore kan word, romans wat nie onmiddellik vergeet word as ’n mens met die laaste bladsy klaar is nie, romans wat ’n mens tot vurige denke prikkel. Dat hy so ’n aktuele vraagstuk die middelpunt van sy verhaal maak, is die groot verdienste van Rabie se boek. Ongelukkig het die boek nie veel ander verdienstes nie. […] Rabie skryf driftig, te driftig. Daar is vir hom feitlik geen skakering tussen swart en wit nie. Sy blankes is streng verdeel: een Christen, wat die ware Christelikheid probeer uitleef, ’n klomp afgodedienaars en een futiele man wat in albei kampe probeer staan en uiteindelik vermoor word. […] Rabie kan skryf, selfs tussen die verwarrende beeldspraak deur kan ’n mens in hierdie boek flitse van sy besliste aanleg sien. Ons het sterk, aktuele romans nodig wat die moeilikste probleme beetpak. Dit is jammer dat Rabie ons só ’n boek gegee het eerder as sy kragte te gebruik vir ’n stryd teen afgode wat wesenlik nie meer bestaan nie.”

Hierdie laaste stelling het Uys Krige in ’n Engelse resensie laat skryf: “This statement, however accustomed we South Africans might have become to pronouncements or opinions of a similar nature, should make the angels weep. […] When Jan Rabie is writing at the top of his form, he can write most of our prose writers and all his critics spreadeagled in a row under the table. Now that he has laid several ghosts in Ons, die afgod, now that he has got all that out of his system, we can only wait with excitement for his more objective and mature work.” (Geen bron, datum of naam van resensent op knipsel)

In die Cape Argus van 4 Desember 1958 het ander Afrikaanse skrywers kommentaar gelewer op Ons, die afgoden sy onderwerp. TJ Haarhoff het gemeen dat die boek belangrik is omdat dit die ontwakende gewete van die Afrikaner oor die onderwerp van die gekleurdes verteenwoordig. Hymne Weiss was van mening dat niemand vir ’n skrywer kan voorskryf waaroor hy behoort te skryf nie. Vir haar was dit nie ’n totale spieël van die werklikheid nie, maar wel ’n roerende rekreasie van ’n werklikheid waardeur die skrywer by die kern van die probleem probeer uitkom. Rabie se boek kom baie nader aan die “roman van ons tyd” as baie ander Afrikaanse romans.

Audrey Blignault het die boek baie stimulerend, selfs uitdagend, gevind en het gevoel dat die tema van die roman so gelaai is met emosie dat ’n mens kwalik ’n objektiewe reaksie en kritiek kan verwag. Sy het gemeen dat dit as ’n roman nie heeltemal bevredig nie, aangesien die skrywer te eensydig in sy benadering tot sy tema is en daardeur nie heeltemal reg kon laat geskied aan sy tragiese inhoud nie, maar die roman lewer ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse prosa en dit lui ’n waardevolle vernuwing in.

Braam de Vries meen: “Dié boek het omtrent die literêre wêreld daardie jaar getref. Dit was die eerste keer dat so ’n roman verskyn het. Dit was die dae van apartheid, die dae van die heilstaat wat aangebreek het. Almal het gedink dat as jy iets teen apartheid sê, dan is jy nie ’n gelowige nie, jy is nie ’n Afrikaner nie. En hier het hierdie man gekom met sy deurmekaar bos hare en sy bakkebaard en sy kompromielose baklei vir Afrikaans, maar teen apartheid. Hy was die eerste ou wat openlik gesê het dat Afrikaans oplaas die rekening gaan kry vir die wandade van apartheid. Hy was die profeet in dié verband.” (Cape Argus, 4 Desember 1958)

Mens-alleen word in 1963 gepubliseer, met ’n herdruk in 1978. Rabie het oor die boek vertel: “Ek het ’n roman begin omtrent 1950 – Mens-alleen. Dit was ’n lang roman. Ek het vyf jaar aan hom gewerk. Jy beplan ’n roman en hy het sy eie lewe, sy eie stroming. Die meeste verhaaltjies in 21 was dinge wat met my gebeur het. In daardie tyd het ek ’n spotroman geskryf, Helgard van die Hel. Hulle het hom almal afgekeur in Suid-Afrika, gesê jy moenie spot nie. Toe is ek so kwaad dat ek sê nou gaan ek in Engels skryf.” Mens-alleen is ook in Engels geskryf en gepubliseer onder die titel A man apart. Van die eerste verhale in 21 is ook in Engels geskryf.

Hilda Grobler het Mens-alleen beskouas die beste roman wat Rabie nog geskryf het en die herdruk van 1978 is geregverdig vanweë veral die tematiese tydloosheid daarvan: “Dit is die verhaal van Lukas Alwyn, ’n oorlogsgevangene, wat ter dood veroordeel was en sy seldeur op die oggend van sy geskeduleerde fusillering op onverklaarbare wyse oop gevind het. Hy huiwer aanvanklik om die sel te verlaat, omdat hy vermoed dat sy fusilleerders hom iewers lê en inwag om hom in die rug te skiet. Uiteindelik stap hy tog uit en weg sonder dat hy iemand teenkom. Hy kom op ’n plaas aan waar die boer en sy vrou bereid is om hom iets te ete te gee, maar nie onderdak nie. Hy ontmoet hulle dogter, Rita, wat hom tydelik versorg. In die stad raak hy bevriend met die werkers en hulle voorsien hom van die nodige.”

Grobler het ook gemeen dat hoewel daar talle karakters in die roman voorkom, daar nie eintlik sprake is van karakteruitbeelding nie. “Daar word deurgaans slegs op ’n enkele kenmerkende karaktertrek of aspek gekonsentreer sodat ’n mens assosiatief op die karakters reageer. Die aanhoudende beklemtoning daarvan dat Lukas en sy liggaam (sy ledemate en ander liggaamsdele) nie ’n harmonieuse eenheid is nie, ondersteun die outsiderskap. Net so min as wat hy kontak met sy liggaamsdele het, net so min het hy kontak met die mense met wie hy in aanraking kom en net so min het hy kontak met sy omgewing. […] Mens-alleen is ’n roman waarin die outsiderskap deeglik en tog op indirekte wyse ontgin word.”

André P Brink het geskryf: “Jan Rabie herskep iets van ’n Camus-Kafka-situasie in Mens-alleen: die ter dood veroordeelde Lukas Alwyn vind sy tronkdeur onverklaarbaar oop en ontsnap na die beleërde stad waardeur hy bly dwaal tot hy teen wil en dank in ’n identiteit ingedwing word: hy moet die rol speel van ’n gestorwene, en selfs met dié se vrou saamleef (die weergawe van die groei van sy verhouding met die vrou behoort tot die heel beste wat Rabie nog geskryf het). Hier is werklike outsiderskap, en angs, en skuld – en uiteindelik die aanvaarding van ’n verantwoordelikheid as hy met die gestorwe vrou se kind deur die strate loop.” Brink beskou dit as een van Rabie se belangrikste werke. (Oorspronklike knipsel kon nie opgespoor word nie.)

Rob Antonissen se mening: “Min Afrikaanse prosa is só gevoelig vir die lydende mens, en in geen Afrikaanse roman tot dusver leef die wêreld-as-verskrikking en die mens-in-angs só sterk nie.” (Standpunte, April 1964)

In 1964 is Jan verkies tot lid van die Fakulteitsraad vir Kuns en Geesteswetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. ’n Groep Akademielede was redelik ontevrede oor sy verkiesing en het dit vreemd gevind dat hy in ’n liggaam soos die Akademie opgeneem is. ’n Woordvoerder van die groep het gesê die tradisionele opvatting was nog altyd dat Akademielede – volle lede en fakulteitslede – ingeskakel is by ’n bepaalde kultuurstrewe wat eie is aan die Afrikaanse volk en kultuur. Die opvatting was ook nog altyd dat die Akademie gestig is as bolwerk vir die Afrikaanse ideale en kultuur en dat dié bestaansrede vir die Akademie vandag nog geld. Omdat Rabie hom na bewering van die Afrikaner-ideale en die strewe van die Afrikaanse kultuur losgemaak het, vind die ontevredenes dit vreemd dat hy in ’n liggaam soos die Akademie opgeneem kon word. Daar was selfs sprake van bedankings uit die Akademie.

Jan se reaksie was dat hy hom nie daaraan steur as mense uit die Akademie wil bedank oor sy verkiesing tot lid nie. Hy het gedink dat hy meer vir die Afrikaanse taal gedoen het as baie van die mense wat so hard geskreeu het. Hy het ook gevoel dat die veldtog teen hom kinderagtig en verspot was en hy was nie van plan om in ’n woordewisseling betrokke te raak met diegene wat ’n heksejag teen hom aan die gang gesit het nie. (Volksblad, 19 Oktober 1964)

Ander skrywers het hulle eenparig agter Jan geskaar. Volgens WA de Klerk was Jan een van die mees toegewyde Suid-Afrikaners en Afrikaners wat hy ken. André P Brink het gemeen dat Jan dit in elke opsig verdien om ’n lid van die Akademie te word, aangesien hy alreeds ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het.

In 1966 is Jan en Marjorie weer oorsee. Na ses maande in Amerika het hulle vir 30 maande in Kreta, die oudste deel van Europa, gaan woon. Hier het Jan die boek Klipwieg, wat in 1970 gepubliseer is, geskryf. “Klipwieg” verwys na die grot waar die god Zeus volgens oorlewering gebore is. Baie mense beskou dit ook as die wieg van die Westerse beskawing. Sewe reisgenote onderneem ’n “pelgrimstog” na die grot. Al sewe mense is “siek” mense van ons eeu, op soek na waardes waarin hulle kan glo. By die “klipwieg” belewe elkeen ’n “katarsis” waaruit hulle veranderd te voorskyn kom.

Rialette Wiehahn (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Maart 1971) het geskryf dat daar gebrekkige mensbeelding in die roman is en dat dit ernstige gevolge vir die romanstruktuur inhou. Ook is die Afrikaans in Klipwieg nie so lekker vlot nie en die prosa is te “beeldryk”, wat steurend op die leser kan inwerk – ’n mening waarmee Jan Kromhout in Star van 16 September 1970 saamstem.

Jan Rabie verduidelik: “Kreta is die klipwieg van Europa. Terwyl ek aan Klipwieg geskryf het, het ek sommer so notas gemaak van al die ou karaktertjies en gewoontetjies van die dorp. Toe ek weer in die Kaap kom, dink ek, maar my liewe land, my roman is so ernstig, mense is nie baie lief daarvoor nie, ek gaan nou ’n skinderboek skryf oor die dorp. Toe het ek my notas geneem en eenvoudig ’n boek daarvan gemaak, baie maklik, ’n Haan vir Eloúanda. Dis ’n baie lekker menslike boek.”

Dit is in 1971, met ’n herdruk in 1975, gepubliseer. “Hulde aan ’n Kretense dorpie” is die subtitel van die boek. Die titel is afgelei van Sokrates se afskeidswoorde ná die lediging van die gifbeker. Met verwysing na die beskermheer van genesing sou hy gesê het: “Kriton, ons skuld ’n haan aan Asklepios.” Anita Moodie het geskryf dat Jan dus gevoel het om, as finale afskeid van hulle Kretense dorpie, iets ter ere van die dorpie Eloúanda te skryf. Moodie het die bespreking van die boek vir Rapport van 15 Augustus 1971 gedoen.

Moodie het voortgegaan: “Die ervarings en waarnemings van ’n verblyf van 2½ jaar op ’n klein dorpie op Kreta. Die beskrywing van die intensiteit waarmee daar geleef word op ’n onbenullige landelike wêreld en van die oorgawe waarmee die skrywer en sy vrou opgaan in die sosiale en godsdienstige gebruike van vreemdelinge, word vir die leser gaandeweg ’n reis ook in die ander sin van die woord – ’n verkenning van die heel basiese prosesse van ons menslike bestaan. […] Die verblyf inEloúanda was ’n warme en gesellige verblyf.”

’n Haan vir Eloúanda is eerder ’n verblyfverhaal as wat dit ’n reisverhaal is. AJ Coetzee (Huisgenoot, 14 April 1972) meen dat dit uniek is in die bekendstelling van ’n onbekende wêreld, terwyl FN Gilfillan (Klasgids, Mei 1973) meen dat hierdie boek meer reg aan Kreta laat geskied as die roman.

Die eerste twee dele van Jan se bekende Bolandia-reeks, Eiland voor Afrika en Die groot anders-maak, word in 1964 gepubliseer, met die derde deel, Waar jý sterwe, in 1966. “Al drie handel oor ons vroeë geskiedenis in die Boland, dié wiegland waar Nederlanders en ander Europeërs, inheemse Hottentotte, en ingevoerde swart slawe en Oosterlinge mekaar ontmoet het en tot twee nuwe volksgroepe in Suid-Afrika omgeskep is: witter en bruiner Afrikaners” – aldus die inligtingstuk.

JC Kannemeyer noem Eiland voor Afrika die aarselende inset tot Bolandia (Rapport, 25 Julie 2004), terwyl WEG Louw in sy resensie van Die groot anders-maak die eerste titel erg kritiseer (Die Burger, 11 Desember 1964).

Louw noem Eiland voor Afrika ’n kort novelle oor ’n “min of meer obskure insident in 1658 toe Jan Wouters saam met die slavin, Eva, ’n Javaanse banneling Jasper Duff en nog enkele ander op Robbeneiland gewoon het – Wouters om die Kompanjie se skape en die vure vir die skeepvaart op te pas, die ander as bannelinge. Behalwe Eva se histeriese toestand, die botsing tussen die opvlieënde en vrolike Wouters en die pligsgetroue amptenaar Ryck Overhage, ’n dreigende skipbreuk wat afgewend word, gebeur daar nie veel nie. […] Verder is [Rabie se] romanstof swak of onvoldoende georganiseer, die gang onduidelik en die styl slap en verward.”

Vir Louw was Die groot anders-maak, die tweede deel van Bolandia, ’n boek waaraan hy opregte en baie groot plesier gehad het en hom verwonder het aan die voortreflike kwaliteit van die geskrif. “Rabie skryf hier ’n roman oor die eerste helfte van die agtiende eeu, die tyd van kentering vir die eens trotse en talryke Hottentotstamme van Suid-Afrika.”

JC Kannemeyer skryf in Rapport van 25 Julie 2004: “Die verhaal speel af in die jare rondom 1730 tydens die ontmoeting tussen Nederlander en Koi-Koin. Thomas Muller trek met ’n stuk of dertig man, mense van verskillende nasies, die binneland in nadat ’n kind uit Tom se verhouding met die Koi-meisie Lea gebore is en hy deur sy ouers gedwing is om met ’n wit vrou te trou. Die reste van die Koi-stam wat hulle teenkom, is uitgedun deur die koors en die pokke, en ten spyte van kaptein Oasib se behoudende maatreëls is hul tradisionele leefwyse deur die blanke kultuur aangevreet, veral deur die negatiewe uitwerking van tabak en brandewyn op hulle.”

Jan het self gesê dat die titel van die roman slaan op die Koi-Koin se maandans om hulself te suiwer en “anders te maak”, maar dat dit ook dui op ’n nog groter anders-maak: die verbrokkeling van die Koi-Koin wat baie gou hul eie stamstelsel en hul eie taal verloor en ’n nuwe taal, Kaaps-Hollands of Afrikaans, begin praat en help skep.

Volgens WEG Louw is hierdie boeiende kulturele konflik nog nie vantevore deur ’n Afrikaanse skrywer aangepak nie, en in Jan se hande is dit geen dorre relaas van feite of fiktiewe “feite” nie: “Dit word ’n lewendige en boeiende verhaal, waarvan die hoofpersone ’n mens duidelik voor die gees bly: kaptein Oasib, sy kleinseun Damoeb, die jong Lea, die opstandige, sluwe, oorlamse geweldenaar Hakwa. Ook die wittes, Tom Muller en Piet Vorster, is skerp geteken. Maar die woorde, asook die verruklike fris en dikwels komiese sieninge wat ’n mens duidelik as invloed van die Hottentot-gees voel, het Rabie se eie taal terselfdertyd radikaal vernuwe en verjong! […] Maar wat my nog die meeste van dié boek getref het, is Rabie se onverwagte vermoë om eenvoudig, suiwer en funksioneel te skryf.”

In 2004 word Die groot anders-maak in NB-uitgewers se Klassiek-reeks uitgegee. Kannemeyer meen dat Rabie met hierdie roman stof begin ontgin het wat tot ’n intense dramatiese botsing lei. “Hy skep ’n boeiende verhaal met lewende karakters teen die agtergrond van die fisieke en morele verval van ’n eens groot en trotse volk en van ’n geslag blanke pioniers by wie, soos geopenbaar in die optrede van enkele gevoelloses onder hulle, ’n veragting vir die Koi-Koin ontstaan. Hiermee kry ’n mens die sade van die latere apartheid. Een van die kwaliteite van Die groot anders-maak is Rabie se effektiewe gebruik van die animistiese taal en beeldspraak om die denkpatrone van die Koi-Koin weer te gee.” (Rapport, 25 Julie 2004)

Noel Stahle, ’n Amerikaanse student, het ’n belangrike studie oor hierdie roman gedoen en het daarop gewys dat Die groot anders-maak oor die disintegrasie van ’n Afrika-gemeenskap handel as regstreekse gevolg van ’n “volgehoue en gewelddadige wisselwerking met Westerse setlaars”. Stahle vergelyk die roman met die Nigeriese skrywer Chinua Achebe se Things fall apart. (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1997)

Kannemeyer voel dat dit ’n groot klad op die naam van die Suid-Afrikaanse Akademie is dat Jan nooit met die Hertzogprys bekroon is nie, veral nie vir sy Bolandia-reeks nie. In 1967 het die Akademie besluit om geen toekenning vir die Hertzogprys vir prosa te doen nie, terwyl Jan dit vir veral Die groot anders-maak verdien het. (Rapport, 25 Julie 2004)

Waar jý sterwe, die derde deel van die Bolandia-reeks, is in 1969 in Engels vertaal deur Jan Rabie self. Dit is deur Collins in Londen uitgegee. Hierdie roman speel af teen die historiese agtergrond van die eerste Britse besetting en die Grensoorlog van 1798 tot 1803. Die hoofkarakter om wie se stryd en vertwyfeling dit hier gaan, is Douw Prins, ’n Baster. Douw se neef is Thomas Muller, een van die karakters in Die groot anders-maak. Hulle het dieselfde ouma, Ouma Katryn. As lid van die steeds groter wordende gekleurde groep het Douw Prins deel aan die ontreddering van ’n groep sonder identiteit of selftrots.

RP het in Die Burger van 23 Junie 1969 geskryf: “Hoewel die skuld vir hul ontstaan nie by hom en sy ras lê nie, word hulle allerweë slegs met veragting bejeën. En dit is hierdie miskenning van sy gelyke waardigheid as mens wat Douw prikkel tot die verset en bitterheid wat hom byna sy lewe lank oorheers, ’n bitterheid wat nie minder teen die apatiese onderdanigheid van sy eie mense as teen die blankes gemik is nie. Hoewel die roman hom in die begin van die 19de eeu afspeel, het dit nie daarom aan aktualiteit ingeboet nie. Rabie het self ter verduideliking van dié historiese verwydering gesê: ‘Om die liberaal se oor-emosionele vooroordeel te vermy, het ek die dissipline van die geskiedenis probeer aankweek.’ Dit is ewenwel klaarblyklik dat (Rabie) geprobeer het om die betekenis van sy roman ook ’n algemeen geldige te maak, om dus die steriliteit te vermy van ’n ‘aktualiteit’ wat slegs binne ’n bepaalde politieke situasie van waarde is.”

In 1969 het Jan en Marjorie na Vermont naby Hermanus verhuis. “23 Maart 1969,” het Jan in sy notaboek geskryf. “Eerste eie seekos uitgehaal, ’n kooksel alikreukel.” Hier in Vermont het Jan geleer om van die see te leef. Hulle is seemense en seewiereters en leef van hierdie deinende spens ’n klipgooi van hulle voordeur af. “Dis al grens wat ons nog het waar jy grensbewoner kan wees,” vertel Jan aan Etienne van Heerden (De Kat, April 1989). En, skryf Van Heerden, as ’n mens by die Rabies kuier, moet jy teen wil en dank seegrasjellie en sanderige olywe eet. Wat uit die see kom en wat aan die boom groei, weet die meeste besoekers waarskynlik nie.

Die huis op Vermont was ’n huis met ’n hart soos ’n hotel, skryf Christelle Terblanche (Vrye Weekblad, 29 November – 5 Desember 1991). “Vriende en nuuskieriges het nimmereindigend na Vermont gestroom waar Jan sy eie groentetuin gehad het en sy eie laning olyfbome. Van die olywe het hy olyfolie gepers met ’n vleismeul.”

In 1975 verskyn Die seeboek van die sonderkossers wat bekroon word met die Scheepers-prys vir Jeuglektuur vir 1975–1977. Kraai, Bennie, Leentjie en haar pa, Daniël, onderneem ’n staptog al met die kus langs – sonder ’n voorraad kos, sonder vuurhoutjies, flits, seep, sout of enigiets beskaafds. Hulle is dus genoodsaak om slegs met vindingrykheid en Daniël se kennis aan die lewe te bly – amper soos die Strandlopers van ouds. “Oorlewing word vir elkeen ’n werklikheid en ’n onvergeetlike ervaring en dit is veral hul ingesteldheid teenoor so ’n toedrag wat so boeiend is. Hulle leer nie net wat alles in die see en veld eetbaar is en hoe om dit smaaklik voor te berei met hul primitiewe toerusting nie, maar hulle vind ook iets ingrypends uit: dat om te oorleef, mense sáám moet leef en op mekaar aangewys is. Naas die oortuigende en natuurlike beelding van vier mense in hul stryd om te bestaan, gee die boek baie interessante gegewens oor veld- en seekos. […] Met die boek laat Rabie ons intens na die natuur kyk; laat hy bewondering en waardering vir jou natuurlike omgewing spontaan by jou ontwaak. (Dit) is regtig ’n besonderse boek; oorspronklik, interessant en leersaam; ’n boek wat jou oopmaak vir die aarde, see en lewe om jou. Rabie skryf met oortuiging; beeld die wondere van die natuur aangrypend mooi uit, soos die asemrowende seetuine. Hy skryf met liefde, kennis en aanvoeling – net jammer dat sy taalgebruik en sy eie taalskepping nie altyd bevredig nie." (Volksblad, 8 April 1976)

PD van der Walt (Transvaler, 10 April 1976) skryf: “Die boek is ’n romantiese verwerking van kennis, en in die eerste plek die storie van Leentjie en haar pa Daniël, van die ongelukkige skraal seun Bennie wat die slagoffer van ’n gebroke huwelik is en van die vetsak wat ironies Jan Kraai genoem word. Soos die verhaal ontplooi, word die oorlewingsverhaal ook ’n ontdekking na binne en van menslike verhoudings. Hierdie sintese van ekologiese kennis en lering en sielkundige peiling en menslikheid maak van Seeboek van die sonderkossers kostelike leesstof. Dis die soort boek wat ’n uitmuntende jeugverhaal is, maar wat die volwasse en kieskeurige leser ewe-eens boei en verryk.”

Gideon Joubert (Die Burger, 18 Desember 1975) meen dat die boek meer as ’n interessante verhaal word. “Dit word ’n ontdekkingstog in die harte van mense. Dit word ’n roerende en dikwels poëtiese pleidooi vir die behoud van ons land se kosbare en onvervangbare kuslandskap. Dit word een van die mooiste seeboeke in Afrikaans. […] Jan Rabie is ’n baas-storieverteller. Sy seetonele is soos helderkleurige skilderye. Vele is kunswerkies, deurdrenk met sonlig en die skittering van ’n appelgroen see. Die boek is vol pragtige illustrasies deur Marjorie Wallace, Jan se vrou, wat duidelik sy liefde vir die see deel.”

In 1975, twee jaar voor die verskyning van Jan se roman Ark, deel 4 van die Bolandia-reeks, het gerugte die ronde gedoen dat dit die tweede boek deur ’n Afrikaanse skrywer sou wees wat verban sou word. Jan het egter hierdie gerugte as “twak” beskou. Dit gaan oor die Afrikaner omstreeks vanaf Hendrik Verwoerd se dood en bevraagteken die toekoms van die Afrikanergroep soos dit toe daar uitgesien het. Jan het die boek beskryf as ’n poging om die vraag “Wat kan uit die huidige warboel in Suid-Afrika gered word?” te beantwoord. Hy het bygevoeg: “Ek is self ’n Afrikaner en in hierdie boek sê ek nie ‘julle arme mense’ nie, maar ‘ons arme mense’.” (Daily Dispatch, 18 Januarie 1975)

Abraham de Vries het in Die Burger van 24 November 1977 geskryf dat Ark weer eens bewys dat aan intrige dit Jan Rabie nie ontbreek nie. Alewyn Muller, ’n skrywer en verwoede Afrikaner, word deur die Veiligheidspolisie in hegtenis geneem saam met “die verlore seun”, Tielman, ’n huisvriend. As Muller losgelaat word, ly hy aan geheueverlies. Tielman is vir 12 jaar tronk toe gestuur. Muller moet die hele Suid-Afrikaanse situasie en homself tot in sy verraad as ’t ware herontdek, met die oë van ’n kind van voor af bekyk.

De Vries het verder geskryf: “Ark is ’n pleidooi vir Afrikaans en vir die Afrikaner – genadeloos teenoor álle magte, ook ’n regeringsbeleid wat hierdie eenheid skaad. Ark as roman het egter ernstige gebreke: die werklik darem byna onleesbare hiperboliese beeldspraak, verkeerde woordvorm, onoortuigende karakterisering en onaanvaarbare, onoortuigende gesprekke. Ek wonder: is die roman wel Rabie se forte? As roman is Ark minder geslaagd, maar as stellinginname en pleidooi vir Afrikaans en al sy gebruikers tog sekerlik enig in sy soort.”

André P Brink het Ark vir Rapport (12 Junie 1977) bespreek: “Dit is klaarblyklik ’n boeiende en ambisieuse opset, maar dit is jammer dat dit nie heeltemal oortuig nie. Die vertelwyse deur ’n alwetende derde persoon is dikwels ’n hinderlike element tussen die leser en die onmiddellikheid van Alewyn se naarstige pogings om homself weer te vind en rekenskap daarvan te gee. Ten tweede word die politieke motief hiperbewustelik benadruk: selfs wanneer figure en gebeure dit oortuigend genoeg kan doen, dwing die verteller gesprekke terug na die ‘hooftema’. Die gevolg is dat alle karakters hinderlik óórbewus is van die probleem van Afrikanerskap en oor weinig anders kan praat.

“Van Rabie se allerbeste skryfwerk kom in sekere gedeeltes voor en die felle werklikheid van Distrik Ses word met uitmuntende dialoog oorgedra, maar die roman word in sy geheel geskaad deur moralisering, deur brallerige stilering en ‘mooiskrywery’ soms, en deur werklik erg vervelige passasies tussen die ryker stof. Om twee redes is dit ’n welkome publikasie: literêr, om die paar voortreflike onderdele en die geheelkonsepsie; buiteliterêr omdat dit iets belangriks bydra tot die groot debat oor Afrikaner-‘identiteit’.”

In Julie 1976 het Jan die Kaapstadse Persklub toegespreek en die hoofopskrifte in die koerante gehaal met sy stelling dat die Nasionale Party met sy rassebeleid ’n gevaar vir Afrikaans geword het. Hy het apartheid genoem as die hoofrede vir die destydse vervreemding tussen die politici en die skrywers en bygevoeg dat ’n taal ’n té groot saak is om aan politici oor te laat. “Sonder ’n gesonde, geliefde, vrye Afrikaans waarin al ons sielsprobleme reggedink, reggedroom, reggeleef kan word, sal daar binnekort geen Afrikaners meer wees nie. Daarom moet ons ‘nee’ sê vir die boelies en hul vrees, en ‘ja’ vir alle bouers aan ons mensehuis. Dit is ook verkeerd om te sê dat die Afrikaanse skrywers téén die volk is. Téén die volk het ons niks nie. Ons is deel van die volk. Ons skrywers veroordeel die Staat.” (Cape Times, 13 Julie 1978)

In ’n onderhoud met Amanda Botha met sy 60ste verjaardag in 1980 het Jan gesê dat hy in sy jare in die buiteland – veral in sy vormingsjare as skrywer in Frankryk – fanaties Afrikaans geword het. Hy het erken dat hy ’n rebel en ’n buitestander is, maar dat hy nooit ’n wederstrewige was as dit oor beginselsake gaan nie. “Wat ek gesê het – en vandag nog voorstaan – is nie ter wille van myself nie, maar ter wille van my ideale. Die Afrikaanse mens moet leef – en hy is nie net wit nie. Sonder die Bruine gaan hy sterf. Ek weet dit.” (Transvaler, 15 November 1980)

Hy het onomwonde verklaar: “My opstand teen apartheid was nie teen apartheid as sodanig nie. My opstand was omdat ek daarin ’n gevaar vir Afrikaans gesien het. Vir die taal was dit doodsgevaarlik. My standpunt toe was dat dit die sterfte van Afrikaans kan beteken en vandag pluk ons die wrange vrugte daarvan. Ek het dit toe gesê en glo dit vandag nog: Malan en later Verwoerd was die grootste vyande wat Afrikaans gehad het, al het hulle dit self nie besef nie.”

Human & Rousseau publiseer in 1981 Versamelverhale van Jan Rabie. Die subtitel is “’n bundel kortverhale en prosastukke saamgestel as huldeblyk aan Jan Rabie by geleentheid van sy sestigste verjaardag op 14 November 1980”.

Vir Henriette Roos kon daar nie op ’n beter manier aan Jan Rabie erkenning gegee word as met dié bundel nie. “Dis ’n pragtig versorgde uitgawe waarin die 50 stukke ’n geheelbeeld van sy kortprosa gee. […] Elke stuk is gedateer – ’n baie handige referensiegegewe – en strek oor 33 jaar van skrywerskap, 1947–1979. […]

“Een van die belangrikste voordele van so ’n versameling is dat die leser weer met nuwe oë na bekende stof kan kyk en dat in die direkte naasmekaarplasing van stukke wat oor die jare in afsonderlike bundels gepubliseer is […] ’n herevaluasie van die oeuvre gedoen kan word. Dit is opmerklik dat die ou gunstelinge aan glans nie verloor het nie, dat dié stuk waarmee die bundel open, ‘Drie kaalkoppe eet tesame’, meer as dertig jaar na skrywe, nog dieselfde impak maak. […]

“Die bundel gee ’n oortuigende bewys van ’n skrywer se statuur. Versamelverhale is ’n soort getuienis, ’n bevestiging van die rypheid waarvan 21 met sy nuutverklaarde mondigheid die eerste teken was.”

André P Brink het sy bespreking van Versamelverhale só afgesluit: “Oor die sentraalheid van Jan Rabie se oeuvre in ons Suid-Afrikaanse bestel en literatuur kan daar, behalwe onder dowes, halfblindes en kwaadwilliges, nie twyfel bestaan nie. Iets van ’n outydse profeet. Heelwat van ’n kind, immer jeugdig, immer relevant. Teen wil en dank ’n gewete. Wat nie altyd maklik is nie – maar wat altyd nodig is. Jan Rabie se Versamelverhale is ’n gepaste huldiging vir ’n mens en ’n werk in die brandpunt."

En George Weideman het in die Republikein (3 Julie 1981) só geskryf: “Versamelverhale bied aan dié lesers wat nog nie met Rabie kennis gemaak het nie, die geleentheid om sy sinvolle verdigsels van die hedendaagse lewenswerklikheid deel van hul daaglikse wapenrusting te maak.”

Johanna se storie word in 1982 gepubliseer, en Jan het dit self as ’n “vrolike” roman beskryf. Du Plessis het die storie van Johanna só opgesom: “Die verhaal handel oor die swerftogte van Johanna Delarey, ’n Afrikaanse meisie wat nie ‘wit’ of ‘bruin’ wil wees nie. Haar gesin is verwoes deur die proses van rassekwalifikasie in ’n klein gemeenskappie met die naam Elandmis. Haar pa, getroud met ’n ‘bruin’ vrou, laat homself toe maar ‘bruin’ verklaar en omskep sy plaas in ’n eiland, heeltemal omhein en afgeslote van die apartheidswêreld. Wanneer Johanna eendag wegloop om die dorp, die kerk en die magtige dominee te gaan bekyk, vang hy haar en ketting haar vir ses maande soos ’n hond in die skuur vas. Sy maak egter allerhande slim plannetjies en loop met haar onbesoedelde gees weer weg, die wye wêreld in, op pad Kaap toe. Onderweg ontmoet sy ’n verteenwoordigende deursnit van ons samelewing.”

Phil du Plessis het verder geskryf: “Soos afgelei kan word, is dit ’n boek hierdie met soveel skakerings as wat daar hoofstukke is, elke episode het ’n ander kleur soos Johanna die aangebode aspekte van ons samelewing deur haar onskuldige oë sien en haar stryd voortsit om reg te kom sonder om ‘wit’ of ‘bruin’ te wees, soos haar pa haar geleer het. Johanna se ewige moralisering oor haar eie en ander se situasies steek egter naderhand dwars in die krop. […] Met al die deugde van verskillende dele, ’n leser se wisseling tussen pret, meegevoel, politieke verontwaardiging en dan sommer net verveling of irritasie, wonder ’n mens aan die einde of hierdie boek nou juis ’n roman moes gewees het. Die belangrikste strukturele draad vir die roman, die eintlike romanse, is soseer die swakste deel, dat die suksesvolste temas moontlik meer tuis sou gewees het in ’n boek met kortverhale en satiriese sketse met ’n algemene strekking.”

Joan Hambidge was teleurgesteld met die storie en het gevoel dat die beoogde epos nie oortuig het nie. (Hoofstad, 28 Desember 1982)

In Rapport (7 Maart 1982) het Ampie Coetzee só geskryf: “Rabie se nuutste roman, Johanna se storie, en sy karakter Johanna is ’n produk van die maatskappy. As dit te lank is, as dit dikwels te veel moraliseer, as dit te anekdoties is, as Johanna te naïef én te volwasse is, is dit omdat hierdie sosiaal-politiek bewuste skrywer nie anders kán as om aanhoudend, oor-en-oor sy afgryse oor ’n samelewing te illustreer nie. ’n Maatskappy kry miskien die soort roman wat hy verdien.

Johanna se storie draai geen doekies om nie. Dis ’n straight-forward, eenvoudige, on-‘literêre’ verhaal oor Suid-Afrikaanse rassisme wat deur elkeen wat sê hulle is ‘Afrikaans’ behoort gelees te word.”

Vir André P Brink (Beeld, 10 Mei 1985) was dit omdat die roman so “brandend” eerlik en die naïwiteit só bekoorlik is dat Johanna se storie gelees en waardeer sou word: “[M]aar hoe jammer dat die komedie en satire met so ’n swáár hand aangelê word, dat die loop van die storie so gedwonge en gemanipuleer raak; en dat Johanna se storie nie tóg, uiteindelik, ontsettend veel meer van die Suid-Afrikaner se storie en die méns se storie tot sy reg gekom het nie.”

Jan was een van die stigterslede van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1975 naby Broederstroom, en in 1982 is hy tot voorsitter van die Gilde verkies. In 1993 tydens hulle jaarberaad in Bloemfontein is erelidmaatskap van die Gilde aan Jan toegeken. Jan is op hierdie manier vereer vir sy bydrae tot die gilde, sy baanbrekerswerk as Sestiger, sy milde medemenslikheid en sy volgehoue stryd teen diskriminasie en alles wat Afrikaans kan skaad. (Volksblad, 26 Maart 1993)

Abraham de Vries het by die toekenning van hierdie erelidmaatskap aan Jan die commendatio gelewer: “Jan is een van die min skrywers van wie ’n mens met stelligheid kan beweer dat hy nie net ’n barometer is van sy tyd nie, maar iemand wat kreatief die geestesklimaat van sy tyd help vorm. Maar daar is ook ’n ander, ewe belangrike rede. En dis waar die pad van my woorde dan sy draai moet vat na die hart toe. Hiervoor, ten slotte dan, haal ek my teks uit Nietzsche, sy bekende woorde: ‘Broeders, bly die aarde getrou.’

“Erelidmaatskap van Die Afrikaanse Skrywersgilde is nie ’n eerbetoon soos ’n Akademietoekenning of ’n literêre prys nie. Dit is die eerbetoon aan ’n skrywer deur mede-skrywers. Literêr en literêr-histories gesproke, dit weet ons almal, Jan, is jy die radikale vernuwer in ons prosa, die herout van Sestig, die intens betrokke Afrikaanse stem téén ons eie ancien regime, maar ook teen elke buitensporigheid wat menswaardigheid skend. Maar skrywers oordeel nie literêr nie. Skrywers sê met dié oor ook: jy, jou boeke, Jorie en Onrus is vir ons waterput, koelteboom, inspirasietuin. Daarom wil ons ook sê: ons het ’n heilige respek vir die manier waarop jy getrou bly aan wat Camus genoem het ‘hierdie onvervangbare aarde’.

“'Ek voel skaam vir al my abstraksies as ek saam met Jan iewers loop,’ sê Johan Degenaar. ‘Hy ken als se name en hoe dit werk en hoe ’n mens dit kweek en hoe ’n mens dit eet, hy is so entoesiasties en vol piëteit, as ek saam met Jan stap, laat hy my elke keer die aarde núút beleef.’” (Die Burger, 27 April 1993)

’n Getuigskrif en die persoonlike belewenis van Jan en Marjorie is vervat in ’n Boek vir Onrus wat in 1982 verskyn het. Vir Amanda Botha (Vaderland, 31 Maart 1983) is die gegewe in die werk geen poging om ’n algemeen-aanvaarde beeld van Onrus, die strandoordjie naby Hermanus, te gee nie, maar eerder ’n woordbeeld van die ervaring van die skrywer om inwoner van Onrus te wees. “’n Boek vir Onrus wil in wese ’n pryslied wees – ’n dankiesê vir die genade dat hulle hier met so baie geseënd is. […] En so behoort ’n mens, myns insiens, die boek wat baie lekker lees en plek-plek vonkelprosa het, te geniet. […] ’n Boek vir Onrus bevredig ’n mens, maar tog wens jy dat Rabie reeds al weer aantekeninge maak vir ’n opvolg-boek. Die guitige en deernisvolle sketse van Marjorie Wallace versier die boek. Sy het met enkele penstrepe daarin geslaag om die atmosfeer van die geskrewe woord raak te vang.” Botha beskryf dit as ’n vrolike boek wat kol-kol van die beste prosa van die humoristiese Rabie verteenwoordig.

Vir George Weideman (Republikein, 25 Maart 1983) is die boek ’n fees vir die lewe, en Cecile Cilliers (Beeld, 13 Januarie 1983) skryf dat dit ’n boek vir onthou word, ’n boek vir geniet, maar bowenal ’n boek van Jan Rabie.

Die Franse regering het in 1985 besluit om Jan te vereer vir die bydrae wat hy oor baie jare gelewer het om die Franse kultuur in Suid-Afrika uit te dra. As rede word veral genoem sy talle Afrikaanse vertalings van Franse literêre werke, en hy word lid van die Franse Legioen van Eer. Hy het ook die Amerikaanse Carnegie-reisbeurs en die Franse Sorbonne-beurs ontvang.

Jan se vyfde roman in die Bolandia-reeks is En oseaan wat in 1985 verskyn het. “Dit handel oor die lotgevalle van ’n groep melaatses wat hulle in 1824 in die Instituut Hemel-en-Aarde bevind. Vir die hooffiguur, Lukas Wahl, beteken sy siekte nie slegs ’n langsame uitlewering aan die dood nie, maar ’n eksistensiële toestand waarin die hele wese van die menslike bestaan bevraagteken word. Soos ’n Job kom hy in opstand teen God, maar hy is ook die boekhouer wat die verskriklike werklikheid objektief waarneem en die intellektueel wat filosofies kan besin oor sy medemelaatses se patetiese worsteling met die skrikwekkende aardse en die onbereikbare hemelse,” volgens Charles Malan in Transvaler van 1 Augustus 1985.

Volgens Malan is Rabie se sterk punt sy skerp waarneming en fyn gedetailleerde beskrywing van ruimte en konteks. “Die taalgebruik van die karakters is so lewenseg as die ruimtebeskrywings. Daar is nog heelwat van die skrywer se bekende swakhede te merk: oormatige simbolisering en daarmee saam onnodige eksegese, ’n verlustiging wat soms tot woordoordadigheid lei, en veral ’n neiging tot die melodramatiese wat die pragtige moontlikhede van die slottoneel heeltemal beduiwel. Maar in hierdie roman word die rou emosie dikwels getransendeer deur ’n merkwaardige ewewigtigheid en ’n reddende deernis. By sekere onderdele raak die roman groots en aangrypend. En oseaan bly nietemin een van die hoogtepunte in Rabie se oeuvre en verdien ’n groot leserskring.”

André P Brink was die volgende mening toegedaan oor En oseaan: “Die hele gang van die novelle neig in die rigting van die katastrofiese en suiwerende laaste konfrontasie van die melaatses, met die pynigende, reinigende oseaan waarheen die siniese fat, dr James Barry, hulle dwing. Die katalisator in hierdie ontwikkeling is die mooi jong bruin meisie uit die binneland, Catharina, wat met die eerste tekens van melaatsheid aan haar maagdelike lyf in die kolonie aankom, vol geloof dat sy genees sal teruggaan na haar verloofde. Die siniese Lukas word deur haar onskuld aangegryp, hoewel hy dit meestal agter hardvogtigheid probeer verberg.”

Brink het gemeen dat die roman beslis ’n vooruitgang toon in vergelyking met Johanna se storie, maar dit kan nog nie saampraat met die indrukwekkende Die groot anders-maak nie: “Wat dit wel aanbevelenswaardig maak, is dat dit op die gewone vlak van ’n boeiende storie die leser meestal genoeglik besig hou.” (Rapport, 17 November 1985)

Vir Gideon Joubert, wat Droomberge – Sederberge (Saayman & Weber, 1985) vir Die Burger van 9 Januarie 1986 bespreek het, straal die gees van die Sederberge, wat as die wonderlikste berge in Suid-Afrika beskryf word, uit. “Die boek het twee karakters: die Sederberge self en daarnaas oom Frederik, die eienaar van die vier pakdonkies wat die staptog met Daantjie Saayman en sy vrou, Nici, meemaak. Dit is ’n pragtige en leesbare boek wat elke liefhebber van die Sederberge sal wil lees, en elke voornemende klimmer sal móét lees. Die lekkerste van die boek is Jan Rabie se ontspanne verteltrant. Dit is lig en leesbaar geskryf en sy geesdrif slaan deur.”

Buidel (1989) is volgens die voorwoord ’n “lewendige samevoeging as bloemlesing, bundel of versameling: buidel. Iets soos ’n literêre kangaroe met ’n warm buidel waaruit twee dosyn springbokkies loer! Dit bevat van Jan se rubrieke wat in tydskrifte en koerante verskyn het, huldeblyke aan vriende, reisbeskrywings van onder andere Griekeland, sy wedervaringe as proefkonyn op Mont Blanc, die stryd om ons taal en vele ander – 24 van hulle om presies te wees.”

Vir Willem Pretorius (Beeld, 6 Januarie 1990) is dit ’n heerlike manier om in die skrywer se “vaarwater rond te dobber”, en George Weideman (Die Burger, 19 April 1990) beskryf dit as ’n bundel “vol hartlike, warme menslikheid”.

Met die oog op Jan se 70ste verjaardag in 1990 het die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein ’n gedenklesing gehou waar Jan gepraat het oor “’n Skrywer se evolusie”. Hy het onder meer vertel hoe hy in 1948 vir sewe jaar Parys toe is: “Van buite my land het ek die krake in ons samelewing begin raaksien. Stilweg, ondergronds, het ek begin besef hoe ’n gruwelike selfsug apartheid is wat as ’n soort godsdiens by ons opgehemel – en afgedwing – is, en hoedat ons toegelaat het dat ons naakte rassisme ons bruiner, Afrikaanssprekende, Protestantse broers en susters vanaf die kiesersrol en uit ons lewens verstoot is. Stilweg, ondergronds, het my gewete krag begin versamel.”

Hy het gevra of sy droom van ’n groot nierassige Afrikaanse land dalk vals moet wees. “My droom van ’n ware huwelik tussen mense van alle tale en kleure vanaf die sewentiende eeu, om ons stuk Afrika in die jong, nuwe taal, Afrikaans, te laat sing? Nie as witmanstaal nie, as almal se taal. Of vat dit ’n leeftyd van gekneus en gevorm te word in die smeltkroes van die tyd? Want ek besef nou dat my werk met die jare rustiger, berustender, glimlaggender geword het. My skryfwerk het ook meer Afrikaans geword. Geen estetisme nie – gesonde, leesbare sinne. As Afrikaans enige sin of toekoms wil hê, dan moet dit gelees kan word, met plesier gelees kan word. My wapen in die stryd om geregtigheid is tog my taal, uitredding uit die dwaling van velkleur met die Ark van taal ... Ek erken dat ek ook Europa geestelik meer as Afrika geleef het; dat my taal eerder Troje as Mapungubwe ontdek het; en dat die sogenaamde Afrikaner Afrikaans verminder het. Maar ’n mens kan leer. Ook hoe om ’n droom styf vas te hou.” (Volksblad, 5 Mei 1990)

Ook in 1990 het die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad aan Jan toegeken. Hy was verheug oor die nuus en het dié toekenning wat hy van die “mees Afrikaanse universiteit” ontvang het, waardeer.

MC Botha skryf in Die Burger van 17 November 1990, net voor Jan se 70ste verjaardag, dat Jan ’n versamelaar is. Dalk kom dit uit die dae van armoede, maar enigiets wat hy langs die see opgetel het, is huis toe gedra: toue, boeie, stukke hout. “Wat in die meeste huishoudings in die asblik beland, bewaar Jan: kurkproppe, margarienhouers, roomhouers ... En hy is ook ’n optekenaar – hy hou rekord van die reënval, die temperatuur, hoeveel sade hy van ’n sekere groentesoort geplant het en hoeveel kilogram hy oes, en op ’n oorspronklike manuskrip word daar by elke paragraaf aangestip, namate die boek vorder, hoeveel woorde hy al geskryf het. Eenkeer verklaar hy trots: ‘Ek het nou die dag getel, daar is 52 woorde wat my hond Bekkie verstaan.’”

Vyftig jaar nadat Jan Rabie in 1948 in Parys aangekom het, word sy Paryse dagboek deur Human & Rousseau uitgegee nadat André Brink dit versorg het. Brink het die dagboek saamgestel uit aantekeninge wat Rabie van April 1948 tot Februarie 1955 in die Franse hoofstad gemaak het.

LS Venter het in Rapport van 13 September 1998 geskryf dat Paryse dagboek Jan Rabie se posisie as eersteling onder die Sestigers bevestig. “Hy is nie die belangrikste skrywer van sy geslag nie, maar is in vele opsigte pionier en herout. Wat veral boeiend is, is die inskrywings oor gebeure wat later belangrike verhale sou word. Die werklikheid van die sterwende man in die Luxemborg-tuin word 21 se ‘Die man met die swaar been’. Lewe en kuns kom hier in simbiotiese verhouding tot mekaar in stand. Hierin lê miskien die uiteindelik sin van die literêre dagboek: om aan te toon hoe lewe die kuns en kuns die lewe informeer.”

George Weideman het as volg oor Paryse dagboek geskryf: “Almal wat belang het by die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde kry in Paryse dagboek ’n geleentheid om Jan Rabie se eie leesverslae, sy aantekeninge oor besoeke aan kunstenaars en uitstallings, en sy worstelinge met die eksistensialisme teen ’n wyer en nuwer doek te sien. Paryse dagboek is ’n ryk – hoewel soms erg kriptiese – verslag van ’n karige bestaan oor bykans agt jaar.” (Die Burger, 9 September 1998)

Vir Abraham de Vries is dit ’n baie waardevolle dokument wat aan die leser ’n unieke ervaring bied: “’n byna dag-tot-dag verslag van die proses waarin ’n jong skrywer (hy was toe maar 27) om sy eie woorde te gebruik ‘dwarsdeur ’n aanvanklike estetisme getas het na waarvoor ek eintlik bestem is: l’engagement.” (Skrywers en boeke, RSG, 12 Julie 1998)

In 1995 is Jan, saam met Adam Small, by die KKNK vereer toe hulle die Afrikaans Onbeperk-toekenning ontvang het.

Sedert die middel van die 1990’s het Jan aan Lewy-body’s sindroom gely – ’n kombinasie van Parkinson en Alzheimer se siekte. Marjorie het aan MC Botha vertel dat dit Jan se skryflus weggevat het en dat al die pille wat hy moes drink, hom stram gemaak het. Wat Jan laat ophou skryf het, was Human & Rousseau se weiering om sy laaste boek te publiseer. Die titel was Kinders van die reënboog. Die uitgewers het gemeen hy moet dit sny en ’n kinderboek daarvan maak.

Die lekkerste ding wat Jan ooit gedoen het, was om Kreta plat te stap, het hy aan MC Botha vertel: “Die Griekse eilande en Klein-Asië was terra incognita vir my – dit was ’n wonderlike ontdekking, en als was goedkoop. Ek het ook van Parys gehou, ons het van koolblare gelewe. Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek in Parys aankom, was om ’n bottel wyn uit te drink en daarna in die Seine gaan pis.” (Die Kat, September 1998)

Op Donderdag 15 November 2001, ’n dag na sy 81ste verjaardag, is Jan in ’n aftreeoord naby Onrusrivier oorlede. Hy het in Oktober 1998 ’n ligte beroerte gehad.

Op Maandag 19 November is hy in Onrus begrawe, en by sy graf het André Brink hulde aan sy vriend en mede-Sestiger gebring. Die eenvoudige plegtigheid in die kerkhof was ’n byna uitbundige bymekaarkoms van ou vriende, en volgens Brink was dié blye bevestiging van vriendskappe ook tipies van Jan se invloed op die mense na aan hom. Die plegtigheid het bestaan uit enkele huldeblyke by die graf, en die staaltjies wat opgediep is, het dikwels ’n gelag ontlok.

Marjorie Wallace is op Sondag 26 Junie 2005 oorlede.

Huldeblyke

  • André P Brink: “Vir Jan Sebastian Rabie was skrywer-wees die natuurlike voortsetting van sy mens-wees; en volledige mens sou hy ook nooit kon wees sonder die beslag wat die woord aan sy lewe gegee het nie. In albei opsigte was sy uitgangspunt ’n kompromislose eerlikheid, juis in omstandighede waar ander mense sou verkies het om doekies om te draai. Maar dit was nooit ’n eerlikheid wat bedoel was om seer te maak nie, want Jan was in sy hart iemand met soveel deernis en respek vir ander en vir die lewe, dat dit nie in sy aard gelê het om te kwets nie. Net wanneer hy te doen gehad het met skynheiligheid en huigelary, met selfingenomenheid en eiebelang, was hy genadeloos. […] In alles wat hy geleef en gedoen het, was hy nooit ’n afgesonderde enkeling nie: sy lewenswerk is deurstraal met die sáám-leef met Marjorie Wallace, die ‘Skotse skilderessie’ wat hy in Parys ontmoet het en wat meer as ’n halfeeu sy lewe gedeel en haar eiesoortige lewensblyheid tot sy visie bygedra het. Sy het hom nie net gehelp om Parys te leer ken nie, maar ook om Suid-Afrika met nuwe oë tot op die been toe deur te kyk. Ons is almal vandag armer. Maar wat van Jan oorbly, sal met ons voortgaan solank as wat Afrikaans in dié land gehoor word, en solank as wat ons literatuur bly saak maak.” (Rapport, 18 November 2001)
  • Chris Barnard: “Die een ding wat Jan Rabie nie was nie – hy was nie maar net nog ’n mens nie. Van alle kante bekyk – en Jan Rabie wás iemand met vele kante – was hy onbeskaamd en triomfantelik anders as wie ook al. Sy sonde van destyds was sy liefde vir Afrikaans. Hy het vas geglo Afrikanerpolitiek vervreem ons nie alleen van ons bruin broers nie en die res van die land se mense nie, maar bedreig daarmee terselfdertyd die voortbestaan van Afrikaans. Hy was toe reg. Jan Rabie is nooit met die Hertzogprys of enige ander noemenswaardige prys bekroon nie. Daarvoor was hy dalk te onverstaanbaar sy weerbarstige self. Maar hy was en is die grondlegger van ’n hele boel wat oor die afgelope 40 jaar in die Afrikaanse letterkunde gebeur het.” (Die Burger, 17 November 2001)
  • Fanie Olivier: “Toe die volk gedweep het met die nasionalisme, het hy klinies die evolusie daarvan bekyk en dit daarom na waarde geskat. Toe kritiek van die bestel as dislojaal beskou is, het hy die deugdelikheid van só ’n kritiese lewenshouding in helder en óóp kort sinne verdedig. Toe materialisme begin het om die afgod te word, het hy sy rug daarop gekeer: sy oë opgeslaan na die berge, skrefie getrek in die soutwind langs die see. As gevolg van hierdie oortuigings en die bereidwilligheid om die gevolge daarvan te aanvaar, het Jan min (maar suiwer) vriende gehad. As hy op sy eie trompet geblaas het, was dit op ’n stuk bamboes op Onrus se strand waar niemand anders gehoor het nie. (Maar dié wat ore gehad het, sou kon geluister het ...) […] Waarskynlik het geen ander skrywer van die laaste 50 jaar Afrikaans hartstogteliker liefgehad as Jan Rabie nie. Sonder dwepery, sonder pretensie, sonder vrees. Ten opsigte van Afrikaans was hy kompromisloos: aardse en eerlike Afrikaans was nooit lui of slaprug-Afrikaans nie. Ook ten opsigte hiervan het hy kiertsregop bly loop in ons taalwêreld.” (Die Burger, 17 November 2001)
  • Abraham H de Vries: “Jan was die ‘geestelike vader’, die sosiale gewete van ’n hele generasie Afrikaanse skrywers wat in opstand begin kom het nie slegs teen die literêre konvensies van die tyd nie, maar ook teen die politieke onreg van Apartheid, en dan veral die onreg teenoor mede-Afrikaanssprekendes, die sogenaamde Kleurlinge. […] Hy was die eerste Afrikaanse skrywer wat besef het dat die taal Afrikaans die rekening oplaas sou kry vir die sondes van die apartheidspolitiek. […] Daar was nie net een Jan Rabie nie, daar was vele Janne. Daar is ook Jan, die skrywer van jeugboeke ‘vir almal’, het hy eenmaal gesê, ‘wat ons arme ou miskende, vernielde aarde en sy seë lief het’: Twee strandlopers en Seeboek van die sonderkossers. En ná CJ Langenhoven was hy die enigste skrywer van wetenskapsfiksie in Afrikaans. Maar sy vriende het ook Jan die tuinier geken, wat ná hul terugkoms uit Griekeland sy eie olywe begin plant het op Onrus. Plantjies en groente was gewoonlik Kers- en verjaardaggeskenke aan vriende en familie. En daar is ten slotte die Jan van Jan-en-Jorie. Saam met sy vrou, ‘Jorie’ (Marjorie Wallace) het hulle vir geslagte skrywers en digters, komponiste en beeldende kunstenaars in hul huise by Cheviot Place 6 in Groenpunt en daarna in Vermont by Onrusrivier ’n tuiste geskep, ’n tuiste waar idees en vriendskappe ontstaan het oor alle grense heen.” (Beeld, 17 November 2001)
  • DH Steenberg in Perspektief en profiel Deel 2: “Rabie se bydrae tot die Afrikaanse prosa lê daarin dat hy met die woordvaardigheid en kennis wat hy veral in Frankryk opgedoen het, in Afrikaans kom gestalte gee het aan ’n eerlike blik na binne oor Afrikaans as taal en oor dié enklave Afrikaanssprekers wat dikwels oor die hoof gesien word. In daardie opsig is sy werk uniek.”
  • Henning Pieterse: “Rabie het as ’t ware die hele golf van Sestig single handedly begin. Hy is nooit werklik na waarde geskat nie. Ek het nog altyd gevoel dat hy nogal ’n visie gehad het wat die politiek en die kultuur betref. Hy was natuurlik soveel jaar lank in Frankryk en kon vanuit ’n buiteperspektief skryf. Hy het in die jare vyftig op baie tone getrap en dit was waarskynlik die rede waarom hy op die kantlyn geskuif is.” (Beeld, 17 November 2001)
  • Hein Willemse: “Wanneer ek aan Jan Rabie dink, dink ek aan sy hartstog en drif. Jan was hartstogtelik oor sy skryfwerk, hartstogtelik oor sy taal en net so hartstogtelik oor sy tuin. In lewe, maar veral in sy boeke het ek sy drif en afkeer in apartheid leer ken. Dit is in sy romans en kortverhale dat Afrikaans en veral bruin Afrikaanse mense selfstandiger uitgebeeld kon word, as die beperkte leefwêreld waartoe ’n maatskaplike bestel hulle in die werklikheid verdoem het. […] Ek het Jan as mens beleef toe dit in hierdie land maklik was om ondeurdringbare kampe tussen mense te bedink. In hul omgang met mense het hy en Marjorie geen afkamping en geen bekamping geduld nie. Hul natuurlik aanvoeling vir samesyn en menslikheid het hul verhoudings met mense van uiteenlopende agtergrond laat gedy. […] Jan se kwasterigheid en ongeduld met rompslomp en pretensie was legio, maar hy was ’n mens met ’n ruim, ruim hart, met ’n voorkeur vir eenvoud. Jan het in sy romans en sy skryfwerk, net soos in sy lewe, ’n oop, vreeslose belewing van Afrikaanse gedemonstreer. In baie opsigte was hy sy tyd ver vooruit.” (Beeld, 20 November 2001)
  • Die Burger-hoofartikel: “As ’n hoë boom val, is daar ’n groot leegte. Jan Sebastian Rabie, Jan Biltong soos Breyten hierdie geestelike vader van so vele Afrikaanse skrywers genoem het, is daar nie meer nie. Afrikaans het met sy oorlye een van haar mees geliefde Grotes verloor, die Afrikaanse prosa ’n onkreukbare, kwasterige vernuwer. En die hele Afrikaanse wêreld ’n gewete vir wie die mens, die eenvoudige, arme, weerlose mens van vlees en bloed belangriker was as enige Groot Idee, as enige Politieke Stelsel waarin menslikheid so dikwels verlore gaan, waarin die individu gemarginaliseer word en die gewin van ‘ons’ kan ontaard in afgodery. […]

“Hy was sy tyd vooruit, telkens. In die gemoedelike realisme van die vyftigerjare in die Afrikaanse prosa was die fantasieë en die surrealistiese gebeure in sy 21 radikale grensverleggings, verkenningswerk vir paaie waarop ’n Breytenbach, ’n Brink, ’n Miles, ’n Weideman en vele ander later sou loop. […]

“En dit was dieselfde Jan wat die wreedheid en die teerheid van ’n verwoeste Europa in die Afrikaanse letterkunde ingedra het, wat later weer voor geloop het met sy pleidooi voor die Afrikaanse Skrywersgilde vir juis ‘Meer Afrika, minder Europa!

“En in ’n tyd toe Afrikaans en apartheid mekaar wedersyds van die verhoë af en op skrif geprys het, was hy die stem des roepende in die woestyn: Afrikaans, sy geliefde ‘trotse instrument in ’n groot orkes’ (Ons, die afgod) het hy voorspel, sou nog die rekening kry vir Apartheid. Hy is nie oral begryp nie of waardeer nie. Dit is die ironie van ’n grensverlegger.

“Maar dis des te meer jammer omdat hy kennelik, volgens uitsprake oor hom deur sy skrywersvriende, vir ’n hele geslag, en ook vir die jongeres, ’n soort vaderfiguur was, sonder soeke na eie gewin, sonder pretensie. […]

“‘Die tyd kan verrinneweer maar hy kan die vuur in die hart en die swart vlammetjies in die hand nie blus nie – dié dans daar op papier, meester! Dankie vir hoe jy geloop het en hoe jy die lewe (en die donkertes) in die oë gekyk het’ (Breyten Breytenbach).” (Die Burger, 17 November 2001)

  • Johann Rossouw, in ’n artikel, “Jy kán Afrikaner én wêreldburger wees”: “As daar een Afrikaner is wat ’n weergalose wêreldburger was, dan was dit Jan Rabie. Rabie se lewe, allereers gewortel in ’n vreeslose en menslike Afrikaanswees, staan as ’n monument van voortreflikheid in sy eie konteks, en dus ook op die wêreldverhoog. Daarom kon hy nie net die vader van die Sestigers wees nie, maar ook saam met sy Skotse vrou in die strate van Parys wêrelde ontdek.” (Rapport, 10 Maart 2002)
  • Jakes Gerwel: “Wanneer hulle wat ná ons kom die balansstaat van ’n Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis opmaak, sal dit, naas die klein handjievol Afrikaanse prosawerke met werklike aanspraak op literêre afgerondheid, skrywerskappe wees soos dié van Rabie … wat uit Afrikaanse geledere die betekenisvolle groeipunte in die ontwikkeling van ons nasionale literatuur blyk te wees.” (Oggendblad, 30 Junie 1977; ook in JC Kannemeyer: Jan Rabie)

In Insig van Januarie/Februarie 2002 skryf Jan se ou vriend van 40 jaar, Chris Barnard, so oor Jan: “Die ding met dié man was dat hy te veel kante gehad het. Van watter hoek af jy ook al na hom kyk, jy kry die gevoel jy begin by die verkeerde kant. Kom ons sê dit nou maar reg aan die begin: Hy was nie elke dag ewe maklik om te verstaan nie. Seker juis omdat hy nie uit ’n gietvorm kom nie. Ná ’n vriendskap van byna veertig jaar kan ek seker met ’n klein bietjie gesag sê hy was een van die mees volledige mense wat jy hier ondermaans sal teenkom. En juis daarom was hy ook soms moerig, aweregs, moedswillig, stroomop, beduiweld en ’n lang rits soortgelyke dinge. Maar hy was dít omdat hy omgegee het. As dit kom by omgee, dan was Jan Rabie heel voor in die ry.

“Hy het omgegee vir verontregtes, vir die omgewing, vir Afrikaans, maar ook vir ’n hele string ander verskynsels en beginsels. Hy had ’n broertjie dood aan domheid en selfverheerliking en oneerlikheid en mense se vermoë om met ’n sot glimlag te huigel.

“Omdat hy omgegee het, het hy hom dinge aangetrek. Hy sou ’n nag wakker lê omdat iets vir hom laataand influister die een of ander onskuldige opmerking het dese of gene dalk onbedoeld gekwets. Hy sou dinge waaroor hy hoegenaamd geen beheer het nie, vir sy rekening neem as hy dink dit kom iemand te na. Selfs die weer.

“As ons Transvalers Desember by die see aankom en ons kla oor ’n winderige of bewolkte dag, sou hy ons verontwaardig uitskel omdat ons verwag selfs die sedoos moet vir ons kniebuiginkies maak – en dan, wanneer niemand kyk nie, verwytend Suidpool toe gluur soos ’n mens met ’n kind maak wat voor gaste skandes aanvang.

“Daar was ’n tyd in die begin toe hy waarskynlik geskryf het vir die louter plesier daarvan. […] Die res van die tyd was sy skryfambag meestal in diens van iets anders – van wat ’n mens seker sou kon noem sy heilige oorlog teen apartheid.

“Van Ons, die afgod sê hy in 1991 in ’n referaat voor die Instituut vir Historiese Navorsing ‘liberale verontwaardiging lewer nie maklik goeie prosa op nie.’ En oor party van die romans in sy Bolandia-reeks: ‘Waar ek heftig onreg wou uitwys, het ek gefaal. Skel is nooit populêre leesstof nie. Waar ek mens en storie saam kon bind, was dit anders.’ Oor die vierde roman in die reeks, Ark, is hy uitgesproke onvriendelik: ‘... So ’n heftige lawaai. Woorde, woorde. Ek moes goed leer dat rassisme nou maar eenmaal ’n pyn is om goed oor te skrywe.’

“Dat sy liberale verontwaardiging en heftige lawaai oor apartheid hom ongewild gemaak het by die establishment, het hom nie verbaas of gestuit nie. Dat hy gevolglik nooit aan die ontvangkant was as daar pryse uitgedeel is nie, het hom min geskeel. Want hy was maar net onder meer skrywer. Hy was gebore onderwyser, reisiger, sterrekenner, poliglot, tuinier, kok, filatelis, lewensgenieter, veldkenner, lojale vriend.”

In 2003 het die dramaturg Malan Steyn die opdragstuk Jan en Jorie geskryf en is dit vir die eerste keer op die Kalfiefees op Hermanus op die planke gebring. Dit vertel die verhaal van die kunstenaarspaar se verhouding. Op die Aardklop Kunstefees van 2003 het Francois Toerien en Nicole Holm die rolle vertolk met die spelleiding deur Juanita Swanepoel.

In 2004 het die Wes-Kaapse regering die Orde van die Disa (offisier) aan Jan Rabie toegeken vir die buitengewone bydrae wat hy gelewer het om die provinsie ’n beter tuiste vir al sy inwoners te maak.

In 2009 het pres Jacob Zuma die Nasionale Orde van Ikhamanga (silwer) postuum aan Jan Rabie toegeken vir sy bydrae tot die letterkunde.

Na Marjorie se dood het haar testament bepaal dat ’n beurs wat uit haar boedel gefinansier sal word en deur die Universiteit van Wes-Kaap geadministreer sal word, jaarliks toegeken sal word en bekend sal staan as die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs. André P Brink was die eerste ontvanger van die beurs van R350 000.

By die Woordfees van 2003 het die kollig sterk op Jan Rabie en Sestig geval. Tydens Insig se program "Heildronk op Sestig" het Ton Vosloo, die voorsitter van Naspers, die totstandkoming van ’n nuwe Afrikaanse boekprys aangekondig wat na Jan Rabie vernoem is en as die Jan Rabie/Rapport-prys vir debuutwerk sou bekend staan. Skrywers en lesers was dit eens dat Rabie steeds ’n betekenisvolle voorbeeld vir Afrikaanse skrywers is en dit nog lank sal wees vanweë sy vernuwende en verruimende invloed op Afrikaans, sy versiendheid oor Afrikaans as Afrika-taal, die belangrike rol wat hy in die stryd teen sensuur gespeel het, en sy aansteeklike geesdrif oor en liefde vir Afrikaans.

Abraham de Vries se reaksie was: “Geluk aan Rapport en Nasboek; dis ’n daad van eenvoudige regverdigheid dat daar nou na Jan, die groot, maar onbepryse voorbok van Sestig, ’n prys genoem word.”

En André P Brink se reaksie: “Ek kan aan geen ander naam dink wat so hoort by ’n literêre prys as Jan s’n nie – en des te meer omdat dit op ’n aweregse manier ’n mens dwing om nooit te vergeet hoe hyself vergete gebly het in die toekenning van pryse in Afrikaans nie.”

JC Kannemeyer het gesê: “Jan het die groot droom vir sy volk en taal gehad. In die smeltkroes van rasse, wat kort ná die Hollanders se vestiging aan die Kaap, ’n nuwe taal begin praat het, het hy die moontlikheid gesien van ’n nuwe volk, ’n sintese, soos hy dit stel, ‘van stoere Geus en Hugenoot, van die rappe kwiksilwer, nog amper bok-wilde veldkinders, Koisan, Maleis-Oosters gekruie, en met donker skeute uit Moeder Afrika gebind’, ’n ‘smeltkroes van bloed en hergeboorte tot ’n nuwe begin, ’n nuwe poging soos in ons buurkontinent Suid-Amerika’. Dit is ’n droom waarin die eens uitgeskelde kombuistaal Afrikaans, en nie die velkleur van mense nie, die naelstring en samesnoering van ’n groot Afrikaanse land sou wees. Afrikaans is vir Jan Rabie dan die grootste nie-rassige prestasie van die Suiderland. […] Met hierdie groot droom is Jan Rabie steeds ’n besieler vir almal, in die besonder nuwe debuterende talent op die gebied van prosa wat hulle met toewyding aan die literatuur en aan Afrikaans wy.” (Rapport, 9 Maart 2003)

In 2015 het André Kotzé twee verhale uit 21 in minidramas vir die radio verwerk, en só is sy werk vir die eerste keer oor die radio gehoor. Die twee verhale is “Ek het jou gemaak” en “Lied oor Niemandsland”. Eersgenoemde is ’n “surrealistiese wetenskapsfiksieverhaal oor robotte waaroor wetenskaplikes en ingenieurs reeds in die 1950’s gewonder het: Kan robotte gebou word wat soos mense optree? Rabie het die vraag verdiep: Kan robotte opdragte uitvoer en selfs die plek van ’n gestorwe liefde inneem?” skryf Elretha Britz in Volksblad, 13 Mei 2015. Britz vertel verder: “‘Lied van Niemandsland’ is ’n eksistensiële liefdesverhaal. Die liefde van ’n jong soldaat vir ’n meisie wat in dieselfde dorpie as hy woon, word deur ideologiese grense gestuit.”

André Kotzé het die uitdaging aanvaar omdat Rabie se briljante kortverhale dit verdien het om weer “afgestof” te word: “Ek wou die verhale meer toeganklik maak vir mense met moderne mediavoorkeure en -tegnologie.” Kotzé was verantwoordelik vir die radiodrama Die toringkelder, wat ook bekroon is, asook vir die verwerking van Pauline Smith se kortverhaal “Die pyn”. Die kortverhale is onder die breë titel Rabie op radio onder die regie van Eben Cruywagen uitgesaai. Abraham de Vries het die program ingelei met ’n praatjie oor Rabie en sy werk. Van die akteurs in beide verhale is Lida en Johan Botha, Albert Maritz, Dean Smith, Joey Meissenheimer en Guilma Stander.

In 2019 kon aanhangers van Jan Rabie se werk weer die kortverhaal “Ek het jou gemaak” in ’n ander gedaante sien toe Tertius Kapp, Hertzogpryswenner, dit verwerk het in ’n kortfliek van 24 minute wat by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad vertoon is. Jaco Bouwer, beter bekend as regisseur, is te sien in die hoofrol van die ingenieur Jacobs.

Die idee om ’n fliek van hierdie kortverhaal te maak het sy oorsprong gehad by Haddad Viljoen, medevervaardiger en skrywer. Viljoen vertel aan Laetitia Pople (Volksblad, 25 Julie 2019): “Ek dink Rabie, as een van die min sci-fi-skrywers in Afrikaans, verdien ’n rolprent. Van sy skryfwerk gee ’n mens daai George Orwell-gevoel van ‘hoe het hy geweet?’. Dis ongelooflik om te dink Ek het jou gemaak is al in 1948 geskryf; tog spreek dit sterk tot vandag se wêreld, mens en tegnologie.”

Publikasies

Publikasie

Nog skyn die sterre

Publikasiedatum

1943

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Beukes, Gerhard J: Nog skyn die sterre. Ons Eie Boek, Junie 1944

 

Publikasie

Geen somer

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1946

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Opperman, DJ: Geen somer, Huisgenoot, 2 Februarie 1945
  • Schoonees, PC: Geen somer. Ons Eie Boek, Desember 1944
  • Vulpen: Geen somer. Taalgenoot, November 1944

 

Publikasie

Vertrou op môre

Publikasiedatum

1946

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm en kortlysbenoemings

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Vulpen: Vertrou op môre. Taalgenoot, Februarie, 1947

 

Publikasie

Die pad na mekaar

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Vulpen: Die pad na mekaar. Taalgenoot, Mei 1948

 

Publikasie

Groen reise

Publikasiedatum

  • 1950
  • 1953

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: Groen reise. Standpunte, Desember 1952
  • MM: Groen reise. Taalgenoot, Maart 1951
  • Rousseau, I: Groen reise. Ons Eie Boek, 1951
  • Vulpen: Groen reise. Taalgenoot, Augustus 1951

 

Publikasie

21

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1961
  • 1963
  • 1965
  • 1973
  • 1975
  • 1978

ISBN

0798102586 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

   

 

Publikasie

Swart ster oor die Karoo: ’n toekomsfantasie

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1980

ISBN

0798109955 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Wetenskapfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Behrens, Louise: Swart ster oor die Karoo. Staatsamptenaar, Mei 1958
  • Coetzee, Johan: ’n Keur van jeugboeke. Beeld, 18 Maart 1981
  • Tredoux, Elizabeth: Swart ster oor die Karoo. Sarie Marais, 28 Mei 1958
  • Van der Merwe, Annemarie: Die dag toe die aarde stilstaan … Hoofstad, 28 Augustus 1980
  • Van Zyl, Anna: Mens verwoes die aarde. Volksblad, 22 Julie 1980

 

Publikasie

Dakkamer en agterplaas: verhale 1947–1957

Publikasiedatum

1957

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Ons, die afgod

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • AJC: Ons, die afgod. Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1959
  • HJG: JS Rabie veg teen afgode wat nie bestaan nie. Die Burger, 21 November 1958
  • Kaptein, Aat: Ons, die afgod. Byvoegsel, 6 Desember 1958
  • Krige, Uys: Anguish of man wrestling with his conscience [geen bron of datum op knipsel]
  • Mulock-Houwer, FAM: FAM Mulock-Houwer antwoord AP Grové [brief]. Sestiger, Februarie 1964
  • A romantic Afrikaans novel causes stir. Cape Times, 4 Desember 1958
  • Small, Adam:
      • Adam Small antwoord AP Grové [brief]. Huisgenoot, 23 Januarie 1959
      • Ons, die afgod. Byvoegsel, 6 Desember 1958
  • Tredoux, Elizabeth: Ons, die afgod. Sarie Marais, 7 Januarie 1959
  • Wie is hierdie onstuimige Jan? Weekblad [geen datum op knipsel]

 

Publikasie

Twee strandlopers

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1962
  • 1969
  • 1970
  • 1973
  • 1977
  • 1990

ISBN

  • 0798103507 (hb)
  • 079812668X (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die evolusie van nasionalisme: beskouings oor die krisis van nasionalisme in die huidige oorgangstydperk tot ’n wêreldstaat

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Mishoring-pers

Literêre vorm

Politiek

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die groen planeet: ’n toekomsverhaal oor die eerste kolonie op Mars: ’n toekomsfantasie

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1982

ISBN

0798112212 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Wetenskapfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Herdrukke. Volksblad, 17 Maart 1983
  • Louw, WEG: Hulle moes hul aanpas of sterwe. Die Burger, 5 Mei 1961
  • Toekomsfantasie. Sarie, 2 Maart 1983

 

Publikasie

Mens-alleen

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1978
  • 1980

ISBN

0628014007 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • AC: Mens-alleen. Huisgenoot, 20 Maart 1964
  • Antonissen, Rob: Mens-alleen, Standpunte, April 1964
  • Grobler, Hilda: Herdruk van Rabie se Mens-alleen regverdig. Hoofstad, 24 Mei 1979
  • Grové, AP: Boeiende verhaal te midde van bruutheid. Vaderland, 9 Desember 1963
  • Kannemeyer, JC: Mens-alleen. Sestiger, Februarie 1964
  • Mens-alleen [foto]. Oosterlig, 22 Februarie 1979
  • Toerien, Barend J: Hieraan het Jan Rabie vyf jaar gewerk. Die Burger, 19 Junie 1964
  • Van der Walt, PD: Mens-alleen. Taalgenoot, Februarie 1964
  • Van Zyl, Anna: Dié boek hou jou wakker! Volksblad, 5 Desember 1963
  • WM: Mens-alleen een van Rabie se bestes. Vaderland, 9 Januarie 1979

 

Publikasie

Eiland voor Afrika

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die groot anders-maak

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1987
  • 2004 (Klassieke Uitgawe)

ISBN

  • 079812184X (hb)
  • 0798144289 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: Die groot anders-maak. Standpunte, Februarie 1965
  • Burger, Willie: Boeke wat hoort op elke rak. Beeld, 16 Augustus 2004
  • Cilliers, Susan: Die groot anders-maak. Huisgenoot, 16 September 2004
  • John, Philip: Bespreking van die Klassiek-reeks. Tydskrif vir Letterkunde, vol 42, no 2, 2005
  • Kannemeyer, JC: Klassieke tekste weer beskikbaar. Rapport, 25 Julie 2004
  • Louw, WEG: Jan Rabie verras met roman oor 18de-eeuse Hottentotte. Die Burger, 11 Desember 1964
  • Nuut in Afrikaans. Rooi Rose, Augustus 2004
  • Stahle, Noel: Die Afrikaanse letterkunde as Afrikaliteratuur: ’n Amerikaner se perspektief (vertaal deur Susann Deppe en PH Roodt). Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1997
  • Van Zyl, Anna: Eliand voor Afrika en Die groot anders-maak. Kriterium, Julie 1965
  • Viljoen, Louise: Afrikaans se grotes afgestof. Volksblad, 31 Januarie 2005

 

Publikasie

Waar jý sterwe

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1978

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels, 1969, deur die skrywer

Resensies en besprekings

  • De Kock, Anita: Dié boek van Jan Rabie nog nie sy deurbraak. Vaderland, 10 Maart 1967
  • Ek leef skeef: Vind geen fout met Jan Rabie se boek [brief]. Rapport, 26 Augustus 1979
  • GJ: Jan Rabie kan beter. SA Beeld, 13 Augustus 1969
  • Hudson, CW: Waar jý sterwe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1967
  • Jan Rabie [oor vertalings]. Volksblad, 27 Mei 1968
  • Jan Rabie book to sell abroad. Sunday Times, 8 September 1968
  • Joubert, Elsa: Waar jý sterwe. Sarie Marais, 10 Mei 1967
  • RP: Jan Rabie se Waar jý sterwe in Engels vertaal. Die Burger, 23 Junie 1969
  • Van der Walt, PD: Waar jý sterwe. Taalgenoot, Julie 1967

 

Publikasie

Die roos aan die pels

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: John Malherbe

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Behrens, Louise: Die roos aan die pels. Brandwag, Oktober 1966
  • Erlank, Johan: Mens verwag meer van Rabie as dié bundel. Dagbreek en Sondagnuus, 17 April 1966
  • Kromhout, Jan: Verhale om lank te onthou. Transvaler, 18 April 1966

 

Publikasie

Polemika 1957–1965

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: John Malherbe

Literêre vorm

Briewe

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Jan Rabie bekend deur sy briewe. Sondagstem, 16 Maart 1966

 

Publikasie

Klipwieg

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Coetzee, AJ: Hulle gesels te veel. Beeld-Tydskrif, 15 Desember 1970
  • ERP: Travellers’ tales. Rand Daily Mail, 30 Junie 1970
  • Esterhuyse, Frans: Mod spectre. The Argus, 2 July 1970
  • Kromhout, Jan: Rabie in Greece. The Star, 16 September 1970
  • Meij, Koos: ’n Gawe boek vir lees en vir voorgraadse studie. Klasgids, Mei 1973
  • Van der Walt, PD: Jan Rabie se Klipwieg ’n prikkelende werk. Transvaler, 13 Julie 1970
  • Wiehahn, Rialette: Klipwieg. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Maart 1971

 

Publikasie

Die hemelblom

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1990

ISBN

0624027716 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Wetenskapfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boek met ’n boodskap. Oosterlig, 21 Desember 1971
  • Coetzee, AJ: Jan se Blom wil keer. Rapport, 20 Februarie 1972

 

Publikasie

’n Haan vir Eloúanda: hulde aan ’n Kretense dorpie

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1975

ISBN

0798105062 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • AM: Jan Rabie sê dankie met boek. Rapport, 15 Augustus 1971
  • Coetzee, AJ: Weemoed oor ’n verbygaande idille. Huisgenoot, 14 April 1972
  • Gilfillan, FN: ’n Haan vir Eloúanda. Klasgids, Mei 1973
  • ’n Haan vir Eloúanda. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1973
  • SF: Humor in die klipwieg. Vaderland, 27 Augustus 1971
  • Unieke soort reisverhaal. Oosterlig, 24 September 1971
  • Van der Walt, PD: Kreta-boek lees lekker loslittig. Transvaler, 6 September 1971

 

Publikasie

Die seeboek van die Sonderkossers

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1977
  • 1980
  • 1985

ISBN

  • 0624007464 (hb)
  • 0624021440 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1975–1977

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boeke: Veld en see as spens. Volksblad, 8 April 1976
  • Brink, André P: Jan Rabie bring hier die loflied van ’n tydlose seunskind. Rapport, 27 Februarie 1983
  • CV: Struggle for survival. The Friend, 9 Desember 1975
  • Gerryts, Egbert: Meer as net ’n avontuur. Hoofstad, 21 Mei 1976
  • Joubert, Fritz: Jan se storie van die see. Volksblad, 1 November 1975
  • Joubert, Gideon: Met nuwe oë na strand en see. Die Burger, 18 Desember 1975
  • Joubert, Irma: Klassieke Afrikaans: Weg stof ’n ou Afrikaanse reisboek af. Weg, April 2007
  • Oor boeke. Oosterlig, 2 Maart 1976
  • Pa en kroos op oorlewingstog. Suidwester, 1 Desember 1975
  • PAK: Die seeboek van die sonderkossers. Pretoria News, 11 Desember 1975
  • Van der Merwe, Hesta: Living off the veld. Cape Times, 15 Desember 1975
  • Van der Walt, PD: Uitmuntende jeugverhaal. Transvaler, 10 April 1976

 

Publikasie

Ark

Publikasiedatum

1977

ISBN

0798107480 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boekeblad. Die Burger, 24 November 1977
  • Brink, André P: Taal self die “ark” in Rabie-roman. Rapport, 12 Junie 1977
  • “Dis glad nie ’n politieke bom”. Transvaler, 22 Januarie 1975
  • Gerugte dat boek verban sal word. Daily Dispatch, 18 Januarie 1975
  • Gerwel, Jakes: In Ark ontgin Rabie volhardend voort. Oggendblad, 30 Junie 1977
  • Rabie ontken stories oor Ark. Oggendblad, 22 Januarie 1975
  • Van Vuuren, Helize: Kroniek van die Afrikaanse verhaalkuns 1977 [bron en datum nie op knipsel sigbaar]
  • Van Zyl, Anna: Taal is die Ark van behoudendes. Volksblad, 23 Junie 1977
  • Wolheim, Odi: Powerful, disturbing novel by Jan Rabie. The Argus, 20 Julie 1977

 

Publikasie

Versamelverhale

Publikasiedatum

1980

ISBN

0798110856 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P:
      • Mens en werk in brandpunt. Die Burger, 12 Desember 1980
      • Rabie bly immer relevant. Beeld, 2 Februarie 1981
  • Nuut op die rak. Suidwester, 24 Augustus 1981
  • [Oorhandiging van Versamelverhale aan skrywer: foto]. Die Burger, 27 November 1980
  • Roos, Henriette: Kyk met nuwe oë na die bekende Jan Rabie. Vaderland, 25 Junie 1981
  • Van Human & Rousseau. Beeld, 8 September 1980
  • Weideman, George: Jan Rabie: prediker teen onreg. Republikein, 3 Julie 1981

 

Publikasie

Johanna se storie

Publikasiedatum

1981

ISBN

0798112522 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P:
      • Rabie-roman is eerlik, naïef. Beeld, 10 Mei 1982
      • Rabie-werk het voortreflikhede, maar swaar hand knou roman. Die Burger, 15 April 1982
  • Coetzee, Ampie: Johanna se storie is vir elkeen wat sê hy is Afrikaans. Rapport, 7 Maart 1982
  • Du Plessis, Phil: “Vrolike” Rabie-roman. Transvaler, 31 Mei 1982
  • Ester, Hans: Waardevolle ontwikkelingsroman van Jan Rabie. Zuid-Afrika, September 1982
  • Hambidge, Joan:
      • “Beoogde epos oortuig nie”. Hoofstad, 3 Mei 1982
      • Dié storie stel teleur. Hoofstad, 28 Desember 1982
  • Só is SA. Sarie, 9 Junie 1982
  • Hambidge, Joan: Rabie-belofte word nie waar. Hoofstad, 19 Julie 1982
  • Stuijt, Ada: A coloured girl’s search for herself. Rand Daily Mail, 5 April 1982
  • Van Zyl, Anna:
      • Johanna se swerwe gaan aangryp. Volksblad, 2 Maart 1982
      • Rabie-roman ontroer. Oosterlig, 12 April 1982
  • Van Zyl, Ia: Johanna se storie slaag nie altyd. Suidwester, 2 April 1982
  • Vermeulen, Dirk: Jan Rabie maak seer. Republikein, 23 April 1982
  • Vosloo, Johan: Johanna se storie. Rapport, 14 Februarie 1982

 

Publikasie

’n Boek vir Onrus

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798114444 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Bertyn, LI:
      • Boere op Onrus. Beeld, 17 Februarie 1983
      • Onrus, waar die mense leer blaf. Die Burger, 17 Februarie 1983
  • Botha, Amanda: ’n Vrolike boek vol Bolandse humor en staaltjies. Vaderland, 31 Maart 1983
  • Botha, MC: Die Rus van Onrus aan die woord. Die Burger, 3 Februarie 1983
  • Cilliers, Cecile: Jan Rabie laat jou onthou. Beeld, 13 Januarie 1983
  • Onderhoudend. Sarie, 16 Februarie 1983
  • Cilliers, Cecile: Jan Rabie-boektog ook vir nié-Onrussers. Oosterlig, 24 Maart 1983
  • Hul huis op Onrus. Suidwester, 8 April 1983
  • Nuwe boeke. Rapport, 12 Desember 1982
  • Openhartig – die goeie en die slegte. Rapport, 16 Januarie 1983
  • Uys Krige, Jan Rabie nog vriende. Oggendblad, 17 Januarie 1983
  • Van Zyl, Ia: Jan Rabie: ’n Boek vir Onrus. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1983
  • Vorster, Roelof: Die Uyslike Onrus! Rapport, 16 Januarie 1983
  • Weideman, George: ’n Fees van ’n boek. Republikein, 25 Maart 1983

 

Publikasie

Droomberge – Sederberge

Publikasiedatum

1985

ISBN

0797100212 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Saayman & Weber

Literêre vorm

Kontreiboek

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, MC: Fact and fiction from Rabie. Cape Times, 28 Augustus 1985
  • Joubert, Gideon:
      • Onvergeetlike berge, goeie boek. Die Burger, 9 Januarie 1986
      • Sederberge se wonderlike gees straal uit. Beeld, 17 Februarie 1986
  • Van Zyl, Anna: Goeie reisgids, maar sleur nie regtig mee. Volksblad, 28 September 1985

 

Publikasie

En oseaan

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118598 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Bruin en wit tussen hemel en aarde gevang. Rapport, 17 November 1985
  • Du Plessis, Phil: Rabie onder heiliges. Vaderland, 3 Februarie 1986
  • Ester, Hans: De emoties van een melaatsenkolonie. Zuid-Afrika, Januarie 1987
  • Fényes, D: Rabie reaches new heights. The Citizen, 30 September 1985
  • Jooste, GA: Frisse taalhantering in En oseaan. Oosterlig, 16 September 1985
  • Malan, Charles: ’n Hoogtepunt in Rabie se oeuvre. Transvaler, 1 Augustus 1985
  • Van der Lugt, Pieter: A novel hard to forget. Sunday Times, 13 Oktober 1985
  • Van Zyl, Ia:
      • En oseaan. Suidwester, 24 Januarie 1986
      • Jan Rabie: En oseaan. Tydskrif vir Letterkunde, 1986

 

Publikasie

Buidel

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798125918 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Waal, Shaun: Rabie in defence of Afrikaans. Weekly Mail, 23 Februarie-1 Maart 1990
  • Pretorius, Willem: Stories om vir die kinders te bêre. Beeld, 6 Januarie 1990
  • Van Vuuren, Helize: Sit met jou bene in die son en luister na Jan Rabie. Die Suid-Afrikaan, Februarie 1990
  • Van Zyl, Ia: Rabie se Buidel boei. Republikein, 1 Junie 1990
  • Weideman, George:
      • ’n Buidelwarm boek vol mens. Die Burger, 19 April 1990
      • Verby Amandla, verby Vrystaat! Volksblad, 21 April 1990

 

Publikasie

Paryse dagboek

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138327 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Dagboek

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Die herbore romantikus. Insig, Julie 1998
  • Boekewêreld se leeskeuse. Boekewêreld, 2 September 1998
  • De Vries, Abraham H: Jan Rabie se Paryse dagboek. RSG: Skrywers en boeke, 12 Julie 1998
  • Ester, Hans: Jan Rabie in het Parijs van Sartre en Camus. Zuid-Afrika, Oktober 1998
  • Müller, Petra: Wandelende en honger in Parys: Jan Rabie se Dagboek. Boekewêreld, 2 September 1998
  • Paryse dagboek. De Kat, Julie 1998
  • Le Roux, André: Paryse dagboek. Sarie, 2 Desember 1998
  • Morgan, Naòmi: Jan Rabie: Paryse dagboek. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1999
  • Op die boekrak: Paryse dagboek. Rooi Rose, 14 April 1999
  • Venter, LS: Herout van Sestigers se dagboek méér as memoir. Rapport, 13 September 1998
  • Weideman, George: Rabie se dagboek skilder op ’n wye en nuwe doek. Die Burger, 9 September 1998
  • Wybenga, Gretel: Met Parys-dagboek loop kruik na alle kante oor. Beeld, 21 September 1998

 

Publikasie

21+

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798141212 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Elize: Jan Rabie se geskenk aan ons. Beeld, 29 Januarie 2001
  • Brink, André P: ’n Skrywer ontdek sy Afrikaanswees in Parys. Rapport, 24 Desember 2000
  • Cilliers, Stoffel: Dekades later, maar Rabie bly Rabie … Volksblad, 2 Januarie 2001
  • Jan Rabie se bundel kon selfs kaartspel stopsit. Die Burger, 13 Desember 2000
  • Le Roux, André: Boekkeuse. Sarie, 4 April 2001
  • Omotoso, Kole: Translation of seminal literature is the key to a truly immersed multi-cultural society. Cape Times, 28 Januarie 2002
  • Prins, Jo: Rabie se hartstogtelike Afrikaans-wees. Beeld, 3 Junie 2019
  • Weer uitgegee. Volksblad, 4 September 2000

 

Publikasie

Hutspot: reissketse, verhale, essays, praatjies. Saamgestel deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

2004

ISBN

1869190769 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Versamelde werk

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Hutspot van skrywer se vele fasette. Die Burger, 20 Desember 2004
  • Marais, Willemien: Lees ook Rabie se eie werk. Volksblad, 2 Mei 2005

 

Jan Rabie as vertaler

  • Andersen, Hans Christian: Die varkwagter. Kaapstad: HAUM, 1982 [ISBN 079860834X (hb)]
      • Snyman, Elisabeth: ’n Onkonvensionele sprokie dié. Transvaler, 14 Februarie 1983
  • Berna, Paul:
      • Pret met die ysterperd. Kaapstad: HAUM, 1964
      • Die perd sonder kop. Kaapstad: HAUM, 1965
      • Soektog na ’n legende. Kaapstad: HAUM, 1975 [ISBN 0798601876 (hb)]
      • Die straatmusikant. Kaapstad: HAUM, 19-?
      • Die ysterperd. Pretoria: HAUM, 1961
  • Bolliger, Max:
      • Die beertjieberg. Pretoria: HAUM; Daan Retief, 1982, 1990 [ISBN 0798608412 (hb); 0795921020 (hb)]
      • Die herderslied. Kaapstad: HAUM, 1982 [ISBN 0798608501 (hb)]
  • Bonzon, Paul-Jacques:
      • Die waaier. Kaapstad: Tafelberg, 1960, 1966, 1974 [ISBN 0624005143 (hb)]
      • Die weeskinders van Simitra. Kaapstad: John Malherbe, 1963
  • Borhegyi, Suzanne de: Museums. Kaapstad: John Malherbe, 1971
  • Bosco, Henri: Die ligte voetstap. Kaapstad: Tafelberg, 1961
  • Camus, Albert:
      • Die buitestaander. Johannesburg; Dainfern: Afrikaanse Persboekhandel; Praag, 1966, 2004 [ISBN 0958463530 (sb)]
          • Britz, Etienne: Rabie-vertaling wys Afrikaans is universeel. Die Burger, 28 Februarie 2005
          • Van den Berg, Cilliers: Heruitgawe van sleutelteks welkom. Volksblad, 2 Mei 2005
          • Venter, LS: Camus in Afrikaans. Beeld, 27 Junie 2005
      • Die klip wat groei. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1961
  • Cattin, Etienne:
      • Roseline se sneltrein. Kaapstad: John Malherbe, 1967
      • Witrot en sy stoker: ’n verhaal oor treine. Kaapstad: John Malherbe, 1966
  • Clarke, Arthur C: 2010: sending na Jupiter. Kaapstad: Tafelberg, 1982 [ISBN 0624018644 (hb)]
      • De Lange, Johann: Jan Rabie hanteer dié sending na Jupiter goed. Vaderland, 28 April 1983
  • Claus, Hugo: Bruid in die môre. Johannesburg: Dalro, 1969
      • De Jager, Frederik: Amateurs speel teater aan die brand. Die Burger, 10 November 1989
  • Corrin, Sara: Mevrou Vossie se huwelik. Kaapstad: HAUM, 1993
  • Couhaye, Guy: Viktor, die seekoei met vlerke. Kaapstad; Pretoria: HAUM; Daan Retief, 1981, 1991 [ISBN 079860624X (hb); 0795921063 (hb)]
  • Daudet, Alphonse: Briewe uit my meul. Kaapstad: John Malherbe, 1964
  • Dixon, Franklin W: Duikboot-kaperjolle. Kaapstad: HAUM, 1982 [ISBN 0798608552 (hb)]
  • Farquhar, Margaret C: Lig en lampe. Kaapstad: Johan Malherbe, 1971
  • Fertorri, Bruno: Leonardo da Vinci. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1969
  • Kondulakis, Ioannes: Patoegas. Kaapstad: HAUM, 1974 [ISBN 0798601183 (hb)]
  • Lavolle, LN:
      • Verlorevlei. Kaapstad: HAUM, 1964
      • Windesang se kinders. Kaapstad: HAUM, 1964
  • McPhail, David: Waar kan ’n olifant wegkruip? Kaapstad: HAUM, 1981 [ISBN 0798606258 (hb)]
  • O’Brien, Robert: Mev Frisby en die rotte van Nimh. Kaapstad: Human & Rousseau, 1984 [ISBN 0798117990 (hb)]
  • Ross, Tony: Jan en die boontjierank. Kaapstad: HAUM, 1981 [ISBN 0798606142 (hb)]
  • Siménon, Georges: Die huis met die groen luike. Kaapstad: Human & Rousseau, 1960
  • Swinton, WE: Op die spoor van die draakakkedisse. Kaapstad: John Malherbe, 1963
  • Thiam, Djibi: Suster Luiperd. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798111429 (hb)]
      • Kruger, Hester: Volksvreemd; juis daarom interessant. Hoofstad, 14 September 1981
      • Leeservaring vir tieners. Sarie, 19 Augustus 1981
      • Van Vuuren, Elzabé: Spanningsverhaal uit Frans. Volksblad, 1 September 1981
  • Venezis, Ilias: Verlange na die hartland. Kaapstad: HAUM, 1979 [ISBN 0798603674 (hb)]
      • AL: Rabie se vertaling verryk Afrikaans. Vaderland, 25 September 1980
  • Vercors: Die stilte van die see. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1960
  • Waller, Leslie: Elektrisiteit. Kaapstad: John Malherbe, 1971

Jan Rabie as redakteur

  • In memoriam Ingrid Jonker. Kaapstad: Human & Rousseau, 1966
      • HA: Groot toets vir digter kom ná dood. Die Burger [geen bron en datum]
      • Van Rensburg, FIJ: Ingrid Jonker: in memoriam. Die Burger [geen bron en datum]

Artikels oor Jan Rabie

  • Afrikaans: ’n koedoe, ’n bevryding, ’n tuiste. Die Burger, 22 Mei 1992
  • Afrikaans short story not racist, says book editor. The Argus, 8 Junie 1984
  • Albertonner: Ons verpes Jan Rabie en kie se skryfwerk [brief]. Transvaler, 20 Julie 1978
  • Another, warning. The Argus, 13 Julie 1978
  • “Anti-Afrikaanse” Jan Rabie skep Akademie-onmin. Transvaler, 19 Oktober 1964
  • Author hits back, says critics are “narrow”. Rand Daily Mail, 20 Oktober 1964
  • Barnard, Chris:
      • ’n Man sonder sonde. Insig, Desember 1995
      • ’n Man sonder sonde … en ons, die afgod. Rapport, 21 Desember 1986
      • Ridder Jan. Rapport, 7 April 1985
      • ’n Seningbesnaarde bruin windharp. Die Burger, 14 Augustus 1990
  • Blom, André: Baanbreker-skrywer steeds nie “politiek korrek” nie. Die Burger, 15 November 2000
  • Botha, Amanda:
  • Botha, MC:
      • Die kruik is leeg. De Kat, September 1998
      • Jan Rabie: die sestiger op sewentig. Die Burger, 17 November 1990
      • Skrywer vereer in Taalmuseum. Die Burger, 21 September 1999
  • Brink, André P:
      • ’n Dankie sê vir Jan Rabie – 20 jaar ná 21. Rapport, 28 Maart 1976
      • Hy was en hy is. Insig, November 2000
      • ’n Skrywer ontdek sy Afrikaanswees in Parys. Rapport, 24 Desember 2000
  • Brink, Marina: Jan Rabie ’n ridder gebore. News24, 17 Februarie 2012
  • Britz, Elretha: Jan Rabie-verhale as radiodramas uitgesaai. Volksblad, 13 Mei 2015
  • Courage from repressions – Rabie. Cape Times, 13 Julie 1978
  • De Vries, Abraham H:
      • Commendatio gelewer tydens die toekenning van erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywersgilde aan Jan Rabie, 23 April 1993. Tydskrif vir Letterkunde, November 1993
      • Daar is sovéél Janne. Beeld, 14 November 2000
      • Daar is vele Janne, elk anders. Die Burger, 14 November 2001
      • Jan Rabie is sy Afrika-aarde getrou. Die Burger, 27 April 1993
      • Die storie van Jan se droom. Beeld, 18 Februarie 2006
  • Deloof, Jan: Jan Rabie (1920–2001). Een persoonlijke herinnering. Neerlandinet, 2001
  • Die Franse vereer Jan Rabie. Beeld, 31 Januarie 1985
  • Du Preez, Susanné: Met die eerste oogopslag … Rapport-Tydskrif, 24 Mei 1992
  • Duvenage, Ina:
      • Onrus – ’n seelewe. Sarie, 5 Januarie 1994
      • Wat doen jy vir Moeder Aarde? Sarie, 7 Junie 1995
  • Ehlers, Marinda: Jan Rabie: ’n gebore “wonderwerker”. Rooi Rose, 15 November 1995
  • Froneman, Johannes: Skrywer Jan Rabie was ook SAUK-omroeper. mediaMENSE
  • Fryer, Charles: Gedorie, dis onse Jan en sy Jorie. Die Burger, 18 Augustus 1990
  • Gilde en PEN besin oor rol in vrylatings. Vaderland, 10 Augustus 1983
  • Giliomee, Hermann: Jan Rabie verdien om vereer te word. Beeld, 14 Desember 2004
  • Groenigheid by die see pleks van groentewinkel. Vaderland, 2 Mei 1985
  • Horn, Andreij: Uitgesweer! Doring uit hand wat menige skrywer dekades brand. Volksblad, 5 Mei 1990
  • Hugo, Pieter: Die lewe en werk van Jan Rabie. Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2001
  • Hyman, Jennifer: Forget the concept of “white”, says author Rabie. Eastern Province Herald, 25 Julie 1980
  • In verset teen owerheid. Transvaler, 1 Desember 1989
  • Jan Rabie. Stellenbosch writers
  • Jan Rabie. Wikipedia, 27 November 2025
  • Jan Rabie. LitNet
  • Jan Rabie at OFS. The Friend, 15 April 1980
  • Jan Rabie elected to Afrikaans Akademie. Sunday Times, 18 Oktober 1964
  • Jan Rabie is nuwe voorsitter. Oggendblad, 13 September 1982
  • Jan Rabie kry erelidmaatskap [foto]. Volksblad, 23 April 1993
  • Kaalvoet, nat “maniak” was toe Jan Rabie! Vaderland, 25 Maart 1965
  • Kannemeyer, JC:
      • Afrikaans volgens Rabie grootste nie-rassige prestasie van Suiderland. Rapport, 9 Maart 2003
      • Jan Rabie was “man van romantiek en drif”. Die Burger, 30 April 2005
      • Prosapionier dui die weg aan. Die Burger, 17 November 2004
      • Rabie politieke padwyser. Beeld, 19 November 2004
      • Rabie was “lastige vlieg” in hoë politieke kringe. Die Burger, 22 September 2003
      • Sestig ontkiem in Goudstad. Die Burger, 18 Februarie 2003
      • Sestigers se briewe wys botsing oor skrywerskap. Die Burger, 8 September 2003
  • Kovsies gee Jan Rabie eregraad. Die Burger, 23 Junie 1990
  • Kruger, Gert: Die man van “21” word 75. Die Burger, 15 November 1995
  • Lategan, Leana:
  • Le Roux, André: Sonder Afrikaans sal ek niks wees nie. Beeld, 16 Oktober 1990
  • Lombaard, Susan: Jan Rabie. Weet, 21 Oktober 2025
  • Loots, Sonja: Nuwe boekprys vir prosadebuut huldig Jan Rabie. Rapport, 9 Maart 2003
  • Nieuwoudt, Stephanie: Lewende legendes – Jan Rabie. Beeld, 6 Augustus 1998
  • Nou wil hy minder Amandla [foto by huldigingsgeleentheid by NALN]. Volksblad, 26 April 1990
  • Onbillike kritiek [Transvaler-hoofartikel]. Transvaler, 14 Julie 1978
  • Ons sal moet leer deel, sê Jan Rabie. Beeld, 12 Julie 1975
  • Opperman, AJ: “Skokkend kontemporêr”, Rabie in ’n eeu. Netwerk24, 14 November 2020
  • Politiek nie gemoeid by Rabie-benoeming. Volksblad, 19 Oktober 1964
  • Pople, Laetitia: Rabie-verhaal na Silwerskermfees. Volksblad, 25 Julie 2017
  • Prins, Jo: Rabie se hartstogtelike Afrikaans-wees. Netwerk24, 3 Junie 2019
  • Prins, Johannes: Jan Rabie en Parys, die “kosmopolitiese kermis”. Beeld, 7 Junie 2000
  • Rabie [oor optrede op Worcester]. Die Burger, 21 Februarie 1980
  • Rabie op sestig nog lus vir skryf. Oosterlig, 18 November 1980
  • Rousseau, Ina: Die Jan van vóór Parys. Die Burger, 17 November 1999
  • Rumoer oor Afrikaans: Politici daag [Jan Rabie] – stel jouself verkiesbaar. Maar skrywers sê: hy is reg. Vaderland, 14 Julie 1978
  • Saayman, Sewes: My jeugherinneringe aan Jan Rabie [brief]. Netwerk24, 1 Desember 2020
  • Scholtz, Leopold: Jan Rabie-tipe dissident was moreel hoogstaande. Die Burger, 8 Oktober 2004
  • Skrywers vereer Jan Rabie. Volksblad, 26 Maart 1993
  • Skrywersgilde vereer Jan Rabie. Beeld, 24 Maart 1993
  • Slabber, Coenie:
      • Jan Rabie se droom van almal se taal. Rapport, 29 April 1990
      • Toe Uys die dag vassit met belasting … Rapport, 6 Mei 1990
  • Spies, Jan: Jan S Rabie gebore 1920. In Perspektief en profiel. Perskor, 1982
  • Stephan, Helene: An eloquent enigma. Daily Dispatch, 28 Mei 1984
  • Terreblanche, Christelle: Anargisties en bedonnerd. Vrye Weekblad, 28 November – 5 Desember 1991
  • Van Aardt, Peet: Oor betrokke en onbetrokke skryf. Jan Rabie en Etienne Leroux se briewe in die jare vyftig oor die taak van die skrywer. Stilet, 1 September 2004
  • Van der Merwe, Romi:
      • Jan en Jorie: Boheemse hartstog. Rooi Rose, 26 Januarie 1994
      • Twee ongekunstelde kunstenaars. Rooi Rose, 7 April 1993
  • Van Heerden, Etienne: Jan en Jorie: Ink en olieverf. De Kat, April 1989
  • Verkiesing van Jan Rabie: Mense vies in Pretoria. Die Burger, 19 Oktober 1964
  • Wingerdskop gee ou lyf skop! Oosterlig, 12 Februarie 1985

Besprekings en voorlesings van individuele kortverhale deur Jan Rabie

Drie kaalkoppe eet tesame

Droogte

Ek het jou gemaak

Die man met die swaar been

Moeder koei

Die nuwe piramides

  • Matthee, FC: Integrasie van stelwerk en letterkunde. Klasgids, Mei 1995

Die padda en die maan

Artikels oor Jan Rabie se siekte en afsterwe

  • Barnard, Chris:
      • Belangrike hoofstuk loop ten einde. Die Burger, 17 November 2001
      • Iemand wat soos hy leef, kan selfs die dood oorleef. Beeld, 17 November 2001
  • Brink, André P: Jan Afrika rus. Rapport, 18 November 2001
  • De Kock, Ben: Afrikaans vul Jan Rabie se lewe [brief]. Die Burger, 24 November 2001
  • Erlank, Ingrid: Jan Rabie kry ligte beroerte. Rapport, 4 Oktober 1998
  • Groot leegte: Die Burger [hoofartikel], 17 November 2001
  • Jan Rabie dies. News24, 16 November 2001
  • Jan Rabie het aan taal ’n menslike ruimheid gegee. Die Burger, 20 November 2001
  • Jan Rabie in Onrusrivier ter ruste gelê. Volksblad, 20 November 2001
  • Jan Rabie sterf dag ná sy 81ste verjaardag. Die Burger, 16 November 2001
  • Jan Rabie sterf ná verjaardag op Onrus. Die Burger, 16 November 2001
  • Nieuwoudt, Stephanie: “wannabe” digters & ware skrywers. Die Burger, 15 Desember 2001
  • Olivier, Fanie:
      • Dit was Rabie se lot. Beeld, 17 November 2001
      • Jan Rabie het Afrikaans liefgehad – sonder dwepery, pretensie of vrees. Volksblad, 17 November 2001
      • Jan Rabie, skaamteloos g’n ja-broer. Die Burger, 20 November 2001
      • Rabie het “Kiertsregop in taalwêreld gestap”. Die Burger, 17 November 2001
  • Prins, Jo: “Ons gaan sy menslikheid mis”. Beeld, 17 November 2001
  • Rossouw, Johann: Jy kán Afrikaner én wêreldburger wees. Rapport, 10 Maart 2002
  • Smith, Francois:
      • “Goue kring” voltrek by Jan se graf. Die Burger, 20 November 2001
      • Jan Rabie dag ná verjaardag in Kaap dood. Beeld, 16 November 2001
      • Jan Rabie se begrafnis “voltrek sy goue band met grond”. Beeld, 20 November 2001
  • Stofberg, Koos: Jan se boek-pers maak olyfolie [brief]. Beeld, 22 November 2001
  • Wessels, Elsa: Jan Rabie sterk aan ná ligte beroerte. Die Burger, 5 Oktober 1998
  • Willemse, Hein: Hartstogtelik Jan

Artikels deur Jan Rabie

  • Afrikaans writers’ revolt. The Argus. 17 Julie 1978
  • Beswaar teen resensie van nuwe boek [brief]. Beeld, 21 Junie 1963
  • Ensiklopedie begin skryf op dertien. Vaderland, 17 September 1971
  • Geld is nie vir appèl – Rabie. Die Burger, 3 Desember 1975
  • Hoekom skram jong digters so weg van 1983 se SA? Rapport, 16 Oktober 1983
  • Hy was “reisiger in vlamgebied” – huldeblyk aan Jannie Coetzee. Die Burger, 9 Februarie 1989
  • Jan Rabie skaam oor sy wit vel [brief]. Dagbreek, Julie 1965 (dagdatum is onleesbaar)
  • Jan Rabie vra einde van sensuur en apartheid. Die Burger, 12 April 1978
  • The loneliest writers in the West. Sunday Tribune, 26 Oktober 1975
  • ’n Nuwe geslag bruin digters. Beeld, 11 Augustus 1983
  • Ons seewier-spens. Lantern, Oktober 1997
  • “Parys het ’n geslag verryk”. Die Burger, 29 April 1988
  • Sal hom nie daaraan steur as Akademielede bedank – Jan Rabie. Volksblad, 19 Oktober 1964
  • Sensuur: skrywer se protes [brief]. Die Burger, 9 Oktober 1957
  • Skrywer se volk is sy taal [brief]. Rapport, 18 Mei 1975
  • Só onthou ek die enigmatiese Peter Blum. Volksblad, 18 Augustus 1993
  • ’n Stem wat mens soms in die branding vermoed – huldeblyk aan Jack Cope. Beeld, 25 Mei 1991
  • Suid-Afrika in Europa. Rapport, 29 September 1985
  • A worm of violence – Jan Rabie takes a look at contemporary Afrikaans writing. Cape Times, 8 Desember 1973

Publikasie oor Jan Rabie

  • Sestigers in woord en beeld: Jan Rabie (met ’n kritiese waardering deur JC Coetzee). Johannesburg: Perskor, 1987
      • Hambidge, Joan: Biegboek is te skraps. Vaderland, 9 Maart 1987
      • Malan, Charles: Boek verdien baie lesers. Beeld, 13 April 1987
      • Van Zyl, Anna: Jan Rabie aan die woord. Volksblad, 7 Maart 1987

Bronne

  • Aucamp, Hennie (ea). 19–. ? Klein koninkryk: vertellings uit die jeugland. Kaapstad: Tafelberg
  • Kannemeyer, JC. 2004. Jan Rabie: prosapionier en politieke padwyser. Kaapstad: Tafelberg
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
  • Nienaber, PJ. 1982. Perspektief en profiel. Johannesburg: Perskor

Jan Rabie se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-06-17 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top