Jan Maarskalk en God immanent

  • 0

Beste Jan

Jy het dit heeltemal mis dat ek ’n “geloof” het. Ek het duidelik geskryf ek glo net wat ek sien. Ek werk ook nie my eie heil uit nie, ek neem die lewe soos wat dit na my kant toe kom, met alle op- en afdraandes, sonder om dit aan enige mistieke dinge te koppel. Ek is pas deur ’n smartvolle tyd met iemand na aan my, wat vreeslik gely en toe gesterwe het. Ek het totale berusting gehad tydens die hele proses, sonder om een keer te dink dat enige bonatuurlike wonderwerk sou plaasvind. Ek het dit die hele tyd beleef as deel van ’n natuurlike proses, waarvan niemand die einde kon voorspel nie.

Dit was eintlik hartseer om te sien hoe almal wanhopig bid en dat dit eintlik niks gehelp het nie. Dit het die hartseer nog erger gemaak, want nou was daar die faktor van teleurstelling in ’n “vader se hand” ook nog by. Ek het baie respek daarvoor dat mense hulself op hierdie manier probeer vertroos, want almal beleef dit nie dieselfde nie. Ek voel dat ek dit makliker kan verwerk, deur nugter na die situasie te kyk en dan daarby te berus dat dit die gang van die lewe is.

Miskien is jy reg oor die immanente god binne ons, want dit is nou maar eenmaal die mens se verbeelding wat hom dit laat uitdink, natuurlik ook gevoed deur eeue se invloed van skeppings deur die antieke mensdom.

Ek wonder, as mens jou kop kan skoonmaak van álle invloede van enige aard en dan wakker word in ’n omgewing waar alles net funksioneer op wetenskaplik-bewysbaarhede, of daar dan nog steeds sprake van enige geloof in die bo-natuurlike sou wees?

Groetnis

Perdebytjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top