Beste Jan
Ek kry nie mooi die kloutjie by die oor met jou gebruik van die term, “materialisties” nie. As ek reg verstaan, is ’n persoon wat nie godsdienstig is nie, outomaties materialisties. Dis nie wat ek daagliks waarneem nie. Baie godsdienstiges is stinkryk en die megakerke drup van die materialisme. Miskien het jy iets anders bedoel, maar dan sal jy dit beter moet omskryf.
Ek het ook nie religieuse momente nie, ek is doodgewoon nugter en prakties oor lewe en dood, gepaardgaande met die wete dat dit vir my werk en minder ingewikkeld is, as om ’n godsdiens aan te hang. Dis baie eenvoudiger as om my kop te breek oor al die vrae (party daarvan baie onsinnig) wat rondom godsdiens woed. Ek sien juis hierdie week weer die struweling in die Hervormde Kerk oor party van hul kerke vrouens toegelaat het in kerklike ampte. Siestog, wat ’n blok aan die been is godsdiens tog, as mense waaragtig vandag nog oor sulke futiliteite stry!
Ek is vry van hierdie verlammende dogmas en om ironies aan te haal uit die Christelike godsdiens: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.”
Miskien is ons uiteenlopende standpunte, nie paradigmas nie, maar eerder een van paranugterma teen paradogma.
Groetnis
Perdebytjie

