Jan Lion Cachet (1838–1912)

  • 0

Gebore en getoë

Jan Lion Cachet is op 29 November 1838 in Amsterdam in Nederland gebore. Hy het uit ’n waardige Joodse geslag gestam en sy geslagsregister kan tot in die 18de eeu teruggevoer word. Lion (Levie) Calman het met sy seun vanaf die Groot Glogau aan die Oder in Silesië (Pole) vertrek om hulle in Nederland te gaan vestig. Hy was ‘n kasjetsnyer van beroep en toe sy seun Calman Lion op 13 Desember 1811 ’n van moes aanneem, het hy op Cachet besluit, alhoewel Calman Lion die eienaar van ’n “tabaksaffaire” was, volgens FN Lion-Cachet in Buurman van Desember 1974 – Februarie 1975.

Calman Lion se jongste seun, Salomon, is in 1833 met ’n ortodokse Jodin, Rachel Hamburger, getroud en uit hierdie huwelik is vyf kinders gebore; Jan was die derde seun.

In 1849 het Salomon en sy familie tot die Christendom oorgegaan. Die invloed van die Nederlandse digter Isaac da Costa, ook ’n Christen uit die Jode, het ’n groot rol hierin gespeel. Die jong Jan het sy skoolopleiding in die skool van Isaac da Costa ontvang, en die portret van Da Costa is van die min wat altyd in JL Cachet se studeerkamer te sien was. Jan het dikwels by “deze vurige zoon uit den Oosten” aan huis gekom en Da Costa het ’n groot en blywende invloed op hom gehad.

Verdere studie en werk

Cachet het opleiding ontvang as sendeling aan die seminarie van die Vrye Skotse Kerk in Amsterdam. Hy het hom as godsdiensonderwyser bekwaam en sy onderwysloopbaan aan die skool van die “Havenlooze” in Amsterdam begin.

In 1860 het hy per seilskip na Suid-Afrika vertrek in die voetspore van sy ouer broer Frans. Hy het hom aanvanklik as onderwyser en katkisasiemeester in Kaapstad gevestig. Maar in daardie liberale omgewing het hy nie goed geaard nie en is in 1862 na Ladysmith in Natal om te gaan onderwys gee. Hy was later onderwyser aan ’n plaasskool in die Ladysmith-distrik.

Gedurende hierdie tyd het hy op sy eie begin studeer en só meester geword van heelwat klassieke en moderne tale. Sy nuutverworwe kennis van Frans, Duits en Engels het die kultuurskatte van die wêreld vir hom ontsluit. Om lang stukke uit hierdie werk uit sy kop aan te haal, was ’n alledaagse verskynsel en hy kon sy kinders vermaak op verhale en gedigte uit die wêreldliteratuur.

Jan sou egter nie vir altyd stilweg op ’n plaasskool onderwys gee nie. Daar was ’n stryd rondom onder andere TF Burgers in die binnekringe van die NG Kerk en hy het hom gedwonge gevoel om hom in 1865 by ds Dirk Postma van die Gereformeerde Kerk aan te meld en hom as predikant in daardie kerkverband te laat oplei. Hy het privaat onder Postma gestudeer en in 1868 is hy in die Gereformeerde Kerk, Rustenburg as predikant bevestig.

Daarna het hy op Burgersdorp (1869–1874), Philipstown (1875–1883) en Steynsburg (1883–1892) in die bediening gestaan. Ná Postma se afsterwe is hy in 1892 na die Teologiese Skool op Burgersdorp as professor (aanvanklik tydelik en vanaf 1894 permanent). Die Teologiese Skool is in 1905 vanaf Burgersdorp na Potchefstroom verskuif en Cachet het ook soontoe getrek, waar hy tot sy uittrede in 1911 gewerk het. JD du Toit (Totius) het hom by die Teologiese Skool opgevolg.

Totius, wat ook een van sy leerlinge was, het geskryf: “Op die toenmalige krisispunt van my lewe was prof Cachet vir my ’n vader – op sy advies het ek na Burgersdorp gekom ...

“En prof Cachet het my raadsman gebly, altyd ... ’n Mens word van so ’n leermeester afhanklik, en selfs na sy dood doen jy jouself nog telkens die vraag: Wat sou hy in hierdie omstandighede gedoen het?” (Portret van ’n Regte Afrikaner)

Toe Totius nog student was, was daar geen Teologiese Skool-gebou nie. Hul klaskamer was Cachet se studeerkamer. Cachet het ’n eienaardige wyse van klasgee gehad, soos geblyk het uit Totius se beskrywing: “In sy studeerstoel, soms met die voete bo-op die tafel, was die professor op sy gemak. Sy pyp was altyd byderhand, soms baie verstop. Die operasie het soms minute lank geduur. Die les het ewewel voortgegaan. Aan sy regterkant het Grotto, die geliefde hond, gesluimer, by wyle was dit ’n droom waaruit vreemde geluide voortgekom het. Die het dan aanleiding gewees tot ’n kort bespiegeling oor ‘diersielkunde’, soos die mense dit teenwoordig noem. As Grotto uit sy slaap ontwaak, word vir hom die glas-stoepdeur oopgemaak. Hy moet dan – soos my kollega fluister – stormenderhand by ’n ander swakker naburige hond ‘die belasting’ gaan invorder!”

Volgens Totius moes Cachet al die werk alleen behartig: “’n Taak wat al sy krag gevorder het. En tog kon ek nooit merk dat die pluriforme werk, al die vakke waarin die professor, teoreties en prakties, leiding moes gee, hom oorweldig nie.”

Cachet was drie keer getroud. Sy eerste twee vrouens, Zwaantje (dogter van Dirk Postma) en Catherina (Viljoen), het hom ontval, terwyl sy derde vrou, Martha (Viljoen), hom oorleef het. Sy kinders het tradisionele name gekry, terwyl Calman Efraim en Rachel die Joodse voorgeslag in herinnering geroep het. Hy het ’n ortodokse opvoeding aan sy kinders gegee en was tot sy dood besorgd oor hulle geestelike heil. Hulle moes altyd eerbaar optree en ander met agting behandel; veral moes die nodige respek teenoor die Jode betoon word.

Cachet was baie toegewyd tot sy studies en dit het hom in komiese situasies laat beland. Wanneer hy in sy studeerkamer besig was, was hy meestal heeltemal onbewus van wat om hom aangaan. Al het besoekers opgedaag, het hy doodluiters aangegaan met waarmee hy besig was terwyl hulle gesit en wag het. Só het sy vrou een middag haar man se klere aangetrek en hom besoek. Hy het haar glad nie herken nie, en nadat sy gaan sit het, het hy, soos sy gewoonte was, aangegaan met sy werk. Toe sy begin praat, het hy aanvanklik nie geluister na wat sy te sê het nie, totdat sy by die eintlike doel van haar besoek gekom het: sy wou geld leen en dít het hom na die werklikheid teruggeruk.

Cachet was veral predikant en hoogleraar. Die sentrale beginsel in sy lewe was sy diepe ontsag vir God se Woord: “Waar Het Woord sprak, werden de hoofden gebogen en onderwerp men zich. Kerkelijke regelemente werden op zij gezet, en Het Woord nam de grote plaats in” (Gedenkboek, bl 57).

Die genade wat hy uit God se hand ontvang het, kon hy nie vergeet nie. En dit het hy uitgeleef deur aan die Woord gehoorsaam te wees. Op ’n gesamentlike kerkvergadering was hy die eerste persoon wat amptelik gevra het wat die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die sendingsaak kon doen. Die amptelike vergadering van die Kerk het later hierdie oproep tot sending stip op ’n “blou papier” uiteengesit en toe dit goedgekeur is, het Cachet die sitting met gebed afgesluit. Hy was al een wat neergekniel het; die res van die vergadering het almal gestaan. En toe hy die Here dank vir die seën en genade wat aan hulle betoon is, het die trane oor sy wange gerol.

Cachet het sy skrywersdrang ook tot diens van die kerk aangewend. Hy was die stigter van Die Maandbode as kerklike blad in 1873. Dit het later Die Kerkblad geword wat in 1973 sy 100ste bestaan gevier het. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel was vir hom uiters belangrik en hy was vanaf 1886 een van die beplanners daarvan. Dit was ook sy voorstel dat die Statebybel as grondslag gebruik moes word.

Jan Lion Cachet het ’n groot belangstelling in die Dorslandtrekkers getoon. Voordat die Trek begin het, het hy hulle telkens probeer oorreed om nie te gaan nie, maar nadat hulle in Angola gevestig was, kon hy nie rus voordat hy hulle self in Desember 1881 aldaar besoek het nie. Dit was ’n duidelike teken van sy pastorale meelewendheid.

FN Lion-Cachet skryf in Buurman: “Jan Lion Cachet was 'n ernstige en boeiende verkondiger van die evangelie. Hy word spesiaal deur die staatspresident van die ZAR, Paul Kruger geroep om op 27 Augustus 1899 in Pretoria 'n bidstond met die oog op die dreigende oorlog te lei. As professor het hy met sy wye Skrifkennis en liefde vir die geskiedenis vele predikante vir kerk en volk gevorm. Hy was trots om terselfdertyd Jood, Nederlander en Afrikaner te wees. In die daaglikse omgang was hy nederig, opvallend eenvoudig gekleed, 'n roepingsbewuste kerk- en volksman.”

Sy naam is sinoniem met die geskiedenis van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, waar hy vir bykans 26 jaar klasgegee het. Volgens FN Lion-Cachet was hy nie ’n gegradueerde wat standaardwerke geskryf het nie, maar een van die baanbrekers wat die hele terrein van die teologie moes dek, en geen indringende werk kon verwag word nie. Tog is daar bewyse van sy werk as hoogleraar in vele van die kerkbladartikels waarin hy byvoorbeeld die briewe van Paulus aan die Korinthiërs en die Romeine behandel het.

Nadat hy na Suid-Afrika verhuis het, het hy sy nuwe vaderland met ope arms aangeneem. “Ik ben Afrikaner geworden,” het hy gesê. Hy was ywerig deel van die Afrikanerbond wat deur SJ du Toit gestig is en was een van die medewerkers aan die grondwet van die Bond. Hy het baie jong Afrikaners beïnvloed en geïnspireer om aan die politiek deel te neem. Hy was die skrywer van die artikels “Zwarte pilletjie” en kon so sy ideologiese idees op ’n subtiele en bedekte manier in die Patriot publiseer. Louheid of valse liberalisme kon hy nie verdra nie en sy gevoelige aanvalle het gemaak dat van sy teenstanders hom as ’n profeet van die duiwel beskryf het:

O Lion, gij echte profeet van Baal.
Gekomen in ’t land ellendig en vaal,
Denkt gij om met u slangenvenijn
’t karakter van Burgers te maken zeer klein?

Terwyl Cachet in die Kaap gebly het, is hy ’n paar keer genader om hom vir die parlement verkiesbaar te stel, maar sy antwoord het dieselfde gebly: “Ek sweer nie trou aan Engeland se koningin nie; ek wil as Hollander sterf en my Oranje-Nassau-huis getrou bly.”

Hy het meegelewe met die vryheidstryd van die twee Republieke:

Op! Op! Met de Vierkleur,
De vlag van ons land!
Op, waakt bij dat vaandel,
’t Geweer in die hand!
Op! Op! Met de Vierkleur;
Zij waait weder vrij,
Dat niemand haar schende,
Wij waken er bij.

Toe die oorlogswolke begin saampak het, het Cachet die “alarm geblaas”:

         De Vierkleur in gevaar!
         Op, op o mannenschaar!
         Op, op door ’t gansche land.
         Het wapen in de hand.
         Weer vraagt het land uw goed
         Weer eischt het land uw bloed,
         En dondrend klinkt te maar,
         De Vierkleur in gevaar!

Ná die oorlog was die vryheid van die Republieke verlore, en Cachet het die smart in 1904 by die opening van die 14de Sinode van die Gereformeerde Kerk as volg verwoord: “Niemand onzer, die niet zijn deel in dat lijden had. Liggen niet onze vaders, onze broeders, onze zonen onder de steenhopen die ons land bedekken, gevallen bij de verdediging van het dierbaar vaderland, de verdediging van de onafhanklikheid, de erfenis der vaderen! Zijn de graven bij de kampen niet gevuld met de lijken der onzen!”

Lion Cachet moes self sy seun, Calman Efraim, op 13 Augustus 1901 aan die dood afstaan: kommandant Calman is op Poortjie, naby Steynsburg, deur ’n verdwaalde opslagkoeël getref. Cachet het hom só ná sy seun se dood uitgedruk:

Leg hem neder naast zijn moeder,
Dek hem met Oranje’s vaan,
Nu hij goed en bloed en leven
Voor zijn volk heefte afgegeven.
Nu zijn dagwerk is gedaan.
Omdat Engeland had gezworen
Om te verwen bloedig rood
Afrikaanse groene velden.
Stierf ook hij de vroegen dood.

Gedurende die oorlog is Cachet gevange geneem vir hoogverraad en in die tronk op Burgersdorp opgesluit. Hy sou kwansuis die rebelle gesteun het en ongeoorloofde kontak met die Transvalers gemaak het. Goedgesinde Engelse het egter ’n petisie opgestel, en omdat daar nie genoegsame bewyse teen hom gevind kon word nie, is hy na ses weke vrygelaat. Maar die verlies van die onafhanklikheid van die twee republieke het van hom ’n ou man gemaak en die dood van sy seun was ’n spyker in sy doodskis.

’n Groot deel van Cachet se openbare optrede was gemik op die opvoeding van kinders. Hy was lief vir kinders en kon met die grootste liefde verhale aan kinders vertel. In Die Maandbode het gereeld stukkies vir kinders uit sy hand verskyn. Hy was ’n vurige voorstander van Vrye Christelike Skole. Sy vlugskrif “Niet om te twisten, maar om des gewetens wil”, waarin hy die Smutswet van 1907 afkam, is baie bekend.

Cachet het te ver van die Kaap af gewoon om ‘n daadwerklike lid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te word, maar sy pen was nooit stil nie. Op die Eerste Afrikaanse Taalkongres (1896) was hy een van die leiers. Afrikaans was vir hom nooit ’n kombuistaal nie, maar die taal van die beskaafde Afrikaner. Hy het die nuwe Afrikaanse tydskrif Di Kleintje met groot vreugde begroet en op ’n heildronk het hy beklemtoon dat “Di Kleintje wat vandag gebore is, ’n Kleintje (is) wat ek al lang verwag het.”

Hy het meestal onder skuilname soos Neef Jan (wat versies maak), Oom Jan, en ander geskryf. Sy gedigte was van die eerste werk in die Afrikaanse poësie. In 1896 het sy gedig “Di Afrikaanse taal” in Ons Klyntji verskyn. Dit het op ’n beeldend-allegoriese wyse ’n treffende beskrywing van die herkoms van Afrikaans gegee, skryf Daniel Hugo op LitNet (“Die Afrikaanse taal: ’n liefdesgeskiedenis”). Dit het ook as bewys gedien van die 19de-eeuse status van geskrewe Afrikaans. (SJ du Toit was die vader van die spelwyse wat bekend gestaan het die Patriot-spelling.) In die gedig word die Afrikaanse taal gesien en beskryf as ’n boeremeisie en het Cachet die hoop van baie Afrikaners van daardie tyd, op ’n allegoriese manier vertolk.

Di Afrikaanse taal

Ek is ’n arm boerenôi,
By fele min geag:
Mar tog is ek fan edel bloed,
En fan ’n hoog geslag.
Uit Holland het my pa gekom,
Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk waar di druiftros swel,
Myn liwe mooie ma.

Hul skel my uit fer Hotnots myd;
Mar ek gé daar ni om;
Want an myn lipiis kan jy siin,
Fan wat geslag ek kom.
Soet floei di woordjiis uit myn mond;
Dit het ek fan myn ma;
Mar as ek bid dan hoor je wel,
Ek is ’n kind van pa.

Myn sussi, wat uit Holland kom,
Di hou ferniit haar groot:
Di lug is al te skerp fer haar;
Sy is al amper dood.
Di dokters kom nou bymakaar,
Hul maak tesaam ’n “Bond”;
Mar tog met al die doktery
Word sy nooit weer gesond.

My niggi met haar stywe nek,
Di loop in rooi satyn;
En baing jonkmans loop haar na;
Maar as die awentuurtji kom,
Dan is di klomp by my.
Dis “hartji” voor en “hartji” na:
“Laat ons ’n bitji fry.”

As ek maar eers myn fryer het,
’n Digter fol fan moed;
Een wat my om myself bemin,
En nie mar om myn goed;
Wanneer die fryer tot my kom
Fat ek hom by di hand,
En maak ek hom, hoe swak ek skyn,
Nog koning in di land.
 
Want ek het onder in my kis
 ’n Ware towerstaf,
Wat ek nog fan myn ouma het,
En nimand weet daar af.
Hef ek di staf op, “Moedertaal”,
Dan volg di land my na:
En ek is net nou koningin
Fan heel Suid-Afrika.

(Afrikaanse gedigte, 1987:12–13)

Cachet se prosa het egter langer oorleef as sy gedigte. Sy historiese romans, Het huisgezin van den Hugenoot: een verhaal uit den tijd van Lodewijk XIV en Getrouw tot den dood: een verhaal uit den Camisardenkrijg, het sy lewensiening weerspieël: hierdie romans het veel vertel van die geskiedenis, terwyl ’n tikkie romantiek deur alles gevleg is. Daar was dalk te veel objektiwiteit en te min karakterbeelding, maar tog ontroer dit en is daar spanning (FN Lion-Cachet).

Cachet se bekendste werk is Sewe duiwels en wat hulle gedoen het. Dit bestaan uit sewe novelles wat almal eers in Di Patriot verskyn het. In 1907 is die bundel met al sewe novelles by DF du Toit in die Paarl uitgegee en teen 1924 het dit al ’n twaalfde druk beleef. Met skerp waarneming het Cachet die aanslag van die bose (die duiwels) in die eenvoudige boerelewe onderskei. Die geld-, drank-, praat-, spog-, afguns-, lieg- en baasduiwel beset onderskeidelik sekere hooffigure en die bose word toegelaat om hulle in die persone uit te woed.

JD du Toit het die boek vergelyk met Hildebrand se Camera obscura. En in Standpunte van Augustus 1964 het AP Grové ter motivering van die toekenning van die Hertzogprys aan Etienne Leroux vir sy Sewe dae by die Silbersteins geskryf: “En tog sluit hy in belangrike opsigte aan by ’n ou tradisie in ons taal – by Die sewe duiwels en wat hulle gedoen het van Jan Lion Cachet. In hierdie geliefde volksboek het die skrywer, meer as 60 jaar gelede al, die sondes geteken wat hy opmerk in die maatskappy: die geldsug ... Leroux werk met moderne middele; sy wêreld het gekompliseerder geword; sy duiwels verskyn in ander gedaantes, dra ander maskers. Maar in die grond van die saak doen hy presies dieselfde as wat Cachet gedoen het: hy openbaar satiries die sondes, die bose magte wat besig is, ook in ons land, om die beskawing en goeie orde te ondermyn ...”

Ook Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort (Tafelberg, 1975) sluit aan by Sewe duiwels en wat hulle gedoen het.

In 1975 het JC Kannemeyer in Die Oosterlig (16 September) geskryf dat ’n mens in Sewe duiwels aan die een kant te maak het met ’n soort realistiese prosa, maar aan die ander kant is Cachet, reeds deur sy keuse van situasies om die gebreke te illustreer, nie meer heeltemal getrou aan werklikheidsillusie nie. “Daardeur verval hy in ’n eensydigheid en konsentreer hy slegs op een hoofkarakter.

“Sy doel is om die leser deur die voorbeeld af te skrik, iets waardeur hy die realistiese illusie opoffer en waardeur sy karakters in nie veel meer as blote tipes ontaard nie. ’n Verdere beswaar is dat elke novelle te breed aangevoer word, met die gevolg dat die veelheid van die besonderhede die eenheid van die geheel skend.

“Ten spyte van bogenoemde tekortkominge is Sewe duiwels beter as die ander didaktiese prosa voor 1900 omdat dit primêr ’n verhaal aanbied, nie ’n ‘saak’ verdedig nie. Deur die toestande en situasies wat hy beskrywe, lê Cachet buitendien ’n beeld van ’n stuk verbygegane Afrikaanse werklikheid vas.”

In 1909 het die Nederlandse konsul-generaal Knobel op bevel van koningin Wilhelmina die offisierskruis van die Orde van Oranje-Nassau aan Jan Lion Cachet oorhandig. Tydens hierdie aandoenlike gebeurtenis het hy gesê: “By hierdie eerbewys buig ek my nederig voor my God, wat dit my laat geniet het.” Dit was ’n eer vir hom, uit die Joodse geslag, wat so ten volle sy kragte en gawes in die kerk en volk waarin God hom geplaas het, ontplooi het.

In Augustus 1951 is Jan Lion Cachet deur die Afrikaanse Skrywerskring vereer toe daar ’n gedenkplaat op sy graf opgerig is. Cachet se dogter, Lettie van Rooy, het die plaat onthul.

Op 21 September 1912 is Jan Lion Cachet in Potchefstroom oorlede. Niemand het sy dood verwag nie. Hy was wel sieklik, maar daar het telkens weer beterskap ingetree. Die aand voor sy dood was hy nog met leeswerk in sy studeerkamer besig, terwyl hy vroeër die dag nog klasse aan die Teologiese Skool behartig het. Hy was in sy 74ste jaar.

Huldeblyke

  • Op Sondagmôre 22 September 1912 het JD du Toit (Totius) by die erediens in Potchefstroom die afsterwe van sy kollega aangekondig. Hy het gesê: “Gedenk u voorganger, hy het ewigheidswerk verrig ... Stel die gawe van God op prys ... Volg sy geloof na ... sy woord is deur sy godsalige lewenswandel bevestig: ‘Hij was in uw midde als een man Gods.’”
  • Die begrafnisdiens is waargeneem deur ds P Postma wat onder andere gesê het: “Hij is de raadsman van allen geweest ... Hij was ons een vader in Christus, met heerlijke gaven van God hem geschonken.”
  • By die graf het Totius namens die professore en die Teologiese Skool die woord gevoer: “Professor Cachet was een groot man. Hij was een geniale man van Suid-Afrikaanse beroemdheid. Professor Cachet was bij ons een wegwijzer.”
  • Die praetor van die teologiestudente het gesê: “Professor Cachet was ons een vader. Hij was ons een leidsman in de studeerkamer.”
  • Die Heer H Altman, visekonsul van Nederland: “Hij was ’n vriend en raadsman van baie. Hier is heengegaan een groot Nederlander ... ook een groot Afrikaander. Maar hij was ook een groot mens.”
  • Namens die gemeente van Pretoria het ds SO Los die woord gevoer: “Met professor Cachet is een periode van de Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika afgesloten. Met hem is de ‘Sturm-und-Drang’-periode der kerk geëindigd. Vaders Postma en Cachet hebben gestreden. Paulus heeft geplant, Apollo heeft nat gemaakt. God heeft de wasdom gegeven. Deze Apollos is nu heengegaan.”
  • Ds D Postma in De Stem: “De Kerk verliest in hem een eikeboom der geregtigheid, een pilaar en vastigheid der waarheid. Sy invloed is verreikend in Suid-Afrika. Sy stempel op sy volgelinge sal blywend wees, omdat hy op ongekunstelde manier elkeen na sy eie persoonlikheid laat ontwikkel het en tog na sy wil gevorm het. Ministers en parlementslede het by hom raad gevra, leiers van volksorganisasies het by hom advies gekry, presidente en generaals het saam met hom krygberaad gehou.”
  • Het Westen se redakteur: “Hij was een veelsydig man, die er in geloofde dat de beste Christen ook de beste burger is ... Vraagte het maar aan zijn tijdgenote en die zullen getuigen hoeveel de opkomst van het Afrikaanse element aan hem te danken heeft. Zijn groot streven op dit gebied was zijn volk op te heffen ... Door zijn geschriften heeft hij een machtige invloed uitgeoefend. Het Afrikaanse volk is soveel aan hem verschuldigd.”
  • Frans Lion Cachet, sy seun: “My vader se grootheid bestaan daarin dat hy ’n gewone mens gebly het.”
  • Die Volkstem en die studenteblad Fac et Spera: “Welk een verlies zijn heengaan is voor de Gereformeerde Kerken sal eers later besefd worden. Nu kan ons net God danken voor de gave ons in Cachet geschonken. Cachet was een ‘self-made’ man. Hij kende de taal des volks beter dan enig Afrikaner.”
  • L Corbitt, ’n kollega van Cachet aan die skool Tot nut van ’t Algemeen: “A good man, a just man and a true patriot; in a few words a real man and a friend. Jesus was the sheet-anchor of his whole life and hope, and I am confident he had won the prize he was contending for – Life everlasting in and through Christ.”

Publikasies

Publikasie

Di drankduiwel. Deur Neef Jan wat versies maak (O’ergedruk uit di “Patriot”)

Publikasiedatum

  • 1882
  • 1912

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Di geldduiwel: Afrikaanse verhaal. Deur Neef Jan wat versies maak (O’ergedruk uit di “Patriot)

Publikasiedatum

1882

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die liegduiwel. Deur Neef Jan wat stories maak (O’ergedruk uit di “Patriot”)

Publikasiedatum

1883

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die praatduiwel.Deur Neef wat versies maak (O’ergedruk uit di “Patriot”)

Publikasiedatum

1884

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Geskiedenis van di Hugenote van die jaar 1521–1789. Deur Pastor

Publikasiedatum

1886

ISBN

(hb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Getrouw tot den dood: een verhaal uit Camisardenkrijg (na de herroeping van het Edict van Nantes)

Publikasiedatum

1890

ISBN

(hb)

Uitgewer

Amsterdam: Höveker & Zoon

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die spogduiwel: Afrikaanse verhaal (O’ergedruk uit di “Patriot”)

Publikasiedatum

1892

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Van een paar Afrikaansche jongens.Saam met Louis Raemakers

Publikasiedatum

1905

ISBN

(sb)

Uitgewer

Groningen: Wolters

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Niet om te twisten, maar om des gewetens wil: eenige bezwaren tegen het Transvaalsche Schoolwetontwerp

Publikasiedatum

1907

ISBN

(sb)

Uitgewer

Potchefstroom: Het Westen Drukkerij

Literêre vorm

Opvoedkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

“Sewe duiwels” en wat hulle gedoen het: sketse uit die Afrikaanse buitelewe. Deur Ou Oom Jan

Publikasiedatum

  • 1907
  • 1908
  • 1911
  • 1915
  • 1918
  • 1921
  • 1940

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: Het Westen-Drukkerij
  • Bloemfontein: Het Volksblad-Drukkerij
  • Bloemfontein: De Nationale Pers Beperkt
  • Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Waarom zingt de Gereformeerde Kerk alleen de Psalmen?

Publikasiedatum

1909

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: JA Wormser

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Gedenkboek van het 50-jarig bestaan der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika, AD 1859–1909

Publikasiedatum

1909

ISBN

(hb)

Uitgewer

Potchefstroom: AH Koomans

Literêre vorm

Kerklike gedenkboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Artikels oor Jan Lion Cachet beskikbaar op die internet

Bron

  • Lion-Cachet, FN. 1974–1975. Portret van ’n regte Afrikaner: Jan Lion Cachet. Buurman, Desember 1974 – Februarie 1975
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum 


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top