
Foto: Canva.com
Jakarandastad
noudat die eerste somerreën
die aardkors deurweek het
die dorre winterdoodsheid
kom balsem het
drapeer jakarandas
hul wydvertakte krone
in blou-pers asemrowendheid
’n lentevrolikheid
wat strate geurvol
tapyt
en al het flora
oor hul die doodsklok gelui
het hul oor jare besitreg
in stadbewoners se harte verkry
bekoor as indringers
steeds ons strate waardig
met gul blommeprag


Kommentaar
Hoe vaardig skets jy hoe die jakarandas: "besitreg in stadbewoners se harte verkry". So beeldryk én gevoelvol Driekie!
Baie dankie, Louis, waardeer opreg jou lees en kommentaar.
Ganoderma is hoofsaaklik die grootste bedreiging van die Jakaranda. Hierdie en ander swamme word biota genoem word. Die ingevoerde eksotiese indringerboom word gelukkig nie uitgeroei nie; aanplanting daarvan word wel deur wetgewing verhoed.
Bogenoemde kommentator maak melding oor die raak beskrywing van die boom, die Jakaranda. Die titel, "Jakarandastad", skep ’n verwagting. Mooi beelde in die eerste strofe.
Dankie vir jou lees en kommentaar, Berdéhan
Driekie, weereens 'n pragtige en raakvat beskrywing. Dankie vir jou mooi en stylvolle gedigte.
Aaaah, baie dankie Nico, opregte dank vir jou bemoedigende woorde, word opreg waardeer.
Baie mooi gedig, Driekie. Ek is teruggevoer na my grootworddae in die Moot waar die Jakarandas van weerskante oor strate gegroei het en lieflike lang tonnels gevorm het. Baie dankie.
Dit is hierdie jaar vir my besonder mooi, dankie Desmond, waardeer jou lees en kommentaar.