Jaco, Pieter, Thomas en die groot raaisel

  • 1

Jaco, in sy brief 'Die Nuwe Afrikaner' van 17 deser, weet te vertel dat hy stomgeslaan is dat mens op die Net Afrikaners kry wat wil voorskryf wie en wat die Afrikaner is. 'Afrikaners kry'? So Jaco weet wat 'n Afrikaner is; daar is dus volgens Jaco so-iets, hy moet nog net vir ons die kriteria gee. Maar is hy dan nie van die 'liberales' wat hulle van hierdie term distansieer nie?

Indien hy nie is nie vra ek om verskoning; hy sal dan 'n Afrikaner wees wat hom beywer vir die behoud van einste. As sodanig sal hy hom dus distansieer van Pieter se neerhalende stereotipering van die Afrikaner maar hy het nie; hy's een van die ouens wat hande geklap het. So wat nou? Jaco moet asseblief hierdie raaisel opklaar.

Maar buiten dit nou – Jaco kan nie verstaan dat daar, hier op die Net, Afrikaners is wat voorskriftelik oor Afrikanerskap is nie. Watter Net lees hy? Of praat hy van Thomas wat voorskryf dat almal wat Afrikaans praat Afrikaners is? Kan ook nie wees nie, want hy lyk vir my redelik hand-om-die-blaas met Thomas en ego alles wat Thomas kwytraak.

Hy kan ook nie na my verwys nie want ek het eksplisiet gesê dat daar nie sprake van 'n definisie is nie; jy vra bloot vir 'n ou of hy 'n Afrikaner is en of hy is hang af van sy antwoord, ongeag kleur of Credo. So wat nou? Jaco moet asseblief hierdie raaisel opklaar.

Nou hier is nou die raaisel der raaisels. Jaco, Pieter en Thomas, skyn my, tel onder die dissipels van Piet Croukamp, die 'liberaal-demokratiese' mense. Hierdie mense, oor die algemeen, distansieer hulle van die term 'Afrikaner'; Piet Croukamp sê duidelik mens moet jou tog net 'nie verpak as Afrikaner nie' want, soos ek verstaan, sou dit aanstoot gee, dis 'n geykte term wat herinner aan die sogenaamde apartheidsera. Maar hierdie einste mense is die wat propageer dat die bruines ook Afrikaners is. Nou wat nou? Is daar van die liberaal-demokrate wat hierdie raaisel kan opklaar?

Indien Piet Croukamp nie soos Thomas daarop aandring dat die bruines Afrikaners is nie, en indien Jaco, Thomas en Pieter nie aanhangers van Piet Croukamp is nie vra ek om verskoning. Ek hou egter vol dat daar in die sogenaamde liberaal-demokratiese kamp daar wel diegene is wat Afrikaners/Afrikaanses/Afrikaanssprekendes is wat hulle distansieer van die term 'Afrikaner' maar terselfdertyd van die is wat volhou dat almal wat Afrikaans praat Afrikaners is.

Crazy mixed up kids

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan

    Hoekom is propaganda vir jou so belangrik? Ek defineer propaganda as ’n  poging om ’n leuen in ’n waarheid te probeer weergee. En daarmee is jy gedurig skuldig,

    Eerstens. Ek ken nie Piet Croucamp of selfs oor hom gelees nie, so hoe jy my as een van sy dissipels wil tipeer, kan alleenlik vir jou eie edifikasie wees, en werklik, dit skeel my maar min.

    Tweedens. My siening van Afrikaner is dat hy nie hoef gedefineer te word nie. Politiek, godsdiens of enige ander vorm van handelswyse (Afrikaanse skool toe gaan as voorbeeld) is vir my geen kriteria vir Afrikanerskap nie. Wanneer ek iemand sien of sy briewe of letterkunde lees, en my wese sê vir my hy is Afrikaner, dan is hy vir my ’n Afrikaner; of hy homself so wil aansien al dan nie skeel my min. En werklik. Hoekom ’n "issue" daarvan maak?

    Voorbeelde; Vir my is die volgende Afrikaners:  Adam Small; Terre-Terreblanche; FW de Klerk; Dan Roodt; Pieter Redelinghuys; Thomas; Jan Rap; Yuri; Afrikaan (wonder wat het van hom geword?); Francois Williams; Beyers Naude; ens.

    Elkeen uiteenlopend. Elkeen ’n eie lewensfilosofie wat hewig van mekaar onderling verskil wat hulle reg is. Omdat jy nie daarvan hou wat Pieter te sê het nie, of dat hy selfs homselfs van Afrikanerskap wil distansieer, maak van hom in my oë, nie minder Afrikaner nie. En hoekom verwag jy dat ek moet kant kies wanneer ek dit nie as ’n belangrike "issue" beskou nie.

    Ek het ’n weersin in die gekkegrens politiek. Maar hulle bly in my oë nog steeds Afrikaners.

    Brianvds het onlangs gesê dat Koos Kombuis van sy Afrikanerskap afgesien het. Wel so. Maar jy kan nie van jou Afrikanerskap ontsnap nie. Koos bly nog in almal se oë ’n Afrikaner. Dit is in sy wese. Cobus Fourie, ’n vorige deelnemer hier aan SêNet soortgelyk. Weier om in Afrikaans te skryf. Sy onnatuurlike hoogdrawende Engels gee hom weg as geen Engelsman nie, en weereens kan hy ook nie van sy Afrikanerskap ontsnap nie, want nieteenstaande sy pogings, gaan sy "peers" hom steeds as Afrikaner aansien (albeit a "detribalized" Afrikaner).

    Jan. Jy het wel geskryf elkeen wat homself Afrikaner verklaar, ongeag ras, is ’n Afrikaner. Die konteks waarin jy dit gewoonlik uiteensit is geneig om die indruk te skep dat jy dit nie eerlik bedoel nie.

    En ek sê dit weereens opreg. Ek hou van jou al verskil ons politiek amper onversoenbaar. Daar is ander, vir my, positiewe kwaliteite in jou briewe wat ook gedurig deurskemer en waarvoor ek waardering het.

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top