Oor geskik of ongeskik

  • 0

Naomi Meyer het vir haar vierjarige kind uit Mummy never told me begin voorlees:

Mummy never told me that life is full of little secrets ... Why must I go to school when Mummy was expelled from hers? Why do Mummy and Daddy lock me out of their bedroom? Where do they go at night?

Die illustrasies in die boek toets ook grense. Kaal mans en vroue jaag mekaar deur die blaaie.

Vir die (voor)lesende ma was daar rede tot gesprek. Met haar kind én met volwasse kenners. Sy het ’n paar kundiges op die gebied van kinderboeke uitgesoek en vir hulle gevra wat hulle van boeke soos hierdie dink. Sommige van die kundiges het gekies om die vrae as ’n geheel te beantwoord. Hier is die vrae en die antwoorde volg daarna:

Wanneer is ’n boek nie geskik vir kinders nie, en wanneer is ’n boek ’n goeie manier om ’n oop gesprek te hê?

Wat hierby aansluit, is: Moet oop gesprek deur ’n boek aangemoedig word? Is dit nie ewe moralisties of aanmatigend as om te sê ’n onderwerp is taboe nie? En is ’n boek nie bedoel om sommer net genot te wees nie – waarom ’n boek aan omstrede onderwerpe koppel? 

Hoe ver het Suid-Afrikaanse (Afrikaanse!) boeke nog nodig om te vorder voordat hulle die stof van omstredenheid afgeskud het en sommer net vrolike en tong-in-die-kies boeke raak? (Met ander woorde – ek sien kontroversie hier raak, maar dalk is hierdie onderwerpe bloot storiemateriaal as die kultuur waarbinne dit verskyn, nie eng en verstok dink nie.)

Of ’n boek “geskik” is vir kinders, verskil van kind tot kind. Party kinders kry nagmerries as hulle stories oor monsters lees; ander verseg om enigiets anders as grilboeke en spookstories te lees. Party kinders lees op tien jaar nog beginnerleesboeke; ander lees die Twilight-reeks. Party kinders word in ’n konserwatiewe huis groot en sal daarom moontlik nie hou van boeke vol seks en vloekwoorde nie; ander sal nie ’n oog daaroor knip nie.

Die basiese probleem soos ek dit uit jou vraag aflei, is: “Wat moet kinder- en jeugboeke wees?” Moet dit normdeurbrekend wees? Moet dit kinders opvoed? Moet dit gesprek aanmoedig? Moet dit kinders aanmoedig en lei om literêre lesers te word?

My kort antwoord: Nee. Kinder- en jeugboeke hoef nie énige van hierdie dinge te wees nie. Die enigste vereiste waaraan ek ’n kinderboek meet, is of dit goed en eerlik geskryf is en die teikenmark in gedagte hou.

Kinder- en jeugboeke kán normdeurbrekend wees. Ek dink die afgelope paar jaar het die internasionale (én die Afrikaanse) kinder- en jeugboekmark dit bewys. Normdeurbrekend beteken egter nie net dat dit oor opspraakwekkende temas soos seks of seksuele oriëntasie of geweld of dwelms hoef te gaan nie. Die blote feit dat humor die afgelope paar jaar ’n sterker rol in tienerboeke speel, is al normdeurbrekend en dui op ’n nuwe rigting in die Afrikaanse jeugboek. Skrywers eksperimenteer toenemend met vorm en formaat en tegnologie – en hierdie eksperimente was die afgelope paar jaar veel opwindender en vernuwender as die aantal vloekwoorde of taboetemas wat in nuwe jeugboeke aangepak is.

Kinder- en jeugboeke kán kinders opvoed. Maar behoede ons tog teen skrywers wat versuikerde prekies in storievorm in kinders se kele probeer afwurg.

Kinder- en jeugboeke kán gesprek aanmoedig. Maar ek het ’n broertjie dood aan skrywers wat doelbewus “omstrede” probeer skryf bloot omdat dit geneig is om aandag te trek. Volwasse resensente is geneig om jeugboeke makliker aan te prys of raak te sien wanneer die temas omstrede of eksplisiet is. En sulke boeke kry meer mediablootstelling. Die vertaling van Adam Mansbach se Fokken gaan slaap het die afgelope tyd hope media-aandag gekry, terwyl plaaslike kleuterboeke byna heeltemal oor die hoof gesien word in die meeste koerante en tydskrifte. Die probleem is dat kinder- en jeugboeke steeds nie ernstig opgeneem word nie. Elke nou en dan word letterkundiges en resensente wat geen benul van die kinderboekgenre het nie, toegelaat om allerlei uitsprake daaroor te maak – terwyl kinderboekkenners soos Thomas van der Walt, Karen de Wet, Franci Greyling en Betsie van der Westhuizen veels te min geleentheid kry om oor die gebied te skryf.

Kinder- en jeugboeke kán jong lesers se eerste stap wees om later lesers van “literêre” leesstof te word. Maar ek kners op my tande as ek sommige letterkundiges en skrywers se uitsprake hieroor lees. Die meerderheid mense lees vir ontspanning en vermaak. Dis ’n stelling wat ek met redelike veiligheid kan maak. En dit is nie omdat hulle in hul jongdae leesstof gehad het wat volgens die literêre oordeel “te lig in die broek” was nie. Ek lees nêrens dat Deon Meyer en Chanette Paul en Sophia Kapp se lesers oor die vingers getik word omdat hulle vir ontspanning lees nie; en tog is daar skynbaar volwassenes wat meen kinders behoort met een enkele doel voor oë te lees: om slimmer te word, uitgedaag te word, en uiteindelik “goeie” letterkunde te kan lees. Sug.

Om terug te kom na die kwessie van omstredenheid: daar is deesdae relatief min taboes in die Afrikaanse jeugliteratuur. En dis ’n goeie ding. Skrywers, ook kinder- en jeugboekskrywers, moet eerlik kan skryf oor kwessies wat in hul karakters se leefwêreld opduik, sonder om selfsensuur toe te pas. Maar wat ek wel graag wil sien, is boeke wat nie ter wille van die omstrede onderwerp geskryf is nie, wat kwessies soos tienerseks en homoseksualiteit en rassespanning en dwelmmisbruik op ’n natuurlike manier kan hanteer sonder dat die boek hoef uit te gil: “Kyk, ek is ’n omstrede f*kken jeugboek! Ek gaan jou kop wegblaas! Ek gaan jou skok! Ek gaan jou ouers skok! Ek gaan jou dominee skok! Jou ouma gaan in haar melktert stik! Ek is nie vir sensitiewe lesers bedoel nie!”

Ek kan aan talle oorsese jeugboeke dink wat dié toets slaag: The perks of being a wallflower (Stephen Chbosky), Speak (Laurie Halse Anderson), Junk (Melvin Burgess), Mijn tante is een grindewal (Anne Provoost).

Dieselfde geld selfs kleuterboeke. Dankie tog vir skrywers soos Babette Cole wat op ’n prettige, vermaaklike, kindervriendelike manier oor “kwessies” kan skryf. Dankie tog dat Werner Holzwarth en Wolf Erlbruch se molletjie deesdae ook in Afrikaans kan probeer uitvind wie op sy kop gedinges het. En dat Daniela Kulot ook teenoor Afrikaanse kinders mag bieg dat neuskrap lekker is. Maar waaroor ek veral dankbaar is, is dat dit hoegenaamd nie ál is waaroor kleuterboeke gaan nie – daar is ook boeke oor irriterende boeties (Aspris-krokkedis, Theresa van Baalen), oor die avonture van die Babalela en ander bosbewoners (Martie Preller se gewilde reeks), oor tergende vrae soos wat meerminne nou eintlik eet (Leah se meermin, Nanette van Rooyen), en oor ’n meisie genaamd Jamela (Niki Daly se bekroonde reeks) wat allerlei alledaagse kinderavonture beleef.

 

<<< Keer terug na die indeksblad vir hierdie seminaar.
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top