Jaco Fourie se gekkegrensbrief van 22 September 2016

  • 5

Klaagliedere se moses!  Ek het lanklaas so’n klomp onlogiese tjol en galbrakery gesien.  Jaco moet nog so baie leer, byvoorbeeld dat die stel van persoonlike menings GLAD nie as redevoering tel nie.

Byvoorbeeld, Jaco sê hierdie gekkegrensgroepie het nog nie ‘verby’ 1994, selfs 1969, beweeg nie.  Mag wel waar wees maar dan moet hy die stelling kwalifiseer.  ‘n Teenstelling hier kan wees dat Jaco nog vashaak by 1797, net so simpel soos Jaco se stelling omdat dit ongekwalifiseerd is maar in daardie sin net so geldig.  Selfde geld vir die res van sy 10 ‘eienskappe’; alles bloot persoonlike menings.

Jaco praat ooglopend van die meer konserwatiewe en behoudende Afrikaner of, anders gestel, nie die hoofstroom-SJW’s wat alles wat die hoofstroompers skryf vir soetkoek opvreet nie.  Hoekom sal die konserwatiewe Afrikaner nou anti-Joods of anti-Engels wees?  Hulle ken die Jode as ‘n volk waarvan in die Bybel gepraat word en hulle ken die Engelssprekendes as medeburgers; baie van hulle is met Engelse getroud.  So van die os op die jas, van die anti-Joodse mense waarvan ek weet is Engelssprekende besigheidsmanne, heelwaarskynlik omdat hulle besigheidsvermoë in vergelyking kortskiet.

Jaco praat van die ‘ongesonde haat’ wat hierdie gekkegrensgroepie vir die Engelse het.  Wat laat hom so dink?  Ek vermoed sterk dat hy my as een van sy ‘gekkegrensers’ beskou maar dan is dit vanweë die kêrel se onvermoë om verder te dink as wat sy neus lank is.  Ek is hewig gekant teen die agteruitgang van Afrikaans wat teweeggebring word deur kruipende Afrikaners se omhelsing van Engels maar het niks teen die Engelse nie (my ma is 'n direkte afstammeling van die 1820-setlaars).  Ek het al telkemale gesê die agteruitgang van Afrikaans het niks met die Engelse te doen nie; dit is vanweë ons eie slapgatgeit.  Engels het ‘n groot taal geword deur die toedoen van die Engelsman en net so is Afrikaans besig om te kwyn agv die NIE-toedoen deur die Afrikaanssprekendes.  Ons het net onsself te blameer.

Wat my opval is die snedigheid en venyn waarmee Jaco (en die ander kompromiste) die mense wat volgens hulle ‘gekkegrensers’ is, aanval.  Daar is mense wat selfs so ver gaan as om te vra dat Dan Roodt byvoorbeeld in die tronk gegooi moet word.  Die rede vir hierdie houding is voor-die-hand-liggend; die ‘gekkegrensers’ ontbloot die valsheid van die kompromiste se gejubel oor die kaal keiser se wonderlike klere; hulle is dus uitgevang en dit maak hulle briesend.  Aangesien hulle geen geldige teenargumente het nie is al wat oorbly aanval en beledig.

Ter afsluiting, net vir Jaco se ‘edifikasie’ soos my ouma sou gesê het; ek het twee terriers.  Een is ‘n bullterrier, ‘n knewel van ‘n brak en wees verseker, sy byt is erger as sy blaf.  Die ander een is ‘n Jack Russell en die is nou die dag amper doodgebyt deur twee Huskies.  Vol bloed en mank het hy hulle steeds aangeval voordat ek hom kon red.  Hy is beslis nie net ‘n keffertjie nie.  En terloops, “mis uit” is ‘n lelike anglisisme.

Jan Rap

 

  • 5

Kommentaar

  • Jan

    Jy en F.C.Boot het baie in gemeen met mekaar, dat ek baie maal wonder of julle nie soort van twee-eenheid is nie, in teenstelling met die drie-eenheid van die Bybel.

    Al twee is ewe lief vir hulle analogie wanneer hulle gebreklik aan feite ly, altwee is geneig om weke later wakker te skrik alvorens hulle respondeer, soos in jou geval hierbo.

    Vir die leser wat wel die moeite wil doen om sin te probeer uitmaak van Jan se onsin hierbo, die skakel is: https://www.litnet.co.za/afrikaner-gekkegrens/

    • Jaco, mooi gesystap. Maar wat kan jy nou anders doen? Jy het geen grond vir jou bewering van verby '94 0f '69 nie; jy kan ook nie sê wat die verskil tussen hierdie aantyging is en die een dat jy nog nie verby 1880, of 1779 of wat ookal is nie; jy het geen grond om my te beskuldig van ongesonde haat teenoor die Engelse nie; jy het geen verweer teen my stelling dat die Afrikaner self verantwoordelik is vir die agteruitgang van Afrikaans nie. Jy het ook geen verweer teen die feit dat ek julle kompromiste beskuldig van 'n ongesonde haat teenoor die 'gekkegrensers' nie (die wat julle gesanik as bloot napratery van die media ontbloot juis omdat hulle julle inskiklikheid en gedienstigheid uitwys). Jy spreek net opinies uit Jaco en jy is heeltemal geregtig daarop maar dit bly net bloot ongegronde menings as jy dit nie staaf nie.

  • Jan
    Jy praat van ongegronde stellings wat ek moet bewys?
    Nou bewys vir my waar ek jou persoonlik beskuldig het dat jy die Engelse haat; waar het ek met jou of selfs ander, in debat getree oor die agteruitgang van die Afrikaanse taal, ens. Jy het hierbo self besluit jy is 'n "Afrikanergekkegrenser", ek het jou nie so beskryf nie.
    Jy wil oor onbenullighede kibbel om aandag af te trek van my kern-argument wat jy systap, nl die kontras tussen die meerderheid Afrikaners wat iets positiefs vir die Afrikaner verrig sonder om veel te sê, en die minuskule minderheid Afrikaners wat veel te sê het, maar niks vir die Afrikaner verrig nie, laasgenoemde die gekkegrens soos per definisie deur my aangegee. Weereens die skakel vir die leser vir terugvoering: https://www.litnet.co.za/afrikaner-gekkegrens/
    Indien jy van mening is dat ek geen feite het nie, "so be it". Ek gaan regtig nie tyd mors oor 'n gekibbel nie. Indien jy wil bewys die Afrikanergekkegrens het wel iets daadwerkliks vir die Afrikaner GEDOEN, ja, dan kan ek en jy lekker gesels, my miskien selfs oorreed.

  • Jaco
    Ek het nie gesê jy het my as wat jy 'n gekkegrenser noem beskryf nie; ek het gesê ek vermoed sterk dat jy my daarby insluit (jy het my in die verlede 'n fanatikus' genoem). Jy het ook spesifiek na Dan Roodt (vir wie ek al verskeie kere teenoor jou in die bresse getree het) verwys - Dainfern ens - so moenie nou kom jakkalsdraaie gooi nie.
    So, wie of wat is hierdie klein groepie wat niks vir Afrikaans doen nie en hoe weet jy dit? Terselfdertyd, wie of wat is hierdie groot groep wat so baie vir Afrikaans doen en hoe weet jy dit?
    Ja praat net Jaco; lug net oningeligte menings en sodra jy daarop gewys word druk jy kop in die sand met 'ek mors nie tyd nie' of 'ek praat nie met fanatici nie'.

  • Jan
    Jy ontwyk weer die onderwerp. Indien jy nie bereid is om uit te wys wat die gekkegrens Afrikaners daadwerklik vir Afrikanerdom gedoen het nie, is ek nie bereid om sirkeldebat (gekibbel) met jou aan te gaan mbt Roodt, Dainfern, wie en wat is hierdie klein groepie (my definisie is heel duidelik), ens.
    Jy asook FC Boot het julself as gekkegrensers beskryf, dus weet jy wat hulle is, en die onus is op julle om my te weerlê waar ek gesê het hulle praat te veel, maar doen niks daadwerkliks vir die Afrikaner nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top