Hello Jaco
Baie dankie vir hierdie terugvoer van jou kant af.
Net soos met die vorige brief, is daar nie veel waarmee ek van jou verskil nie en behoort dit vry van konflik te wees.
Die volgende stelling van jou word van kennis geneem en sal dit met belangstelling dopgehou word wanneer jy skryf: "Ek is van persoonlike mening dat Solidariteit en AfriForum mettertyd sintese onder Afrikaners deur die liberale links, die konserwatiewe meerderheid en die ultra-regs tot samewerkende ooreenkoms vir Afrikaner vooruitgang gaan bewerkstellig".
Neem egter kennis dat die aard van politiek verlang juis dat groeperinge teenoor mekaar staan in konflik, soos byvoorbeeld die Demokrate versus die Republikeine in die VSA. Daardie groeperings is ’n feit en die konflik wat heers word volgehou en hoe dit tans in die VSA so verswak het dat dialoog amper onmoontlik is. ’n Voorbeeld daarvan is die huidige onderhandeling oor die inperking van die VSA se begroting.
Geen versoening daar nie of die middeweg wat in Peter L Berger en Anton C Zijderveld se boek aangebied deur Comestor formuleer word nie.
Jou stelling, oor die samekoms van die “liberale Progge” en die “regse Natte” volgens jou is met belangstelling gelees en laat die vraag opnuut by my opkom, hoe het die Afrikaner dan oor die tydperk van 20 jaar ontwikkel, om uiteindelik by ’n punt te kon arriveer waar twee-derdes van die stemgeregtigdes gestem het vir die oorgang na ’n nuwe bedeling, net soos die DA poog om ’n politieke party vir die hele bevolking te wees. Stel jou PVR vir Robinson Regstreeks, indien jy nie nog nie die onderhoud wat hy met Lindiwe Mazibuko gehad het, gesien het nie. Die kontras tussen Lindiwe Mazibuko en Julius Malema is skokkend en is die waardige intelligensie van Lindiwe Mazibuko ’n aanklag teen die opruiende populisme waarvoor Malema staan.
John Kane-Berman het ’n frase in die Business Day van 21 November 2011 wat die oog vang en dalk die buitelyne van daardie ontwikkeling uitlig wanneer hy skryf, "the retreat from apartheid started in 1970 and it took 20 years before it culminated in FW de Klerk’s announcements on February 2 1990".
Dalk sal die politiek dan meer ’n "normale" politiek begin word, waar die burgers van die land sal inval by die party wat die meeste in pas met hulle eie oortuigings is. Dit beteken nog steeds nie dat daar ’n sintese is nie, maar eerder ’n anderse tipe van keuse wat uitgeoefen word.
Die volgende het my oog gevang en het ek met die lees daarvan gedink om dit met jou te deel en sluit dit daarom in, in hierdie brief. Dit is van die naweek se By en die denke van Frantz Fanon, word bespreek en veral die volgende gedeelte was vir my belangrik ...
Fanon se studie van die psigopatologie van kolonialisasie is steeds van toepassing: In Suid-Afrika begryp wit mense nie altyd die langtermyn-invloed van apartheid op die psige van die voorheen onderdruktes nie.
Daar is ander afleidings wat ook gemaak word en moet ondersoek word om te probeer bepaal of dit geldig is.
Stellings soos:
Die basiese konfrontasie wat gelyk het of dit dié tussen kolonialisme en anti- kolonialisme is, selfs kapitalisme versus sosialisme, het reeds minder belangrik geword. Wat vandag saak maak, die kwessie wat die horison blokkeer, is die noodsaak vir ’n herverspreiding van rykdom. Die mensdom sal hierdie vraagstuk móét aanroer, hoe verwoestend dit ook al kan wees.
Daarmee poog die skrywer van die artikel om dit aan die optrede van Malema soos dit nou ervaar word te koppel.
Mag daardie multikulturele staat werklik (word) wees.
Baie dankie
Wouter

